Die Springbokke en die kerkbasaarpannekoek

Hosea Gear skud Bryan Habana en Duane Vermeulen af

Hosea Gear skud Bryan Habana en Duane Vermeulen af

En daar val die droom toe plat soos gister se kerkbasaarpannekoek.

Die droom van ʼn Springbok herrysenis na die oorwinning oor die Aussies verlede week, baar toe niks. Na ʼn warrelwind-begin met absolute oorheersing voor, is die drieë telling toe vier/een aan die einde van die wedstryd. Hoe is dit moontlik?

In nabetragting kan die volgende genoem word en dit is altyd wonderlik om met die hulp van “kyk weer” ontledings te doen. Johan Goosen was na my mening nie 100% wedstrydfiks nie en sy 20 minute op die veld kan sy selfvertoue net ʼn lelike knou gee.

Elton Jantjes is beslis die skopper wat in vorm is. Hy het beter pale toe geskop as enige losskakel voor hom, maar sy algemene spel kort nog so ʼn ietsie voordat hy as ʼn losskakel op internasionale vlak kan meeding. Hy het egter die potensiaal en hy moet nou nie saam met die badwater uitgegooi word nie. Ditto Johan Goosen.

Gemeet aan die nommer 1 span in die wêreld, het die Bokke nog ʼn paar trappies om te klim. Die All Blacks stel nou maar eenmaal die standaard waarteen alle spanne nou en in die toekoms gemeet gaan word. Hulle skep met teenaanvalle net eenvoudig te veel ruimte aan die buitekant en jaag enige verdediging oorhoops met flink hantering en ongelooflike opvolgwerk. Verder is hulle verdediging rotsvas en vou hulle nie onder druk nie.

Dit is Saterdag duidelik bewys toe hulle vir die eerste 20 minute onder die grootste druk vir die afgelope 15 wedstryde was. Hulle het nie geswig nie en die verdediging het gehou, al was dit by tye desperaat. Die gemak waarmee hulle egter die twee drieë in die eerste helfte gedruk het toe hulle onder groot druk was, spreek boekdele vir hulle selfvertoue en vaardighede.

Genoeg oor Saterdag se toets.

Ons het die talent en ek glo die afrigtingspan, maar daar moet nou beslis skouer aan die wiel gesit word deur die afrigtingspan, want ʼn rekord van ses wedstryde gespeel en twee gewen, lyk nie goed nie.

Die Curriebeker staan nou einde se kant toe en die Bulle, sowel as die Cheetahs, het teoreties nog ʼn kans om die uitspeelfases te bereik, maar dan moet die Griekwas vasval teen die Haaie, en die Cheetahs en die Bulle moet oortuigende oorwinnings behaal. Dit gaan in elk geval nie so maklik wees nie. Die Bulle moet die gewonde Leeus op CocaCola-park aandurf en die Cheetahs die WP op Nuweland. Die kwalifisering vir die uitspeelfase lê nou vir beide die Bulle en die Cheetahs in ander spanne se hande. Dit is nie ʼn goeie posisie om in te wees nie.

Die Leeus sal egter beslis beter as verlede week moet speel as hulle die Bulle wil trap en die WP sal ook vir hulle neerlaag teen die Bulle wil vergoed met ʼn goeie oorwinning oor die Cheetahs.

Die Haaie het egter die lot van sowel die Bulle as die Cheetahs in hulle hande. As hulle verloor teen die Griekwas, is dit neusie verby vir die twee spanne en sal uitspeel teen die Kings bepaal word deur volgende Saterdag se wedstryde.

Rugbygroete tot volgende week

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers, Sport

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.