Die Solidariteit Beweging se Helpmekaar-plan is groot en is van toepassing op baie vlakke

dirk_hermann

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit.

Eerskomende Saterdag vind die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad plaas. Op die beraad gaan die Beweging se Helpmekaar 2020-plan bekend gemaak word. Die plan is gebaseer op die idee van selfstandigheid – minder regering en meer gemeenskap. Kitsontledings van die plan gaan nie werk nie, want die Helpmekaar-plan het vele fasette en is groter as waaraan kitskommentators reg kan laat geskied.

Die Solidariteit Beweging se plan is groot en het betrekking op verskillende vlakke. Op nasionale vlak raak ons betrokke by nasionale debatte. Ons is aktief oor e-tol, makro-ekonomiese beleid, internasionale skakeling, misdaad, werkskepping, werkbeskerming en talle ander kwessies. Ons vat hande met ander en neem deel aan die optog teen korrupsie; hou beraad saam met Numsa oor die elektrisiteitskrisis; en doen voorleggings aan parlementêre portefeuljekomitees. Die antwoord lê nie in onttrekking of isolasie nie, maar in aktiewe deelname op ten minste drie vlakke: die plaaslike gemeenskap, ’n taalgemeenskap en ’n kultuurgemeenskap.

Op plaaslike gemeenskapsvlak raak ons betrokke daar waar jy bly. Slaggate word reggemaak (nie net Afrikaner-slaggate nie); die omgewing word beveilig; en riooldienste word herstel tot voordeel van almal in die gemeenskap. Hierdie planne word gedoen in samewerking met die polisie, ander gemeenskaporganisasies, taxiverenigings en vele ander. Die dienste wat tradisioneel deur die staat gelewer word, word nou deels deur die gemeenskap oorgeneem.  Die inisiatiewe kom hoofsaaklik vanuit AfriForum-takke en Afrikaner-geledere, maar enigeen kan hand bysit en só word plaaslike gemeenskappe gebou wat werk.

Die plan raak ook die taalgemeenskap. Taal is nie die besit van Afrikaners nie, maar word wyd gepraat. Die plan is inklusief Afrikaans. Akademia word gebou as ʼn wêreldklas- Afrikaanse universiteit. Sol-Tech lei studente in Afrikaans op. Dit is nie ʼn benoude Afrikaans nie, maar ʼn oop Afrikaans vir almal wat in Afrikaans wil kom studeer. Solidariteit versprei duisende skooltassies by Afrikaanse skole. Daar word kindertjies egter nie in rasserytjies geplaas nie, maar al die behoeftige kinders in die skole wat aansoek doen, word gehelp. Ons neem deel aan taaldebatte en is lid van die Afrikaanse Taalraad. Afrikaanse gemeenskapmedia, soos Maroela Media, Pretoria FM en Kraal Uitgewers, word gebou. Die sukses van moedertaalonderrig word uitgelig en die Solidariteit Helpende Hand se ondersteuningsentrum help Afrikaanse skole om suksesvol te wees. Oor Afrikaans is ons nie eksklusief nie, maar inklusief.

Die plan raak spesifiek ook Afrikaners as kultuurgemeenskap. Afrikaners is immers ʼn herkenbare groep, net soos wat daar nog altyd in die geskiedenis vele kultuurgroepe bestaan het en steeds bestaan. Soos met alle ander kultuurgroepe is daar boonop ook nêrens ’n amptelike definisie van wat ’n Afrikaner presies is en nie is nie; en die Solidariteit Beweging beskou buitendien pogings om so ’n finale definisie te bepaal as onwenslik en futiel. Maar net omdat daar nie ’n amptelike definisie bestaan nie, beteken dit nie dat kultuurgroepe, insluitende die Afrikaners, nie bestaan nie. En die keersy daarvan geld ook: Dat Afrikaners bestaan, beteken ook nie dat Afrikaners eenvormig dink, altyd dieselfde sal bly of in isolasie van die res van die wêreld wil leef nie.

Om egter elke keer wanneer Afrikaners iets aanpak met beskuldigings vorendag te kom dat hulle eksklusief is, is inderwaarheid om te sê dat Afrikaners nie mag bestaan nie. Want hoe anders kan jou bestaan iets beteken as dat jy soms in kultuurgemeenskaplike verband projekte aanpak? Trouens, dit is eerder die eis dat Afrikaners nooit as Afrikaners inisiatief mag neem, in onderlinge of algemene belang nie, wat so uiters eksklusief is.

Al is daar geen amptelike definisie nie, kan ’n mens in breë trekke sê dat Afrikaners op een of ander wyse ’n gedeelde erfenis- en geskiedenisbesef het. Hulle selfidentifiseer oor die algemeen as Afrikaners, dikwels stilswyend, en baie maal is dit in die praktyk eenvoudig so dat Afrikaners deur andere as Afrikaners beskou word en net mooi niks aan daardie beskouing kan doen nie. Net hierdie naweek het president Zuma weer na Afrikaners spesifiek verwys. Die Solidariteit Beweging gaan nie bepaal wie Afrikaners is en wie nie is nie: Ons pak projekte aan, dikwels veral ten behoewe van Afrikaners, en wie ook al daarvan wil deel word, mag dit doen.

Daar is immers spesifieke uitdagings vir Afrikaners. Die Solidariteit Beweging tree spesifiek daarvoor in. Niemand anders en beslis nie die regering nie, gaan dit doen nie. Die FAK pak tipies kultuurprojekte aan en doen navorsing oor geskiedenis. Ons wil ook vir Afrikaners ʼn omgewing skep waarbinne hulle as kultuurgemeenskap veilig voel. Dit word nie gedoen deur hulle te ontken nie.

Die Solidariteit Beweging se Helpmekaar-plan is nog veel meer as dit. Dit is omvattend, inklusief, maar ook spesifiek. Dit is nie ʼn rasseplan nie, maar ʼn taal-, kultuur- en gemeenskapsplan.

ʼn Groot plan het ʼn groot begroting nodig. Vir die volgende vyf jaar gaan die begroting van die plan R3,5 miljard wees. Anders as die besigheidswêreld is ʼn gemeenskapsplan rekeningkundig ʼn nulsom. Alle geld word teruggeploeg in die gemeenskap. Die wins van die plan is ʼn suksesvolle gemeenskap, hetsy nasionaal, plaaslik, op taal- of kultuurvlak. Op al hierdie vlakke is die wins van die Solidariteit Beweging nie net Afrikaner-wins nie, maar die wins vloei oor na alle gemeenskappe. Die Solidariteit Beweging se maatstaf van sukses is of die Beweging se instellings help om ʼn toekoms te skep waarin plaaslike gemeenskappe, die Afrikaanse taalgemeenskap en Afrikaners as kultuurgemeenskap vry, veilig en voorspoedig is.

Wat Suid-Afrika nodig het, is nie minder Solidariteit Beweging-planne nie, maar baie gemeenskappe wat sulke planne aanpak. As almal die krag van die gemeenskap, van selfhelp en van minder regering verstaan, wag daar vir ons almal ʼn blink toekoms.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Mike ·

Met ander woorde die Afrikaner gaan maar opdok om dit wat hyself ook opgeneuk te herstel sodat die vlugtelinge uit afrika hier te lande soos die Nigeriers, Mosambiekers, Zimbabweers, Chinese, en al die ander ook lekker kan deel in ons vrygewigheid. WAAR pas selfbeskikking in die plan in en hoeveel van die geld word daarvoor bewillig, wat word van ons belastiggeld want nou betaal ons dubbel? Hoeveel van die geld word aangewend vir self beskikking wat Solidariteit ook verkondig?

Doons ·

Mike,ek voel soms soos jy,maar daar is nie n manier hoe hierdie regering na ons gaan kyk nie,gaan kyk hoe gaan dit in arm blanke gebiede, net blankes help,niemand anders help nie.Ons kan die houding inneem ,ek betaal belasting en daarom eis ek diens,vergeet dit.Ek het n opsomming van die plan gelees en dit maak my baie opgewonde,hier is leiers met visie en bogger hierdie regering met sy booswigte wat net na hulself kyk!Kyk na die belofte in Jer 29:4-7

Mike ·

Doons ek sal die plan net ondersteun as dit blankes help en nie die wat in elke verkiesing teen ons stem nie. Die tweede vereiste is dat dit ook Afrikaner self bestuur moet finansier anders gaan dit ons ook nie veel help nie omrede ons steeds onderdanig bly aan die wat ons wil ondergrawe. Hoe lank en hoeveel moet ons dan nog doen om onsself te red van ondergang?

Mike ·

Afrikaners is ‘n klein volkie en sy krimpende getalle met andersvolkiges wat die land instroom en wat boonop deur die regering ingevoer word maak self-besluitneming uiters noodsaaklik. Dit is een ding om ‘n gat in die pad te herstel maar dit is iets heel anders as jy polities magteloos is want dan gaan daardie beter teerpad jou niks help nie.

Hierdie instandhouding van dienste moet noodwendig op ‘n deurlopende basis volgehou word met gepaardgaande kostes wat wie moet betaal? As hierdie instandhoudingswerk tot werksgeleenthede gelei het wat nie die geval is nie sou ek dit ook ondersteun het.

Disselboom ·

Die koue logika in die gedagte van opeis wat jou toekom of om die onreg te ly in die hopeloosheid van ‘n regering wat nie eers sy eie stert kan jaag nie, teenoor om self in te klim en in die proses dalk twee keer vir dieselfde diens te betaal.

Laasgenoemde is doenbaar sonder oorlog. Of die volhoubaar is?

Eersgenoemde is skrikwekkend en moet nie ligtelik gesê word nie, maar kom ons sê dit ‘n keer: jy kom op die punt wat daar net oorlog oorbly om weer beheer terug te vat. Ons is nie naastenby gereed hiervoor nie. Nie geestelik of fisies nie. Moet ons begin gereed maak? Hoe, veral hoe sonder om ‘n klomp dwase heethoofdigheid op te wek.

Mike ·

As die Solidariteit plan ten minste 80% Afrikaner self bestuur ondersteun en die res gaan daarvoor om dienste en veiligheid in stand te hou sou ek dit ondersteun het, maar dit blyk nie so te wees nie, so wat is die eintlikke doel van die plan???? Ons kan nie onsself verarm deur net aan te hou belasting betaal aan ‘n vyandige regering nie, ons moet onder die spul uit en die enigste oplossing is self beskikking.

Francois ·

Mike

Selfbeskikking is n proses en word opgebou. Vermoë word gebou, dit val nie uit die hemel nie. Waarvan Dr. Dirk (Solidariteit) praat is dat dit n internasionale regsbeginsel is om vir jou gemeenskap te kan sorg mits jy nie n ander gemeenskap te na kom nie. As jy n beter metode(s) het as Solidariteit Beweging, sit dit op die tafel, sodat ons Volk dan vinniger selfvoorsienend kan wees.

Mike ·

Francois gaan Solidariteit net vir die Afrikaner sorg met daardie geld? Wel as jy so gedink het het jy ‘n helse fout gemaak, daardie geld gaan vir almal sorg, self die wat jou so haat en ‘n “settler” en ‘n “rassis” noem. Selfbeskikking is verseker ‘n proses maar as niemand dit begin nie kan dit nooit realiseer nie of hoe?

Henry ·

Mike
Selfbeskikking sê jy. Wat jy waar en van wie af gaan kry?

Hierdie mite wat aan ons Afrikaners voorgehou is, is reeds sovele dekades oud. Dit het sovele van ons goedgelowige Afrikaners deur die jare heen beïndruk en ons selfs laat glo dat ‘Tuislande’ vir elke volk in Suid Afrika ‘n haalbare moontlikheid is.

My pelle en ek wat reeds deur al die beloftes van die sestigers, die Soweto onluste van die sewentigers en die Grensoorlog is, weet nou dat “selfbeskikking” soos julle mense dit graag stel, een of meer Utopia’s te ver is.

Wie sal daardie “selfbeskikking” aan ons 3 miljoen Afrikaners skenk/oorhandig Mike?
Die huidige of toekomstige regime wat ongeveer 50 miljoen siele verteenwoordig?
Daardie mense wat van ons arbeid, insig en belastinggeld afhanklik is?
Watter grondgebied gaan aan ons afgestaan word?
Selfbeskikking vir 3 miljoen Afrikaners is ‘n droom wat lankal nie meer met die werklikheid tred hou nie.

Dat Solidariteit iets beet het wat op praktiese en uitvoerbare wyse vir ons mense die moontlikheid bied, om ten spyte van die bedreigings van ‘n korrupte en Marxisties gedrewe regime in hierdie droewe en geweldadige land te oorleef, lei geen twyfel nie.

Natuurlik gaan dit moeilik wees om al die ideale te bereik wat in die vooruitsig gestel word, maar dat dit ‘n meer haalbare doelwit is teenoor al die beloftes wat deur die jare heen aan ons Afrikaners gesmous is, ly geen twyfel nie.

Mike ·

Henry die Afrikaner is van al sy regte gestroop deur Afrikaner politic en nou hardloop van hulle weg en die res krepeer in plakkerskampe, wil jy dit so hou? Ek het ook my deel gedoen militêr en op ander gebiede ek is ook vir al my werk en moeite in die tande geskop, dis hoekom ek dit nie weer gaan toelaat nie.

Tuislande is haalbaar en dit sal werk, dit sal net nie werk vir die geldmag nie dis hoekom hulle dit nie ondersteun nie. Die wat die tuislande help vernietig het sit nou met nobel pryse van miljoene en die ander is regerings aptenare met vet bankrekenings.

Selfbeskikking gaan nie oorhandig word nie jy voer die argument soos ‘n duidelikke linkse. Selfbeskikking word onderhandel en dit vat tyd. Hierdie plan van Solidariteit is niks anders as om die blanke/Afrikaner maar net NOG te laat betaal aan die wat teen hom diskrimineer nie. Dieselfde mense wat BBEE en RA ondersteun en wat vlug van hulle vernietigde lande gaan die meeste voordeel trek uit hierdie miljoene rande. Ek vra hoekom finansier ons WEER ons eie ondergang soos wat ons met de Klerk en sy “gangsters” gedoen het.

Hierdie poging van Solidariteit is ‘n duidelikke bewys dat die NP/DA/ANC beleid (dit wat jy duidelik voorstaan) NIE WERK nie maar julle karring aan om dit te prober maak werk ten koste van ons kinders se toekoms.

Julle gaan geen idiaal bereik nie want julle is WEER besig met ‘n onwerkbare plan en in my oë meer ‘n gemors as wat de Klerk probeer het, die bewys lê die hele afrika vol julle is net te naief om dit raak te sien.

Piet ·

Mike, wanneer iemand nie met jou idees saamstem nie, is hulle nie liberal of links nie.

Johann Marx ·

As hierdie plan van Solidariteit werk……dan gaan dit ten minste EEN ding bewys, en dit is dat ons NIE ‘n regering NODIG HET NIE. As ons dit alles self doen, en self daarvoor betaal…..waarom is daar dan ‘n amptenary wat elkeen ‘n moerse hap belastinggeld opvreet? Raak ontslae van die spul. Nie deur hulle uit te stem nie, maar deur hulle af te dank!!

Fanie ·

Ons sal seker maar net d paaie kan regmaak en reg hou v almal om te gebruik. Weer en weer, oor en oor. Tog te lekker!!!

Bruno Stef ·

Wat my bekommer omtrent die konsep van inklusief is dat sovele persone oor baie jare heen net eenvoudig passief geraak het en eenvoudig glo dat al hulle behoeftes net aan voldoen moet word sonder enige positiewe aksie van hulle kant. Dit verduidelik dan ook waarom gese word dat jy nie opheffing van jou eie mense kan doen en jou buurman agterlaat nie wat op sy beurt n bodemlose put kan veroorsaak.Daar wag n fyn balanseertoertjie op die organiseerders om die hele konsep te verkoop aan die publiek en tussen afbrekende Politiek en Liberale Media op die kantlyn te maneuver.

Ludwig Myburgh ·

Die Solidariteit beweging span die wa voor die osse in. Dit is absoluut ondenkbaar dat Solidariteit so naief is om te glo dat hulle ons Afrikaners en blankes maatskaplik kan ophef en ekonomies bemagtig sonder om eers ‘n veilige tuiste te skep vir ons Afrikaners en blankes in die vorm van kulturele selfbeskikking met munisipale status nie. Sonder kulturele selfbeskikking met munisipale status sal ons Afrikaners nooit vry, onafhanklik en voorspoedig leef in ons vaderland nie. Alvorens daar nie sulke veilige tuiste vir ons is nie, sal die ANC, EFF en die DA (wat geensins ons Afrikaners se belange beskerm nie) altyd aanspraak maak op die fasilitiete wat ons bou en ontwikkel.

Dr. Dirk Herman sê; “dit is nie ‘n rasseplan nie, maar ‘n taal-,kultuur en gemeenskapsplan”. Ons sit juis met rasse probleme, en daarom moet dit juis ‘n rasseplan wees en dit kan ons slegs oplos deur kulturele selfbeskikking met munisipale status, om onself te regeer in ons eie grondgebied.

Ludwig Myburgh ·

Henry, ons gaan aanspraak maak op selfbeskikking aangesien dit ons grondwetlike reg is volgens artikel 235 van die grondwet. Daarby is dit ons internasionale reg en waarvoor Front Nasionaal veg.

Mike ·

Ek sal so-iets ondersteun want dit is die enigste lang termyn oplossing. Om geld in die wankelende SA van de Klerk in te pomp is ‘n duidelikke bewys van die onwerkbaarheid van daardie beleid en ‘n klap in die gesig van die afrikaner.

Henry ·

Ludwig
Front Nasionaal het minstens ‘n strategie en motivering wat aan die hand van Art 235 van ons gebrekkige Grondwet, aangewend kan word om ons reg en belange as ‘n minderheidsgroep te bevorder. Ek wil graag glo dat meeste Afrikaners julle poging waardeer.
Het VF+ nie ook soiets in gedagte nie?
Ek weet dat dit makliker gesê as gedaan mag wees, maar FN moet miskien ‘n groter poging aanwend om julle doelwitte wyer bekend te stel, teneinde groter steun te verwerf.

Ludwig Myburgh ·

Dit is juis ons plan om op grootskaal reklame te doen om ons mense met kennis oor ons te bemagtig. Op die stadium is ‘n gebrek aan fondse ons grootste struikelblok.

Soek my gerus op facebook (ek is die ou met die vliegtuig) en ek nooi jou na ons volgende vergadering.

Adoons ·

Ludwig

Front Nasionaal se tuisblad se mees onlangse artikel dateer van Oktober 2014. Dis net mooi ‘n jaar gelede. Vir ‘n volle jaar het niemand die moeite gedoen om net bietjie hulle ondersteuners op hoogte te bring met wat in die party aangaan nie. Op hulle tuisblad kan mens ‘n petisie teken dat Clive Derby Lewis op parool vrygelaat moet word. My vriend, Clive Derby Lewis is al in Mei op parool vrygelaat. As Front Nasionaal nie eers ‘n webblad in stand kan hou nie, dink jy regtig hulle gaan vir jou selfregering gereël kry? Dink jy nie jy is bietjie naief nie? Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek voel 100% soos jy oor selfbeskikking. Dis net die proses om daar uit te kom: mense wat dink ons gaan eers met ‘n afvaardiging of petisie by die VN ‘toestemming’ kry, en dan het ons dit ewe skielik, is naief. Dit werk gewoon net nie so nie. Die manier om dit te doen, is om die realiteit te skep, byvoorbeeld deur ‘n Orania-stad op die grond te sit, deur beduidende instellings te bou soos die Solidariteit Beweging met sy onderskeie vertakkings, en om dan die ANC met die realiteit te konfronteer.

Ludwig Myburgh ·

Adoons, ek was sopas op FN se webwerf en hulle het onlangs berigte geplaas. Besoek http://www.frontnasionaal.net. Verder promifeer FN samewerking met al die Afrikaner organisasies soos Solidariteit, AfriForum, FAK, VKK, AWB en die VF+.

Ons is in ‘n krisis, ons lewe en voortbestaan word ernstig bedreig en ons moet saamstaan terwille van oorlewing.

Ampie ·

Baie goed verwoord Dirk. Ek glo Solidariteit is op die regte pad. Ek hou van planne met uitkomste, nie net praatjies of vae beloftes nie. Ek hou van strukture skep en nie by die swak, nie-geinteresseerde vyandige regering, vra vir gunste nie. Ons sien uit na die aankondigings. Soos Solidariteit tans planne maak, kan Afrikaners met gesonde verstand nie anders as om sulke inisiatiewe te ondersteun nie. Hier is vir die eerste keer sedert 1994 (dalk selfs vroeer) manne met planne (wat kan werk).

Peet J ·

Soos alombekend is daar daagliks optogte deur ontevrede inwoners asgevolg van swak dienslewering deur munisipaliteite. Hierdie optogte gaan gewoonlik gepaard met versperrings van paaie, brandende bande, beskadiging van geboue en voertuie. Volgens Solidariteit sal die dienste wat die inwoners ontevrede stel en wat deur die staat gedoen moet word nou deels in die toekoms deur die plaaslike gemeenskappe behartig gaan word. Ek sal graag wil weet:-
Gaan Solidariteit gekwalifiseerde ambagsmanne indiens neem
Wat gaan van die kontrakteurs word wat deur die munisipaliteite aangestel is om die tipe werk te doen
Gaan die staat finansieel bydra te opsigte van die materiaal salarisse ens. as die gemeenskap die werk doen
Soos ek die optredes van die ontevrede gemeenskappe gadeslaan dink ek nie dit is raadsaam om met hulle probleme in te meng nie

dr. T. M. Hart ·

T.M.
Volgens die eerste 20+ kommentare vanaf Mike, Doons en Disselboom tot by Ludwig, Adoons, Ampie en Piet, is dit duidelik dat Dirk Herman en Solidariteit moontlik iets beet het. Hoewel die reaksie byna op ‘n tweegesprek tussen Mike en die res ontaard en mense meestal nie heeltemal met Dirk saam stem nie en Henry [van of pro FN?] ook deurloop, is dit weer loshande die Afrikaner-in -aksie. Miskien moet hulle / ons weer ‘n slag rustig besin oor alles en wyd begin soek na meer as sektorleiers wat werklik leiding kan gee.
– Wat van ‘n artikelreeks waarin mense gevra word om moontlike oplossings aan die hand te doen…

Henry ·

mnr Hart
Jammer dat u die kommentare as ‘n tweegesprek met Mike verwar.
Dit is vir seker in my geval nie die bedoeling nie. Trouens, die ou bekende beskuldiginge deur Mike van sogenaamde linkse insigte het verseker dat ek nie verdere tyd en energie aan ‘n antwoord sal vermors nie.
Dirk Hermann se uiteensetting is heel duidelik, realisties en geniet wye steun. Natuurlik is die laaste woord nog nie daaroor gespreek nie, maar wat ‘n indrukwekkende bekendstelling!
Waarom laat waai jy nie met moontlike oplossings nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.