Die sosiale revolusie

Deur prof. Johan Janse van Rensburg

Wladimir Lenin, Friedrich Engels en Karl Marx (v.l.n.r.) was belangrike ontwikkelaars van die sosialistiese idee.

Die kulturele revolusie het onafwendbaar in ʼn sosiale revolusie ontluik. ʼn Sosiale revolusie is deur Karl Marx (1818-1883) se heftige stryd teen kapitalisme geïnspireer. Kapitalisme moet volgens Marx deur radikale transformasie uitgewis word ten einde sosiale gelykheid en vryheid te bewerkstellig.

Antonio Gramski (1891-1937) het die gevare van ʼn totale revolusie in Rusland waargeneem en ʼn gematigde verandering van die samelewing in Italië voorgestel. Friedrich Engels (1820-1895) het die sosiale revolusie na ʼn omvattende verandering op elke terrein van die samelewing uitgebrei. Hierdie omvattende klassestryd het die benaming Neo-Marxisme verdien.

Jefrey D Breshears gee in sy boek American Crisis: Cultural Marxism and The Culture War: A Christian Respons ʼn aantal merkers wat raakvlakke met die Suid-Afrikaanse konteks het:

1. ʼn Diktatoriale elite beskerm deur magsmisbruik die status quo om die sosiale revolusie te stuit. ʼn Sosiale revolusie het ten doel om sulke politieke magsmisbruik uit te wis.

2. Kolonialisme word as primêre vyand van die sosiale revolusie beskou. Radikale transformasie is gevolglik in talle lande met die afbreek van standbeelde in verband gebring. In Suid-Afrika is standbeelde en ander kulturele viering van die verlede as verheerliking van apartheid geskend of verwyder.

Afrikaners en boere word as rassiste en vyande van die sosialistiese revolusie geteiken. Die jongste voorbeeld is die besluit van die Universiteit Stellenbosch om Afrikaans as voertaal af te skaf. Só word multikulturalisme tot ʼn ideologie verhef. Dié besluit is met die skrywe van hierdie artikel deur die Menseregtekommissie as ʼn skending van menseregte veroordeel.

3. Morele relativisme is ʼn belangrike strategie om die Christelike waardes van die Westerse beskawing te ondermyn. Die Christelike etiek word as onderdrukkend en onverdraagsaam aangeval. Die kulturele revolusie is nie sonder rede ʼn seksuele revolusie genoem nie.

4. Inklusiwiteit en pluralisme het wagwoorde van die sosiale revolusie geword. Volgens beoogde haatspraakwetgewing word dit as haatspraak geklassifiseer wanneer een geloof as die enigste ware godsdiens verkondig word. Só ʼn toepassing van die beoogde wetgewing bevorder universalisme en hou ʼn wesenlike gevaar vir die Christelike geloof in.

5. Op verskeie maniere word skole, universiteit en opvoedingsinrigting as instrumente van die status quo geteiken. Universiteite is as bakens vir sosiale transformasie geïdentifiseer. In Suid-Afrika word skoolgeboue beskadig en toerusting gesteel. Gevalle is bekend waar skoolkinders verhinder is om die skool by te woon. Die waarde van akademiese prestasie is deur verlaagde slaagsyfers gerelativeer.

Dit het ten doel om die selfbeeld van studente op te bou en te verseker dat so min as moontlik kinders agterbly. Verlaagde standaarde het egter in Suid-Afrika veroorsaak dat kinders in gevorderde grade nie kan lees en skryf nie. As deel van die eis tot sosiale transformasie word aangedring op gratis onderrig. In skrille ironie word gevestigde en suksesvolle Afrikaanse skole en privaat skole vanweë uitstekende akademiese prestasies as beskermers van die bestaande orde geteiken. Daar is voortdurende pogings om Afrikaanse skole met andertalige kinders te integreer.

6. Om inklusiwiteit te bevorder het die owerheid selfs by die vasstellings van kurrikulums ingemeng. Enige kursus wat eksklusiwiteit bevorder, word by teologiese fakulteite in Suid-Afrika per regeringsbeleid verhinder. Die regering het sopas die eksklusiewe teologiese fakulteit van die Gereformeerde Kerk by die Universiteit van Potchefstroom opgeskort.

7. Die kapitalistiese ongelykheid in die samelewing is volgens die Neo-Marxistiese ideologie deur onderdrukking en uitbuiting verkry. Om die onreg van die verlede reg te stel, word die beginsel van onteiening van eiendom deur wetgewing beoog, die vernietigende gevolge daarvan in Zimbabwe ten spyt.

Die sosiale revolusie het vennote nodig om te slaag. Die Kommunistiese Party en vakbonde wat op die marxistiese ideaal ingekoop het, vervul ʼn belangrike rol om druk op die regering van die land toe te pas. Om in Suid-Afrika aan die bewind te bly, is dit vir die huidige regering nodig om die steun van hierdie marxisties-gesindes te behou. Die regering kan daarom nie noodsaaklike besluite sonder die steun van sulke drukgroepe deurgevoer kry nie. Kan die traagheid om noodsaaklike politieke en juridiese besluite te neem, hieraan toegeskryf word?

Een voorbeeld is die hardnekkige weiering van politieke leiers om die sentralisering van mag prys te gee. Ten spyte van die dringende noodsaaklikheid om spoedige oplossings vir die kragkrisis by Eskom te kry, het sleutelpersone tot onlangs geweier om die beherende mag aan privaatondernemings oor te gee. Dit strook met die marxistiese ideologie van nasionalisering.

Ewe insiggewend is die ANC-regering se beleid om nie Rusland se oorlog teen die Oekraïne te veroordeel nie. Gesamentlike militêre vlootoperasies word selfs, ten spyte van groot kommer uit Westerse lande, met Rusland deurgevoer. Rusland was immers ʼn belangrike vennoot om die sosiale revolusie in Suid-Afrika te vestig. Dieselfde geld vir die regering se flirtasie met Kuba. Kubaanse dokters word na ons land ingevoer en groot bedrae word aan die Kubaanse regering geskenk.

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), Julius Malema is na bewering deur Hugo Chaves se sosiale revolusie in Venezuela beïndruk en het selfs laasgenoemde se rooi pet en politieke beleid oorgeneem. Die benaming van sy politieke party spreek boekdele. Janet Smith se kritiese analise van Malema se sosiale revolusie The Coming Revolution: Julius Malema and the fight for economic freedom spreek boekdele. Begryplik dus dat ʼn spreekwoord soos swart ekonomiese bemagtiging al hoe meer veld wen.

ʼn Sosiale revolusie impliseer radikale en omvattende transformasie wat van die volgende elemente insluit:

Politieke sabotasie: Vergelyk byvoorbeeld die klaaglike mislukking van koalisies op plaaslike vlak. Verder ook die opmerklike hoeveelheid brande wat strategiese geboue soos die woning van die Vrystaatse premier en die parlementsgebou vernietig. Berigte van brande wat dossiere vernietig en hofsake daardeur laat uitgooi, word van tyd tot tyd aangemeld. Daar is algemene konsensus dat ʼn groot deel van Eskom se dilemma deur sabotasie en diefstal veroorsaak word. By sommige substasies het brande skade aangerig. Politieke moorde en moord op fluitjieblasers het ʼn algemene verskynsel geword.

Misbruik van wetgewing om hofsake uit te rek en onbepaald uit te stel, word ʼn gereelde verskynsel.

Ontwrigting van openbare vervoer in die vorm van taxi-geweld en gesaboteerde treindienste verlam die ekonomie van die land. Hawe-dienste word deur stakings tot stilstand gedwing.

Plaasaanvalle kos die land kosbare lewens en beduidende ekonomiese skade.

Stakings word deur nog stakings opgevolg. Die EFF se landwye staking op 20 Maart 2023 het die geproklameerde doel gehad om die hele land tot stilstand te ruk.

Ons word daagliks deur die werklikheid van die sosiale revolusie gekonfronteer. Word ons geleidelik gekondisioneer om dit al gaande met magtelose gelatenheid te aanvaar?

  • Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n NG Kerk-predikant. In 1994 het hy ook ’n pos aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Rusland waarna die professor verwys is die voormalige USSR. Die hedendaagse Rusland is totaal anders.Dit wat nou in Oos Europa afspeel is juis Rusland se aksies teen ‘n sosiale revolusie wat deur die EU/NAVO gedryf word. Indien ‘n moderne Rus by ‘n sosiale revolusie betrokke raak sal hy/sy in die tronk beland. Waar Suid Afrika in BRICs inpas weet nugter. Die land se ligging is dalk nuttig.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Waarom doen Rusland nie om lid te word van die Europese Unie en Navo nie?

Treurwilger ·

Interessant genoeg hét Gorbachev in 1999 met die einde van die Koue Oorlog aan James Baker, die US Secretary of State, voorgestel dat Rusland aansluit, maar Baker het gesê hy droom.
Die saak is weer geopper deur die jare, selfs deur Poetin, maar NAVO en veral die VSA (Bush) het geen diplomasie getoon nie, en taamlik hovaardig opgetree.
Die res is geskiedenis …

Republikein in die Wes Kaap ·

Korrek Treurwilger. Troebel verhoudinge en té veel verbrande brûe tussen Rusland en NAVO sedert 1991. NAVO is in elk geval van geen waarde vir Rusland nie. Daar is ook geen kans dat al 31 NAVO lede ‘n Russiese aansoek sal goedkeur nie. China sal ook nie ‘n NAVO lid op sy grens duld nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nietemin, die sosiale revolusie is só suksesvol dat die land nou vou. Afrikaners kan net toekyk en die verval draaglik maak.

Marthinus W ·

Ek het baie respek vir prof Van Rensburg se skrywes, en dis nie net omdat ek my belydenis van geloof op 5 Nov 1978 in Townsview by hom afgele het nie. Sy boek “Nie deur geweld…” is baie waardevol in die studie van Revolusie en teologie. Maar, ek stem saam met “Republikein” dat die huidige Rusland n totaal ander land is. Dit is vandag konserwatief Christen. Inteendeel, Russe met wie ek praat noem dat hulle 70 jaar se sosialisme en kommunisme as toets vir hul Christensakp beskou het. Hulle glo hul Christenskap het die muur laat val.

[Waarom verdedig niemand die Christene wat tans deur Zelenski in Oekraine gearresteer word, hul burgerskap verloor (13 lede), n biskop is in arres met n enkelboei, hulle mag nie meer in Russies bid en aanbid nie. En niemand lig n vinger daaroor nie.]

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Krities belangrik dat alle Suid-Afrikaners deeglik ingelig word oor die Marxistiese ideologie. Dankie vir hierdie inset.

Lees gerus: “The Babylon Bee Guide to Wokeness, 2022 uitgawe. ISBN 9781925927917.

Ek reken die onderbou van kommunisme en die Woke-beweging is ‘n minderwaardigheidskompleks.

Marthinus W ·

Die wereld is besig om weg te beweeg van Amerika se sonnestelsel, waar hulle die middelpunt is (was). Brics is openlik n stelsel om daardie hegemonie te breek. Volgens n studie van n Britse maatskappy, laasweek, is die Brics-lande se ekonomie nou 31% van die wereld se BNP, en die G7-lande s’n maar 30%. Egipte, Saudi-Arabie, Nigerie, Angola, Algerie, Soedan VAE, Tunisie, Argentinie, Turkye, is van die lande wat reeds besig is om die proses van aansluiting by Brics te maak.

annie ·

Skoenmaker hou jou by jou lees: Ds Johan is ‘n Bybelkundige. Die jongmanne wat destyds gaan sterf het op die Grens het dit gedoen vir die VSA se ewige olie-beheptheid. Rusland en Kuba het teen Savimbi, die Amerikaanse bondgenoot, geveg en eersgenoemdes het die Angolese regering se olieregte beskerm. Die NP-regering is deur die VSA geborg maar later uit die weg gewerk. Die prentjie het omgeswaai met die VSA as New Age onchristelikes teenoor Rusland se herwaardering van sy Christelike waardes. Zelensky is nóg Zionis nog Christen. Hoekom hom ondersteun?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.