Die stryd om grond duur voort

“National sovereignty is defined in terms of land.”

Hierdie kort sin uit die aanvangsparagraaf van die Groenskrif op Grondhervorming som – heel veelseggend – die onderliggende filosofie van die regering se grondhervormingsagenda op. Nasionale soewereiniteit word deur grondbesit bepaal – so glo die ANC – maar nie net die ANC nie.

Ironies genoeg, is hierdie begrip ook ’n onderliggende uitgangspunt van volkstaat-ideale. Wyle Prof. Carel Boshoff het tereg op sy tyd gesê “die grondvraag is die grondvraag”.

Op ’n verrassende manier stem Afrikaniste en Afrikanernasionaliste dus saam oor die belang van grondbesit vir die toekomstige gang van die politiek. Vir beide is grond nie net ’n kommoditeit of ’n produksiefaktor nie, maar ’n bepalende faktor vir die toekomstige magsverhoudinge in Suid-Afrika. Afrikaners het 175 jaar gelede op soek na vryheid – en grond – die binneland ingetrek. Die stryd om grond en gepaardgaande botsings op die Kaapse oosgrens en die inkonsekwente hantering van die grondvraagstuk deur die Britse koloniale bewind was immers ’n vername rede vir die Groot Trek.

Grond was ook die onderwerp van die traktaat tussen Piet Retief en die Zoeloekoning Dingaan wat onderteken is kort voordat Retief en sy geselskap uitgemoor is. Sedertdien was die struwelinge – maar ook die skikkings – tussen Afrikaners en plaaslike inboorlingstamme telkens deur grondgeskille geïnspireer.

Die stryd om grond in Suid-Afrika het egter tot dusvêr onbeslis gebly. In 1913 en weer in 1936 het Gen. JBM Hertzog gepoog om swart grondbesit en grondbestuur in Suid-Afrika te kodifiseer. Onder leiding van Dr. HF Verwoerd is sedert 1948 – 1966 gepoog om die sogenaamde trust-gebiede of reservate soos dit voorheen bekend gestaan het, met staatkundige gesag van selfregering en uiteindelik onafhanklikheid te beklee.

Maar die idee van afsonderlike vryheid vir swart volkere het nie op die lange duur aanklank gevind by die agitators vir een-mens-een-stem regering in Suid-Afrika nie. Deeglik bewus van die getalle-oorwig van swart Suid-Afrikaners, het ANC- en PAC-leiers deurgaans aangedring op Suid-Afrika as een onverdeelde land en die samevoeging van die verskillende volkere van die land tot een sogenaamd verenigde nasie.

Vandag is Suid-Afrika inderdaad ‘n onverdeelde land. Die bewindhebbers kies gerieflikheidshalwe om daarop te hamer dat slegs 13% van die land se grond in swart besit is. Hierdie syfer dateer terug na die 1936-syfers van Gen. Hertzog en neem nie in ag dat miljoene hektaar grond in staatsbesit is, of in besit is van swart bemagtigde maatskappye, of sedert 1998 aan swart grondeisers-gemeenskappe oorgedra is nie.

Die proses van grondherverdeling wat in 1998 begin is, sal onthou word as een van die mees koste-ondoeltreffende oefeninge wat ’n regering nog aangepak het. Trouens, as al die geld wat die afgelope 13 jaar deur die staat spandeer is aan sy begroting vir grondhervorming, bymekaargetel word, kon al die geëiste grond reeds teen markprys aangekoop en oorgedra gewees het.

Maar die geld het in ’n bodemlose put van burokrasie, korrupsie en blote oneffektiwiteit beland. Telkens soek die huidige bewind die medisyne vir sy eie ondoeltreffendheid op die verkeerde plek. Dit is asof ‘n selfgeskepte mislukking gebruik word om die weg te berei vir ’n meer sosialistiese agenda.

’n Groenskrif vir grondhervorming is onlangs gepubliseer en die publiek het tyd gehad tot die einde Desember 2011 om kommentaar daarop te lewer. In die aanvangsparagraaf van die groenskrif word veelseggend verklaar: “Even without it being enshrined in the country’s supreme law, the Constitution, land is a national asset.”

• Die groenskrif voorsien dus dat grond (net soos minerale en water) ’n “nasionale bate is”;
• Daar word voorsien dat private eiendomsreg voortaan bloot “vrypag” gaan wees;
• Staatsgrond sal nie meer in private besit oorgedra word nie, maar slegs by wyse van “huurpag” aan individue en gemeenskappe beskikbaar gestel word;
• Streng beperkings sal geplaas word op die regte van buitelanders op Suid-Afrikaanse grond; en
• ’n Onheilspellende nuwe burokratiese struktuur, die “Grondbestuurs-kommissie”, word in die vooruitsig gestel.

Die kommissie sal uitgebreide magte hê om titelaktes te verifieer en selfs nietig te verklaar; om enige grondeienaar te dagvaar om verantwoording te doen oor die gebruik van sy grond en om grond wat na sy oordeel op ’n korrupte of bedrieglike wyse verkry is, namens die staat te konfiskeer.

2012 sal dus die jaar wees waarin Suid-Afrika hierdie ingrypende inbreuke in die land se beproefde stelsel van eiendomsreg moet oorweeg en afweer. Grondeienaars sal hulle moet voorberei op aktiewe openbare deelname oor die groenskrif – en die witskrif wat nou in die vooruitsig gestel word – en die burgerlike samelewing sal homself moet voorberei op die moeder van alle regstryde om eiendomsreg in stand te hou.

Die eerste toets vir hierdie regstryd sal die appèlhof en die grondwethof se hantering van die minerale onteiningsaak van die landbougroep AgriSA wees. Indien die regering slaag met sy argument dat hy nie die houers van minerale regte hoef te vergoed vir die onteiening van alle minerale regte nie sal die tafel gedek wees vir ’n soortgelyke hantering van eiendomsreg op grond.

Hoe dit ookal sy – die vraag na grond en meer bepaald die politieke en privaatbeheer oor grond sal nie net in 2012 nie maar ook in die jare wat kom, die grondvraagstuk van die Afrikaner en Suid-Afrika se toekoms wees.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Willie Spies

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is prokureur by Hurter Spies Ing en betrokke by verskeie regsaksies van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Ebert ·

Dankie vir die uitlig van hierdie grondliggende stryd wat besig is om tot ‘n mate ongesiens voor ons oë af te speel.

Elke enkele oorlog in die geskiedenis van die mensdom het oor die politieke beheer van grond gehandel. Dit is ook te verstane, want grond anker die mens se bestaan. Grond bring landbou- en mynbouprodukte voort wat as die primêre ekonomiese sektor bekend staan en alle ander ekonomiese aktiwiteit word op hierdie fondament gebou. Ons huise staan op grond, ons kantore word gebou op en met grond. Grond is ‘n tuiste, herberg en voorsiener.

In 1994 het Afrikaners politieke beheer oor grond prysgegee, grootliks met die geloof dat die grond waarop hul leef, hul plase, woonbuurte en skole, deur die wigte en teenwigte van die Grondwet beskerm sou word en onaantasbaar sou wees.

Vir die ANC om die politieke stryd te wen, maar om die vrugte van daardie oorwinning, beheer oor grond, geweier te word deur ‘n stuk papier is ‘n klap in die gesig vir die party wat bykans twee derdes van die bevolking verteenwoordig. Die Kliptown Vryheidsmanifes stel duidelik dat die grond van Suid-Afrika verdeel sal word aan die wat daarop werk.

Die hoop dat die ANC by sy onvoltooide politieke oorwinning sou staan blyk daarom naief te wees.

Afrikaners se verweer teen die regering kan nie gebou word op Afrikaners se invloed nie, want daar is geen, dit kan nie gebou word op ‘n waardering wat die land se mense vir Afrikanerboere het nie, want dit is min, dit kan nie op die politieke stemkrag van Afrikaners gebou word nie, want dit is negeerbaar. Die laaste instansie waarby Afrikaners deur hul burgerlike instellings kan aanklop, is die land se howe. En dit is wat jy met reg die moeder van regstryde noem.

Afrikaners staan darem nie alleen nie. Omdat grond die fondament van die ekonomie is, is dit onwaarskynlik dat daardie fondament geskuif kan word sonder verreikende gevolge vir die ekonomie nie. Diegene wat daarom ‘n belang het by die instandhouding van die huidige ekonomiese orde behoort hulle by die saak aan die kant van Afrikaners te skaar.

Die vraag is egter of die howe ‘n genoegsame teenvoeter vir die ANC aspirasies kan wees. My gevoel is op die korttermyn ja, maar in die langtertermyn nie. Oor die langtermyn plaas die regters van die howe hulself op eie risiko teen die wil van die mense. Die NP regering het in die vorige eeu reeds bewys hoe eenvoudig dit is om die howe ondergeskik aan die wil van die parlement te stel op regstegniese wyse. Zanu-PF het gewys hoe maklik dit gedoen kan word deur regstellende aanstellings.

Hoe sal die ANC reageer op ‘n negatiewe uitslag in die howe? Hy het al in die verlede gewys dat hy ‘n langer asem as die hof het, byvoorbeeld ‘n persoon wat skuldig bevind is aan terorrisme wat later president geword het.

Dit beteken nie dat die korttermynvoordeel wat ‘n positiewe hofuitspraak vir grondeienaars inhou nutteloos is nie. Inteendeel, dit kan waardevolle tyd wen.

Tyd om wat te doen?

Daar is net een antwoord, die sterkste en mees basiese vorm van eiendomsbeskerming is om dit effektief te beset. Diegene wat die grond bewerk sal dit besit. Die grond wat vandag die grootste kans het om in Afrikanerbesit te bly, ongeag die politieke stelsel van die land, die stand van die howe en die stand van die ekonomie is Orania. Op Orania is die mense wat die grond bewerk Afrikaners.

Gemeenskapsbelang sal in die toekoms, soos vir so lank voor die koms van die moderne regstelsel, weer die instansie word wat eiendomsreg sal beskerm en bepaal.

Afrikaners wat nie as deel van Afrikanergemeenskappe soos Orania hul belange sal kan beskerm nie, sal uitgelewer wees soos dryfhout ter see.

Enige pouse wat gewen word deur ‘n hofuitslag sal aangewend moet word om Afrikanergemeenskappe te bou.

Annoniem ·

Da’ar is nie ‘n “wettige” manier om die witman se belange te beskerm nie. Die huidige grondwet en internasionale steun vir die ANC, maak dit moontlik om “wettiglik” die witman van alles te beroof. Ons moet onthou dat die ANC nog te lekker leef en roof en taamlik ongerorganiseerd tewerk gaan, maar sodra hulle die wette begin implimenteer soos kwotastelsels ens. gaan ons behoorlik les opse.

Die feit dat die ANC nie op die oomblik oor die infrastruktuur beskik om kwotastelsels ens. af te dwing nie, beteken nie dat hulle dit nie oor ‘n maand of twee of selfs ‘n jaar sal begin implementeer nie. In Spanje byvoorbeeld, is duisende mense onteien toe ‘n reel wat se dat alle staat wat binne ‘n sekere afstand van die see af is, aan die staat behoort.

Hierdie reel of wet is grootliks geignoreer deur die jare en skielik toegepas en daar is niks wat die mense kon doen om hul beleggings te beskerm nie.

Die ANC kan byvoorbeeld terugwerkend boetes uitreik vir organisasies wat nie aan kwotastelsels voldoen nie en hierdie boetes is fenomenaal groot.

Laat ons onthou dat Malema nie deur die ANC aangespreek is omdat hy die witmense wil doodmaak nie, maar omdat hy die oueres geieriteer het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.