Die stille meerderheid se stilte is oorverdowend

betogings-studente-universiteit-kaapstad

Studente betoog op die Universiteit Kaapstad-kampus. Foto: Twitter via @UCTMSA

Deur Juran van der Heerver

Die stille meerderheid is gefrustreerd. Die stille meerderheid is raadop. Die stille meerderheid is woedend, maar die stille meerderheid is tjoepstil.

Die stille meerderheid is gewoonlik ʼn groot groep mense wat nie hul opinies in die openbaar bekendmaak nie. Dié term is in die vroeë 19de eeu gebruik as ʼn eufemisme om te verwys na diegene wat nie meer leef nie.

Dit het later in ʼn politieke konteks bekend geword, toe die destydse VSA-president, Richard Nixon, op 3 November 1969 in ʼn toespraak tydens sy verkiesingsveldtog gesê het:  “And so tonight – to you, the great silent majority of my fellow Americans – I ask for your support.” Met “silent majority” het hy hier verwys na mense oor alle kleurgrense heen, wat nie aan die openbare diskoers deelgeneem het nie.

Verskeie ander Amerikaanse presidente, soos onder andere Clinton, het ook al hierdie term gebruik, en selfs Trump gebruik dit nou.

In Suid-Afrika geld die teorie oor die stille meerderheid deesdae selfs meer as tydens Nixon se verkiesing.

Te midde van vandag se kampuskrisisse, word die stille meerderheid oordonder deur die meer verbale, oorverdowende minderheid, wat al die mediadekking geniet. Net soos destyds het die meerderheid ʼn opinie, maar hulle hang dit nie aan die groot klok nie – hulle keer in hulself in en onttrek uit hul gemeenskappe. Die media praat nie met hulle nie en berig net oor die belhamels.

Waar is hierdie meerderheid? Die radikale minderheid polariseer die meerderheid wat net hul studies in vrede wil voortsit.

Dieselfde verskynsel manifesteer ook op nasionale vlak. Isis is ʼn radikale minderheid wat vrees en verwoesting onder die meerderheid saai om hul bepaalde agenda en doelwitte te bereik.

Die meerderheid bestaan hoofsaaklik uit mense wat ʼn normale bestaan wil voer deur in vrede te leef, te werk en elke dag ʼn verskil te maak. Hulle is deesdae net baie stil.

Waarom glo die stille meerderheid so min aan hulself? Hulle het tog gesien wat hulle by die stembusse reggekry het. Hulle kan tog sekerlik ook ʼn verskil op die kampusse maak. Is die stille meerderheid bang vir iets? Is hulle bang hulle word geviktimiseer? Is hulle bang hulle verloor hul werk? Is hulle bang hul stem kos hulle dalk hul loopbaan?

Is jy ook stil?

Ek doen ʼn beroep op die stille meerderheid – laat jul stem ook geld!

  • Juran van den Heever is verbonde aan Solidariteit en bestuur nuus, inhoud en sosiale media vir die vakbond.
  • Lees die oorspronklike artikel op Solidariteit se webwerf.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Lewies ·

Die stille meerderheid kla net oor alles, oor die swak Bokke maar dan gaan kyk hulle maar weer, hulle kan nie eers dit boikot

liefie ·

wat wil jy hê? Dat daar skielik oorlog uitbreek tussen die ‘goeies’ en die ‘slegtes’? Dink jy dis die antwoord? Ongelukkig is dit so dat die ‘ordentlikes’ stilbly en wag vir die regte kanale om oor te gaan tot aksie en te red wat te redde is. Ek stem saam met jou, Spook.

Spook ·

Dis maklik om te praat. As ons ,ons opinies lig of ons stem laat hoor word jy gebrand merk as n rassis of n ver regse. Ons het kinders en gelieftes om na te kyk en kan nie bekostig om ons bekke te rek nie.Net soos Gordon en Jansen dinge sien gebeur word ons ook bang vir dit wat oppad is, so ons is maar stil (vir nou,todat ons dit nie meer kan uithou nie, en dan is die groot leeu wakker en gaan hy alles verskeur wat hom wil temteer en woedend maak)

liefie ·

jammer Lewies, my kommentaar was nie op jou gemik nie, was veronderstel om totaal nuwe kommentaar te wees, gemik op die skrywer van die artikel. Jammer.

Jeanne ·

Hoekom is die meerderheid stil? Hulle is bang hulle word verder intimideer en as rassiste uitgekryt. Jy mag mos nie meer betogers teegaan nie, daar word onmiddellik na ras verwys ongeag te feit dat die meerderheid studente wat ongelukkig is swart en wit en indier en uit ander rasse bestaan, maar omdat die meeste protesgangers van een etniese groep is, word daar onmiddellik ‘n ONS en HULLE geskep en is daar rassistiese ondertone in ENIGEEN wat die betogers teegaan. Wat moet die meerderheid doen as die Universiteit niks aan die betogers wil doen nie? As hulle in opstand kom of die betogers gaan teegaan gaan dit ‘n bloedbad wees en die RASSISTIESE studente wat die betogers teegegaan het sal in die tronk gaan sit, DIS hoekom die meerderheid maar STIL is.

Ek stem hulle stemme moet geld, maar hulle moet ‘n interdik teen die Universiteit kry, hulle moet weier om verder universiteitsgelde betaal, hulle moet op ander maniere hulle stemme laat hoor maar hulle kort ‘n LEIER, wie gaan dit wees? Enige leier wat nou so ‘n aksie aan die gang sit word as ‘n rassis uitgeskel. Waar is die kinders se ouers wat prokureurs is, hoekom help hulle nie die meerderheid nou met ‘n REGAKSIE teen die Universiteit nie? Of is hulle fooie te duur?

Basson ·

Korrek – spesifiek word wit afrikaanse studente geteiken deur (onredeilike) dissplinere optrede om van die groep ontslae te raak (of ten minste uit te dun) op universteite.

NS : E k verneem dat sommige UP dosente van mening is dat UP nie volgende jaar met die akademiese program sal kan begin, en dat mens maar ‘n plan B moet he.

Anoniem ·

Ek het vanoggend “www.afriforumjeug.co.za/universiteitsbesture-laat-ons-studente-vrede-studeer” gaan voltooi. Laat asb weet hoe kan ek my stem duideliker laat hoor? Ek sal graag meer wil doen.

JC ·

Mooi so Anoniem!!
Sluit aan by Afriforum! (indien nie reeds nie)

Lance ·

Dis asof die mense n mens wil uitlok om iets te se of te doen …moet nie in die lokval trap en hulle dit gee nie want hulle wil en gaan dit teen jou gebruik al weet jy dat jy reg is. Glo my hulle gaan mekaar vernietig terwyl die wat kophou gelate toekyk…

Kriminele regte probleem ·

Die rede is omdat sogenaamde “menseregte” die onverantwoordelike minderheid vryheid gee om te doen wat hulle wil sonder gevolge. As n lid van die stil meerderheid wil ingryp word hy geviktimiseer deur die wettelose minderheid en deur die regsisteem.

humor ·

Ag man ek is deel van hierdie Afrikanervolk en ek beleef die volk het in n slapgatvolk ontaard. n Groot massa van hierdie volk is net ingestem op materialisme waar dit gaan oor besit gemak gerief en ontspanning. n Massa het nie eens die vaagste benul van die ontstaan en geskiedenis van hierdie volk nie. Hulle is oningelig wat op die politiekfront aangaan en verslaaf aan mnet met sy sieklike sepies. Hulle is oningelig wat op die kerklike terein aangaan en is ook in massa kerklos mense Hul wereld het verklein net tot hulself. Sommige is darem bewus van Solidariteit en Afri Forum maar sit nou agteroor sodat dinge vir hulle gedoen kan word. Gn wonder ons word die slapoorvolk genoem nie.

Emile ·

Die stille meerderheid vrees die demonisering en viktimisering van die afro-marxistiese liberale media, wat enigiets en iemand wat ‘n ander opinie as die ondersteuning van die “vreedsame” proteste handhaaf, as rassiste brandmerk en verguis.

Carel ·

Die voorspelling sonder ‘n kristalbal is dat die bekwame dosente en lektore die land gaan verlaat, die universiteit graderings val (al reeds). Universiteits dept val inmekaar . Nuwe SA kwalifikasies beteken niks Net die ryk mense stuur kinders oorsee vir studie

Santjie stoof ·

Wag op die Here.
Wanneer mense faal en magteloos is, roep God se kinders na Hom. Hy is die Almagtige. As Hy n donkie kon laat praat, kan Hy ook deur leiers praat.
Ons as mense het nie die antwoorde nie, maar die Alwyse God het.

Danie ·

Ek stem saam Santjie maar die slap hande en slap knieë het ook ‘n probleem geword. As mense dan so besorg is: Hoekom is hulle nie as gemeente elke Sondag in die kerk nie. Elke kerk behoort uit sy nate bars elke Sondag as die stille meerderheid regtig so bekommerd is. Sit daad by die woord en woon ten minste die eredienste by as gemeente. Ek gee nie om in watter denominasie jy is nie. Jy gebed moet oorgaan in dade. Dade wat begin by kerkbywoning. Die Here het glad nie gesê dit gaan maklik wees nie. Hy het net gesê hy wil jou dade sien.

Santjie stoof ·

Stem saam Danie. Dis hoekom ons klein groepie vasberade dit doen. Al kry ons teenstand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.