Die stryd om die VSA se buitelandse beleid

President Donald Trump arriveer by die Withuis in Washington ná sy besoek aan Suid-Korea se president Moon Jae-in en Noord-Korea se leier Kim Jong-oen op die grensdorpie Panmunjom tussen Noord- en Suid-Korea. (Foto: Andrew Harnik, AP)

Twee belangrike gebeure verlede maand het tot ’n hernieude debat oor buitelandse beleid in die Verenigde State van Amerika (VSA) aanleiding gegee. President Donald Trump se spontane besluit om die eerste Amerikaanse president te word om Noord-Korea te besoek en sy besluit om tien minute voordat ’n aanval op teikens in Iran sou plaasvind, die aanval af te stel, het die ou strydpunt oor wat Amerika se benadering tot konflik in die res van die wêreld moet wees, weer beklemtoon.

Trump se besoek aan Noord-Korea is deur sy opponente in die Demokratiese Party veroordeel. Ook Trump se besluit om ’n aanval op Iran af te las, is deur talle Demokrate, maar ook die intervensionistiese been van die Republikeinse Party, veroordeel. ’n Peiling wat laat in Junie onder meer as tweeduisend Amerikaanse kiesers gedoen is, toon egter dat 78% van kiesers saamgestem het met Trump se besluit.

Tydens Trump se verkiesingsveldtog in 2016 was hy sterk uitgesproke teen Amerikaanse betrokkenheid in oorsese oorloë. Trump het by sy verkiesingsbelofte gehou en in Desember verlede jaar aangekondig dat Amerika aan die oorlog in Sirië onttrek. Net soos Trump se proteksionistiese benadering tot wêreldhandel, het sy sterk boodskap teen intervensionisme in buitelandse konflik juis tot sy verkiesing by die stembus aanleiding gegee.

Terwyl Trump se twee voorgangers, George W. Bush en Barack Obama ten opsigte van binnelandse beleid, maar veral ten opsigte van styl en persoonlikheid wesenlik verskil het, was daar uiteindelik min kontras tussen Bush en Obama se benadering tot Amerikaanse betrokkenheid in oorsese konfliksituasies en hul filosofie oor internasionale handel.

George W. Bush sal altyd onthou word vir die rampspoedige oorloë in Irak en Afganistan en ’n internasionale stryd teen terreur wat die lewens van duisende Amerikaanse soldate gekos het. Die oorlog in Afganistan ken steeds geen einde nie en is reeds die langste oorlog waarin die VSA nog ooit betrokke was.

Barack Obama het in 2008 tydens sy eerste veldtog om president van die VSA te word, ’n sterk anti-oorlogboodskap gehad. Sy onttrekking van die Amerikaanse weermag uit Irak het egter gemengde resultate gelewer en daar is ’n denkskool wat glo dat dit selfs tot die opkoms van die Islamitiese Staat aanleiding gegee het. Obama kon egter nie daarin slaag om die oorlog in Afganistan te beëindig nie en sy besluit om Libië aan te val, moet vandag as een van die grootste foute van sy presidentskap beskou word. Obama was uiteindelik ook met sy goedkeuring van ’n uitgebreide reeks aanvalle op teikens in die Midde-Ooste meer intervensionisties as wat Amerikaners in 2008 van hom verwag het.

Die realiteit is dat die Amerikaanse bevolking nie meer ’n sterk aptyt vir oorlog het nie. Min Amerikaners is ten gunste van militêre optrede in plekke soos die Koreaanse Skiereiland, Iran en Venezuela. Wat wêreldhandel betref, is baie Amerikaners ongelukkig oor die groot handelswanbalans tussen Amerika en, byvoorbeeld, China, Japan en Duitsland.

Trump het daarin geslaag om op ’n vreemde wyse, wat soms impulsief en soms net astrant en dwars voorkom, Amerikaanse buitelandse beleid te begin herposisioneer. Amerika is vandag steeds die magtigste land op aarde, maar die vraag oor presies hoe hy sy mag moet laat geld om die wêreld ’n beter plek te maak, is steeds onbeantwoord.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frans C ·

In 2015 het die US ‘ $8 billion ‘ in 47 sub sahara state in Africa ingepomp.Dit is “111 507 600 000 South African Rand” Die Suid Afrikaanse begroting (uitgawes) is ongeveer
‘US $131.37 billion’.
Dit is dus verstaanbaar dat Pres Trump wonder hoveel van die geld ooit uitkom by die mense vir wie dit bedoel is en dat hy met sy ‘America first’ die geld eerder tuis bestee.

John ·

Miskien is dit tyd dat nuusmense bykom; besef dat die wèreld ‘n nuwe paradigma betree het tov politiek, ekonomiese sake en tegnologie. Joernaliste (en ek verwys nie na meegaande kommentaar nie) het agter geraak, maar bly glo hulle is alwetend. Wèreldleiers en hul onderdane moet die nuwe sg globale stad, met mekaar deel maar nie almal speel mooi saam nie. Trump staan midde in die vreemde omgewing wat daagliks nuwe skokke oplewer. Dalk is dit nie hy wat impulsief, astrant en onnosel is nie, maar die werklikheid wat duiselingwekkend verander. Ons is bloot die geskokte toeskouers, met hom midde in die vuur.

Jan ·

Ek stem nie saam nie. Al die wereldleiers is in die geheim vriende onder mekaar. Selfs trump en die noord koreaanse leier is vriende hulle bluf net die publiek om te dink hulle is vyande…

Jerry ·

Wees so glad soos n paling en so regs soos die KKK en skud die liberales en politieke korrektes tot in hulle fondamente. Hierdie nuwe wereld nasionalisme orde wat tot stand gebring word gaan individuele vryheid aan bande le en konflik teweeg bring wat die bloed gaan laat vloei, dis Virseker!

Heidi ·

Soos die situasie huidiglik is glo ek Donald Trump gaan die verkiesing weer wen. Demokrate kan maar raas en blaas soos hulle wil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.