Die slegte reuk van ’n ideologie

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

’n Interessante verskynsel doen hom die laaste vyf, ses jaar onder Afrikaners voor: As ’n mens die openbare gesprek goed dophou, merk jy dat die begrippe liberaal en liberalisme opnuut by baie ’n slegte reuk gekry het. Dit nadat die gevoel teen die begrippe in die eerste jare ná 1994 afgeneem het.

Die woord liberalisme word afgelei van die Latynse liber en libertas, wat “vry” en “vryheid” beteken. Een misverstand wat ons mense oor die liberalisme het, is dat dit ’n enkelvoudige ideologie is wat dieselfde deur al sy aanhangers beskou word. Dit is nie die geval nie.

Die aanhangers van die liberalisme kan in verskeie kategorieë ingedeel word.

Die eerste sien dit as ’n kwessie van politieke menseregte. Die reeks opstande in die 18de- en 19de-eeuse Europa – die revolusies van 1789, 1832 en 1848 – was gemik teen die regerende elite wat geen regte en vryheid aan die massa wou verleen nie. Dit is deur die liberalisme (of wat toe daaronder verstaan is) geïnspireer. Dit het gegaan om die demokratisering van die politiek en die uitbreiding van politieke regte.

Dié liberale opstande is, interessant genoeg, destyds ook met nasionalisme geïdentifiseer. Dit was byvoorbeeld sterk die geval in Frankryk en Italië, maar ook in Duitsland voordat Bismarck dit in die kiem gesmoor het.

Die tweede groep dink veral in ekonomiese terme, naamlik die vrye mark en die beperking van owerheidsinmenging in die ekonomie. In Europa was dit veral in die laat 19de en die 20ste eeu die oorwegende vertolking.

Dit beteken dat die liberalisme in dié tyd in Europa veral aangehang is deur die ryker mense. Die teenhanger van dié soort liberalisme was nie konserwatisme (wat dit ook al mag beteken) nie, maar die sosialisme, wat die ekonomiese voorregte van die hoër stande wou inperk en die ekonomiese stelsel wou hervorm om gelykheid te bevorder.

In die loop van die 20ste eeu het die begrip nog twee betekenisse bygekry.

Die eerste, veral in Europa, was verdraagsaamheid in etiese kwessies – veral homoseksualiteit, buite-egtelike seks, aborsie, die terugdring van die greep van die kerk op mense se daaglikse lewe, ensovoorts. Dis interessant dat Europese partye wat die vryemarkgedagte sterk verdedig het, dit gepaard laat gaan het met etiese liberalisme.

In ’n groot deel van die Angel-Saksiese wêreld, waar die Marxisme se rol baie beperk was, was sake anders. Daar is die liberalisme geïdentifiseer met links.

Dit was veral die geval in Amerika, waar die slagordes tans opgestel is langs die frontlinie tussen liberaal (= links) en konserwatief (=regs). Dit sien ’n mens by uitstek in die era wat pres. Donald Trump opgelewer het.

In Suid-Afrika het sake op ’n eiesoortige manier ontwikkel.

Eintlik was die liberalisme en die meeste Afrikaners nooit boesemvriende nie.

Dit het al in die 19de eeu begin, toe die woord meestal met teologiese vrysinnigheid geïdentifiseer is, wat dit vir die ortodokse Calviniste ’n gruwel was. In die loop van die 20ste eeu is die begrip opgeëis deur diegene wat vír rasse-integrasie en teen apartheid was, en só het liberalisme by talle Afrikaners sinoniem met links geword.

Ek onthou nog toe ek in die jare sestig student was, is die liberalisme gesien as die voorloper – byna die jonger boetie – van die kommunisme. En dít was natuurlik Satan met sy horinkies en stert selwers.

Maar sake is natuurlik effens ingewikkelder as dit. Jy sien ’n proto-liberale oomblik onder die Afrikaners in die 19de eeu – dit wil sê, as jy die liberalisme dan volgens sy 19de-eeuse Europese wortels definieer. Die grondwette van die Transvaalse en die Vrystaatse republiek was in dié opsig uitgesproke liberaal.

Maar toe doen die Britse imperialisme sy intrede in Suid-Afrika en druk die Afrikaners se proto-liberale moment dood. Die Britse liberalisme waarmee die Afrikaners toe kennis gemaak het, was die keersy van die Britse imperialisme.

Enersyds het die Britse imperialisme soos ’n stoomroller oor Suid-Afrika gerol en die Afrikaners se selfbeskikking in die Anglo-Boereoorlog en daarna platgetrap. Andersyds het dieselfde imperialisme die liberalisme gebruik om sogenaamd meer regte vir swart mense en bruin mense te bewerkstellig en dit teen die Afrikaners te gebruik.

Só het die imperialisme en die liberalisme twee kante van dieselfde munt geword. Albei is deur die Afrikaners as ’n dodelike gevaar vir hul eie nasionale oorlewing ervaar.

Maar sedert die jare sestig van die vorige eeu het nóg ’n ideologie sy intrede in Suid-Afrika gedoen. Dit was die kommunisme, wat die ANC sedertdien in die jare tot 1990 heeltemal in sy greep gekry het.

Waar Afrikaners dikwels die liberalisme as ’n afskuwelike vloekwoord gebesig en ervaar het, het die groeiende greep van die kommuniste in die ANC byna in ’n spieëlbeeld hiervan ontwikkel. As jy geskrifte van die ANC en die SA Kommunistiese Party in dié tyd lees, sien jy hoe hulle die liberalisme minstens net so heftig en ongenuanseerd soos konserwatiewe Afrikaners veroordeel.

Dit ondanks die feit dat die ANC in sy beginjare ’n produk van die Britse liberalisme was. Dít is allengs totaal deur die toenemende kommunistiese invloed doodgedruk.

Nou ja, die onderhandelingsjare van 1990-’94 het dramatiese veranderings in Suid-Afrika teweeg gebring. Sowel die tradisionele Afrikanernasionalisme as die kommunisme het in diskrediet geraak, en dus het die onderhandelaars hul toevlug tot die liberalisme geneem.

Dis waarom die demokratiese Grondwet wat uiteindelik uit die onderhandelings te voorskyn gekom het, uit en uit ’n liberale produk is. Die moderne demokrasie, soos hy altans in die Weste funksioneer, is regstreeks uit die liberalisme van die Verligting gebore.

Die liberale demokrasie maak dit byvoorbeeld uiters moeilik (let wel, nie onmoontlik nie) vir magsmisbruik en korrupsie om welig te tier – oneindig moeiliker as in ’n diktatuur. Die demokrasie is ten beste ’n morsige en problematiese stelsel, maar wat Suid-Afrika tans met die uitskuif van Jacob Zuma beleef, is ’n regstreekse uitvloeisel van die liberalisme.

Maar jy kan enigiets natuurlik te ver deurvoer. As jy die liberalisme tot allesoorheersende dogma verhef, verword hy tot iets slegs.

Die soort liberalisme wat slegs individue en individuele regte erken en wat die natuurlike grense tussen volke ontken, is die dood in die pot. Dan word dit ’n ideologie wat aan jou voorskryf hoe die werklikheid moet lyk, pleks van dat hy die werklikheid pragmaties verhelder. Dan trap hy in dieselfde val as byvoorbeeld die kommunisme en apartheid.

Uiteindelik bly die goue reël: Gebruik jou gesonde verstand. Moenie die slaaf van enige ideologie – wat dit ook al is – word nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Basson ·

Baie goed weereens!

Jip, met die ‘val van die Berlynse muur’ kon die ANC ‘n in-vlug verandering maak van kommunisme / diktator na liberalisme en dit het hulle in ‘n mate gered en kredietwaardigheid (in hulle konteks) laat behou. Sou die muur nie geval het (maw kommunisme ens), was die ANC dalk in groot ideologiese moeilikheid, maar hulle praat weining daaroor – baie goeie ‘spin &PR’!

Nico K ·

Volgens my beteken liberaal bloot ten gunste van verandering. En konserwatief teen verandering. (Met rewolusionêr ten gunste van ‘n algehele ommekeer, en reaksionêr om terug te verander in die verlede. )Die een kan dus nie altyd sleg wees en die ander een altyd goed nie. Dit hang af waaroor gaan dit. Soos byvoorbeeld Afrikaners beskou liberalisme nog altyd as hul vyand. Maar eintlik was dit die Britse Konserwatiewe Party wat probeer het om SA te koloniseer. Die Liberale Party was teen kolonisasie en altyd ten gunste van onafhanklikheid vir die Boere Republieke. Tydens die Anglo Boere-oorlog het die Liberales groot betogings in Brittanje teen die oorlog gehou. So jy kan nie die ideologië in ‘n blokkie plaas nie.

Hendrik ·

Die liberalisme van ons grondwet het die laaste presidensieele ampstermyn ‘n sterk reukie gekry. Op grondvlak ervaar die mense die sterk reuk van riool in strate en in die rivierstrome. Die reuk van swak dienste in informele nedersettings en vrot hospitale. Ek vra altyd hoe word dit reggestel? Hoe verander ons dit? Dit kan net verander as gemeenskappe in elke woonbuurt werk aan hul gemeenskap. Maak skoon, verbeter, beveilig, skep werk in die gemeenskap vanuit die gemeenskap. As die mense dit doen is hulle reg vir die verkiesing. Verteenwoordiger word gekies uit die gemeenskap en word nie gedryf word deur die ideologie van politieke partye.

Vrydenker Bosvark van Selfdinkheuwel ·

Beste Leopold, ek lees gewoontlik meeste kommentare op politieke artikels en menings. Het my altyd opgeval hoe oordadig die begrip “liberaliste” links en regs in die kommentare aangehaal word. Derhalwe dankie vir hierdie artikel.
Die probleem is dat die meeste Suid-Afrikaners se kennis van wêreld- en Suid-Afrikaanse geskiedenis veel te wense laat. Dit maak hulle slawe van ideologiese slawehandelaars. En vele van die begrippe soos “liberaal en “demokrasie” is vae wollerige begrippe, reg vir die politieke opportuniste op op te ry.

Jerry ·

Gedurende apartheid was dit verstandig om nie n liberale benadering te volg nie. In die nuwe Suid-Afrika is dit verstandig om n liberale benadering te volg sonder om n aanhanger daarvan te wees. Gesonde verstand help ons om te oorleef en om suksesvol te wees in verskillende ideologiese omstandighede sonder om ongehoorsaam te wees aan God se opdragte. N ou gesegde, maar n baie waar gesegde en n voorbeeld van gesonde verstand, se dat wanneer jy in Rome is, dan maak jy soos wat die Romeine maak.

Eish ·

Weereens n uiters leersame artikel vir my. Groot waardering daarvoor.

Casper Labuschagne ·

Streng gesproke bestaan liberalisme in die klassieke sin hoegenaamd nie meer nie. Wat Leopold Scholtz oor die hoof sien is dat vandag se liberalisme die ideologie geword het van linkse en progressiewe onverdraagsaamheid teen enige behoudende waardes en denkrigtings. DIe hoofstroom Westerse liberalisme is toenemend vanaf die 1970’s gekaap deur die linkse progressiewe beweging wat die samelewing wil hervorm na ‘n sosialistiese postmodernisme. Hierdie nuwe onverdraagsame liberalisme het bitter min in gemeen met die klassieke liberalisme aan die begin van die vorige eeu. Dit is juis die onverdraagsaamheid van die “nuwe progressiewe liberalisme” teen behoudende waardes betreffende aborsies, feminisme, LBGT regte, patriotisme, groepsidentiteit en die beskerming van Christelike waardes wat toon dat klassieke liberalisme vandag hoegenaamd nie bestaan nie.

Teenoor hierdie nuwe liberalisme staan konserwatisme oftewel die behoudende denkstroom wat Christelike en nasionaal-patriotiese waardes wil behou. Inderwaarheid het die behoudende ideologiese stroom vandag heelwat in gemeen met klassieke liberalisme wat verdraagsaamheid ten spyte van verskille betref.

Leopold Scholtz ·

Beste Casper, jou standpunt is waar vir Amerika en deels vir Brittanje. Veel minder vir die Europese vasteland. Maar dankie vir jou bydrae.

Boerseun ·

Gooi maar in Duitsland en Suid Afrika, en dan dis redelik die westerse lande van belang vir ons in SA. Dankie Casper.

Stephan de S ·

Soos dieselfde ideologie vir verskillende mense verskillende dinge beteken , beteken gesonde verstand vir elke mens iets veskillend….dus die toets van gesonde verstand is n baie relatiewe begrip. Lyk my nog beter is om op hoogte te wees vd strominge in die idee-wêreld en met dit as agtergrond geloofskeuses te maak. n Laaste opmerking : klassieke liberalisme plaas die individu in die middel en minag daarom gemeenskapswaardes en ondermyn uiteindelik gesinswaardes waarsonder geen gemeenskap heel en gesond kan wees nie.

emiel ·

George Orwell het al dekades terug beskryf hoe ons eie taal en definisies as politieke wapen teen ons gebruik word. Volgens my is ‘n meer beskrywende term vir huidige westerse liberalisme’ die term ” progresiewe kulturele marxisme”. Van John Locke se klasieke liberalisme het daar min oorgebly

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.