Die slaggate van gratis universiteitsonderrig

studentebetogings 2015 feesmustfall fees must fall

Studentebetogings in Oktober 2015. (Foto: verskeie bronne, sosiale media)

Deur die Growth Institute

Dit is tyd dat die emosies en populisme uit die debat oor gratis universiteitsonderrig verwyder word.

Universiteite het reeds jare lank die praktyk gevolg om merietebeurse aan hoëprestasie-studente toe te ken. Dit beteken dat elkeen wat ʼn akademiese jaar met ʼn gemiddeld van 75% of meer per vak slaag, ʼn korting op hul klasgeld ontvang vir die betrokke finansiële jaar.

Dit blyk egter dat nie baie studente daarvan bewus is dat hulle eintlik vir dié soort merietebeurse in aanmerking kom nie. Trouens, ʼn vinnige opname deur die Growth Institute het bevind dat 60% van die studente nie geweet het van dié soort merietebeurse nie.

Om klem op merietebeurse te lê kan ʼn strewe na uitnemendheid by studente kweek. Daar is al telkemale bewys dat ʼn stelsel wat gratis sonder enige verpligtinge is nie help om prestasie te bevorder nie. Só ʼn stelsel slaag eintlik daarin om die teenoorgestelde te bewerkstellig – juis deur ʼn gevoel dat dit ʼn reg (en nie ʼn voorreg nie) is om te studeer terwyl dit die strewe na gehalte dooddruk.

Indien studente gratis universiteitsonderrig ʼn werklikheid wil maak, moet hulle hulle daaraan toewy om beter punte te behaal sodat meer merietebeurse toegeken kan word.

Universiteite kry ook subsidies van die staat vir die getal studente wat in elke graadvlak slaag. Die regering het ook onderneem om van 2018 meer te betaal vir elke nagraadse student, honneursgraad en hoër, wat sy of haar studie voltooi. Die staat wil op dié wyse toesien dat die universiteitstelsel meer nagraadse studente oplewer.

In die lig van die nuwe fokus op nagraadse studente moet die finansieringsmodelle vir voorgraadse studente heroorweeg word. Universiteite dra reeds ʼn groot groep studente wat hul studiejare moet herhaal. Dié herhalers hou nuwelinge uit die tersiêre onderwysstelsel uit. Daar moet geen rede wees waarom herhalers beloon moet word vir hul onderprestasie nie.

Die ekonomieë wat uitblink in die globale mededingendheidsindeks verwag hoë prestasievlakke van studente. Diegene wat onderpresteer, moet uit die stelsel verwyder word sodat meer hoë presteerders wat nie vir hul studie kan betaal nie, ʼn kans kan kry.

  • Die Growth Institute is ʼn spesialis-onderwysmaatskappy wat spesialiseer in bestuursonderwys, vaardigheidsontwikkeling en ondernemingsontwikkeling. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.