Die stryd vir Afrikaans begin by die huis

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond neem deel aan die gesprekreeks: “Probleme en oplossings vir Afrikaans“.

In ʼn onlangse bespreking oor die toekoms van Afrikaans, veral binne die huidige bespreking van die Wetsontwerp op SA Tale, is verskeie probleemareas geïdentifiseer en is heelwat oplossings ook aangebied. Die bespreking wat deur die Afrikanerbond gefasiliteer is en deur heelwat organisasies en individue bygewoon is, het onder andere die breë en inklusiewe siening ingesluit dat Suid-Afrika ʼn regstaat en grondwetlike demokrasie is en dat daar verskeie moontlike benaderings vir taalgemeenskappe en organisasies kan wees en behoort te wees. Dit kan insluit:

  • Dat die volle parlementere proses ingespan moet word om die uitkoms van die wet te beïnvloed. Dit kan ook gesprekke met die regering en regerende party insluit. Die moedswilligheid van sommige rondom die afskaling van Afrikaans moet in gedagte gehou word.
  • Dat die regsproses gevolg word om die uitkoms van die wet te verseker en om te voldoen aan grondwetlike voorskrifte.
  • Dat Afrikaans op alle terreine bevorder word. Dit sluit in die ondersteuning van Afrikaanse onderrig in al sy fasette Die eerste prioriteit is deelname aan die beheerliggaamsverkiesings wat op hande is aangesien beheerliggame ook die taalbeleid van ʼn skool kan bepaal.  Die fokus moet ook wees op die terrein rondom Afrikaanse universiteite en klasse.
  • Dat vennote vir die taalstryd gesoek moet word binne die nasionale arena maar ook in die internasionale arena.
  • Dat daar ʼn balans moet wees tussen veeltaligheid en die stryd vir Afrikaans. Dit beteken veral dat die een ding geding moet word maar dat die ander nie nagelaat moet word nie.
  • Dat Afrikaans as inheemse taal van Suid-Afrika bevorder word.

ʼn Verslag oor die gesprek het bogenoemde uitgangspunte ingesluit en is ook in die maandelikse nuusbrief van die Afrikanerbond gepubliseer. Een van ons lede het met waardering kennis geneem van die gesprek en ook van die vele organisasies in die Afrikaanse kultuurhuishouding se insette, en besondere ywer wat aan die dag gelê word met die bevordering van Afrikaans. Sy standpunt is egter dat al die werk vrugteloos gaan wees as elke Afrikaanssprekende individu nie ook self verantwoordelikheid neem vir Afrikaans en nie die maklike uitweg soek deur woorde te ontleen vanuit Engels en soms eksoties-klinkende Afrika-tale, in die naamgewing van besighede, plase, gastehuise en soms entrepreneuriese produkte nie. Sy argument, en heeltemal ten regte is dat Afrikaans al die korrekte woorde en begrippe het waaruit name geput kan word. Ons is egter soms te skaam en soms te polities korrek om Afrikaans te gebruik in die bemarking van produkte en of naamgewing.

Met bogenoemde in gedagte kan die bevordering van Afrikaans nie net by organisasies lê nie. Die oorlewing en beskerming van Afrikaans gaan deur die individuele gebruiker bepaal word. Dit is die individuele gebruiker wat tans louwarm is oor die taal, oor die stryd om Afrikaans en die konsekwente gebruik daarvan.

Die veilige oorlewing van Afrikaans gaan toenemend bepaal word deur Afrikaanse onderwys, en dan in die besonder by die Afrikaanse ouer wat namens hulle kinders keuses moet uitoefen oor die taal van onderrig van hulle kinders. In die Afrikaner Burgerlike Netwerk se scenario ontleding skryf proff Andre Duvenhage en Jaap Steyn: Afrikaanse onderrig bly belangrik vir die meeste Afrikaners. Van hulle is 15% in Engelsmediumskole, ʼn derde in parallelmediumskole en 51% in Afrikaansmediumskole. Laasgenoemde is die enigste vorm van onderrig waar Afrikaans werklik veilig is.”   Verder aan in die verslag word mnr Chris Klopper van die SAOU aangehaal: Dit blyk dat ouers nie sterk genoeg voel oor die waarde van moedertaalonderwys nie, hoewel 87% dit as belangrik of baie belangrik beskou. Tog het 35% geen beswaar teen ʼn groter gebruik van Engels nie en slegs 17% sal formeel beswaar teen die verhoogde gebruik van Engels aanteken. Net 11% sal bereid wees om meer te betaal vir moedertaalonderwys. Tog sal 59% sterk optrede vir die behoud van moedertaalonderwys ondersteun.” Uit al bogenoemde blyk dit al hoe duideliker dat daar ʼn redelike persentasie van Afrikaanse ouers is wat hulle kinders of vir mode-neigings na Engelse skole sal stuur of dit doen omdat Engels vir hulle ʼn taal van aspirasie geword het. (Die argument is dikwels dat Engels die algemene besigheidstaal is en dat kinders so vroeg moontlik die blootstelling in Engels moet kry.) Te dikwels word vergeet van die Anton Ruperts, Christo Wieses en Jannie Moutons wat as Afrikaanse sakemanne hulle stempel in ʼn Engelse omgewing afgedruk het. Mens hoor deesdae selfs dat Afrikaanse kinders in Mandaryns onderrig word omdat dit toenemend die taal van besigheid word.

Dit is nie net in Afrikaanse onderrig wat die individu passief staan nie. Dit is ook die passiwiteit van die Afrikaanse verbruiker wat nie meer stem dik maak oor die toename in Engelse advertensies, selfs in Afrikaanse TV programme, in die soeke na die Afrikaanse verbruiker se geld nie. Dit is die Afrikaanse verbruiker wat maar te gelate aanvaar dat Engels die taal van besigheid word en nie aandring op Afrikaans wanneer ʼn ooglopende Afrikaanse onderneming Engelse spyskaarte uitdeel of Engelse fakture uitreik nie. Net so aanvaar die Afrikaanse belastingbetaler ook gelate sy munisipale rekening in Engels en doen in Engels aansoek vir sy of haar vuurwapenlisensie of paspoort.

Oor die radio en in gewilde Afrikaanse sepies en tydskrifprogramme word die swakste vorm van Afrikaans gebesig. Dit is nie meer vreemd dat kunstenaars wat afhanklik is van hulle inkomste van Afrikaanse ondersteuners, dieselfde ondersteuners beledig en minag met die gebruik van Jingo-Afrikaans nie.

Dit is elemente in die Afrikaanse media wat te dikwels individue en organisasies wat toegewyd werk vir die bevordering van Afrikaans by Afrikaanse instellings, soos die Universiteit van Stellenbosch wat neig na verengelsing, sarkasties en onnodiglik brandmerk as “taalbulle”, maar self wegskram van ʼn sterk standpunt.

Waar Afrikaanse geld meegehelp het in die totstandkoming en vestiging van groot sakeryke word dieselfde Afrikaanse geld en kliënt deesdae net in Engels gehelp. Dieselfde sakeryke wat banke, versekeringsreuse en motorindustrieë insluit is deesdae polities korrek en word beurse aan Afrikaanse studente en skenkings ter bewaring van Afrikaanse erfenisse weerhou. Met die sluiting van die Boekehuis in Auckland Park was dit opmerklik om te sien dat dit veral die Engelse media en dan in die besonder ʼn Engelse radiostasie was wat stem dik gemaak het oor die sluiting van die baken van veral Afrikaanse letterkunde deur ʼn Afrikaanse media monopolie. Het die Afrikaanssprekende dan so passief geword dat sulke sake goedsmoeds aanvaar word sonder dat daar ʼn vorm van weerstand of kritiek uitgespreek word?

Dit is selfs in ons kerke waar Engelse lofsange mildelik gebruik word ten koste van pragtige en ook kragtige Afrikaanse lofsange en geestelike liedere en word dit te maklik opgedring aan Afrikaanse lidmate wat dit gelate aanvaar.

Die indruk is baiekeer dat Afrikaners, as kultuurgroep en as een van die gebruikers van Afrikaans, te dikwels die weg van die minste weerstand volg ten einde konflik te vermy en ten einde nie gebrandmerk te word as vaandeldraer van die Afrikaanse kultuur nie.  Afrikaans gaan nie op die manier oorleef as die individuele gebruikers daarvan nie aktief en openlik meewerk aan die bevordering van Afrikaans nie. Afrikaans is ʼn besigheidstaal en het homself onderskei as taal van onderrig, regstaal, amptelike taal, wetenskapstaal en letterkundige taal. Dit is egter die gebruikers van Afrikaans wat die taal se toekoms gaan bepaal. Dit sal noodwendig beteken dat ons nie meer agter andere skuil nie maar openlik en met trots toetree vir die saak en die bevordering van Afrikaans. Dit sal beteken dat ons as individue ons taalregte opeis en daardeur as taalaktiviste optree.

As die stryd vir Afrikaans beteken dat mense en instansies uitgewys word vir hulle minagting van Afrikaans, dat hulle nie hulle historiese verbondenheid aan Afrikaans en sy gebruikers nakom nie, en dat kulturele identiteit geoffer word op die altare van politieke korrektheid dan moet dit so wees. Dit is egter vir elke individu om eers te besluit of dit die moeite werd is om op te staan en getel te word in die oorlewing van Afrikaans en of die risiko’s te groot en te veel is.  Dit gebeur te maklik dat individue en organisasies wat hulle openlik uitspreek vir Afrikaans geëtiketteer word en vir baie is die prys van daardie stigma te veel. Dit is soms asof Afrikaners en Afrikaansprekendes mildelik meehelp aan die skep van etikette vir andere of mense in kassies probeer plaas met ongeldige en onverdiende kritiek.

Die stryd vir Afrikaans moet gevolglik eers by die individu en die huis begin. Dit is die kollektiewe eenheid van individuele taalstryders en taalaktiviste wat saam met die betrokkenheid van organisasies, die stryd vir Afrikaans sal wen. Indien dit nie by die huis gebeur nie, is die stryd vir Afrikaans ʼn vrugtelose stryd.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae