Die stand van museums in Suid-Afrika

Krugerhuis-museum in Pretoria (Foto: Janek Szymanowski via Wikimedia Commons)

Dit is ’n voldonge feit dat Suid-Afrikaanse museums as bewaarders of beskermers van, onder meer, Westerse kultuurgoedere, en die daarmee gepaardgaande kultuurbewussyn, in ’n krisis verkeer. Ongelukkig word dié situasie nie in die algemene diskoers in Suid-Afrika erken of raakgesien nie.

’n Onlangse opname by ongeveer 200 museums wat landwyd besoek is, het getoon dat 15% reeds sedert 1994 tot niet gegaan het en, gemeet aan ’n paar vereistes, loop ’n verdere 15% gevaar om binne die volgende dekade onder te gaan; 60 uit ongeveer 200 museums sal dus teen 2028 tot niet wees.

Die volgende riglyne is gebruik om tydens museumbesoeke die stand van die museums te evalueer:

  • ideologies-politieke transformasie
  • vakspesifieke kundigheid of opleiding
  • uitstallings
  • bergingsruimte
  • konservering
  • kennisvlakke

Ideologies-politieke transformasie het tot gevolg gehad dat ’n algemene werker, munisipale werker, of ’n museumwerker met weinig akademiese en praktiese skoling, dikwels ’n museum of versameling “geërf” het nadat ’n museumkundige afgetree het of oorlede is. Die gevolge is legio. Dié persone het gewoonlik geen begrip of kennis van die materiaal, tydperk, kultuurkonteks of voorwerpe op uitstalling nie, en kan nie met gesag ’n ingeligte mening gee oor die uitstalling nie. Die besoeker vertrek oningelig en sonder kundige toerleiding – uiters oninspirerend vir enige museumbesoeker.

Die nalatenskap van ’n nuwe tipe ideologies geïnspireerde uitstalling het reeds gevolge: Voorwerpe met, byvoorbeeld, ’n Westerse herkoms vorm dikwels nie meer deel van die nuwe aanbod nie en slegs paneelteks en visuele materiaal kan gesien word. Die nuwe generasie museumbesoekers word nie meer blootgestel aan kennis van en waardering vir voorwerpe wat kulturele of ’n persoonlike konteks kommunikeer nie, en so verloor die voorwerpe hul bydrae as primêre bron.

Laingsburg Flood Museum

Die Vloedmuseum in Laingsburg in die Karoo. Argieffoto.

Die grootste verlies was die gevolg van die vervanging van kundiges wat oor museums en versamelings toesig kon hou. Selfs ’n standaard-BA-graad, ’n waardering vir oudhede of aansien in die gemeenskap waarborg nie dat museumkundige beginsels toegepas word nie. Museumkunde as vakgebied word nie meer by tersiêre instellings aangebied nie. Die verlies aan kuratorskap of vakspesialiste wat oor spesifieke voorwerpe of materiale (hout, metaal, keramiek, ens.) kan waak, is groot. Daarmee saam kom die verlies aan kennis omdat navorsing afgeskaal is en min kennis deur middel van lesings aan die publiek oorgedra word. Verder gebeur dit dat die versameling nie op kultuurhistoriese vlak vir die publiek ontsluit word nie. Die museum of versameling het dus geen akademiese nut as tersiêre instelling nie, en ’n mens kan tereg vra of museums nog hoegenaamd in hierdie kategorie geklassifiseer kan word. Indien nie, watter nut of funksie het museums vir ’n voornemende besoeker of as bronne vir nuwe leerplanne op skoolvlak?

Tydens die ondersoek is bergingsruimtes ook onder die loep geneem. Verpakkingsmateriaal, klimaatbeheer, insekinfestering, stof, rakfunksionaliteit en veiligheid is in ag geneem. Soms is ou, ontoereikende geboue benut om as uitstal- of bergingsruimtes te dien. Dit, en die personeellid se onkunde, verkort die voorwerpe se leeftyd. Soms is voorwerpe holderstebolder op mekaar gestapel; soms is deure halfoop en kan ’n mens goeie voorwerpe onder ’n massa meublement en kartonbokse sien; soms staan bergingsruimtes bloot leeg en weet niemand meer waar voorwerpe is nie. Tydens verdere besoeke kon ook duidelik opgemerk word hoe voorwerpe aansienlik minder word en “verdwyn”. Selfs oorspronklike lessenaars uit die kantore in die Uniegebou kan deesdae in pandjieswinkels opgespoor word.

Die wyse waarop voorwerpe uitgestal word, is om twee redes kommerwekkend: Dikwels is dit in ’n heeltemal ongeorganiseerde, sinlose periodiese wanorde saamgegroepeer – wat nie bevorderlik vir museumbesoeke is waar mense probeer om sin van die verlede te maak nie! Soms is tekstiele jare lank op uitstalling sodat vetterige hande daaraan kan raak, of die son dit daagliks met ultraviolet verbleik en laat verbrokkel. Verskillende soorte materiale word dikwels, in algehele onkunde oor chemiese interaksie, op mekaar geplaas. Afstof en die blote gebrek aan skoonmaak van die ruimtes, of van die voorwerpe, is dikwels nie ’n prioriteit nie.

Oom Paul se koets (Foto: Ditsong Museums)

Plek-plek kan by van die museums nog opgemerk word dat ’n kundige eens op ’n tyd ordeningsbeginsels toegepas het, maar mettertyd het onsamehangende toevoegsels bygekom. Dieselfde geld vir bergingsruimtes, waar materiaal soms korrek verpak en georden onder massas stowwerige kartonbokse lê en in die vergetelheid verdwyn, terwyl latere toevoegings ooglopend nie die vorige kundige se handewerk was nie.

Samevattend dus: Sonder vakkundige kennis, veilige bewaring en sekuriteit, konservering en korrekte museumkundige bewaringsmetodes (wat internasionale praktyk is) en sonder sinvolle kontekstualisering van voorwerpe, het kultuurgoedere nie ’n kans op oorlewing nie. Dit sal ook nie ’n toekomstige generasie van museumbesoekers kweek nie.

Dit is kommerwekkend dat geen aandag aan dié kwessie gegee word nie en daar feitlik geen verset teen die huidige agteruitgang is nie. Hiermee saam loop ook die gebrek aan optekening van die gewoontes, tradisies of lewenswyse van die verlede wat nie meer deur voorwerpe, uitstallings of getranskribeerde mondelinge oorlewering gekommunikeer word nie.

In Van Wyk Louw se woorde blyk dit dus dat, in bogenoemde konteks “ ’n geslag sonder verset” verbygaan.

  • Inligting verskaf deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns na aanleiding van ’n gespreksgeleentheid oor die onderwerp in Maart 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
nico k

Die probleem is natuurlik dat museums geld kos en die regering en seker meer munispaliteite nie meer bereid is om geld te spandeer aan veral museums met ‘n Afrikaner tema nie. Die oplossing is om mueseums meer self voorsienend te maak. Dit is redelik moeilik, maar ek dink die oplossing is om ‘n museum te kombineer met iets wat kan geld maak. Begin ‘n koffiewinkel of restaurant of trou venue of iets dergliks. Mense wat dan die restaurant as eerste keuse besoek, sien sommer die museum ook.

leon lucas

Dit is jammer dat ons erfenis so verwaarloos word. Veral Afrikaner geskiedenis, plekke van geskiedkundige waarde word verwaarloos.

Ek is bevrees die enigste oplossing is weereens vir ons gewone mense om betrokke te raak, op ‘n vrywillige basis om te red wat te redde is.

Spandeer tyd meer produktief oor naweke om ons erfenis te help bewaar as om na hopelose kwotasport te kyk.

Eish

Dit is n tydige en terselfdertyd n skrikwekkende artikel synde seker meeste van ons bitter lank gelede n museum besoek het.
Tereg kan die opmerking gemaak word dat dit by n ” geslag sonder verset” verbygaan.
Om van die huidige regering te verwag om die bewaarders daarvan te wees, veral die Westerse en histories oorwegend Kuakasiese impak, is n hoop wat reeds beskaam.
Die oplossing gaan verseker wees n vennootskap tussen kultuur organisasies, moontlik universiteite, Burgerregte organisasies en wye publieke ondersteuning.
Anders is die skatte gedoem.

Peter

Ons was so 2 weke terug by by die Marx museum, in baie goeie toestand en goeie toerleiers wat die geskiedenis ken, n jammerte so min mense gaan besoek, hul moes 30% van die grond aan die staat verkoop om die huis/museum aan die gang te hou.

Ampie

Die ANC regime en sy kiesers het geen erg aan museums of enige iets van die verlede nie. (miskien met die uitsondering van die Apartheid museum wat hul vergrype tans regverdig). Inteendeel, hulle verag dit. Gaan soek maar “museums” regoor Afrika en dieselfde gebeur. Afrikaner-gesinde organisasies of kultureel-historiese gesindes moet probeer om ooreenkomste met stadsrade aan te gaan om museums self te bestuur.