Die staat en Covid-19-regulasies vir die kerk

Deur prof. Henk Stoker

(Argieffoto: AP Photo/Alessandra Tarantino)

50% bly weg – veral as jy oningeënt is

Die ramptoestand wat twee jaar gelede deur die staat aangekondig is om die Covid-19-pandemie te probeer hokslaan, het aan Suid-Afrikaanse owerheidsinstansies ongekende mag gegee oor individue en die verskillende samelewingsverbande. In die proses om die ramptoestand op te hef wil die staat nie afsien van die mag wat hy homself toegeëien het nie, soos byvoorbeeld maatreëls oor wie en hoeveel persone deel mag neem aan aktiwiteite van samelewingsverbande soos kerke.

Lokale wat kerke en ander groepe gebruik mag volgens die voorgestelde wetgewing net tot die helfte van die kapasiteit gevul word – en dit net deur volledig ingeënte mense, of hulle wat pas negatief getoets het. Die ander helfte van kerklidmate mag nie opdaag nie… en beslis ook nie diegene wat oningeënt is of nie weekliks ʼn toets ondergaan nie.

Verskeie Christelike kerkgroeperinge en ander geloofsgroepe het gereageer dat hulle nie hierdie wetlike bepaling van die staat gaan (of kan) uitvoer nie. Wanneer die lede van hul geloofshuisgesinne bymekaar kom, beskou die lede hulle dus nie as gebind aan ʼn reël wat van buite af op hulle van toepassing gemaak word nie.

Oor die wetenskaplike begronding van die tipe maatreëls wat in Suid-Afrika ingestel is, word tans wêreldwyd gedebatteer. Die doel is nie om nou daarop in te gaan nie, behalwe om daarop te wys dat hierdie vorm van sosiale geregtigheid waar ʼn klompie persone met staatlike mag bepaal wat goed is vir ander samelewingsverbande, verder gaan as dit wat die taak van die staat is of behoort te wees.

Die staat reël orde

Waarom is daar ʼn staat? Die staat bestaan nie net uit verskillende persone met mag wat besluite neem en uitvoer nie. Die staat bestaan ook uit onderdane oor wie regeer word. Die primêre taak van die staat is egter nie hulpverlening, subsidies, staatsinstellings ensovoorts wat ʼn groot deel van die werksaamhede van moderne staatsowerhede kan uitmaak nie. ʼn Staat kan ʼn staat wees sonder om hierdie dinge te doen. Die primêre taak van die staat kom in kort daarop neer dat hy die orde moet reël. Hierdie taak kan in drie verdeel word – wetgewing, uitvoerende mag en regspraak.

Dit is nie net die staat is wat orde reël nie. Die kerk, die gesin en ander groepe reël ook orde binne hulle samelewingskringe. Daarby reël elkeen van ons ons eie orde, wanneer ons ons dag beplan en leef. Nou wat is die verskil tussen die verskillende orde-reëlings en waarom word orde as die primêre taak van die staat gesien?

Orde-reëlings is meestal ʼn middel tot ʼn doel en nie die doel self nie. Deur ons ordereëlings as individue wil ons dit wat ons ten doel stel en die take wat aan ons gestel word, hanteer. Ordereëlings in die kerk het ten doel om die bediening van die Woord van God te ondersteun. In die gesin help ordereëlings onder meer dat kinders versorg en opgevoed kan word.

Die groot verskil is dat die ordereëlings van die staat ʼn primêre taak van die staat is. Waar elke samelewingsverband sy eie orde tref vir sy eie lede, geld die orde van die staat almal wat deel uitmaak van sy magsgebied. Die staat het dus as taak om die oorkoepelende orde vir die samelewing as geheel te reël. Dit kan dus as ʼn soort tussen-orde beskryf word.

Een samelewingsverband beheer nie ʼn ander

Ons is as mense betrokke by verskillende samelewingsverbande, soos huwelike, gesinne, ʼn staat, ʼn kerk, ʼn skool- of werkskring, verenigings ensovoorts. Ons is as volledige mens daarby betrokke. Tog is elke verband net ʼn deel van ons identiteit. ʼn Samelewingsverband mag daarom nie totalitêre beslag lê op die persoon wat lid is van ʼn betrokke sosiale kring, soos wat in sekere ideologieë en kultusse gevind word nie.

Dieselfde geld ook dat een samelewingsverband nie beheer mag oorneem van ʼn ander samelewingsverband nie. Elkeen het ʼn eie identiteit en struktuur. ʼn Bepaalde sosiale kring, byvoorbeeld, ʼn volk, ʼn staat of ʼn kerk mag nie ʼn ander een oorheers nie, soos gebeur in nasionaal-sosialisme, kerkstaat of staatskerk nie.

Dit is duidelik dat die staatsowerheid nie net ʼn taak het ten opsigte van individue nie, maar ook te doen het met aspekte van die orde tussen samelewingskringe en selfs en binne perke tussen individue en samelewingskringe. Die taak van die staat is beperk tot die reëling van ʼn oorkoepelende orde in die samelewing. Dit behoort nie betrokke te raak en spesifieke reëls te maak vir ordereëlings binne samelewingsverbande soos kerke en wie mag deelneem nie. Al het die staat ʼn spesifieke oorkoepelende taak, is die staat steeds net een van die samelewingsverbande wat binne die perke van sy bevoegdheid moet bly. In dié sin staan die staat nie bo nie, maar langs al die ander verbande. Die beskryende uitdrukking hiervoor is dat elke samelewingsverband soewerein in eie kring is.

Verantwoordelikheid van die kerk

Die kerk as huisgesin van God (1 Timoteus 3:15) word volgens die Skrif (en die spesifieke Skrifgedeelte) regeer deur sy ouderlinge. Hulle is daar om die orde te reël dat die Woord van God reg en na behore verkondig word, asook om om te sien na al die lede van die geloofshuisgesin – ook na hulle veiligheid. Dit is tyd dat die kerk self sy verantwoordelikheid nakom om seker te maak wat die beste is vir sy lede, fisiek en geestelik, en nie maar net inval by reëlings wat ʼn ander samelewingskring oordeel behoorlik is vir sy samekomste nie.

  • Henk Stoker is professor aan die NWU se Fakulteit Teologie asook rektor van die Teologiese Skool van die GKSA.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Groen Ghoen

Ag so, moet ek R600,00 per maand (R150,00 per Covid toets) betaal om Sondae ‘n erediens by te woon indien ek heeltemal gesond is en die inspuitings weier? Dit is mos dwingelandy en ‘n poging van die ANC om kerkbywoning te vernietig. Wanneer stop hierdie geklikheid?