Die sleutel vir die toekoms

Deur Theuns de Bruyn

onsondergang-sonsopkoms-2018-09-01

(Foto: Juanita Badenhorst.)

Deur die loop van die geskiedenis was daar baie mense wat die wêreld probeer verander het. Die wens om dit te doen word steeds vandag, veral in kinderflieks, as ʼn edele doelwit vir ʼn mens se lewe voorgehou.

Dit veronderstel egter twee fundamentele oortuigings. Eerstens veronderstel dit dat daar iets fout is met die wêreld soos dit is. Tweedens veronderstel dit dat daar ʼn sinvolle alternatief is. Vernuwing in die wêreld is moontlik.

Die vraag bly egter: Hoe word sodanige vernuwing bewerk? Hierdie vraag sal eers beantwoord kan word as daar duidelikheid is oor die aard van die geskiedenis.

Die geskiedenis

Sommiges dink dat daar inherente vooruitgang in die geskiedenis is. Dit spruit vanuit die ewolusionistiese beskouing van die werklikheid. Die mens word al hoe beter. Saam met sy verskillende vlakke van ontwikkeling kom morele vooruitgang[1].

Dit kan egter nie korrek wees nie. Die oorloë en gerugte van oorloë is steeds op die aarde teenwoordig. Regoor die wêreld heers daar debat oor hoe vêr ʼn mens ontwikkel mag wees voor hy geaborteer word. Mense van vandag is nie beter as mense van 80 jaar terug nie. Onreg teenoor mense is steeds deel van die lewe.

Vooruitgang is dus nie die antwoord nie. Wat dan van herhaling? Dit is tog duidelik dat die geskiedenis ʼn verhaal is van dieselfde foute wat oor en oor gemaak word. Is ʼn sikliese beskouing van die geskiedenis nie die antwoord nie? Dit is ʼn argument waaroor die boek Prediker in die Bybel baie uitbrei.

In hoofstuk 1:10 sê hy: “Is daar iets waarvan ʼn mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het.” Die stelling word sterk beredeneer. Watter toekomshoop mag ons egter hê as dit waar is? Ons is dan net gedoem tot noodwendige herhaling van die verlede. Daar is geen hoop vir vernuwing nie.

Die verbond

Die skrywer van die boek Prediker het dit ook besef. Daarom het hy uiteindelik nie na betekenis of hoop onder die son gesoek nie. Onder die son is daar geen hoop vir enigiets nuuts nie. Die rede daarvoor is omdat die Here en sy verbond nie in berekening gebring word in die lewe “onder die son nie”.

Die Prediker beskryf die betekenis en hoop wat hy uiteindelik gevind het soos volg: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg”[2].

Daar is geen hoop vir vernuwing onder die son nie, alleen in Hom wat bo die son is. Hy wat die son gemaak het beskik oor die mag om in elke omstandighede vernuwing te bring. By Hom is daar altyd iets nuut. Sy goedheid, genade en barmhartigheid wat Hy vanuit sy verbond skenk raak nie uitgeput nie. Dit is “elke oggend nuut”[3].

Hierdie feit het geweldige implikasies vir die korrekte beskouing van die geskiedenis. By die geskiedenis is daar dus nie ʼn inherente vooruitgang nie. Daar is ook nie ʼn meganiese sirkelgang sonder enige hoop op vernuwing nie. Daar is wel ʼn voortgang wat deur God as die Beskikker van die geskiedenis bewerk word. Elkeen wat die verbondsbeloftes van God gelowig aanneem, kry in die voortgaande geskiedenis reeds nuwe hoop, vanuit sy onuitputbare nuwe barmhartigheid.

Daar is dus konkrete hoop vir vernuwing. Hierdie hoop rus nie binne die mens nie. Dit rus ook nie in ʼn vaste kringloop van gebeure nie. Dit rus in God wat met die mens ʼn verbond opgerig het. Dit rus in Hom wat die geskiedenis volgens sy voorsienigheid rig. Dit rus in Hom, want Hy is die aller oorvloedigste fontein van alles wat goed is.

[1] Stoker, H.G. 1956. Praktiese Calvinisme. Potchefstroom: Pro Rege. (p21)

[2] Prediker 12:13-14

[3] Klaagliedere 3:23

  • Theuns de Bruyn is ʼn 5de jaar-student aan die Teologiese Skool op Potchefstroom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.