Die slagofferlas en boeie van wit skuld

(Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Dit is ongelukkig so dat wêreldwye steun aan Black Lives Matter (BLM) hulle aangespoor het om wit Amerikaners links en regs aan te val. Op 5 Julie, ná ‘n Onafhanklikheidsdag-viering, is die 24-jarige Jessica Whitaker van Indianapolis deur BLM-aktiviste doodgeskiet omdat sy glo gesê het “All Lives Matter”.

Hieropvolgend is nie net die beskadiging en plundering van eiendomme en winkels, die afbrand van kerke en die doodmaak van mense nie… selfs God word ook nou geteiken. Christene in die algemeen en Katolieke kerke – veral die Maagd Maria en selfs Jesus – is nou die teikens van hul haat.

Afgesien van die min konserwatiewes wat hul stem laat hoor asook hul media wat hierdie terreurdade veroordeel, word die meerderheid stilgemaak uit vrees dat hulle as rassisties, wit heerssugtiges en onderdrukkers bestempel kan word. En natuurlik uit vrees dat hulle hul werk sal verloor. Die mees uitgesproke teen hierdie skrikbewind is swart konserwatiewe gesaghebbendes soos Larry Elder, Shelby Steele, Lawrence Jones, Thomas Sowell, Bob Woodson, Candace Owens, Paul Harris, Terrence Williams, Diamond en Silk, die Hodgkin-tweeling, Jericho Green en ‘n paar ander.

Maar oor die algemeen is die groot demper ’n wit skuldgevoel – ’n verlamming so groot dat dit nou die mees gevreesde skeldnaam “wit oppergesag” vervang. In ’n land soos die VSA wat deur ’n wit meerderheid oorheers word en waar daar uit 331 miljoen mense 60,4% wit, 13,4% Afro-Amerikaans en 18% Spaans-Amerikaans of Latyns-Amerikaans is, ontstaan die vraag: Waarom word die skuldjuk gedurig op die skouers van die VSA geplaas vir sy demografie in teenstelling met die Kaukasiese bevolking aan die oorkant van die see?

Brittanje het ’n bevolking van ongeveer 67 miljoen mense waarvan 87% wit, 3% swart/uit Afrika/Karibies is en die res Asiaties/Pakistans, maar dié rasse-samestelling word beskou as ‘n gegewe ondanks Brittanje se geskiedenis van kolonisering van byna die helfte van die wêreld. Duitsland het tans ‘n bevolking van 82 miljoen mense en ongeveer 817 000 (1%) word as Afro-Duitsers geklassifiseer. Tog het Duitsland nooit ‘n skuldlas vanweë hul “witheid” gedra nie – dit ondanks die volksmoord wat ses miljoen Jode uitgewis het. Hoewel Duitsland se groteske verlede erger is as dié van meeste lande, word hulle selde nasionaal of wêreldwyd uitgejou soos die VSA vir slawerny – wat hulle in elk geval in 1865 met ‘n burgeroorlog beëindig het.

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

President Donald Trump – slegs drie jaar in sy amp – moet dikwels die juk van rassisme in Amerika dra, terwyl kanselier Angela Merkel vrygestel is van sodanige blaam oor die massamoord op die Jode.

Maar hoekom?

Kom ons kyk na Suid-Afrika wat wêreldwyd verag is vir sy apartheidsbeleid – ‘n dominante regime van ’n wit minderheid wat die swart meerderheid uitgesluit het van politieke besluitneming en stemreg. Suid-Afrika se reg op ’n meerderheidsregering is globaal ondersteun en het die vrylating van sy politieke gevangenes gevier – veral dié van Nelson Mandela wat tereg die eerste demokraties verkose president in 1994 geword het. Niemand wys tog die vinger na Suid-Afrika omrede sy swart meerderheid nie – inteendeel, die wêreld het dit eintlik verwelkom. En niemand maak Europa beskaamd vir sy hoofsaaklik wit meerderheidsbevolking nie.

Maar vir die VSA het hierdie “ondraaglike wit-wees” so te sê ‘n wêreldsport geword. Enige wit Amerikaner wat die Grondwet ondersteun, die landsvlag, sy burgerregte en die reg om wapens te dra, word maklik as ‘n wit heerssugtige bestempel. Terme soos “wit bevoorregting” en “polisie-brutaliteit” het deel geword van die alledaagse woordeskat – of dit nou deur statistieke verkry word al dan nie – en word met ‘n siek reëlmatigheid gebruik om swart stemme, waarsonder die Demokrate nie ‘n verkiesing kan wen nie, te mobiliseer. Hierdie jaar is die skerp opmerkings veral venynig, gegewe die waarskynlikheid dat president Trump die 2020-verkiesing kan wen.

Groot stede soos New York, Portland, Seattle, Chicago en Atlanta word veral gekenmerk deur ‘n sigbare, luidrugtige minderheid – voortdurend op die oorlogspad – wat teen bewerings van polisiebrutaliteit, sistemiese rassisme, seksisme, wit bevoorregting, wit oppergesag en alle ander denkbare vorms van diskriminasie (eg of verbeelde) protesteer. Aktiviste wat hulle deur die Demokratiese Party laat lei – ’n party wat die rassekaart as wapen gebruik om die Republikeine voor elke verkiesing te verslaan – word maklik opgestook om ‘n hele land aan die brand te steek oor bewerings wat dikwels nie bestaan ​​nie.

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Tog het Amerika meer gedoen ten opsigte van diskriminasie teen swart mense as vir enige ander groep in die VSA: regstellende aksie, toelatingsbeleide by universiteite, die weermag, die vloot, rassevoorkeure in sport, wetstoepassing, asook vir byna elke sektor van arbeid in die VSA. As daar iets is om oor te kla, is dit “swart bevoorregting”. ’n Deeglike uiteensetting van hoe swart mense sedert die burgerregtebeweging in die 1960’s voordeel getrek het uit president Lyndon se New Deal in 1964, sou idees van sistemiese rassisme van hoek tot kant ontbloot.

Ten opsigte van regstelling wat op groot skaal aan Afro-Amerikaners gebied is (met ‘n reeks beleidsinisiatiewe, wette en programme om armoede te beëindig, onderwys en gesondheidsorg te verbeter, misdaad te verminder, ongelykheid af te skaf en die omgewing te verbeter), is baie geleerdes en swart intellektuele dit eens dat hierdie landswye manier van regstelling die ontstaan ​​van enkelouergesinne, vaderlose huise, welsynafhanklikheid en misdaad net vererger. Dit is ‘n punt wat deur Larry Elder, die swart radiogasheer, herhaal is: “… wat die welsynstaat, na my mening, gedoen het, is om swart vroue aan te moedig om met die regering te trou, en mans toe te laat om hul finansiële en morele verpligtinge teenoor hul gesinne te laat vaar. Ons het van 25% swart buite-egtelike kinders in 1965 na byna 70% gestyg. Jim Crow en rassisme kan nie hiervoor pa staan nie, maar wel ’n slegte regeringsbeleid.”

Swart gesaghebbendes, soos hierbo genoem, word al hoe luidrugtiger oor die skadelike gevolge van die sogenaamde New Deal op swart vooruitgang. Aan die ander kant glo die Demokrate egter dat Lyndon Johnson se kolossale poging tot regstelling, klaarblyklik hul oorsprong as die party van slawerny en rassisme, die KKK, die burgeroorlog en Jim Crow-wette en segregasie gekanselleer het.Hierdie geveinsde woede oor rassisme is die lawa wat voor elke verkiesing vulkane van haat uitspoeg, veral as ‘n Republikein die president is – soos waargeneem in die lawaai rondom George W. Bush, Mitt Romney en die John McCain- presidensiële veldtogte in die verlede. Dit word elke jaar net erger.

Daar is geen land ter wêreld wat al ’n oorlog gevoer het om slawerny te beëindig nie. Tog het Amerika dit gedoen. Op een of ander manier bly slawerny ‘n onuitwisbare klad op ‘n volk wat nie in staat is om van sy sondes in die verlede vrygemaak te word nie. Dié klad het wit mense stilgemaak, selfs al is hulle ten onregte benadeel. Hulle waag dit ook nie om terug te veg nie, anders word die skeldnaam “onderdrukker” na hul kant geslinger. In sy boek White Guilt verwoord Steele die dilemma ten beste: Wit heerskappy van die verlede het verander in die wit skuld van die hede – ‘n selfdienende kwaal van wit liberale om beter oor hulself te voel.

(Foto: AP Photo/Matt Slocum)

Swart heerssugtige groepe wat wit skuld misbruik om monetêre en materialistiese toegewings as terugbetaling vir sondes in die verlede daaruit kry, verlekker hul daarin. Die dekmantel van slagoffer en ewigdurende “gewondheid” word met selfvoldane selfgeregtigdheid gedra, wat burgerslagoffers vryskeld van die aanvaarding van verantwoordelikheid, om agentskap as vrye individue uit te oefen en te veg vir selfbeskikking. Verder voer hy aan dat “die grootste swart probleem in Amerika tans vryheid is”. Indien swart mense kan presteer in die vermaaklikheidswêreld en sport (dink aan Serena en Venus Williams, Tiger Woods, Bubba Wallace, Colin Kaepernick, Oprah Winfrey, Beyonce & Jay-zee, Kanye West, Chris Rock, Spike Lee, Will Smith, om maar enkele te noem), waarom dan nie streef na uitnemendheid in leesvaardigheid, skryf en wiskunde nie.

“Hierdie mag wat gebruik word om te beskaam”, sê hy, “om stil te maak en vergunnings uit die breër samelewing te wurg op grond van viktimisasie uit die verlede, het die nuwe Swart Mag geword. “Sedert die sestigerjare is swart opvoedkundige ontoereikendheid hoofsaaklik as ‘n probleem van rasse-onreg beskou, eerder as ‘n probleem van swart mense wat die volle verantwoordelikheid vir die verbetering van hul prestasievlakke verwerp of vermy. “Ons het dus met raad en hulp vir ongeregtighede vorendag gekom, eerder as om op swart akademiese uitnemendheid te fokus – skoolbusse, swart rolmodelle as onderwysers, kursusse in die geskiedenis van swart mense, diverse leeslyste, Afro-Amerikaanse Engels, multikulturalisme, kultureel inklusiewe klasse, gestandaardiseerde toetse wat verbeter is vir rasse-vooroordeel, ensovoorts. Al bogenoemde, maar geen opdrag vir ouerverantwoordelikheid, harder werk aan leesvaardigheid, skryf en wiskunde nie.”

Liberale paternalisme, die keersy van wit skuldgevoelens, is ewe skadelik en fokus op “wit mense eerder as op swart mense as die agente van verandering” en laat wit heerskappy deur die agterdeur inglip en definieer weer eens die fundamentele verhouding tussen wit en swart mense. Dus, die kernstruktuur van die liberale geloof – dat wit mense en die “samelewing” swart opheffing moet fasiliteer – dit sluit wit liberale in ‘n ondeurdagte wit oppergesag in. Hulle kan nie regtig in swart mense glo nie, maar hulle moet in wit mense glo. Met ander woorde, wit mense is die agente; swart mense word deur wit mense verteenwoordig.”

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Opwaartse mobiliteit het Afro-Amerikaners as ‘n geheel in wisselende groepe van ryk, middelklas en arm, republikein, demokraties en multigelowig gediversifiseer. Hierdie transformasie het met ‘n onbedoelde prys gekom, naamlik die versplintering van swart Amerika wat nie langer rondom ‘n samehangende kulturele identiteit gemobiliseer kan word nie. Vryheid van assosiasie het ‘n direkte bedreiging geword vir swart militante soos BLM en hul surrogate, wat aandring op self-segregasie, identiteitspolitiek en spesiale pleitdooie. Wie sou kon dink dat hierdie rewolusionêres apartheid in die instellings wil hê?

Sommige universiteite versoek dat swart studente anders gegradeer moet word; sommige burgemeesters stel swart mense daarvan vry om maskers teen Covid-19 te dra, uit vrees dat hulle op grond van rasgebaseerde profielsamestelling deur die polisie geviktimiseer kan word; BLM eis die vernietiging van standbeelde waarvan hulle nie hou nie, naamsveranderings vir universiteite en die uitskakeling van mense wat dit waag om van hul menings af te wyk. Lance Morrow van The Wall Street Journal (3 Julie 2020) het dit onlangs goed opgesom: “Rassisme in Amerika is nie meer totalitêr soos dit eens was nie, veral in die suide. Die uitskakelingskultuur is die nuwe totalitarisme – ‘n samestelling van McCarthyism, die Inkwisisie, die Kulturele Revolusie, die Taliban en dit wat ‘n dodelike en sistemiese onkunde van die geskiedenis geword het – byna ‘n haat daarvan.”

‘n Joe Biden-presidentskap sal hierdie rasse- en kulturele oorlog verskans. ’n Fundamentele verskuiwing vorentoe vereis dat swart burgers die status van die slagoffer afskud net soveel as wat wit mense hulself van die boeie van paternalisme en wit skuld moet losmaak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Uitstekende artikel Rhoda. Dankie

Heinrich

Ai tog, die arme afro-Amerikaners, hulle word so terug gehou van die geweldige bydrae wat hulle sou gemaak het indien hulle tog maar net in Afrika gelaat is. In plaas van wette om hulle in ‘n samelewing in te dwing waaraan hulle duidelik nie kan inskakel nie, bied gerus vir hulle ‘skeidingspakette’ of ‘relocation packets’ aan terug na Afrika toe, waar hulle al hulle idees kan gaan uitleef onder die vaandel ‘Let’s make Africa great again’.

JJ

Uitstekende artikel. Maar hoekom praat niemand oor die wit slawe nie? Ja, daar was miljoene wit slawe ook – uit Wes-Europa na Noord- Afrika. Die geskiedenis word egter selektief vergeet. Maar hoe op aarde kan ek ‘n skuld gevoel kry vir iets waarin ek of my eie onmiddelike voorsate geen rol gespeel het nie. Dis soos om skuldig te pleit vir ‘n moord wat jy op TV gesien het. Maar ons lewe nou en slawehandel gaan steeds voort. Waarom nie daarop opgewonde raak nie? Daar is groter vergrype in die geskiedenis as slawehandel. Kyk na die volksmoorde in Afrika wat… Lees meer »

Maria

Sjoe lekkerlees en goeie insigte! Mens besef maar nog altyd, dat vryheid in die individu se keuses gesetel is. Vryheid is ekonomiese vryheid – opleiding of ondervinding, die moed en kennis om die lewe in die oë te kyk, die ingesteldheid om te presteer ten spyte van alles en harde werk met doelwitte. Dit is jammer dat politiek so verwronge geraak het, maar mens verstaan die duiwel daaragter is mag en geld.

koos10

Rhoda, dankie vir ‘n baie goeie artikel, vertaal dit asb in Engels ook, dat meer mense toegang hiertoe kan kry. Ek wil baie versigtig kommentaar lewer, want hier anders as in die VSA kan ek met my bas in die tronk beland, my werk verloor en verag word deur die samelewing, indien dit net blyk dat rassisme te bespeur is. Is die algemene gevoel nie skuld nie? Die minderheid mense in die land moet die skuld kry en die meerderheid voel dat hulle geskuld word? Op 7de Laan so paar weke terug hoor ek vir Lesedi aan Kwetile sê: Do… Lees meer »