Die Belhar-debat: Die storie agter Belhar

kerkMet hierdie artikel skop Maroela Media af met ‘n reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. As grondslag vir die debat het Herman Toerien hierdie inleidende, neutrale artikel geskryf. In die komende paar weke sal meningsvormers met uiteenlopende standpunte die geleentheid kry om hul standpunt oor Belhar te stel. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Die Groot Debat. -Red

Dit is ʼn pragtige belydenisskrif, maar dit kwalifiseer nie om ’n belydenisgeskrif te wees nie. Só kan die hoofbesware teen die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) se Belhar-belydenis die beste omskryf word.

Daar is ander besware, waarvan sommiges ernstige implikasies inhou. Nie die geringste hiervan nie is die belewenis van heelwat lidmate van die NG Kerk dat die VGK die NG Kerk hiermee afpers om vordering op die weg van kerklike eenheid te kan maak. ’n Ander beswaar met ernstige implikasies is die beskuldiging dat die kerkleiding die lidmate nie behoorlik sou ingelig het nie, en eintlik die lidmate sou mislei het.

Die belydenis van Belhar is in 1986 deur die destydse NG Sendingkerk by Belhar as belydenisskrif aanvaar. In 1994 het dit ʼn belangrike rol gespeel in die gedeeltelike samesmelting van die NG Sendingkerk, die NG Kerk in Afrika en die Evangelies Gereformeerde Kerk van Namibië. Dit het egter ook daartoe gelei dat ʼn deel van die NG Kerk in Afrika, veral gemeentes in die Vrystaat en Noord-Kaap, geweier het om saam te smelt en as afsonderlike kerk bly voortbestaan het. Ook die Indian Reform Church het weens Belhar nie in die VGK opgegaan nie.

Veral tussen die NG Kerk in Afrika en die VGK het jare se bitter stryd gewoed, veral oor kerkeiendomme, wat uiteindelik in die appèlhof in die NG Kerk in Afrika se guns beslis is. Die VGK se verbetenheid om die saak deur die howe te beslis het daartoe gelei dat daar nie sinvol oor ʼn billike verdeling van kerkeiendomme gesprek gevoer kon word nie.

Heelwat van die onmin is reeds deur harde werk besleg, maar nog harde werk lê voor.

Met die NG Kerk se sinode van 2013 het die boodskap uitgegaan dat die NG Kerk Belhar “aanvaar” het. Dit het onmiddellik ʼn kloof tussen die NG Kerk en sy dogterkerke, die NG Kerk in Afrika en die Indian Reform Church geslaan.

Hiervan word werk gemaak, maar skynbaar met min oorgawe van die voorstanders van Belhar. Dit skep die indruk dat Belhar “opgedwing” word om die VGK ter wille te wees, en dat die twee dogterkerke “opofferbaar” is.

Ten spyte van verskeie pogings om meer lig op die 2013-Sinodebesluit  te werp, is daar steeds groot onsekerheid oor presies wat dit behels. Uiteindelik neem lidmate van die NG Kerk nou aan ’n referendum deel om Artikel 1 van die Kerkorde so te wysig dat lidmate self kan kies of hulle Belhar as belydenis gaan aanvaar, of nie. Verskanste meerderhede word op gemeentevlak, en die verskillende sinodevlakke vereis om die artikel te wysig.

Berigte oor of die “vrye opsie” van NG lidmate die VGK tevrede sal stel, is teenstrydig. Van buite geoordeel lyk dit egter of die VGK dit hoogstens as ʼn tussenstap sal beskou, en eers tevrede sal wees as alle NG lidmate die dokument moet aanvaar.

Benewens die ekumeniese bande met die NG Kerk is Afrika en die Indian Reform Church, kan die “aanvaarding” van Belhar ook die werksaamhede van die Tussenkerklike Raad tussen die NG Kerk, die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) en die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika (NHK) kompliseer. Hierdie raad, wat as tussenkerklike kommissie tot stand gekom het, werk daaraan om bande tussen die drie susterkerke te verstewig. Dit is juis weens vordering tot die status van “Raad” opgegradeer. Belhar is nie op die GKSA en die NHK se agenda nie, en dit is duidelik dat hierdie kerke dit ook nie maklik op hul agendas sal plaas nie, juis om binne-kerklike spanning te verlig.

Dit is nog onseker hoe die GKSA en die NHK in standaard-interkerklike reëlings soos die gebruik van nagmaal en opname van lidmate soos byvoorbeeld in die geval van huwelike sal toepas met NG-lidmate wat Belhar aanvaar het, en dus streng gesproke nie meer dieselfde geloofsbelydenisse as daardie kerke handhaaf nie. Terwyl nie besondere probleme voorsien word nie, mag individuele behoudende gemeentes hieroor hare kloof.

Die hele stemproses geskied teen die agtergrond dat die kerk as instelling nie ʼn demokrasie is nie, maar ʼn teokrasie. Dit manifesteer egter gewoonlik in ʼn demokratiese proses en gaan van die veronderstelling uit dat die stemgeregtiges op alle kerklike vlakke vra dat die Here Sy keuse in hul harte lê. Dit beteken nie dat gesonde verstand (ook ʼn gawe van die Here) eenkant gewerp word nie, maar oorwegings soos interkerklike bande kan nie bo die wil van die Here geld nie. ’n Voorbeeld sou byvoorbeeld wees dat die Here ’n kerkverband lei om vroue as diakens te verkies, maar so ʼn stap sou die ekumeniese bande met ʼn ander kerkverband (bv. ʼn konserwatiewe kerkie in Nieu-Seeland) in gedrang bring.

Net so moet lidmate van die NG Kerk die Here biddend opsoek om die regte antwoord oor Belhar in die hart te lê.

Kerkeenheid met die VGK kan ʼn duur prys wees as die NG Kerk juis hieroor sou skeur. Dit mag ʼn vergesogte gedagte wees, maar ʼn vroeëre dokument, Kerk en Samelewing, se aanvaarding het wel tot die stigting van die APK gelei.

Dit is baie duidelik dat baie van die voorstanders van die aanvaarding van Belhar sake oorvereenvoudig wanneer hulle aanvoer dat dit “ter wille van versoening” geskied. Dit mag na een kant versoen, maar dit vervreem na die ander kant toe.

Is daar ʼn ander opsie?

As die horlosie teruggedraai kon word, sou dit waarskynlik die sinvolle weg wees om Belhar saam met die bestaande belydenisskrifte volledig te ondersoek en aan die hand van nuwe Skrifkennis en God se openbaring deur die Skepping, ʼn nuwe geloofsbelydenis op te stel. So ʼn proses is nie heeltemal sonder presedent nie, en al hoe meer stemme gaan op dat die bestaande geloofsbelydenisse nie meer in geheel die toets van die tyd deurstaan het nie.

In 2011 het die Verenigende Presbiteriaanse Kerk van Suid-Afrika (UPCSA) ʼn nuwe geloofsbelydenis aanvaar. Die UPCSA is die gevolg van die samesmelting in 1999 van die voormalige Presbyterian Church of Southern Africa (PCSA) en die Reformed Presbyterian Church in Southern Africa (RPC).

Die nuwe belydenisskrif was in die eerste plek nodig om ʼn geloofsbelydenis vir die twee kerke waaruit die kerkverband saamgestel is op te stel, maar ook om nuut daarna te kyk.

In ʼn moet-lees artikel in die Hervormer van Julie 2011 beskryf dr. Douglas Bax, sameroeper van die komitee wat die nuwe Presbiteriaanse belydenisskrif moes opstel, die proses. Sy motivering is egter ook insiggewend:

“Enersyds het Reformatoriese Christene nog nooit probeer om ’n universele kanon van belydenisskrifte saam te stel soos die Lutheraanse Konkordansie dit doen nie. Andersyds het hulle nog altyd verstaan dat belydenisse baie definitief binne die konteks van spesifieke tye en omstandighede opgestel word om so vryelik die sake eie aan hul omstandighede, tyd of kultuur te hanteer.”

Johannes Calvyn stel in sy Apologie vir die Reformatoriese Eed, wat in 1537 op die inwoners van Genève afgedwing is, dit so: Ons, hier en nou, bely in hierdie saak…

Hierdie twee kerke het verskillende belydenisskrifte na die Verenigende Kerk gebring: die 24 Artikels (wat die PCSA oorgeneem het van die Presbyterian Church of England) en die Westminster Konfessie (wat die RPC oorgeneem het van die Churches of Scotland).Daar was aspekte van albei hierdie belydenisskrifte waarmee mense aan albei kante probleme ervaar het en daarom, in lyn met die basiese Reformatoriese verstaan van belydenisskrifte, het die UPCSA ’n komitee die mandaat gegee om ’n moderne belydenis van geloof op te stel wat albei die ouer belydenisse sou vervang.”

In die proses is die twee verenigende kerke se belydenisskrifte nie net bloot versoen nie, maar wyer gekyk en selfs ander reformatoriese kerke is genooi om insette te lewer, en het ook van die geleentheid gebruik gemaak.

Maar kan ’n nuwe belydenisskrif, as so iets uitgehamer kan word, al die twispunte in die verskillende Afrikaanse kerke ondervang? Dit het die UPCSA tien jaar geneem om die eerste fase te voltooi.

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.
Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.
Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.
Kyk ook gerus na die volgende video oor die boek (die insetsel is deur eNuus vervaardig): 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rupert Ashford

Jy sien kans vir warm patatte Herman! Belhar het al die jare nog politieke bagasie saamgedra wat dit ‘n baie taai toffie maak.

Rupert Ashford

Jy sien kans vir warm patatte Herman! Belhar het al die jare nog politieke bagasie saamgedra wat dit ‘n baie taai toffie maak.

Henkst

Ek mag verkeerd wees, maar myns insiens is die kerk se belydenis oor die Bybel die wortel van die ganse probleem waarmee ons vandag op die godsdiens en geloofsterrein sit. Lees mens die Belhar belydenis, kan mens nie anders as om ʼn verkeerde lees van die Bybel agter dit raak te sien nie. Kyk ʼn mens na die reaksies in briewekolomme, sien ʼn mens ʼn bepaalde Skrifbeskouing en manier van omgaan met die Bybel agter die argument lê. God het nooit vir enige mens gesê dat die Bybel sy Woord is nie. God het nooit vir enige skrywer gesê om… Lees meer »

Henkst

Ek mag verkeerd wees, maar myns insiens is die kerk se belydenis oor die Bybel die wortel van die ganse probleem waarmee ons vandag op die godsdiens en geloofsterrein sit. Lees mens die Belhar belydenis, kan mens nie anders as om ʼn verkeerde lees van die Bybel agter dit raak te sien nie. Kyk ʼn mens na die reaksies in briewekolomme, sien ʼn mens ʼn bepaalde Skrifbeskouing en manier van omgaan met die Bybel agter die argument lê. God het nooit vir enige mens gesê dat die Bybel sy Woord is nie. God het nooit vir enige skrywer gesê om… Lees meer »

Wynand Louw

Die voorgestelde verandering aan Artikel 1 het twee probleme:

Die eerste is dat Belhar nie ooreenstem met die Woord van God nie. Sien hierdie skakel:
http://hierstaanek.com/2014/11/17/teologiese-kritiek-op-belhar/

Die tweede is dat dit deur kerkregtelike presedent die aard van ‘n belydenisskrif as voorwaarde vir lidmaatskap (die Quia beginsel) radikaal verander.

Die NGK kan dit eenvoudig nie bekostig nie.