Die stad is gans die land

Foto van Marshalltown, Johannesburg (Foto: Voguish Trails Media/Unsplash)

Tans is vele groot stede ter wêreld in ʼn krisis of altans ʼn kwasi-krisis. Baie van hulle is bloot onaangenaam om in te woon.

Tewens is dit allermins tot stede in die sogenaamde Derdewêreld beperk. Weliswaar is stede soos Lagos, Kinshasa en Mumbai raserig, vuil, gevaarlik en oorbevolk. Dit is te wagte in sulke stede, is niks nuuts nie en is grootliks ʼn weerspieëling van hul lande en owerhede se onvermoë om dit aan te spreek. Dit sal ook oneerlik wees om te sê dat kultuur nie ʼn rol hierin speel nie.

Hierdie euwels het egter ook saam met linkse regering in groot stede in ryk lande ook kop uitgesteek. Op YouTube kan jy video’s kyk van mense in Vancouver wat rustig in lowerryke parke en langs potblou mere draf. Jy kan ook video’s kyk van hoe misdaad, dwelmverslawing en haweloosheid reeds in die stadskern ingeburger is en ook na die woonbuurte versprei. Moorde, eiendomsmisdaad en geweld het reeds deel van groot dele van Los Angeles, Londen, New York, Leicester, Parys en Chicago geword. Stede in Europa sukkel om ouer en veral nuwe immigrante uit armer lande behoorlik te akkommodeer.

Dit is geen geringe uitdaging nie, omdat verstedeliking geen geringe verskynsel is nie. Twee arm streke, Suidoos-Asië en Afrika, beleef al vir 30 jaar ontsaglike verstedeliking tesame met snel bevolkingsgroei. Ryk lande soos Australië en die Verenigde Koninkryk is lankal reeds grootliks verstedelikte state. Sowat 55% van die wêreld se bevolking leef in stede en dit sal volgens die Wêreldbank tot nagenoeg 70% teen 2050 vermeerder.

Stede het die vermoë om krag-vermeningvuldigers te wees en groot omwentelinge mee te bring. Hulle het byvoorbeeld tot die skepping van die markekonomie, nywerheidsrewolusie en verbruikerswese aanleiding gegee. In menigte gevalle is die stad (of stede) die ganse land. Dis waar ʼn kritieke massa van hoëvlak-funksies byeengebring kan word. Andersyds kan hulle ook onderpresteer of heeltemal verval weens verskeie faktore.

Daar is met ander woorde goeie en slegte stede en verstedeliking. Bowendien, soos Baltimore in die VSA, talle Russiese en Oos-Europese stede en Tikal in Guatemala kan getuig, kan stede ook leegloop terwyl ander stede miljoene mense lok.

Stedelike Suid-Afrika

Suid-Afrika het agt metropolitaanse munisipaliteite met stede as hul kern. Sowat die helfte van die bevolking leef in hierdie gebiede en ander groot dorpe. Plattelanders wil van die uitsigloosheid, swak werkvooruitsigte en swak dienslewering ontsnap terwyl baie buitelanders (veral van Afrika en dele van Asië) hierheen stroom om besigheid te doen of werk te soek.

Soms is dit ʼn seën maar dit is in praktyk meestal ʼn vloek. Allerlei infrastruktuur soos paaie, skole en hospitale sal in die beste geval sukkel om by te hou. Mense betrek ook verlate geboue in die middestede en dit word ʼn veiligheidsrisiko. Verreweg die meeste inkommers is arm en ongeskoold en bied in wese nie veel vir die ekonomiese opgang en groei van hul nuwe tuistes nie. Hulle kom eintlik net om weer afhanklik te wees. Ofskoon Suid-Afrika se aanwaskoers nie so hoog is as elders in Afrika nie, is die meeste van die migrante ook jonk. Hulle gebrek aan vaardighede en onvermoë om werk te vind, voorspel niks goeds ten opsigte van misdaadkoerse, sosio-politieke stabiliteit en armoede nie.

Ek het verlede jaar vanaf Pretoria na die Wes-Kaap verhuis en weer onlangs Gauteng besoek afgelê. Ek was geskok oor hoe onversorgd, gehawend en vuil veral Johannesburg en Ekurhuleni (die Oos-Rand) lyk. Dis beslis gevaarlik ook. Glinsterende privaatsektor-geboue toring oor slaggate, lang gras, nie-funksionerende verkeersligte en gemors in die strate. Aan die Oos-Rand vertrap mense mekaar om water te kry terwyl die EFF en ANC mekaar beskuldig oor wie se skuld die probleme is.

Ek kom ook van tyd tot tyd in Durban (eThekwini) en dit is eweneens grootliks ʼn derdewêreldstad met al die gepaardgaande vraagstukke. Die metro se weiering en onvermoë om water in mense se krane te hou en te keer dat E. coli in die see loop, is reeds besig om een van die stad se hoofbronne van inkomste, naamlik toerisme, erg te ondermyn. Bloemfontein (Mangaung), Oos-Londen (Buffalo City) en Gqeberha (Nelson Mandela Baai) toon groot tekens van verval en sukkel eweneens om dienste te lewer en investering te lok.

Regering is die kern

Aan die hart hiervan lê die gehalte van regering. Hierdie metro’s ondervind onteenseglik verskeie probleme en behalwe vir Tshwane (Pretoria) en die Stad Kaapstad word hulle deur ANC-geleide koalisies of alleen deur die ANC regeer. Terwyl Kaapstad nie perfek is nie, is dit weliswaar skoner en beskik oor beter infrastruktuur as elke ander stad in die land. Dit is sakevriendelik, vooruitdenkend ten opsigte van krag en volhoubaarheid, en die enigste stad wat sy taaldiversiteit pragmaties akkommodeer.

Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, is reeds besig om in die Weste bewusmaking te skep en beleggings te lok om voorsiening te maak vir Kaapstad se toekomstige groei (wat waarskynlik gaan plaasvind terwyl hy nie meer die eerste burger is nie). Watter ander burgemeester in Suid-Afrika is besig met sulke toekomsbeplanning? Daarbenewens is werkers in Kaapstad en die omliggende munisipaliteite deurgaans besig om paaie reg te maak en op te gradeer, asook estetiese verbeteringe te doen soos padlyne verf, rommel skoonmaak en gras sny. Ek sien min daarvan in Gauteng.

Kortom, regering maak wesenlik saak terwyl ander rolspelers uiteraard kan help om die situasie te verbeter. Langdurige en stabiele goeie regering in Kaapstad het vordering moontlik gemaak. Dit kan in Pretoria ook gebeur, maar dit gaan tyd neem. In Ekurhuleni en Johannesburg, sowel as Gqeberha, is die politieke en uiteindelik administratiewe bestuur deurentyd aan onstabiele koalisies en minderheidsregerings wat enige tyd kan kantel, uitgelewer. Die Oos-Rand en Johannesburg se treurmare kan wel beredder word as ʼn meer stabiele en langdurige goeie regering (wat mettertyd die administratiewe korps verbeter) die septer swaai.

Hulle kan dit nie doen sonder die nodige steun by die stembus nie en op stuk van sake is die politiek juis meer vloeibaar in die stede as op die platteland.

Kala Sridhar en Guanghua Wan skryf oor verstedeliking in die ontwikkelende wêreld, en veral Asië, dat wanordelike verstedeliking weliswaar aan verskeie oorsake toegeskryf kan word, maar dat die regering sentraal is tot hierdie uitdagings. Hulle voer voorts aan dat geskoolde arbeid en tegnologie ingevoer kan word en plaasvervangers vir infrastruktuur-tekortkominge en kragtekorte gevind kan word, maar dat regering nie ingevoer kan word nie. Dit is ewe waar vir ryk lande en hul stede ook.

Cecilia Tacoli, Gordon McGranahan en David Satterthwaite skryf ook in ʼn studie oor verstedeliking dat waar regerings onwillig of nie in staat is om dienste aan die mees behoeftiges te lewer nie, dit noodsaaklik is dat hulle mense help om vir hulself te voorsien. Hulle kan dit uiteraard doen deur die basiese take doeltreffend te doen en van daar te innoveer. Ek sien min daarvan in Suid-Afrika buite Kaapstad.

Daar lê ʼn verkiesing voor op 29 Mei. Ons kan met elke party en politikus fout vind, maar ons kan nie keer dat iemand oor ons gaan regeer nie. Jy kan besluit wie dit is. Die groot aantal wegblyers verhoog ook die waarde van jou stem. Laat dit tel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.