Die Solidariteit Beweging se Helpmekaar-plan is groot en is van toepassing op baie vlakke

dirk_hermann

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit.

Eerskomende Saterdag vind die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad plaas. Op die beraad gaan die Beweging se Helpmekaar 2020-plan bekend gemaak word. Die plan is gebaseer op die idee van selfstandigheid – minder regering en meer gemeenskap. Kitsontledings van die plan gaan nie werk nie, want die Helpmekaar-plan het vele fasette en is groter as waaraan kitskommentators reg kan laat geskied.

Die Solidariteit Beweging se plan is groot en het betrekking op verskillende vlakke. Op nasionale vlak raak ons betrokke by nasionale debatte. Ons is aktief oor e-tol, makro-ekonomiese beleid, internasionale skakeling, misdaad, werkskepping, werkbeskerming en talle ander kwessies. Ons vat hande met ander en neem deel aan die optog teen korrupsie; hou beraad saam met Numsa oor die elektrisiteitskrisis; en doen voorleggings aan parlementêre portefeuljekomitees. Die antwoord lê nie in onttrekking of isolasie nie, maar in aktiewe deelname op ten minste drie vlakke: die plaaslike gemeenskap, ’n taalgemeenskap en ’n kultuurgemeenskap.

Op plaaslike gemeenskapsvlak raak ons betrokke daar waar jy bly. Slaggate word reggemaak (nie net Afrikaner-slaggate nie); die omgewing word beveilig; en riooldienste word herstel tot voordeel van almal in die gemeenskap. Hierdie planne word gedoen in samewerking met die polisie, ander gemeenskaporganisasies, taxiverenigings en vele ander. Die dienste wat tradisioneel deur die staat gelewer word, word nou deels deur die gemeenskap oorgeneem.  Die inisiatiewe kom hoofsaaklik vanuit AfriForum-takke en Afrikaner-geledere, maar enigeen kan hand bysit en só word plaaslike gemeenskappe gebou wat werk.

Die plan raak ook die taalgemeenskap. Taal is nie die besit van Afrikaners nie, maar word wyd gepraat. Die plan is inklusief Afrikaans. Akademia word gebou as ʼn wêreldklas- Afrikaanse universiteit. Sol-Tech lei studente in Afrikaans op. Dit is nie ʼn benoude Afrikaans nie, maar ʼn oop Afrikaans vir almal wat in Afrikaans wil kom studeer. Solidariteit versprei duisende skooltassies by Afrikaanse skole. Daar word kindertjies egter nie in rasserytjies geplaas nie, maar al die behoeftige kinders in die skole wat aansoek doen, word gehelp. Ons neem deel aan taaldebatte en is lid van die Afrikaanse Taalraad. Afrikaanse gemeenskapmedia, soos Maroela Media, Pretoria FM en Kraal Uitgewers, word gebou. Die sukses van moedertaalonderrig word uitgelig en die Solidariteit Helpende Hand se ondersteuningsentrum help Afrikaanse skole om suksesvol te wees. Oor Afrikaans is ons nie eksklusief nie, maar inklusief.

Die plan raak spesifiek ook Afrikaners as kultuurgemeenskap. Afrikaners is immers ʼn herkenbare groep, net soos wat daar nog altyd in die geskiedenis vele kultuurgroepe bestaan het en steeds bestaan. Soos met alle ander kultuurgroepe is daar boonop ook nêrens ’n amptelike definisie van wat ’n Afrikaner presies is en nie is nie; en die Solidariteit Beweging beskou buitendien pogings om so ’n finale definisie te bepaal as onwenslik en futiel. Maar net omdat daar nie ’n amptelike definisie bestaan nie, beteken dit nie dat kultuurgroepe, insluitende die Afrikaners, nie bestaan nie. En die keersy daarvan geld ook: Dat Afrikaners bestaan, beteken ook nie dat Afrikaners eenvormig dink, altyd dieselfde sal bly of in isolasie van die res van die wêreld wil leef nie.

Om egter elke keer wanneer Afrikaners iets aanpak met beskuldigings vorendag te kom dat hulle eksklusief is, is inderwaarheid om te sê dat Afrikaners nie mag bestaan nie. Want hoe anders kan jou bestaan iets beteken as dat jy soms in kultuurgemeenskaplike verband projekte aanpak? Trouens, dit is eerder die eis dat Afrikaners nooit as Afrikaners inisiatief mag neem, in onderlinge of algemene belang nie, wat so uiters eksklusief is.

Al is daar geen amptelike definisie nie, kan ’n mens in breë trekke sê dat Afrikaners op een of ander wyse ’n gedeelde erfenis- en geskiedenisbesef het. Hulle selfidentifiseer oor die algemeen as Afrikaners, dikwels stilswyend, en baie maal is dit in die praktyk eenvoudig so dat Afrikaners deur andere as Afrikaners beskou word en net mooi niks aan daardie beskouing kan doen nie. Net hierdie naweek het president Zuma weer na Afrikaners spesifiek verwys. Die Solidariteit Beweging gaan nie bepaal wie Afrikaners is en wie nie is nie: Ons pak projekte aan, dikwels veral ten behoewe van Afrikaners, en wie ook al daarvan wil deel word, mag dit doen.

Daar is immers spesifieke uitdagings vir Afrikaners. Die Solidariteit Beweging tree spesifiek daarvoor in. Niemand anders en beslis nie die regering nie, gaan dit doen nie. Die FAK pak tipies kultuurprojekte aan en doen navorsing oor geskiedenis. Ons wil ook vir Afrikaners ʼn omgewing skep waarbinne hulle as kultuurgemeenskap veilig voel. Dit word nie gedoen deur hulle te ontken nie.

Die Solidariteit Beweging se Helpmekaar-plan is nog veel meer as dit. Dit is omvattend, inklusief, maar ook spesifiek. Dit is nie ʼn rasseplan nie, maar ʼn taal-, kultuur- en gemeenskapsplan.

ʼn Groot plan het ʼn groot begroting nodig. Vir die volgende vyf jaar gaan die begroting van die plan R3,5 miljard wees. Anders as die besigheidswêreld is ʼn gemeenskapsplan rekeningkundig ʼn nulsom. Alle geld word teruggeploeg in die gemeenskap. Die wins van die plan is ʼn suksesvolle gemeenskap, hetsy nasionaal, plaaslik, op taal- of kultuurvlak. Op al hierdie vlakke is die wins van die Solidariteit Beweging nie net Afrikaner-wins nie, maar die wins vloei oor na alle gemeenskappe. Die Solidariteit Beweging se maatstaf van sukses is of die Beweging se instellings help om ʼn toekoms te skep waarin plaaslike gemeenskappe, die Afrikaanse taalgemeenskap en Afrikaners as kultuurgemeenskap vry, veilig en voorspoedig is.

Wat Suid-Afrika nodig het, is nie minder Solidariteit Beweging-planne nie, maar baie gemeenskappe wat sulke planne aanpak. As almal die krag van die gemeenskap, van selfhelp en van minder regering verstaan, wag daar vir ons almal ʼn blink toekoms.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mike

Met ander woorde die Afrikaner gaan maar opdok om dit wat hyself ook opgeneuk te herstel sodat die vlugtelinge uit afrika hier te lande soos die Nigeriers, Mosambiekers, Zimbabweers, Chinese, en al die ander ook lekker kan deel in ons vrygewigheid. WAAR pas selfbeskikking in die plan in en hoeveel van die geld word daarvoor bewillig, wat word van ons belastiggeld want nou betaal ons dubbel? Hoeveel van die geld word aangewend vir self beskikking wat Solidariteit ook verkondig?

Mike

Afrikaners is ‘n klein volkie en sy krimpende getalle met andersvolkiges wat die land instroom en wat boonop deur die regering ingevoer word maak self-besluitneming uiters noodsaaklik. Dit is een ding om ‘n gat in die pad te herstel maar dit is iets heel anders as jy polities magteloos is want dan gaan daardie beter teerpad jou niks help nie.

Hierdie instandhouding van dienste moet noodwendig op ‘n deurlopende basis volgehou word met gepaardgaande kostes wat wie moet betaal? As hierdie instandhoudingswerk tot werksgeleenthede gelei het wat nie die geval is nie sou ek dit ook ondersteun het.

Disselboom

Die koue logika in die gedagte van opeis wat jou toekom of om die onreg te ly in die hopeloosheid van ‘n regering wat nie eers sy eie stert kan jaag nie, teenoor om self in te klim en in die proses dalk twee keer vir dieselfde diens te betaal. Laasgenoemde is doenbaar sonder oorlog. Of die volhoubaar is? Eersgenoemde is skrikwekkend en moet nie ligtelik gesê word nie, maar kom ons sê dit ‘n keer: jy kom op die punt wat daar net oorlog oorbly om weer beheer terug te vat. Ons is nie naastenby gereed hiervoor nie. Nie… Lees meer »

Francois

Mike

Selfbeskikking is n proses en word opgebou. Vermoë word gebou, dit val nie uit die hemel nie. Waarvan Dr. Dirk (Solidariteit) praat is dat dit n internasionale regsbeginsel is om vir jou gemeenskap te kan sorg mits jy nie n ander gemeenskap te na kom nie. As jy n beter metode(s) het as Solidariteit Beweging, sit dit op die tafel, sodat ons Volk dan vinniger selfvoorsienend kan wees.

Henry

Mike Selfbeskikking sê jy. Wat jy waar en van wie af gaan kry? Hierdie mite wat aan ons Afrikaners voorgehou is, is reeds sovele dekades oud. Dit het sovele van ons goedgelowige Afrikaners deur die jare heen beïndruk en ons selfs laat glo dat ‘Tuislande’ vir elke volk in Suid Afrika ‘n haalbare moontlikheid is. My pelle en ek wat reeds deur al die beloftes van die sestigers, die Soweto onluste van die sewentigers en die Grensoorlog is, weet nou dat “selfbeskikking” soos julle mense dit graag stel, een of meer Utopia’s te ver is. Wie sal daardie “selfbeskikking” aan… Lees meer »