Die stem van u werkers kla u moreel aan

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, betoog saam met lede van die vakbond en lede van die gemeenskap teen Sasol se Khanyisa-aandeleskema in Secunda in Mpumalanga (6 September 2018). Foto: Reint Dykema

Hierdie is die dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, se ope brief aan die hoofde van Sasol:

Geagte mnre. Nqwababa en Cornell

Die afgelope week het ʼn historiese gebeurtenis hom by u aanlegte en myne afgespeel. Duisende wit werknemers het gestaak en gestap teen rasse-uitsluiting.

Internasionale uitsaaiers en nuusagentskappe soos die BBC (British Broadcasting Corporation), AFP (Agence France Presse), Russia Today, Fox News, Reuters, Bloomberg en talle ander het die stem van die werkers die wêreld ingedra. Dit was ʼn stem wat vir ʼn lang ruk nie gehoor was nie.

Die wêreld het die frustrasie van u werkers raakgesien – niemand kan dit meer ignoreer nie. Dit is ʼn werklikheid. Die vraag is of u dit raaksien.

Geen demokrasie of werkgewer mag toelaat dat ʼn deel van sy samelewing of werksmag so vervreemd raak nie. Die ware toets van ʼn demokrasie is of hy sy minderhede ook beskerm.

Wat ons op u aanlegte sien afspeel het, is ʼn demokrasie in werking en wording. Dit was ʼn historiese oomblik, maar ook ʼn historiese geleentheid. Indien dit geïgnoreer word, het ons ons demokrasie ʼn geleentheid van vorming ontsê.

Die stem van die wit werkers is ʼn stem vir balans. Dit is nie ʼn stem teen die herstel van wanbalans nie, maar vir die herstel van balans.

Indien Sasol se antwoord op uitsluiting van die verlede ʼn simplistiese uitsluiting in die toekoms is, plaas dit Suid-Afrika op ʼn wankelrige morele basis vir die toekoms.

Om in ʼn skema wat wanbalanse van die verlede moet regstel ʼn eenvoudige rassebenadering te volg wat wit werkers uitsluit, is ʼn lui benadering.

Selfs ʼn tydelike ingryp moet moreel regverdigbaar wees. Tydelike steierwerk wat die pad na gelykheid moet staande hou, maar self moreel wankelrig is, kan maklik die norm en later normaal word, maar dit sal nie volhoubaar wees nie. Suid-Afrika se toekoms kan dan ʼn immorele normaal word.

Om wit werkers in blou oorpakke se waarde te bereken op grond van hul ras en dit aan te bied as ʼn normale ingryp om wanbalanse te herstel, is immoreel.

Selfs regstellende aksie en transformasieprojekte het ʼn morele rivierbedding waarbinne dit moet plaasvind. Dit is nie onbeperk nie. Transformasie moet binne die raamwerk van die Grondwet plaasvind en die Grondwet moenie binne die raamwerk van transformasie plaasvind nie.

Wit werkers se reg op waardigheid en gelykheid moet ook beskerm word, anders bou ons presies dit wat herstel moet word in ʼn nuwe stelsel in.

Ek verwys u na die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se verslag oor gelykheid wat vroeër vanjaar gepubliseer is. Die verslag is binne die konteks van die Verenigde Nasies se Komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) se riglyne vir regstellendeaksieprogramme geskryf.

Dié riglyne sluit die volgende in: Regstellende aksie mag nie net ras as maatstaf gebruik nie; behoefte moet in ag geneem word; dit moet konteks-sensitief wees; dit moenie rigied wees nie; en dit mag nie tot rassekwotas lei nie. Sasol se lui oplossing om wit werkers net eenvoudig uit te sluit, oortree elkeen van die SAMRK se riglyne.

In die onderhandelinge tussen die regering, vakbonde en die sakewêreld oor die mynbouhandves is die kwessie van uitsluiting van rasse uit personeelaandeleskemas suksesvol opgelos. Die uitkoms van die gesprek was dat werkers álle werkers insluit. Werknemers wat in die werkersklas val, mag nie op grond van ras verdeel word nie.

Die ongelykheid in Suid-Afrika is nie tussen werkers in blou oorpakke nie. Om hulle op grond van ras te verdeel, gaan net ʼn nuwe vlak van ongelykheid in Suid-Afrika skep. Werkers op werksvloervlak tussen wie daar, anders as in die politiek, goeie verhoudinge heers, word skielik weer volgens ras geklassifiseer.

Growwe rasseklassifikasie lei tot absurde resultate. Een van ons lede wat sy been verloor het en dus as gestremde deel van die aangewese groep is, wou by Sasol weet of hy deel van Khanyisa kan wees. Sasol antwoord klinies en hard daarop dat hy nie daaraan kan deelneem nie, want hy is wit.

ʼn Indiër-lid van Solidariteit, wat met ʼn wit vrou getroud is, is woedend want, hoewel hý deel is van Khanyisa, bepaal die skema dat ʼn wit persoon (dus sy vrou) nie Khanyisa-aandele mag erf nie.

ʼn Wit lid van Solidariteit, wat al 30 jaar by Sasol werk, kry geen aandele nie maar ʼn swart werknemer van Sasol wat maar nog net drie weke lank daar werk, ontvang aandeelwaarde van R500 000. Wit werknemers se waarde vir aandeelhouding word nie volgens hul bydrae, lojaliteit of werksetiek bepaal nie, maar bloot volgens ras.

Dit is die absurde resultate van ʼn skema wat op ʼn wankelrige morele grondslag rus.

Op Donderdag 6 September, dieselfde dag as wat werkers gestaak het, het dit aan die lig gekom dat Sasol R106 miljoen se aandele-opsies aan sy topbestuurspan toegeken het. U albei is bevoordeeldes daarvan en u ontvang meer as R20 miljoen se aandele-opsies elk. Mnr. Cornell, u en die ander wit uitvoerende direkteure is daarby ingesluit, al is u wit.

Die grondwetlike plig van transformasie en historiese regverdiging van rasse-uitsluiting geld nie op top- uitvoerende vlak nie. U argument is waarskynlik dat u dit verdien. Die morele vraag is wel hoekom u nie aan uself doen wat u aan u werkers doen nie.

Sasol het dus ʼn aandeleskema vir sy top- uitvoerende vlakke en nou ook een vir swart werkers en die enigste vlak wat uitgesluit word, is wit werkers. Om uitgesluit te word van eienaarskap, terwyl ander ingesluit word, stuur ʼn boodskap aan hulle dat hulle nie deel van Sasol is nie.

Dit is wat gelei het tot die woede en ʼn wekroep om erken en gehoor te word.

Ek stel dit aan u dat Sasol se besluit om wit werkers uit te sluit, nie moreel was nie, maar bloot kommersieel. Dit het bloot gegaan oor die verwerwing van punte op ʼn transformasiehandves. Wat die werkers se stem vra, is dat ʼn morele grondslag by die kommersiële besluit ingesluit word. Talle ander personeelaandeleskemas by ander maatskappye sluit nie werkers op grond van ras uit nie.

Sasol kan nou besluit om nie te luister nie en om met die skema voort te gaan. Die werkers se staking het egter die morele foutlyn in u argument uitgewys. Die morele foutlyn is nie dat u swart werkers wil bemagtig nie, maar die lui manier van rasse-uitsluiting waarop u dit wil doen. Die morele antwoord vra vir meer genuanseerde antwoorde, soos wat die SAMRK ook voorstel.

Sasol is ʼn Suid-Afrikaanse en globale leier en sy morele leierskap kan leierskap vir Suid-Afrika gee oor hoe om met ʼn komplekse saak soos hierdie een om te gaan.

Die beginpunt vir die antwoord gaan u in die konsepmynbouhandves vind, waarin wysheid oor personeelaandeelskemas gevind is ná vele ure se gesprekvoering.

Wat ons van u vra, is om nie hierdie geleentheid (om nuwe inhoud en vorm aan die demokrasie te gee) te bederf met simplistiese rasse-oplossings nie. Kom ons takel ʼn wanbalans sonder om ʼn wanbalans in ʼn nuwe vorm te skep. Dit gaan ekstra dink en praat verg.

Indien u die stem van die werkers ignoreer, gaan die historiese staking van wit werkers u in die toekoms aankla.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Glo nie meer ·

Ek as opbetaalde lid van Solidariteit begin ek vertroue verloor in my unie. Solidariteit se mond is die grootste en doen min vir sy lede op die grond. Die tyd dat Sosal se produksie 100% moes gestop gewees het is al lankal verby. Dis al manier hie die mense sal luister.

Eish ·

Ek was onder die indruk dat dit juis die geval sou wees, totale produksieverlies. Daar is dan voorbrand gemaak oor hoe fyn die staking beplan is en dat totale afsluit van die produksie sou plaasvind.
Nou hoe dan nou?

koos1 ·

Waar kom SASOL vandaan? Hoe het dit begin?
In die ou SA het ons land gesukkel om ruolie te bekom. SASOL is begin om olie uit steenkool te skep. Dit het met die regering begin, d.w.s met belasting geld en tot vandag word ons belasting geld nog steeds gebruik.
Is dit reg as ons belasting geld gevat word om vir werknemers die aandele te gee?
Moet SASOL nie eerder die eerbare ding doen en die projek skrap, en goedkoper brandstof aan Suid Afrikaners voorsien nie? Dan sal almal wat SASOL opgebou en onderhou het daar by baat.

Jerry ·

Wit weerstand teen swart oorheersing op so n ongelyke speelveld behoort verreikende resultate te lewer aan die verloorder en kan wit weerstand dit dus nie bekostig om hierdie een te verloor nie! Die bal is dus nie in Sasol se hande nie, al mag ons so dink!

Eish ·

Ek het tog n idee dat ek jou gelyk moet gee op die kommentaar. Inderdaad het ons bitter baie om te verloor sou die staking nie die gewenste uitwerking hê nie.
Dit gaan basies impliseer dat vanweë ons getalle asook ons “bekwaamheid” , ons nie regverdigheid kan afdwing nie, wat ons op alle terreine met n agterstand gaan laat. Dit is dan juis waarom veral buitelandse aktivisme so n kardinale rol speel om ons hand te sterk.

Paul ·

Maar Cyril is van ander mening gedaan ook oor bv onteiening: Dit gaan goed eindig, sê hy. Organisasies soos AfriForum en ander wat “valshede” oor Suid-Afrika se grondhervormingsplanne oorsee verkondig, se pogings sal op niks uitloop nie, meen pres. Cyril Ramaphosa. (Hierdie berig het vandag op Netwerk24 verskyn.) Dis hoekom Sasol vasskop, die regering staan agter hom met die voorbeeld wat CR stel. Die handskoene is nou behoorlik af.

John ·

Sasol is niks anders as ‘n staatsentiteit wat kamma as ‘n private onderneming gedryf word nie. Besoedeling wat werkers se gesondheid erg benadeel en brouwerk aan huise is gruwelik verby en werkers moes maar net altyd te bly wees dat hulle werk en huise het. Afrikaners is deur die jare soos vloerlappe behandel wat maar oortyd moes werk kom wat wil. En is die base se kindertjies nie glo vreeslik voorgetrek nie… en tydens werksfunksies moes werkers glo kruip dat dit ‘n naarheid is. Sasol is vandag wat dit altyd was, ‘n meerwaardige en eiegeregtige groep wat nogal glo ooreenkomste toon met hoe die SAUK en SAID bestuur was/is. Dit kort eerder hersiening om die vrot appels uit te skud. Hierdie vreemde oordrewe kamma-regstelling dui net op een ding… oeverblinderye en gekruip om uitgelos te word as ‘n verhewe bomenslik-gedrewe wonderwerk.

candy ·

Laat ek julle net iets van solidariteit vertel.Hulle verteenwoordigers hier by Sasol is so diep in bestuur se gate ingekruip dat hulle vir jou as lid niks voel nie.Ons het hier interne sake wat al vir 5 jaar ‘n problem is en hulle doen niks daaraan nie maar nou kom die skema en dit raak hulle sakke ook nou wil hulle iets daaraan doen,maar die sake wat nie hulle sakke raak nie word niks aan gedoen nie,’N ander ding ook is dat hulle weet sodra hulle iets se wat bestuur nie van hou nie word hulle terug gestuur na hulle aanleg toe dis hoekom hulle niks vir ons as werkers voel nie.

Daan ·

Grootegeluk myn was dit presies dieselfde. Dit wat die Vakbond verteenwoordiger raak word aangespreek. Die res nie. As jy arbeid probleme het moes jy privaat regshulp kry.

bgj van der westhuizen ·

stop alle produksie en die wat nie werk by sasol of van sy ander moet stop om te koop geld is alles wat ulle aan belangstel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.