Die soetste taal met ʼn bitter nasmaak

afrikaans

Argieffoto.

Deur Ds Schalk Strauss

In die 1979-uitgawe van die FAK se sangbundel kry ons seker een van die mooiste liefdesverklarings vir ons moedertaal, in die woorde van die bekende toonsetting van CF Visser se gedig O Boereplaas. In die laaste strofe kry Visser dit reg om menige Afrikaanssprekende se hartsgeheime te laat uitmond in die woorde:  “O moedertaal, o soetste taal! Jou het ek lief bo alles. Van al die tale wat ek hoor, niks wat my siel ooit so bekoor. O moedertaal, o soetste taal! Jou het ek lief bo alles!”

Die probleem met hierdie liefdesverklaring is dat dit in ons land soms grens aan verbode vrugte. Afrikaanssprekendes is soos ʼn jong seun wat vir die eerste keer sy hart op ʼn meisie verloor. In sy hart komponeer hy sy liefdesverklaring strofe vir strofe, maar hy durf dit nie sê nie, want hy weet hierdie verhouding is hom nie beskore nie, omdat sy ouers reken hy is nog te jonk daarvoor. Openlike liefdesverklarings teenoor die Afrikaanse taal het die nuwe taboe geword in die Suid-Afrikaanse huishouding. ʼn Buite-egtelike verhouding wat kan lei tot steniging deur die polities-korrekte elite.

Taal het ʼn politieke speelbal geword. Die EFF sê vandeesweek in ʼn koerantartikel onder meer dat hulle die Universiteit van Pretoria onregeerbaar sal maak indien die taakspan wat die universiteit se taalbeleid moes hersien, nie teen Vrydag aankondig dat Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf word nie. Die taalstryd op die Universiteit van Stellenbosch is ook nog lank nie uitgewoed nie, aangesien sommige beweer taal word gebruik om ʼn sekere groep van die samelewing uit te sluit. Voorstanders van hierdie verandering, soos die EFF en organisasies soos Open Stellenbosch, wil graag sien hoe Afrikaans druipstert by die deur uitgeskop en vervang word met Engels. Ironies genoeg sal taal dan steeds gebruik word om bepaalde groepe uit te sluit.

Die Afrikaanse taal word deesdae deur sommige beskou as sinoniem met die vyand. Taal word gebruik om mense te kategoriseer en selfs te marginaliseer. Indien jy as Afrikaanssprekende ʼn bydrae wil lewer in hierdie land, word jy stilgemaak omdat Afrikaanssprekendes se aandrang op die gebruik van hul moedertaal bloot gesien word as ʼn voortsetting van apartheid en blanke oorheersing. Taal word selfs gebruik om mense as rassiste te etiketteer. Ons moedertaal, wat veronderstel is om vir ons die soetste taal te wees, het ʼn bitter nasmaak gekry.

Die vraag is of dit vir gelowiges nodig is om onder die las van hul skuldgevoelens te swik wanneer hulle hul moedertaal gebruik? Het God bedoel dat ons moedertaal soos ʼn meulsteen om ons nekke moet hang, of het Hy dalk ʼn ander doel daarmee as dit waarvoor ons dit vandag aanwend? Handelinge 2 help ons om God se bedoeling met taal beter te begryp.

In Handelinge 2 vertel Lukas ons wat gebeur het tydens die uitstorting van die Heilige Gees. Terwyl die dissipels almal saam in gebed verenig was, het God sy Gees oor hulle uitgestort. Die oomblik toe dit gebeur, het daar ʼn wonderwerk plaasgevind. Die dissipels het begin om die evangelie te verkondig en elkeen wat daar teenwoordig was, het die Blye Boodskap in hul eie taal gehoor. Die wonder hiervan is dat Grieks op daardie stadium die lingua franca was. Selfs die Jode het dit verstaan en gepraat. Dit sou dus nie snaaks gewees het indien die evangelie in Grieks verkondig is nie. Inteendeel, vanuit ʼn moderne oogpunt beskou, sou dit dalk baie effektiewer gewees het, omdat Grieks so wyd gepraat en verstaan is. God verras ons egter wanneer Hy kies om weereens dinge anders te doen.

Wat hieruit vir ons duidelik is, is dat God nog nooit bedoel het dat taal ʼn politieke speelbal moet wees nie. Nee, die uitstorting van die Heilige Gees beklemtoon juis die feit dat wanneer jy ʼn Christen word, dit nie jou volks- of taalidentiteit ophef nie. God heilig ons taal. Dit beteken dat Hy dit afsonder en reserveer vir ʼn bepaalde doel. Daardie doel word duidelik uit die wyse waarop die dissipels die gawe van taal gebruik het. Lukas sê hulle het oor die groot dade van God gepreek in die tale van almal wat daar teenwoordig was. God het dus taal geheilig om in diens van die evangelie te staan. Ook die Afrikaanse taal is geheilig sodat ons daarmee die groot dade van God kan verkondig. Dit is geheilig sodat ons dit kan inspan binne die massakoor wat sing ter ere van ons Verlosser, Jesus Christus.

Op die oomblik lyk dit asof taaldiversiteit besig is om mense in ons land uitmekaar te dryf. Wanneer taal egter gebruik word waarvoor God dit bedoel het, behoort mense oor taalgrense heen eintlik nader aan mekaar te beweeg sonder om mekaar se motiewe te wantrou. Ons moedertaal, ons soetste taal, hoef nie ʼn bitter nasmaak in ons monde te laat wanneer ons dit gebruik nie, want dit is die taal waarin ek bid en dit is die taal waarin ek my jubels laat opstyg uit die stof. Dit is die taal waarin ek my dankb’re psalme tot God sing en Hom verheerlik in my lof. Laat ons danklied as verloste vandag in ons moedertaal tongklap lekker op ons lippe dans.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JC ·

Baie dankie,

Dit is ‘n baie mooi artikel.

Ons moet ons taal uitleef en liefhe bo alles. Ek meen hierdie episode gaan Afrikaans verskriklik baie sterker aan die ander kant laat uitkom aangesien mense nou weer teruggevoer word na die liefde vir ons allerpragtigste Taal en weereens opnuut besef hoe veel dit vir ons beteken. Afrikaans is ons allerpragtigste en allersoetste taal en niemand sal ons van enigiets ander oortuig nie. Afrikaanses staan op vir Arikaans! Dit maak my hart so bly! Orals sien mens dit gebeur. Afrikaanse titels deur skrywers soos PG du Plessis, Monique Botha (Valsrivier-pragtige boek!) en Andre P Brink skiet die hoogte in!

DIT IS ONS ALLERSOETSTE TAAL EN SAL VIR ALTYD ONS LIEFLING BLY!

ONS HET NIKS!!!!! OM VOOR SKAAM TE WEES NIE EN ALLES!! OM OOR TROTS TE WEES.

ONS VIR JOU SUID-AFRIKA!

ONS VIR JOU AFRIKAANS!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.