Die Suid-Afrikaanse regering se onderrok hang uit …

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof van internasionale skakeling. Foto: Reint Dykema.

Jare gelede by ’n vorige werk moes ek ’n swierige funksie bywoon. Ek het ’n pragtige rok en skoene vir die geleentheid gekoop. Daar aangekom, het ek soos ’n glanspersoonlikheid in Hollywood gevoel, tot ’n kollega se eggenoot my eenkant toe roep en fluister: “Jou Saterdag is langer as jou Sondag”. Ek het destyds nog nie die uitdrukking geken nie – dit was immers jare voor Maroela Media bestaan het. Toe ek besef dit meen my onderrok hang uit, het twee reaksies by my jeugdige, onvolwasse self gevolg. Eers was ek skaam en toe was ek redeloos woedend vir die persoon wat my gewaarsku het.

Verlede week het ek beleef hoe dit lyk as dit gebeur, naamlik toe die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Lindiwe Sisulu, woedend reageer het op die Australiese minister van binnelandse sake, Peter Dutton, se kommentaar dat wit boere in Suid-Afrika se aansoeke om immigrasie na Australië versnelde aandag sal geniet weens die “onmenslike omstandighede en bedreiginge wat hulle in die gesig staar”.

Die storie het wêreldwyd opslae gemaak. Binne dae het meer as 400 artikels hieroor in die media verskyn – sommige wat Dutton gelyk gee, ander wat wys op Australië se eie probleme. Of Dutton uit eiebelang opgetree het of nie, is nie ter sake nie. Wat belangrik is, is dat hy gewys het op die onderrok wat uithang en dat die heftige reaksie wat dit by minister Sisulu tot gevolg gehad het, bewys dat ’n aar raakgeboor is.

Die minister se mediaverklaring na aanleiding van minister Dutton se kommentaar, het die regering se onderrok net verder modder toe afgesleep.

Ten eerste het sy AfriForum beskuldig dat ons leuens en paniek saai. Al die feite wat ons sedert ons bestaan aan internasionale meningsvormers, insluitend Australiese owerhede, deurgee, is op deeglike navorsing en feite gebaseer. Van leuens is daar nie sprake nie. Inteendeel, as dit by kwessies soos plaasmoorde kom, vermy ons juis die sensasiebelaaide aanslag met gruwelfoto’s en ’n opstapeling van byvoeglike naamwoorde in berigte oor insidente – die feite is erg genoeg en ons hou daarby. Ons doen ook baie moeite om syfers te kontroleer aan die hand van die SAPD, TLU SA en ander instellings se data. Lorraine Claasen, AfriForum se misdaadstatistiek-analis, is internasionaal geakkrediteer by die professionele liggaam vir misdaad-analiste. Ons bepleit verder deurgaans onder alle omstandighede dat mense kalm moet bly, binne die raamwerk van die wet moet optree en geen halsoorkopbesluite oor kwessies soos emigrasie moet neem nie, maar juis ingeligte besluite moet maak. Die leuens en paniek wat ek sien, is dus nie aan AfriForum se kant nie, maar aan die kant van minister Sisulu.

Tweedens is daar die lagwekkende “gerusstelling” wat die minister aanbied dat Suid-Afrika in die onteieningsproses deur die Grondwet gelei word. Ingeval minister Sisuslu nog nie agtergekom het nie, dit is die einste Grondwet wat die parlement volgens die aanvaarde mosie van 27 Februarie 2018 wil wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Die versekering dat die proses “ordelik” sal verloop, troos ook nie. As ’n inbreker my eiendom steel, gee ek nie om of hy/sy ordelik ingebreek het of nie – ek is nog sonder my eiendom. Dieselfde geld vir ’n proses wat eiendomsreg ignoreer.

Vir ’n lang tyd het afgevaardigdes van burgerregte instellings, insluitend AfriForum, meningsvormers in invloedryke lande besoek en inligting aan hulle voorsien. Deurgaans by gesprekke waar ek betrokke was, is kommer oor misdaadvlakke, werkloosheid, rassespanning en korrupsie wat sinoniem met Suid-Afrika geraak het, uitgespreek.

Op 5 Desember 2016 was ek by die jaarlikse Afrikadag wat deur Stigting Max van der Stoel en die Foundation for European Progressive Studies aangebied is. Dit is deur meer as 500 organisasies en individue met Europese handels-, politieke, maatskaplike en beleggingsbelange in Afrika bygewoon. Een van die hoofsprekers was Judith Sargentini, ’n parlementslid van die Europese Unie (EU) en lid van Nederland se Groen Party. Sy het daarop gewys dat EU-lidlande se hulp, beleggings en handelsbydraes in Afrika saam meer bydra as dié van enige ander land of entiteit. Die afgelope dekade ervaar sy egter dat dit moeiliker raak om die bande in stand te hou, het sy gesê, want Afrika-vennote verval in eindelose retoriek en verwyte oor neo-kolonialisme en aandrang op vergoeding vir gebeure van die verlede. Boonop maak Afrika se minagting vir die beginsels van ’n regstaat dit moeilik om bande met die kontinent te hou – en hier het sy spesifiek verwys na Suid-Afrika se poging om aan die Internasionale Strafhof te onttrek (’n proses wat steeds in volle swang is). Sprekers uit Afrika het woedend hierop reageer met beskuldigings oor Europese paternalisme en ’n gebrek aan begrip vir koloniale pyn, maar Sargentini het voet by stuk gehou dat toekomstige samewerking sal afhang van Afrika (en dus ook Suid-Afrika) se handhawing van regstaatbeginsels en besigheidsvriendelike wetgewing.

Dit was maar een van vele insidente wat bewys het dat kritiek teen Suid-Afrika se nuwe bestel beslis nie meer tot regse partye en instellings se terrein beperk is nie, maar dat hoofstroom en selfs linkse meningsvormers reeds lankal verby die reënboogsprokie kyk en Suid-Afrika aan optrede, eerder as aan paaiwoorde beoordeel.

Waar daar eens internasionale lofprysings vir die Suid-Afrikaanse Grondwet was, sien die buiteland nou die gebrekkigheid daarvan raak. Hulle besef Suid-Afrika is lankal nie meer ’n demokrasie nie, maar ’n hibriede regime waar sterk, onafhanklike instellings wat demokrasie handhaaf en aanspreeklikheid verseker, grotendeels verdwyn het of tot betekenislose optrede verswak is. Die groot meerderheid waarmee die mosie aanvaar is om die Grondwet ten gunste van onteiening sonder vergoeding te wysig, is ’n duidelike bewys in dié verband.

Minister Sisuslu kan haar vingers op die Australiese hoë kommissariaat en AfriForum probeer hou, maar sy gaan vind dat sy, soos die Nederlandse seuntjie wat die lekkende dyk probeer red het, meer en meer vingers gaan benodig om al die lekkasies by te kom.

Om net na onlangse internasionale kommentaar te verwys:

  • Die VSA se Buitelandse Landboudiens berig: “On February 26, 2018, the South African Parliament passed a motion to begin a process of considering to amend Section 25 of the Constitution to allow for the expropriation of land without compensation. While the final outcome of this process is uncertain at this stage, there are concerns that the expropriation of land without compensation would impact the South African agriculture sector and investments into the economy. … the land issue is very complex because, while it is a highly political, racial and emotional issue, it could pose serious ramifications to the economy.”
  • Op 13 Maart 2018 het ’n seminaar gereël deur die Nieuw-Vlaamse Alliantie by die Belgiese Parlement plaasgevind waar plaasaanvalle en onteiening onder die loep geneem is. Maroela Media het hieroor berig. Parlementslid Peter Luykx het hieroor, met verwysing na onteiening geskryf: “Deze zorgwekkende beslissing zal verregaande gevolgen hebben op vlak van voedselzekerheid, veiligheid en samenhorigheid in de Zuid-Afrikaanse samenleving. We mogen niet zitten wachten tot Zuid-Afrika de fouten herhaalt van een generatie terug. Ons land moet met Europa en de internationale gemeenschap een duidelijk diplomatiek signaal geven aan de ANC-regering dat deze landonteigeningen niet bij zullen dragen tot een eerlijkere samenleving.
  • Selfs die invloedryke Luxemburgse politikus, Laurent Mosar, het kommer oor die kwessies

Soms spreek Suid-Afrikaners onrealistiese verwagtinge uit dat buitelandse regerings direk in gebeure in Suid-Afrika sal inmeng. Dit is onwaarskynlik en ook onwenslik. Oplossings wat werk is veral dié wat binne ’n land gevind word. Dat buitelandse druk egter die stukrag kan voorsien wat stappe nader aan oplossings moontlik maak, is waar, en daarom sal AfriForum ons nie deur minister Sisuslu se uitlatings laat afskrik nie, maar ons veldtog om kwessies soos die regering se miskenning van eiendomsreg en plaasmoorde onder internasionale meningsvormers se aandag te hou, voortsit en selfs verskerp. Menslik gesproke, hang ons toekoms hiervan af.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Eish ·

So n bek kort jêm.
Goeie artikel en baie goeie insig in die onderwerp.
Doet zoo voort.

John ·

Die grondwet gaan gewysig word om alle eiendom as die staat s’n te verklaar. So, dan is alle aksies moes wettig. Grond gaan ook nie aan enkeling geskenk word nie, maar ooreenkomstig die kommunistiese styl aan begunstigdes gegee word om te bewerk vir ‘n deel van die inkomste as betaling. Totale beheer oor alle bronne, see, land en ondergronds gaan kom om die 60 milj+ grypers en afwagtendes te troef en te beheer. Moord en doodslag vir die beste gaan so verhoed probeer word en die uitverkorenes te beskerm.
Wit boere sal bloot as voormanne/werkers (sonder stemme en regte) gebruik word. Castro se beelde pronk nie verniet in die hartland nie en Ace is nie verniet bevorder nie. Die Hand van die Skepper kan nie beheer word nie… en met Hom buite rekening gelaat sal die lee appelkarretjies se wiele gou afval. In alle goeie ou dramas was daar altyd die koor wat repliek gelewer het op die dwaashede van die betrokkenes/leiers. Die plaaslike koor gaan beslis stof tot nadenke lewer…. ‘n baie skraal en honger koor….

Rupert Ashford ·

Dankie, goeie berig. Al wat effens krap is dat Afriforum so haastig uit die blokke was om ook te se “Ons staan nie massa-migrasie voor nie” en ook inderwaarheid vir Mr Dutton daarmee gese het “nee dankie”. Hoekom?

Eish ·

Uitstekende vraag.
Ek hoop nie dis om selfsugtige redes nie.

Paul ·

Hoekom wil mens toewens dat Afrikaners by die hope sal migreer, hul kundigheid deur ‘n anderland opgeneem sal word ten koste van jou eie land. Dit ten koste van die Afrikaner binnelands, die uitbouing van die taal en gebruikers. Die antwoord is om die mense binnelands tot hul sinne te laat kom, soos wat Afriforum doen. Dan die oorgrote % mense wat migreer, neem later jare daardie land aan, word deur die land opgeslurp, daar is nie Afrikanse skole nie, ens, ens en oor een of twee geslagte het hulle hul land van herkoms afgesterf.

Boerboel ·

As alle Afrikaners die land verlaat sal ons volk uitsterf.

Eish ·

Goeie antwoord Paul.
Veral aangesien emigrasie wel behels dat die nuwe land in totalitieit omhels word, deur byvoorbeeld die getrouheidseed soos wat in die VSA afgelê word met naturalisasie. Wesenlik impliseer dit die afsterwe van jou land van herkoms en verseker sal die nageslag vinnig die wortels ontgroei. Die gevolg is dat die Afrikaans eerste gaan vou en dan die res.
Baie goeie antwoord.

Lien ·

Welgedaan, Alana. Dankie vir wat jy doen en sê. Salueer jou.

Jerry ·

Daar sou druk op die regering gewees het indien julle en Dutton eers n paar boere in Australie hervestig het voordat julle dit rugbaar gemaak het. Die feit dat dit nie gedoen was nie en dat die ANC regering en Australiese regering so n opsie nou sal blok beteken dat julle meer skade as goed aangerig het. Die reaksie by monde van Bishop dat Afrikaners geweld en vervolging nie sal vryspring nie is by implikasie nog groter skade wat aangerig is en deur julle en Dutton veroorsaak is en het dit paniek onder Afrikaners gesaai. Deur in ontkenning te staan dat dit verkeerd gehanteer was en dat julle en Dutton n fout gemaak het en dat dit meer druk op die Afrikaner plaas en paniek veroorsaak beteken dat julle nie bereid is om te erken dat julle foute maak en dat julle nie bereid is om te leer uit julle foute. Teen die tyd dat julle gaan begin besef julle moet slimmer te werk gaan is ek bevrees gaan dit te laat wees en sal te veel skade reeds aangerig wees. Julle bevind julself geisoleerd en op n eiland en almal sien dit raak behalwe julle self. Julle is op n pad van selfvernietiging!

Boerboel ·

Afriforum kan nie beheer wat die Australiese regering doen nie. Hulle het glad nie die situasie vererger nie.

Veritas ·

Jerry, ek wil van jou verskil. Waar jy paniek onder Afrikaners sien, sal ek graag wil weet. Daar sal altyd die banges onder ons wees en ek kan verstaan dat sommige Afrikaners voel dat dit nie die regte opsie was nie. Die groot ding is nie om die ‘paniek’ onder hulle raak te sien nie maar wel die samehorigheidsgevoel wat dit aan die meerderheid gegee het. Ten minste DOEN hulle iets om die Afrikaner se situasie aan die wêreld te wys. Deur stil te bly en die aanslag teen ons, sonder stamp of stoot, te aanvaar, gaan beslis niks aan ons heil doen nie. Die hewige reaksie, van die ANC regering, vertel vir my dat hulle ten alle koste wil verhoed dat die waarheid openbaar gemaak moet word. Deur stil te bly en die vyand sy sin te gee, gaan ons niks baat nie. Die ANC, in ballingskap, het by elke moontlike geleentheid, hulle situasie aan die wêreld verkondig en groot sukses daarmee behaal om die skaal in hulle guns te swaai. Ons groot probleem is dat Afriforum die enigste instansie is wat ten minste poog om die Afrikaner se dilemma, onder die buiteland se aandag te bring. Wat die Afrikaner nié kan bekostig nie, is om tweespalt onder ons te saai nie. Daar sal seker besluitfoute gemaak word maar die enigste manier om dit te vermy, is om niks te doen nie. Besluit maar self aan watter kant van die draad jy wil staan.

Piet Pompies ·

Theresa May het gese hulle en Amerika en Australie sal sanksies op SA sit as Ramaphosa grond sonder vergoeding vat.

Maarten ·

Alana, baie helder uiteen gesit. Ek is Hollander en bly in Nederland. Die politiek en media bly stil. In die Nederlandse koerante hoor of sien jy net niks nie aangaande die gebeure in Suid Afrika. Ek vererger my groen en geel om die skynheilige houding en wonder of die buitenland Suid Afrika gaan help. Moet daar eers n burgeroorlog uitbreek vir hulle in aksie gaan kom. Ons gaan nie eers praat oor die VN ni. Nee, eks bang julle Suid Afrikaners is op julle self aangewese. Dat God julle mag spaar en red vir wat ANC en EFF beplan.

Veritas ·

Alana, ons grootste probleem is dat Afrikaners nog steeds deur die internasionale gemeenskap as rassiste gesien word. Uiteraard word Afriforum dus onder dieselfde kam geskeer. Daar is net een oplossing om dié wanbegrip die nek in te slaan en dit is deur meer anderskleuriges ook te betrek in die Afriforum kamp. Ek dink hier veral aan die konserwatiewe, Afrikaanssprekende kleurlingbevolking. Ons kan nie anders asom, hierdie groep te laat tuis voel in die Afrikaanssprekende gemeenskap nie. Hoe ons dit gaan regkry, is ‘n ope vraag.

Paul ·

En sonder dat hulle, indien hulle betrek word, dit vir eie gewin kaap? Ongelukkig moet ek hierdie kritiese vraag vra, want kyk wat het met ander Afrikaanse instansies waar hulle betrek is gebeur, die bestuur oorgeneem het, nie lank nie, kry dit ‘n raskleur, dan skuif die doelpale. (Kyk ook wat het met Rugby gebeur.)

Elizabeth ·

Dankie vir dié artikel. Ja-nee, so ‘n bek moet rêrig jêm kry!! Kan mens nie dié artikel laat vertaal en dit vir die minister met die deurmekaar hare gee nie? Dalk verstaan sy iets daarvan.

Therese van Schalkwyk ·

Skitterende uiteensetting van die suksesvolle bewusmaking van die betrokke kwessie onder ‘n wêreldwye spektrum organisasies en individue. Welgedaan!

Die blote feit dat daar gereeld kritiek vanuit regeringskringe en sommige kortsigtige meningsvormers op die werk van AfriForum en Solidariteit gelewer word, is die bevestiging dat hierdie organisasies ‘n faktor is waarmee rekening gehou word.

Presies wat van ‘n land soos Australië verwag word ná ‘bewuswording’, is egter nie vir hierdie leser heeltemal duidelik nie. Direkte inmenging is ongewens en sanksies dompel gewoonlik ‘n land se ganse bevolking in ellende.
Om ‘n veilige heenkome te bied, is dus al wat oorbly.

Jerry ·

Rupert en Eish julle slaan die spyker op die kop. Die forum se onderrok hang uit en meer mense begin dit raaksien.

Johan. H. ·

Puik artikel,,, Pos enig berig oor plaas aanvalle vir vriende en fanilie oorsee,, Hulle sal weldrae kennis neem,,,,,anc julle sal nie die vure kan doodslaan nie,,

Cornelia ·

Dankie vir u helder wysheid. Dankie dat u soos altyd nugter koers aandui. Hier is ons om te bly. En hier sal ons enduit die stryd stry. Want ons weet dat ons Roeping en toekoms in ons land Suid Afrika lê. Hier sal ons weer opbou met dieselfde geloof wat ons in van ons voorouers gesien het. ‘n Erfenis en ewige getuienis. Dankie Afriforum dat julle waak en woeker.

Wenresep ·

Afriforum is op die regte pad om internasionale bewusmaking. Dit moet net gepaardgaan met versoeke tot asiel vir ons want kanse is groot dat ons gaan moet vlug in groot getalle as EFF oorhand kry. Sulke asielgesprekke sal verder bydrae tot internasionale publisiteit.

Marthinus Willemse ·

Ek ondersteun SA se onttrekking aan die Internasionale Strafhof (IS). Die VSA is nie lid nie, Israel is nie lid nie, en dit is twee lande wat hulle aan die ergstenvergrype en oorlogsmisdade skuldig gemaak het en nog steeds doen. Maar wie word by die IS gestraf? Afrika en Balkan en Oos-Europese (voormalige Sowjetunie) mense. Die IS se onderrok hang erg uit.

Sal ons George W Bush en Tony Blair ooit daar sien? [Vir Irak 2003] Of Bill Clinton, Barack Obama, Hillary Clinton, Samantha Power en Anna-Marie Slaughter? [Vir Libië]

Francois ·

Dankie Alana vir julle werk hiermee, dit word opreg waardeer!

Alana ·

Hartlik dank aan almal vir die kommentaar.

Aan Rupert en Eish – Paul en Boerboel se antwoorde gee reeds deel van die antwoord. Let ook op dat Dutton bloot oor die proses gepraat het, nie van vestigingshulp nie. Immigrasie is baie duur, beide in ekonomiese en emosionele terme. Dit moet ‘n ingeligte besluit wees om te emigreer, ons wil juis nie oorhaastige besluite aanmoedig nie. Ons kry baie versoeke om repatriasiehulp van Suid-Afrikaners van oor die wêreld wat om verskeie redes buite gestrand raak. Helaas het ons nie die fondse om hulle te help nie, ook nie enige ander organisasie waarvan ek weet nie. Om die rede moet ons mense herinner om goed na te dink.

Dit beteken allermins dat ons nie die uitsprake, meelewing en aanbod waardeer nie. Dit plaas broodnodige druk op die regering en skep plaaslik en internasionaal ‘n debat wat al lankal nodig is.

Hierdie boodskap is ook so direk aan minister Dutton oorgedra.

Awie Dempers ·

Puik artikel.
Ek verstaan egter nie waarom die markte nie negatief reageer nie, gegewe die feit dat toe Zimbabwe die grondgrype aangekondig het was daar onmiddelike internationale reaksie.
Kan iemand verduidelik?

erik ·

Dankie Alana, ek het hierdie artikel baie insiggewend gevind en geniet!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.