Die stil revolusie ook in SA op pad

elektriese-motors-herlaai

Drie Prius hibriede-motors herlaai by die San Francisco stadsaal in die VSA. Foto: Verskaf.

Jy gaan hulle nie hoor nie omdat hulle so stil is, maar elektriese motors gaan ‘n revolusie in ons lewens en die wêreld se motorbedryf teweegbring.

Daar is ook in Suid-Afrika reeds ‘n klomp op die pad. In Kaapstad, byvoorbeeld, het ‘n buurtwag soos District Watch reeds drie maande gelede oorgeslaan van petrolgedrewe voertuie. Hy besit tans 17 elektriese voertuie (EV’s).

En dis nie die gholfkarretjietipe nie, die BMW i3 is ‘n meneertjie op die skaal van sy maters. In lande soos die VSA word daar ook al monsters soos die gelede voertuie (perd-en-treiler) gebou en aan vervoermaatskappye verkoop. Dit moet ‘n groot besparing op brandstof en die vrystel van kweekhuisgasse veroorsaak.

Die i3 word as ‘n hibriede beskou omdat hy ook ‘n generator aan boord het wat inskop as die battery minder as 20% van sy krag oorhet. Die generator sal noodsaaklik wees tot tyd en wyl herlaaistasies meer algemeen is.

In die VSA staan dié totaal reeds op ongeveer 20 000. Hulle is strategies geplaas en bied aan die motoris ook die kans op noodsaaklike inkopies en om ‘n verversing te geniet. Herlaai is gratis en deel van die koopkontrak, maar jy gaan hoes as jy die herlaaipunt as ‘n parkeerplek gebruik!

In Suid-Afrika is Jaguar besig om R30 miljoen in ‘n openbare herlaainetwerk te belê as fondament vir die verwagte toename in EV’s. Die voorlopige mikpunt is 30 sulke herlaaiplekke in en rondom die groot stede.

Die maatskappy sê stadsentrums sal langs die N3 tussen Gauteng en Durban en die N1 tussen Gauteng en Kaapstad gekonnekteer word. Kaapstad sal ook met die Tuinroete verbind word en die N2 tot in Oos-Londen is ook op die lys.

Die herlaaipunte sal met vinnige laaiers van 22 kWh (kilowatt-uur) toegerus word. Dit sal net meer as ‘n uur duur om ‘n EV van 0% tot 80% te herlaai.

‘n Woordvoerder van District Watch sê hulle ry stadig deur woonbuurte en vermors baie petrol. Elektriese voertuie is stiller, skoner, vinniger wanneer nodig en baie goedkoper op die pad.

“Ons het van Kaapstad na Worcester en terug gery vir die prys van ‘n bietjie krag en R64 tolgeld vir die Hugenote-tonnel.” (‘n Gewone sedan sal ongeveer R220 plus die tolgeld kos.)

Die maatskappy herlaai sy EV’s oornag by die basis en gaan belê in driefasekrag wat die herlaaityd aansienlik vinniger sal maak.

EV’s is tans teen sowat R600 000 ongeveer drie keer duurder, maar het ‘n baie langer leeftyd en is baie goedkoper om te onderhou: Daar is nie goed soos ‘n koppelaar, verkoeler en brandstofpompe wat gereeld vervang moet word nie.

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

Baie vervaardigers volg Tesla

Die brein agter die Tesla-maatskappy – die groot voorloper in die mark – is Elon Musk, wat in Suid-Afrika gebore is. Een van sy dryfvere was die skade wat petrolmotors aan die omgewing doen.

Maatskappye soos Chevrolet, Volkswagen, Ford, Honda en ‘n paar ander spook nou hard om ook ‘n vastrapplek in die mark te kry. Japan het nou meer herlaaistasies as petrolstasies en Noorweë is nou die vierde land ná die VSA, Japan en China, wat meer as 100 000 EV’s het.

Vervoer genereer tans sowat 25% van die aarde se skadelike kweekhuisgasse. Die skuif na EV’s kan ‘n positiewe gevolg vir klimaatsverandering wees en kan lande help om die teiken wat by die Parys-ooreenkoms aangegaan is, na te kom. Daarvoor moet daar oor tien jaar 100 miljoen EV’s op die pad wees teenoor die huidige 1,30 miljoen.

Duitsland, Indië, Ierland, Israel en Nederland het planne aangekondig om motors met fossielbrandstof van 2030 af te verbied. Brittanje, Frankryk, Taiwan en Kalifornië se mikpunt is 2040 en stede soos Parys, Rome, Madrid, Athene en Mexikostad wil dit reeds in 2025 doen. China werk ook aan ‘n plan.

Amerikaanse en Europese vervaardigers weet hulle moet karre in China verkoop om vooruit te gaan. Ford, Daimler en General Motors belê almal in elektriese motors. Ford sal teen 2022 16 nuwe verskillende soorte EV’s hê en Volvo is besig om sy hele vloot te elektrifiseer.

EV’s het ook nadele

Daar is nie net voordele in EV’s nie. Die Unie van Bekommerde Wetenskaplikes het gevind die maak van EV’s verg meer minerale en energie as fossielmotors en dat hulle meer nadelige gasse vrylaat. Maar omdat hulle nie petrol gebruik nie, word die nadeel relatief vinnig uitgewis. Oor hul leeftyd laat hulle net die helfte van petrolmotors se skadelike gasse vry.

Luidens die Little-verslag veroorsaak EV’s drie keer meer toksiese vrystellings omdat swaar metale soos kobalt vir die maak van die batterye gebruik word.

Dit kan en sal verander as die maak en weggooi van batterye verbeter. ‘n Voorstander van EV’s sê batterye kan gemaak word wat geen nadelige effek op die omgewing het nie.

“Dit hang af van hoe goed jy dit doen en hoe versigtig jy is.”

Die grootste uitdaging vir EV’s is die kommer wat oor herlaaityd bestaan. EV’s kan tussen 80 en 320 km op een herlaaiing ry. Tesla se Model S’e haal 500 km. Die industrie mik na verbeterings wat die afstand tot meer as 1 000 km sal rek. Afhangende van die kragbron kan dit tussen 30 minute en 12 uur duur om ‘n battery te herlaai.

Die EV-revolusie is op pad – dis nie ‘n kwessie van dalk nie, maar wanneer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Sak ·

Sonpaneele op die motorhuis se dak?? Lang afstande dan seker nog n groot problem.

Vraagteken ·

Sak, as ‘n mens die wiskunde doen dan sal jy vinnig agterkom dat jy minstens ‘n Rugbyveld se sonpanele kort om daardie battery te herlaai…

Hendrik ·

Ek kan nie wag vir my elektriese motor nie. My voorspelling is dat Eskom in die toekoms net krag aan industrie, hospitale, skole ens sal verskaf . Woongebiede sal maar hule eie krag moet genereer om nie in die donkerte gehul te wees nie. Jy kan net sowel ook voorsiening maak vir laai van jou elektiese motor. Dit kos R20 om jou elektriese kar te laai vir 200 km. 4 maande se DSTV suskripsie betaal vir ‘n 200AH battery en so bo jy jou battery basis op.

Vraagteken ·

Nee Hendrik, dit kos jou ongelukkig baie meer as R20 vir ‘n laaisessie. R20 gee vir jou omgeveer 8 kWh. Die battery van Jaguar is ‘n 90 kWh battery en dan kry jy so 400 km. So basies is dit R100.00 vir 200km.

Maar daar is een ding wat almal vergeet. Sodra elektriesemotors begin, dan gaan die regering agterkom hulle verloor geld deur petrolbelasting. Dit is nie lank dat ONS net meer aan belastimg moet betaal nie.

Hendrik ·

Ek voel dat soos die selfoon industrie nuwe werkskaffing/beroepe tot gevolg het, so sal die elektriese motor ook dieselfde doen. Solank niks ge-BEE word nie sal enteperneurs solg dat hierdie industrie suksesvol is.

Vraagteken ·

Nee Hendrik, jy kan maar gaan kyk na die mense wat sê “elektriese voertuie is die toekoms” – hulle het in die industrie belê. En terloops, dit is baie min werk in vergelyke.

Arak ·

Ek hoor hoe wonderlike die elektriese karre is, maar daar is ‘n paar dinge wat hulle na my mening nog nie aangespreek het nie. 1) Die energiedigtheid van batterye is baie laer as van diesel/petrol so jy kan maar net nie so ver ry nie. 2) Die invloed van die elektriese velde op die passasiers. 3) Die veiligheid van die karre, want om hulle enige ryk te gee moet die goed so lig moontlik gebou word wat hulle weer minder beskerming gee in ongelukke. Ek hou van die idee, en vir iets soos ‘n buurtwag mag dit sin maak, maar ek dink die battery tegnologie is nog nie daar nie.

Vraagteken ·

Hoe kan julle sê hulle leeftyd is langer? Batterye in rekenaars hou skaars 3 jaar? Hoe gaan jy daardie battery herwin na 5 jaar (dan kos dit jou nog met ‘n klompie geld)?

Rupert Ashford ·

…en wat gebeur met daardie ou batterye na hulle uit die motor gehaal is?

Vraagteken ·

Rupert, dit is juis my punt. Ons infrastruktuur is glad nie bevoeg vir elektriese motors nie.

Reinhardt ·

Die perdekar vervaardiger het ook gesê: Ons infrastruktuur is glad nie bevoeg vir motors nie!

Natuurlik is daar baie dinge wat nog opgelos moet word in terme van batterye, waar dit gaan laai ens. Maar dis n klein hindernis in die groter prentjie…

Frans C ·

Hoe gaan olieproduserende lande reageer op die ‘stil revolusie’?

marco polo ·

“brandstofpompe wat gereeld vervang moet word” wat jy waar kry? Ek het seker al ‘n paar miljoen km met my voertuie afgele en het in al hierdie tyd nooit nodig gehad om ‘n brandstof pomp te vervang nie. Jy laat dit klink asof dit ‘n diensitem is. Ek is ‘n selferkende petrolkop en gaan lank vat om oortuig te word dat ‘n elektriese voertuig beter en meer prakties is.

RB ·

Dit klink oulik, en ek sal def een kry wanneer die tyd reg is, maar dit is nog ‘n rukkie weg. Die koste is tans nog te hoog, in aankoop prys, en nadele. Die pryse behoort wel vinnig te daal soos die mark %, en optimisasies, vorder.

Brandstofkop ·

Dit gaan ñ hartseer dag wees as die laaste V8 weg brul oor die horison.

Judge Dredd ·

Alles hang af van die storing(battery) – op die oomblik is die batterye en herlaai tyd/metode eenvoudig nog nie goed genoeg nie.

Willi ·

Ek het ‘n 60amp battery laaier met ‘n 12Vdc/220Vac ingeboude 1500Wp volle sinusgolf omsetter. Jy kan sommer terwyl jy wag om jou motor se battery te laai, ‘n yskoue bier uit die yskas geniet en sommer ook ‘n vleisie braai, so eg Suid Afrikaaans en net rustig wees langs die pad met baie geduld vir die ou joppie. Miskien kom jy ‘n jaar later in die Kaap, maar jy sal daar kom ongeag. Groot snert storie hierdie van die ou battery karretjies.

aj ·

Soos wat die vraag na olie (petrol) verminder a.g.v. elektriese voertuie sal die pryse daal … teen $10 ‘n vat olie sal petrol/ diesel so goedkoop wees dat almal gewone voertuie sal ry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.