Die staat se moederinstink het opgedroog

afrikaanse skole

Argieffoto.

Deur Jeannette Gnade

Werkloosheid onder die Suid-Afrikaanse jeug is rede tot groot kommer en geen verantwoordelike mens, regering of organisasie mag dit as ʼn politieke speelbal gebruik nie. Die jonges van vandag moet môre die leisels oorneem en hulle kan dit nie doen as hulle nie eens hul basiese skoolloopbaan voltooi het nie. Die departement van basiese onderwys het pas met sy landwye Tweede Kans-matriekprogam begin.

Volgens minister Angie Motshekga het soveel as 47% van die land se werklose jeug nie matriek voltooi nie. Selfs werklose Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 25 tot 35 jaar word genooi om die program te gebruik as ʼn tweede kans om vir matriek in te skryf. Insgelyks word leerlinge wat wel gr. 12 geslaag het, aangemoedig om die program te gebruik om beter punte te behaal.

Motshekga se erkenning dat byna die helfte van die land se jeug nie ʼn matrieksertifikaat kan voorlê nie, is skokkend. Jarelank het onderwys die grootste hap uit die landsbegroting gekry en die land se bestaande staatskole – veral die Afrikaans-medium skole – is selfs onder beleg geplaas om onderrig vir almal moontlik te maak. Skole word steeds geteiken as ʼn simbool van landsburgers se ontevredenheid met die staat se dienslewering.

Vuwani in Limpopo is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Kinders word gedwing om tuis te bly omdat skole afgebrand is of omdat hulle deur vyandige inwoners verbied word om skool by te woon. Dit is onbeskryflik onregverdig teenoor kinders. Dit herinner ook sterk aan die Soweto-opstand van 1976 toe kinders as pionne gebruik is om volwassenes se besware teen die regering van die dag aan te voor.

Die land se onderwysowerhede het al van verskillende leerplanne gebruik gemaak om soveel moontlik kinders te onderrig en selfs punte is aangepas om ʼn kunsmatige slaagsyfer te skep. En nou kom die minister en sy bevestig dat byna die helfte van die land se werklose jeug nie hul skoolloopbaan voltooi het nie. Dit is ondanks die stelsel van gratis onderwys vir ouers wat nie skoolgeld kan bekostig nie.

Miskien moet daar weer gekyk word na die drievoudige stelsel wat gedurende die ou bedeling ten opsigte van jongmense gevolg is. Die staat, ouers en die kerk het gesamentlik verantwoordelikheid vir die land se jeug geneem. Kinderhuise of plekke van oorgang is geskep vir die kinders van ouers wat nie in staat was om hulle groot te maak nie. Die staat was nooit suinig met subsidies nie – en dit het alle skole gegeld. Ouers met karige inkomste is gehelp om hul kinders op skool te hou en kerke het mildelik tot huishoudings se basiese behoeftes bygedra. Skole het baie moeite gedoen om by elke kind betrokke te wees. Vandag word die getalle-argument voorgehou.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Kerke? Mildelik bygedra tot huishouding se basiese behoeftes?
Grootste hap uit begroting?
Verskillende leerplanne?
Punte aangepas om n kunsmatige slaag syfers te skep?
Ondanks n stelsel van gratis onderwys?
Ek dink eerlikwaar die foutlyn loop baie breër as die stelsel, want ons het al hoeveel stelsels gehad en selfs die huidige is onprakties. Kyk wat laat die beste skole in die land werk en doen dit. Eenvoudig.

Jordaan ·

Nie so eenvoudig nie – betrokke ouers (wat baie ekstra geld betaal) en bekwame bestuur sal nie sommer in ons leeftyd by probleemskole gevestig word nie, daarvoor loop die kultuur van “liberation before education” te diep.

Eish ·

Daar kom ons nou by die kern van die probleem. Waardestelsels wat verskil.

Koos1 ·

Ek kan vir jou hordes gegradueerdes wys wat nie werk kan kry nie, of werk kry waarvoor hulle nie gestudeer het nie.
Die regering alleen moet hiervoor geblameer word. As die regering nie ekonomiese groei kan aan wakker en stimuleer nie, dan gaan werksgeleenhed verlore, dit is soos die engelsman sê, “straight forward”. Die jeug sien dit ook raak en verloor moed. Hoekom studeer as ek in elk geval nie werk gaan kry nie??
Nee wat ons regering is so besig om hulself te verryk en uit die tronk uit te probeer hou, dat geen een van die burgers van hierdie land meer tel nie.
Zimbabwe is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Vandag oor die radio gehoor dat Mugabe se seun 2 karre ter waarde van R70 mij. ingevoer het na Zimbabwe! Dit na ‘n land waarin die gemiddelde mens op $2 per dag moet oorleef en onderwysers sowat R700.00 per maand betaal word. Dit laat ‘n mens dink!

Anoniem ·

Joyce Meyer sê: moenie jaloers wees op iets wat iemand bereik het, as jy nie bereid is om dieselfde moeite te doen as daardie persoon nie.

Moenie jaloers wees op die goeie resultate van sommige skole, as julle nie bereid is om hard te werk, goeie dissipline te handhaaf vir onderwysers en leerders ens, nie.

Haan ·

Ons kort nie nou (meer) n staat met n moederinstink nie… Ons kort n staat met n Vaderinstink en een wat n deftige bleddie loesing kan uitdeel aan al hierdie stoutgat kinders wat sonder Pa’s grootgeword het

DAN kan mamma-staat weer oorneem

marlene ·

My mening: ouers piep vandag hulle kinders heeltemal te veel op! As my kind haar gom of boeke by die “Skool vergeet” is dit nie my probleem nie. So leer sy haar verantwoordelikheid in die samelewing. Net so is sy nie gekies as ‘n leier nie, maar akademies doen ek ook nie haar “huiswerk” of “take” nie. Ek is nie so groot gemaak nie. Eendag sal sy haar waarde ken in ons stelsel. Vandag erken skole nie die individue vir hulle selfstandigheid nie

Tarina Marais ·

Begin by die basis van onderwys in ‘n kind se moedertaal en die slaagsyfers sal verbeter.

John ·

?… kinderhuise? Ouers nog verder aanhelp in hul onverantwoordelikheid. Daar sal onrus en onheil uitbroei soos wat nie eers in die dae van Noag gesien is nie. Zuma predik meer en meer ma’s moet by die werk rondsit en naweke begrafnisse en politieke jolle bywoon, terwyl hul kinders in die strate rondhang en mekaar opklits. Ongelukkig is boelie eerder as opvoeding Afrika se prioriteit. Afrika moet leer om vir Afrika verantwoordelikheid te neem. Verslawing van die witman om soos die ou Israeliete in Egipte diens te wil/moet doen, is dwaas verby en geen Godsopdrag nie. Parasitisme moet met alle mag beveg word want die einde is nooit mooi nie. Eenvoudig gestel, ellende le vir SA en wag. Dis soos om ‘n stuk karton met heerlike ryk versiersuiker op te dollie, maar as dit by die sny kom, val die spulletjie ineen… En dit kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.