Die stand van museums in Suid-Afrika

Krugerhuis-museum in Pretoria (Foto: Janek Szymanowski via Wikimedia Commons)

Dit is ’n voldonge feit dat Suid-Afrikaanse museums as bewaarders of beskermers van, onder meer, Westerse kultuurgoedere, en die daarmee gepaardgaande kultuurbewussyn, in ’n krisis verkeer. Ongelukkig word dié situasie nie in die algemene diskoers in Suid-Afrika erken of raakgesien nie.

’n Onlangse opname by ongeveer 200 museums wat landwyd besoek is, het getoon dat 15% reeds sedert 1994 tot niet gegaan het en, gemeet aan ’n paar vereistes, loop ’n verdere 15% gevaar om binne die volgende dekade onder te gaan; 60 uit ongeveer 200 museums sal dus teen 2028 tot niet wees.

Die volgende riglyne is gebruik om tydens museumbesoeke die stand van die museums te evalueer:

  • ideologies-politieke transformasie
  • vakspesifieke kundigheid of opleiding
  • uitstallings
  • bergingsruimte
  • konservering
  • kennisvlakke

Ideologies-politieke transformasie het tot gevolg gehad dat ’n algemene werker, munisipale werker, of ’n museumwerker met weinig akademiese en praktiese skoling, dikwels ’n museum of versameling “geërf” het nadat ’n museumkundige afgetree het of oorlede is. Die gevolge is legio. Dié persone het gewoonlik geen begrip of kennis van die materiaal, tydperk, kultuurkonteks of voorwerpe op uitstalling nie, en kan nie met gesag ’n ingeligte mening gee oor die uitstalling nie. Die besoeker vertrek oningelig en sonder kundige toerleiding – uiters oninspirerend vir enige museumbesoeker.

Die nalatenskap van ’n nuwe tipe ideologies geïnspireerde uitstalling het reeds gevolge: Voorwerpe met, byvoorbeeld, ’n Westerse herkoms vorm dikwels nie meer deel van die nuwe aanbod nie en slegs paneelteks en visuele materiaal kan gesien word. Die nuwe generasie museumbesoekers word nie meer blootgestel aan kennis van en waardering vir voorwerpe wat kulturele of ’n persoonlike konteks kommunikeer nie, en so verloor die voorwerpe hul bydrae as primêre bron.

Laingsburg Flood Museum

Die Vloedmuseum in Laingsburg in die Karoo. Argieffoto.

Die grootste verlies was die gevolg van die vervanging van kundiges wat oor museums en versamelings toesig kon hou. Selfs ’n standaard-BA-graad, ’n waardering vir oudhede of aansien in die gemeenskap waarborg nie dat museumkundige beginsels toegepas word nie. Museumkunde as vakgebied word nie meer by tersiêre instellings aangebied nie. Die verlies aan kuratorskap of vakspesialiste wat oor spesifieke voorwerpe of materiale (hout, metaal, keramiek, ens.) kan waak, is groot. Daarmee saam kom die verlies aan kennis omdat navorsing afgeskaal is en min kennis deur middel van lesings aan die publiek oorgedra word. Verder gebeur dit dat die versameling nie op kultuurhistoriese vlak vir die publiek ontsluit word nie. Die museum of versameling het dus geen akademiese nut as tersiêre instelling nie, en ’n mens kan tereg vra of museums nog hoegenaamd in hierdie kategorie geklassifiseer kan word. Indien nie, watter nut of funksie het museums vir ’n voornemende besoeker of as bronne vir nuwe leerplanne op skoolvlak?

Tydens die ondersoek is bergingsruimtes ook onder die loep geneem. Verpakkingsmateriaal, klimaatbeheer, insekinfestering, stof, rakfunksionaliteit en veiligheid is in ag geneem. Soms is ou, ontoereikende geboue benut om as uitstal- of bergingsruimtes te dien. Dit, en die personeellid se onkunde, verkort die voorwerpe se leeftyd. Soms is voorwerpe holderstebolder op mekaar gestapel; soms is deure halfoop en kan ’n mens goeie voorwerpe onder ’n massa meublement en kartonbokse sien; soms staan bergingsruimtes bloot leeg en weet niemand meer waar voorwerpe is nie. Tydens verdere besoeke kon ook duidelik opgemerk word hoe voorwerpe aansienlik minder word en “verdwyn”. Selfs oorspronklike lessenaars uit die kantore in die Uniegebou kan deesdae in pandjieswinkels opgespoor word.

Die wyse waarop voorwerpe uitgestal word, is om twee redes kommerwekkend: Dikwels is dit in ’n heeltemal ongeorganiseerde, sinlose periodiese wanorde saamgegroepeer – wat nie bevorderlik vir museumbesoeke is waar mense probeer om sin van die verlede te maak nie! Soms is tekstiele jare lank op uitstalling sodat vetterige hande daaraan kan raak, of die son dit daagliks met ultraviolet verbleik en laat verbrokkel. Verskillende soorte materiale word dikwels, in algehele onkunde oor chemiese interaksie, op mekaar geplaas. Afstof en die blote gebrek aan skoonmaak van die ruimtes, of van die voorwerpe, is dikwels nie ’n prioriteit nie.

Oom Paul se koets (Foto: Ditsong Museums)

Plek-plek kan by van die museums nog opgemerk word dat ’n kundige eens op ’n tyd ordeningsbeginsels toegepas het, maar mettertyd het onsamehangende toevoegsels bygekom. Dieselfde geld vir bergingsruimtes, waar materiaal soms korrek verpak en georden onder massas stowwerige kartonbokse lê en in die vergetelheid verdwyn, terwyl latere toevoegings ooglopend nie die vorige kundige se handewerk was nie.

Samevattend dus: Sonder vakkundige kennis, veilige bewaring en sekuriteit, konservering en korrekte museumkundige bewaringsmetodes (wat internasionale praktyk is) en sonder sinvolle kontekstualisering van voorwerpe, het kultuurgoedere nie ’n kans op oorlewing nie. Dit sal ook nie ’n toekomstige generasie van museumbesoekers kweek nie.

Dit is kommerwekkend dat geen aandag aan dié kwessie gegee word nie en daar feitlik geen verset teen die huidige agteruitgang is nie. Hiermee saam loop ook die gebrek aan optekening van die gewoontes, tradisies of lewenswyse van die verlede wat nie meer deur voorwerpe, uitstallings of getranskribeerde mondelinge oorlewering gekommunikeer word nie.

In Van Wyk Louw se woorde blyk dit dus dat, in bogenoemde konteks “ ’n geslag sonder verset” verbygaan.

  • Inligting verskaf deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns na aanleiding van ’n gespreksgeleentheid oor die onderwerp in Maart 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

nico k ·

Die probleem is natuurlik dat museums geld kos en die regering en seker meer munispaliteite nie meer bereid is om geld te spandeer aan veral museums met ‘n Afrikaner tema nie. Die oplossing is om mueseums meer self voorsienend te maak. Dit is redelik moeilik, maar ek dink die oplossing is om ‘n museum te kombineer met iets wat kan geld maak. Begin ‘n koffiewinkel of restaurant of trou venue of iets dergliks. Mense wat dan die restaurant as eerste keuse besoek, sien sommer die museum ook.

leon lucas ·

Dit is jammer dat ons erfenis so verwaarloos word. Veral Afrikaner geskiedenis, plekke van geskiedkundige waarde word verwaarloos.

Ek is bevrees die enigste oplossing is weereens vir ons gewone mense om betrokke te raak, op ‘n vrywillige basis om te red wat te redde is.

Spandeer tyd meer produktief oor naweke om ons erfenis te help bewaar as om na hopelose kwotasport te kyk.

Eish ·

Dit is n tydige en terselfdertyd n skrikwekkende artikel synde seker meeste van ons bitter lank gelede n museum besoek het.
Tereg kan die opmerking gemaak word dat dit by n ” geslag sonder verset” verbygaan.
Om van die huidige regering te verwag om die bewaarders daarvan te wees, veral die Westerse en histories oorwegend Kuakasiese impak, is n hoop wat reeds beskaam.
Die oplossing gaan verseker wees n vennootskap tussen kultuur organisasies, moontlik universiteite, Burgerregte organisasies en wye publieke ondersteuning.
Anders is die skatte gedoem.

JSG ·

Waar is Afriforum in die verband? Selfs die Vf+ behoort te kan intree.
Goeie voorstel van u jkant af.

Leon ·

Dankie JSG. Afriforum stry op vele tereine en kan nie by alles uitkom nie. Hierdie is ‘n ideale geleentheid vir die gewone man, lid of nie, om ‘n verskil te maak. Uit eie ondervinding, is die aanvaarding van verantwoordelikheid om ‘n bydrae (tyd en vaardigheid) te lewer, uiters bevredigend.

Ons is egter te geneig om te kla en ons is gewoond dat die regering (plaaslik en nasionaal) in die verlede na ons erfenis omsien. Dit sal nie weer gebeur nie. Die staat misluk en Afrikaner erfenis is laaste prioriteit. Indien dit vir jou belangrik is, lewer ‘n bydrae, hoe gering ook al.

Peter ·

Ons was so 2 weke terug by by die Marx museum, in baie goeie toestand en goeie toerleiers wat die geskiedenis ken, n jammerte so min mense gaan besoek, hul moes 30% van die grond aan die staat verkoop om die huis/museum aan die gang te hou.

Ampie ·

Die ANC regime en sy kiesers het geen erg aan museums of enige iets van die verlede nie. (miskien met die uitsondering van die Apartheid museum wat hul vergrype tans regverdig). Inteendeel, hulle verag dit. Gaan soek maar “museums” regoor Afrika en dieselfde gebeur. Afrikaner-gesinde organisasies of kultureel-historiese gesindes moet probeer om ooreenkomste met stadsrade aan te gaan om museums self te bestuur.

Peet Schabort ·

Beslis ‘n berig wat in alle opsigte waar is. Ook ek sit met museumwaardige goed wat skynbaar nie ‘n heenkome het. In 1992 is skenkings deur my en familie gedoen aan die Bethal-museum wat nou blyk ‘n groot was. Daardie jare was ‘n opgeleide kurator in beheer. Nou se dae sit daar iemand wat TV kyk gedurende werksure. Dit het ontaard in ‘n ‘struggle’-museum en vir my onmoontlik geword om items terug te kry. Ek wonder selfs of daar nie reeds van daardie items verdwyn het. Hierdie is ‘n uiters groot probleem omdat met kennismaking van ander privaat persone telkemale opduik ‘Ek weet nie wat van die goed gaan word na my oorlye’. Ja, goed en wel daar is die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument maar die goed word gestoor vir navorsing en nie uitgestal (ek neem aan daar is o.a. ‘n probleem aan ruimte). Ek sou verkies ‘n uitstalling waar ALMAL ongeag van watter ras ookal kon gaan kyk na dit. Ek was verskeie jare gelede by Majuba wat ook op daardie stadium besig was met die aanvang van ‘n museum. Die uiteinde is egter dat die goed nie (weer) in privaat hande moet land. Ek stel nie belang om geld te wil hê maar ook mag dit nie verkoop word of buitelands gaan, streng vir ‘n museum. Skynbaar is daar maar min belangstelling? Hoe lyk dit met Solidariteit om momentum te gee hieraan voordat die son onder is? Enige voorstelle van andere met dieselfde probleem?

ek sê maar ·

Ek wonder wie besoek nog museums maar wil monduitspoel as dit ten gronde gaan? Ons het altyd sulke besoeke geniet as kinders en toe my kinders op skool was het ons gereeld as ons met vakansie gaan museums besoek en hulle was ook dol oor dit. Die probleem is dit word nie juis as koel beskou deur kinders nie. sal eerder op selfone le as na sulke plekke gaan.

Stoffel ·

Ek het met my gesin die jaar reeds ‘n menigte museums en ander geskiedkundige plekke besoek. Sekeres baie goed opgepas, ander erg verwaarloos. Magersfontein se museum het presies dieselfde uitstalling al vir seker meer as 8 jaar maar die plek bly die besoek werd. Vegkop en Majuba word privaat onderhou en die terreine is mooi en netjies. Privaat museums sukkel dalk meer met finansies maar is beslis die besoek werd want kennis oor die uitstalling word oorgedra en artikels word op die korrekte manier gestoor (bv SP Engelbrecht museum in Pretoria). Dit is tyd dat elke Afrikaner /Boer sy eie erfenis terugvat en bewaar vir die nageslag. En elkeen kan iets doen, begin by jou mense en voorgeslagte se grafte, maak dit skoon en netjies, wys jy is trots op jou herkoms. Die

Capexit ·

Privatiseer. Ons sal tot ons verlede en kollektiewe geheue vir ons nageslag moet privatiseer. Ongelooflik, maar onvermydelik.

Leeu ·

Mense stel glad nie belang om die museums te gaan besoek nie, privatiseer gaan niks help nie. Wanneer was jy laas by Kruger huis? of oom Paul in kerkplein? Selfs net Marx of Willem Prinsloo? Gaan jy kom help op n Saterdag oggend van 7-11 om reg te maak, of gaan jy te “besig” wees soos almal wat braak, maar niks wil doen nie

Marthinus Willemse ·

Suid-Afrika is waarskynlik die enigste Afrikaland wie se nasionale vlag op die Maan was – met Apollo 11 in Julie 1969. Terug op aarde, het president Richard Nixon van die VSA aan die lande wie se vlag saamgeneem is Maan toe, die vlag, plus `n stukkie Maanrots, gestuur. Ons s’n word by die Nasionale Museum in Pretoria uitgestal. `n Paar jaar gelede toe ek daar was, was slegs Nixon se brief, en `n stukkie rots daar; die vlag was weg.

Paul ·

Jammer om jou teleur te stel, Marthinus, maar daardie klein vlaggies is op beide Apollo 11 en 17 saamgeneem, en elke keer was die die vlae van al 50 Amerikaanse state en die ander Amerikaanse gebiede soos Puerto Rico en Guam, plus al die lidlande van die Verenigde Nasies.
Die enigste lande, insluitend Afrikalande, wie se vlae dus nie op die maan was nie, is lande wat ten tyde van daardie twee Apollo-sendings nog nie bestaan het nie of nog nie lid van die VN was nie.

Ella ·

Ek was n rukkie gelede by die Kruger museum en dit is/was vuil en verwaarloos. Die tuin agter die huis was redelik onderhou. Die stoorplek van vervoermiddels was toe onder die stof.
Op pad terug van Namibie het ek by die Moffat Sendingstasie gestop en was geskok. Die plek is/was vervalle en verwaarloos. Niemand in die betaalkantoor en n kosbare mat het aan flarde oor n heining gehang.
In die verste historiese huis het mense gebly.
Vereeniging museum het kantore geword en daardie artefakte is seker lankal tot niet.
Wat kan n gewone mens doen om te help om ons goed te bewaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.