Die staat is dood

draad-heining-vryheid

Foto: Maxpixel.freegreatpicture.com

Deur Christoff van Wyk

Die tyd het aangebreek om te besef dat die moderne staat, en spesifiek die staat in Suid-Afrika, gefaal het en dat ’n beter staat nie die oplossing is nie, maar wel ’n beter vorm van regering.

Die eenvoudige rede hiervoor is dat die staat nooit alles vir almal kan wees nie. Daarom, in plaas daarvan om pluraliteit en diversiteit te aanvaar omrede elke individu en gemeenskap uniek is, word die staat verplig om “neutraal” te staan teenoor almal, want daar word beweer dat op hierdie manier niemand uitgesluit word nie en alle mense geakkommodeer word. Maar in praktyk gebeur dit nie en misluk hierdie ideaal keer op keer. Die eindresultaat is altyd ’n lomp en gesentraliseerde staat wat mag uitoefen op alle terreine van mense se lewe terwyl die ideaal van Rousseau, dié van vryheid en gelykheid vir almal, deur die toedoen van die staat ’n vonnis geword het teen die individu en die samelewing – met tirannie as die gevolg.

In die huidige staatsbestel is daar geen vorm van self-korreksie (soos miskien ’n grondwet) wat werklik hierdie probleem kan oplos nie, al sou party mense hierdie argument verbete teenstaan. Die eenvoudige rede hiervoor is dat ware vryheid nie minder reëls behels nie, maar eerder meer selfregulering. Selfregulering in die vorm van meer mag aan kleiner, plaaslike gemeenskappe. Slegs mense wat oorkant mekaar en langs mekaar bly en werk, kan werklik die probleme in hul gemeenskap uitlig, oplossings hiervoor vind en dan iets daadwerkliks daaraan doen.

Maar hierin lê juis die probleem opgesluit. Dit sal behels dat die sentrale staat sy mag sal moet afstaan, ofte wel afwentel tot op laer vlakke wat weer sal inhou dat die staat in effek kleiner word. Die oomblik as enige staat gekonfronteer word met hierdie vooruitsig, is daar gewoonlik twee reaksies.

Die eerste reaksie is om te erken dat mense nie neutrale, onpersoonlike individue is nie, maar dat elkeen uniek is met unieke gedagtes en idees waardeur hulle gekoppel word aan verskillende gesinne, families, gemeenskappe en kultuurgroepe. Hierdie verskillende groepe het die reg om die gemeenskaplike sake wat hulle na aan die hart lê, self te bestuur sonder om eers toestemming te kry of die oplossing in afhanklikheid oor te laat aan een of ander hoër gesag wat kwansuis bo-oor hulle aangestel is.

Die tweede reaksie, en gewoonlik ook die verstekposisie van die meeste sentralistiese state, is om hierdie beginsels van selfregulering, die afwenteling van mag en oor die algemeen ’n kleiner staat as doodsdreigemente te beskou wat met die toepaslike geweld van so ’n dreigement verantwoord moet word. Hierdie tweede reaksie word egter nie gewoonlik van meet af op ’n gewelddadige wyse uitgevoer deur die ontplooiing van die polisie of selfs die weermag nie. Dit kom eerder in die subtiele vorm van wetgewing. Wetgewing wat daarop gemik is om die probleem, wat dit ook al mag behels, op te los of ten minste te verbeter. Die eintlike rede hiervoor is egter nie die verbetering van individue of gemeenskappe se lewens nie, maar eerder om die mag te behou en seker te maak dat die illusie van vryheid en gelykheid vir almal, in en deur die staat, in stand gehou word.

Tog moet daar onthou word, die staat kan nooit alles vir almal wees nie en daarom sal die nuwe wetgewing, wat dit ook al behels, iemand iewers te na kom. Soms dalk net ’n paar onverwante individue, soms gemeenskappe in geheel, maar ook soms in uiterste gevalle ’n hele samelewing. Hierdie “oplossings” veroorsaak gewoonlik ten minste twee probleme: afhanklikheid en die skep van verdere probleme.

Alle mense is in die een of ander vorm afhanklik van iets of iemand anders, maar daar is ’n spesifieke verhouding tussen vryheid en afhanklikheid. Die een vorm van afhanklikheid stel jou in staat om vry te wees, terwyl die ander vorm van afhanklikheid mense bind om slawe te wees. Almal van ons moet eet en is daarom afhanklik van kos, maar sodra jy geëet het, is jy vry om skeppend te gaan lewe in die volheid wat dit mag inhou.

As jy egter afhanklik word van die staat, word jy slegs ’n beperkende, voorskrywende “vryheid” gegun binne die grense van dit wat vir die staat goed en reg is. Sodra iemand hierbuite wil beweeg, word jy afgesny en daarom boet die onderdane van die staat al hoe meer van hul vryheid in, omdat die staat homself die reg toeëien om te bepaal tot watter mate sy afhanklikes waarlik vry mag wees.

Verder kan die staat nooit regtig probleme oplos nie, want deur die “oplossings” wat die staat gee, word slegs weer nuwe probleme geskep en hierdie siklus hou die staat aan die gang, of soos hulle in Engels sê “keeps it in business”. En watter besigheid is dit nie! Biljoene rande waarvan ’n groot gedeelte op velerlei wyses vermors word. Die grootste tragedie van die geld wat verlore gaan, is die geleenthede wat verspil is. Geleenthede wat in der waarheid gesteel word deur die staat en waardeur gesinne, families en gemeenskappe van hul natuurlike reg om hul eiendom vrylik aan te wend tot die opbouing van hul gemeenskaplike belange, gewelddadig ontneem word.

Die meeste Afrikaners stem vandag saam dat ons ’n swak staat het. Sommige sal selfs sover gaan om te sê dat die staat in die vorige bedeling beter was. Min besef egter dat die moderne sentralistiese staat, in watter vorm ook al, ons van vryheid beroof en van ons afhanklike slawe maak. Dienaars van ’n spesifieke ideologie. Al wat mettertyd verander is die name en gesigte, maar die staat en sy ideologie verander nie.

Ware vryheid is nie grensloos nie. Ware vryheid geskied binne die perke van reëls en wette wat nie verslaaf en mense afhanklike maak nie, maar hulle eerder in staat stel om binne die opset van gesinne, families en gemeenskappe voluit te kan leef en so tot hul volle potensiaal te kan kom.

Ware vryheid is nie net gefokus op die individu en sy of haar persoonlike ervaring nie. Ware vryheid erken die balans tussen die individu se vryheid en die gebondenheid wat daar bestaan tot ’n spesifieke gemeenskap waarvan die individu altyd ’n deel van is.

Ware vryheid en die volle potensiaal van elke individu kan slegs ontsluit word binne die opset van selfstandige gemeenskappe.

“Vryheid” vanuit die staat lei altyd tot staatsafhanklikheid en uiteindelik die verguising van die individu, sowel as die disintegrasie van die gemeenskap en gemeenskapstrukture.

Vryheid deur gemeenskapselfstandigheid is nie ’n nuwe konsep nie. Dit was voorheen so en dit kan weer so wees. Inteendeel, die eggo’s van hierdie vergange idee is besig om weer wêreldwyd op te klink, en genadiglik ook hier in Suid-Afrika.

Robert Nisbit skryf in sy befaamde werk The Quest for Community: “The conflict between central political government and the authorities of guild, village community, class, and religious body has been, of all the conflicts in history, the most fateful.”

Die vraag is nou: Het ons die moed wat dit gaan verg om die reg op gemeenskapselfstandigheid op te eis, of sal ons tevrede bly met die “vryheid” wat die staat ons bied?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

NP van Wyk Louw-sentrum

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Johan de Klerk ·

Hierdie was nou goed om te lees, die skrywer is ingelig! Oor die laaste vraag– of ons die moed het: Pericles reken ook–“The secret to happiness is freedom. And the secret to freedom is courage”. Die pad wat Thomas Hobbes en John Locke voorstel om uit ‘n gemors soos hierdie te kom— dis die pad wat ons kan loop. Die idee van “Afrika net vir swartes” stem ooreen met die “Divine right to rule” wat Hobbes netjies as fantasie uitgewys het. Voeg Lock se rasionaliteit dat die demokratiese staat vir jou (moet) werk, en nie jou “ruler” is nie, asook sy voorstel hoe om daardie staat te ontsnap, en daar is lig in die tonnel vir ons.

Piet van Niekerk ·

Dis waarom ek sê dat ons staat ‘n totale ommeswaai van transformasie moet maak.

John ·

Ooh, voorheen beter? Waar? Ook nie. Nee, dis die groot, ongelukkig, onbereikbare. Afrika het in stamverband geleef en die Westerse wereld lank gelede ook. Hetsy stamhoof, koning, kerkshoof, kommunistiese-geen-leier, selfs net ‘n gesinshoof, niks werk sonder ware etiese waardes nie. Aan die Israeliete is, vir die eerste keer, die Goddelike konsep van ware reg en geregtigheid geopenbaar wat uitgedra moes word regoor die wereld. Maar het dit gebeur? Uiteindelik wil ons nou weer terugkeer na barbarisme waarin elkeen reg is en die leier van ‘n groep sy gesag of die wil van die groep afdwing. Oorloe… oorloe, immigrasie, emigrasie, chaos, pes, hongersnood, ellende… en baie bloed… kenmerke van die geskiedenis. Waar het die voorgestelde riglyne wel gewerk? Utopia?

Stephan ·

Dit is so n interessante en tersake onderwerp……kan ons nie meer hiervan hoor sodat die konsepte duideliker uitgespel kan word. Kan ander skrywers met soortgelyke insigte nie na vore kom sodat die beginsels behoorlik deurgetrap word. Wat van n lys van boeke wat mens kan raadpleeg?

Vaalseun ·

Dankie vir die insig, Christoff. Politici praat graag van die ‘Government, ‘ die Regering. Maar dit is eintlik die Government Service, die Staatsdiens, in diens van die ganse bevolking. Dié bevolking bestaan uit ‘n menigte mense met ‘n menigte bedrywe en bedrywighede wat elke dag vir hulleself en andere besluite moet neem en verantwoordelikheid aanvaar.

Al die bedrywe se omset en winste word belas om dienste wat die Staat moet lewer te befonds. Die bedrywe is die perde wat hulle eie vrag en die Staatsdienswa s’n moet trek. Wanneer die Staatdienswa aanhoudend met die dooie gewig van foutiewe besluite, swak bestuur, korrupsie, onnodige uitgawes, verliese en skuld volgelaai word, gaan die gewig van die vrag te groot word vir die perde, en gaan hulle staan teen die eerste steilte.

Dit lyk my al meer of Zuma sy toevlug na Putin geneem het as sy adviseur en rolmodel. Zuma trek al meer besluitneming in na die Presidensie. Die grootste kundigheid en vermoëns lê egter buite die Presidensie en Staatsdiens. Zuma moet liewer ons land se eie kundiges in sy vertroue neem. Nie ander heersers met hulle eie agendas nie. Maar raadpleging alleen is nie genoeg nie. Die Staatsdiens het net soos die Privaatsektor onafhanklike, objektiewe besluitnemers in sy eie geledere nodig. Polities-ideologies gedrewe subjektiewe besluitneming loop maar te dikwels op groot verliese en hartseer uit.

Knikkebollen ·

Lees gerus (as u dit in die hande kan kry) Ernst Junger se post- Tweede Wereld Oorlog ‘Der Waldgang’. Hy en Ezra Pound het die verabsolutering van die Staat in ons moderne konteks toe al goed beskryf.

Catryn ·

Multi-kultuur (een reënboognasie) is aan ons afgesmeer deur die liberaal verligtes, net hulle glo daaraan(in), want hulle verneuk almal. (DAKAR besoeke) Dis die pad wat die anc ook volg, ten spyte daarvan dat dit aan die klok gehang word dat daar weggedoen is met Tuislande, bestaan dit steeds, deur anc wetgewing in Trustgebiede. (Ingonyama is maar EEN: Zoeloes)

Nou wat het sedert 1994 verander? Afrika is vol van Tuislande.

Verwoerd was reg, en nee, Verwoerd het nie apartheid (aparte gebiede) begin nie, die swart leiers wou ook nie deel wees van Britse regering voor 1910 nie, daarom was daar aparte gebiede geskep na die Mfecane oorlog. Na 1994 leef dit steeds voort.

Waar stamme (volke) nie meng nie, daar is oorlog.

Gun elke volk hul eie onafhanklike gebiede, kultuur, taal, leiers.

Zoeloegebied, was voor 1910 ook onafhanklik soos twee Boere republieke. Ons VOLK soek ook ons eie gebiede, en so ook die Khoisan en elke volk (daar is reeds 11 verklaarde Trustgebiede).

Dis nie APARTHEID nie, wel aparte gebiede, maar elke volk regeer hulself, en onderlinge samewerkingsooreenkomste kan steeds gesluit word soos die Boere republieke ook gehad het.

Daar is baie klein volke in EU, hoekom nie ook in SA waar ons tans met mekaar veg, mekaar besteel, oor onnodige nonsens soos B-BBEE. ONS VOLK HET NIE APARTHEID GESKEP NIE .. lees Shepstone Beleid van 1854 waar dit ontstaan het.

ELKE VOLK HET ‘N INTERNASIONALE REG TOT SELFBESKIKKING

Catryn ·

Kan nie die kommentaar net regmaak nie: wat moet lees, waar stamme meng, is nie oorlog… moet lees:

Waar stamme (volke) MENG, so ook in Suid-Afrika, is daar oorlog, selfs in Afrika, waar stamme/volke meng, is daar ontsettende uitwissings. Immigrante kom ook hiernatoe en almal word in een groot konsentrasie immigrantstat geplaas …

Daar is heelwat genocides daaroor ..

Catryn ·

Elke volk het ‘n internasionale reg tot Selfbeskikking (onafhanklik soewereine gebied)

Dit is in die grondwet vervat (artikel 235) en die Grondwethof het met bekragtiging bevind dat die artikel onderhewig is aan internasionale reg … te wete:

Dat die huidige regering nie selfbeskikking van volke kan weerhou nie, geen politieke party kan daaroor beslis nie en nog minder is wetgewing nodig om dit te bewerkstellig, omdat jy as volk (meerderheid) aan die internasionale reg se vereistes moet voldoen.

Daar is GEEN etniese swart volk vandag in SA, wat hulle aan fw de klerk se 1994 multi-kultuur steur of onderwerp het nie, daarom is daar steeds TRUSTgebiede en kies hul hul eie leiers. Khoisan is tans besig met hulle wetgewing en verwerp dit ook.

Ongelukkig word hulle regte ook geskend weens die feit dat hulle nie privaat grond daar mag besit, selde of ooit, dit bly “gemeenskapsgrond” dis verkeerd. Elkeen het ‘n reg tot privaat grondbesit. Dis waar ons grootste probleem is, oor 35 miljoen lewe so, en ons blankes word onnodig die skuld daarvoor gegee dat ons al die grond het, wat onwaar is.

Staat besit meeste grond, saam met al die myneksplorering, munisipale/immigrant state reg rondom ons dorpe beloop die grootste % van grondbedsit

Willem ·

Ek is dit met jou roerend eens. Ek is hartlik siek vir die gemors waarin ek en my mense moet leef. Ek is hartlik siek om my daagliks af te sloof net om amper helfte van my geld te moet betaal om ander volke en nasies te onderhou en die salaris van politici wat ek verag te befonds. Ek kry vir my belasting byna niks – hopelose gesondheidsdienste, duur (báie duur) Model C skole, onbetaalbaar duur Engelse (want daar word weggedoen met mý taal)universiteite, ‘n polisiemag wat meer tyd spandeer om vuurwapenlisensies te administreer as om die boeregemeenskap te beveilig, amptenare en politici wat op industriële skaal steel ensovoorts ad nauseam. Dit terwyl ons géén kans het om óóit by die stembus hierdie misgeboorte wat hulle die “non-racial, non-sexist, democratic South Africa” noem van kant te maak nie.

Rynhardt ·

Sowaar, die staat is lankal dood, maar hy herleef as n groot boewe, slawerny en welsynstaat (17miljoen ontvang n toelae van Anc), maar jy as blanke wat diskriminerende wetgewing het mag geen vorm van enige toelae ontvang nie! Jy word verhoed om as volk vorentoe te beweeg, en moet net betaal totdat jy soos water verdamp! Verder word hoofstroommedia ingespan om demokrasie te bemark as die mees wonderlikste geloof op aarde! Elkeen van ons Afrikaners moes skatryk al gewees het, maar ons word uitgebuit as slawe! As die meeste blankes dit net kan insien.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.