Die swanesang van die liberaliste

Donald Trump

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Donald Trump gaan dalk nog vir baie onbesonnenheid sorg. Hy gaan moontlik etlike van die doelwitte wat hy voor die verkiesing gestel het, laat vaar en sodoende baie ondersteuners teleurstel. Selfs al gebeur dit, doen dit geen afbreuk aan die feit dat die wêreld, met Trump se verkiesing en met die Republikeine se grootste kongres-oorwinning in meer as tagtig jaar, die getuie is van ʼn skynbaar besonder belangwekkende historiese kentering nie. Ek maak eers enkele opmerkings oor die uitslae, die persoon van Trump en die meningspeilings, voordat ek my fokus verskuif na die implikasies van die uitslae vir die VSA. Enkele van my opmerkings het op die Westerse Wêreld in die geheel betrekking.

Uitslae

Teenstanders van Trump troos hulle daaraan dat, ofskoon Trump die meerderheid in die kieskollege behaal het, Clinton darem die populêre stem met ʼn kortkop gewen het. Dis om twee redes geen troos nie.

Eerstens: Indien die uitslae van California en New York met hul besonder onverteenwoordigende bevolkingsamestellings afgetrek word, is Trump inderdaad ook die wenner van die populêre stem.

Tweedens, die gesamentlike stemtotaal wat vir die kandidate van die Republikeinse Party vir die nuutverkose Huis van Verteenwoordigers uitgebring is, is drie miljoen meer as dié vir die Demokrate.

Trump se persoonlikheid

Myns insiens is daar ʼn regstreekse verband tussen Trump se persoonlikheid, soos ten tye van die verkiesingsveldtog tentoongestel en sy oorwinning. Trump was, om die minste te sê, uiters selfgeldend. Hy het bykans uitspattige selfvertroue uitgestraal. Hy was deurlopend aggressief en dikwels kwetsend en bombasties. Na die oordeel van talle “deskundige” waarnemers, moes dit hom benadeel. Dié dinge het toe in alle waarskynlikheid ʼn voordelige uitwerking gehad. Die rede is dat talle konserwatiewe en meer nasionalisties-ingestelde Amerikaners, wat jare lank onder die intimidasie van die arrogante, beterweterige en voorskriftelike liberale media deurgeloop het, se selfvertroue daardeur aangevuur is en hulle laat besluit het om vir Trump te stem. Ironies genoeg sou ʼn meer besadigde en beter beredeneerde kandidaat waarskynlik nie hierdie uitwerking gehad het nie.

Die verkeerde meningspeilings

Die meningspeilings, wat Clinton deurlopend as wenner aangewys het, was verkeerd. Die verkeerde voorspellings is klaarblyklik ook te wyte aan die intimidasiefaktor. Die hoofstroom liberale media maak mense al dekades lank wys dat hul konserwatiewe sentimente onaanvaarbaar, onverdedigbaar en oplaas eintlik ietwat eienaardig is. Gevolglik skep ’n beduidende aantal van hierdie mense bloot ʼn wanindruk oor hul sienswyses wanneer hulle deur die meningspeilers genader word. Wanneer hulle gaan stem, is dit egter ʼn ander saak. Dis natuurlik ook ʼn ander saak wanneer hulle in sosiale media gemakliker is om hulself meer openlik uit te laat. Juis daarom was peilings oor die tendense in die sosiale media ʼn meer betroubare aanduiding van die werklike kiesersentimente as die meningspeilings.

Implikasies vir die VSA

Die aard van die Amerikaanse staat ʼn eenheid uit ʼn veelheid; nie ʼn eenheid uit alles nie.

Die Amerikaanse staatsgemeenskap – en die Amerikaanse politieke identiteit – word as ʼn hutspot (melting pot), ʼn eenheid uit ʼn wye verskeidenheid, beskryf. Aanvanklik het die verskeidenheid slegs betrekking gehad op mense van Brittanje en Wes-Europa (White Anglo Saxon Protestants – WASPs). Mense van Oos-Europa is later bygevoeg. Afro-Amerikaners moes natuurlik noodwendig ook as ʼn bestanddeel van die Amerikaanse eenheid bygevoeg word. Hulle is per slot van sake teen hul wil na Noord-Amerika gebring en kultureel, taalkundig en godsdienstig staan daar niks tussen hulle en die wit Amerikaners nie. Hierdie uiteenlopende bestanddele van die hutspot doen egter nie afbreuk daaraan dat die VSA steeds ʼn grootliks Westerse staat is met ʼn hoofsaaklik, dog nie uitsluitlik, Christelike karakter nie. Die bestanddele van die hutspot was derhalwe nie onbeperk nie. Dit was ʼn eenheid uit ʼn verskeidenheid; dit was egter nie ʼn eenheid uit enigiets en alles nie.

Volgens ʼn ongebonde liberale sienswyse kan mense van Oos-Asië, Moslems van die midde-Ooste en mense van Latyns-Amerika egter ook onbeperk by die mengsel gevoeg word, aangesien die verskeidenheid  bestanddele van die Amerikaanse eenheid totaal onbeperk en ongekwalifiseerd is. Hiervolgens is die VSA eintlik ʼn kultuurlose mikrokosmos van die wêreld as geheel. Presies dié soort eenheid uit alles, wat die Demokrate oplaas eintlik voorstaan.

Die verkiesing toon dus die kernkwessie van die Amerikaanse politiek het op identiteit betrekking. Dit plaas die wesensaard van die VSA onder die soeklig. Onderliggend aan die uitslag en meer bepaald aan die Republikeinse stem, is die standpunt dat die VSA inderdaad tog ʼn duidelike kulturele identiteit het. As ʼn mens die eienskappe daarvan moet artikuleer, sou ʼn mense kon sê dit is toonaangewend Westers en hoofsaaklik Christelik. Dit is ʼn eenheid uit ʼn verskeidenheid, maar die verskeidenheid kan nooit so wyd wees dat dit die twee gemelde eienskappe van die staat en die staatsbevolking aantas nie. Die meerderheid Amerikaanse kiesers het pas aangedui hulle beskou die VSA inderdaad as wesenlik ʼn Westerse land met ʼn toonaangewende Christelike karakter. Dit beslis egter nie noodwendig finaal die geskil oor die kulturele identiteit van die VSA nie. Die stryd oor hierdie vraagstuk het eintlik maar pas begin. In tye wat kom, is dit hierdie identiteitskwessie wat beslis sal moet word.

Uiteenlopend beslis?

Hierdie vraag gaan egter nie noodwendig eenduidig vir die geheel van die VSA beslis word nie. Die kaart van die verkiesingsuitslae vertel ʼn verhaal van skerp territoriale verdeeldheid, met veral enkele groot stedelike sentra, veral in Kalifornië, New York en enkele ander plekke in die noordooste en teen die weskus, wat hulle skerp van die res van die VSA onderskei. Waar die grootste deel van die VSA Republikeins is en die toonaangewend Westers-Christelike karakter van die staat onderskryf, verwerp hierdie ander streke die enige kulturele identiteit en is hulle, daarenteen, bloot voorstanders van ʼn identiteitlose samelewing van individue. (Dié beskouing staan dikwels as multikulturalisme bekend.) Dit is moontlik of dalk eerder waarskynlik dat hierdie uiteenlopende strominge mekaar glad nie sal vind nie. Trouens, die aanduidings is dat hierdie onderskeid en stryd meebring dat Amerika vandag bykans so skerp verdeeld is soos bykans nooit tevore in sy geskiedenis nie. Die aangewese wyse om die konflik tussen die twee strominge te besleg, is bes moontlik dat die VSA homself gewoon territoriaal-kultureel onderverdeel, dit wil sê, dat daar uiteindelik op vorme van sesessie besluit word, hetsy in die vorm van algehele afskeiding of in nog meer outonomie vir bepaalde state (of dele van state). (Gedeeltes van) Kalifornië is veral in hierdie konteks ter sprake en kan eerste aan die beurt kom. Die ideologies-kulturele breuklyne rondom die kwessie van identiteit kan derhalwe mettertyd ook konstitusioneel – deur territoriale partisie – voltrek word. Dit is tans nog onwaarskynlik, maar stemme daarvoor het geruime tyd reeds begin opgaan.

Die Amerikaanse konserwatiewe beweging

Die hedendaagse Amerikaanse konserwatiewe beweging, wat in die 1950’s ontstaan het, het oor dekades gesukkel om sy voete te vind. Ofskoon uitstekende akademiese werk gedoen is, met dekade-oue werke soos dié van Russel Kirk, Richard Weaver, Robert Nisbet en talle ander, kon die konserwatiewe beweging polities nooit ʼn behoorlike omvattende samehang ontwikkel nie.

Die beweging was polities versplinter en het oor die jare onder andere in die volgende deel-bewegings uiteengeval, wat nie een die vermoë gehad het om ʼn omvattende kultuurpolitieke antwoord op die na-oorlogse liberalisme te bied nie.

Daar was onder andere die volgende deelbewegings:

Eerstens die anti-kommunistiese beweging, wat gewoon te eng en soms te ekstreem was om ʼn breë kultuurpolitieke beweging te word. Bowendien was die beweging na die val van die Sowjet-Unie uitgedien.

Tweedens is daar die libertariese beweging, wat ongekwalifiseerd op ʼn vrye ekonomie ingestel is en enige vorms van regeringsinmenging as onaanvaarbare sosialisme afwys. Watter meriete daar ookal hiervoor mag wees, is dit tegelyk so dat ʼn gemeenskap sy swakkes en behoeftiges het, wat juis om vorme van oënskynlike sosialistiese ingryping vra. Net so is daar ook mense in ʼn (kultuur)gemeenskap vir wie die libertariese idee nie aantreklik is nie. Die libertariese beweging kan derhalwe ook nie die grondslag vir ʼn omvattende kultuur-politiek bied nie.

Dieselfde geld vir die derde en die vierde sub-bewegings wat met die konserwatiewe beweging verbind word, naamlik die (Christelike) Religious Right en die sosiaal-konserwatiewe beweging.

Die Religious Right en die sosiaal-konserwatiewe beweging is Christelik, onderskryf gesinswaardes, koester ʼn sterk pro-lewe (eerder as pro-keuse) neiging in die voortslepende aborsie-omstredenheid en is in die algemeen sterk afwysend teenoor die (juridiese) erkenning van nie-hoofstroom seksualiteit soos vergestalt in die GLBT (gay, lesbiese, biseksuele en transseksuele)-groepering. Laasgenoemde twee sub-bewegings is, vanweë elkeen se besondere beperktheid, ook nie in staat om die grondslag vir ʼn samehangende kultuur-politieke beweging te bied nie. Die feit is dat sommige mense, wat hulle heg verbind ag tot ʼn bepaalde kultuurgemeenskap, nogtans eenvoudig nie Christelik is soos wat die Religious Right vereis nie. Ander mense, hoe heg hulle ook aan ʼn kultuurgemeenskap verbonde mag wees, is ook eenvoudig nie sosiaal-konserwatief nie, of hulle bevind hulself in die kategorie van gay, lesbiese, biseksuele en transseksuele mense. Sosiaal-konserwatisme of godsdiens deug dus eenvoudig nie as ʼn basis (en maatstaf) vir samehangende kultuurpolitiek nie.

ʼn Westerse, hoofsaaklik Christelike, kultuurpolitiek in antwoord op die liberalisme

Iets anders, wat hierdie sub-bewegings insluit, maar hulle terselfdertyd te bowe gaan, is nodig. Daar is ʼn behoefte aan ʼn breër geformuleerde grondslag vir ʼn omvattende kultuur-politieke beweging. Sonder dat dit beplan is, het hierdie breër basis skynbaar nou in die VSA beslag gekry. Dié basis is ʼn vervat in waarna hierbo verwys is as ʼn Westerse en hoofsaaklik Christelike grondslag.

Hiervolgens is die antwoord op die liberale dominasie ʼn kultuurpolitiek wat sy wortels onteenseglik in die Westerse kultuur het en hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, Christelik is, wat hoofsaaklik maar nie uitsluitlik nie, sosiaal-konserwatief is en wat ekonomies gekwalifiseerd eerder as ongekwalifiseerd in die vrye ekonomie inplant maar tegelyk ʼn sorgsaamheid teenoor die gemeenskap openbaar (iets wat tegelyk in pas met die hoofsaaklik Christelike karakter van hierdie kultuurpolitiek is). Hierdie kultuurpolitiek skroom nie om homself te definieer nie. Hy trek dus onteenseglik grense. Geen gemeenskap kan uiteindelik daarsonder bestaan nie. In dieselfde asem is hy egter ook demokraties, aangesien hy in eie geledere met gemak verskeidenheid en openheid verwelkom. Die slagspreuke “Blacks for Trump” en Gays for Trump” (en dergelike ander soortgelyke betuigings) is die sprekende en klinkende voorbeelde hiervan.

Die kern van die saak is dat die kultuurpolitiek in antwoord op die liberalisme sy basis in ʼn omvattende Westerse, hoofsaaklik Christelike gemeenskap of kommunitarisme vind. Myns insiens kom hierdie antwoord op die heropneem en voortsetting van die lang Westerse tradisie neer, wat ofskoon hy dikwels verkeerdelik te eng en uitsluitend te werk gegaan het, wesenlik op die ewewig tussen die afbakening van grense en die akkommodering van verskeidenheid in eie geledere geskoei was.

In Europa is voltrek dieselfde proses hom. Daar is dit sogenaamde populistiese partye wat die leiding neem. Ofskoon die partye en leiersfigure van hierdie partye in Frankryk en Nederland tans die meeste aandag kry, verdien  naam van Victor Orban, eerste minister van Hongarye, wat eintlik die voorloper in hierdie beweging is, besondere vermelding. Die beweging bied terselftertyd ook ʼn voorbeeld aan Afrikaners. Trouens, Afrikaners is eintlik reeds geruime tyd deel van hierdie beweging, met denkers en doeners in Afrikaner-geledere wat aktief hier te lande aan die beweging meedoen.

In mensehande kan dinge natuurlik steeds skeefloop. Dit wil egter lyk asof die Weste in antwoord op die Westers-vyandige liberalisme op grond van ʼn Westerse, hoofsaaklik Christelike kultuurpolitiek, uiteindelik weer besig is om sy voete te vind. Onvoorspelbaar en ironies soos die verloop van die geskiedenis is, is dit toe die Republikeinse oorwinning onder die onstuimige Donald Trump, wat die hierdie aankondiging van goeie hoop vir die Westerse Wêreld maak.

[fvplayer src=”https://youtu.be/bgnlVYu-xGQ”]

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Vaalseun ·

Koos, baie dankie vir die insigte. In sy hart is die Amerikaner trots op sy Cowboy en Gangster kultuur. Dis waarom Trump nie skaam is om op ‘n verhoog saam met die CEO van die National Rifle Association, Wayne LaPierre te verskyn nie. Dié het gesê van ‘n Trump-oorwinning, “Our moment to go on offense,” bedoelende om wapenwette te laat verslap.

Herman Goosen ·

Amerika se sukses was gebaseer op die gesonde verhouding tussen liberalism en konserwatisme. Die negentigs se polities korrektheid gepaardgaande met gematigde leierskap onder Westerse politiek het veroorsaak dat niemand gewaag om nasionalisties uitgesproke te wees nie uit vrees dat dit gebrandmerk sou word as “rassisme” Trump is ‘n welcome vars briesie in Westerse politiek. Die eerste “sterk leier” sedert Margaret Thatcher in die Weste.

Na my mening is Westerse kultuur besig om agteruit te gaan omrede die Weste faal om hulle waardes op die minderhede af te dwing. Dit veroorsaak dat die minderhede meer regte af foreseer as die ingebore landsburgers self.

Trump sal poog om Amerika eerste te stel en polities korrektheid tweede

Go Trump ·

Trump kan nie dommer besluite maak as die LIBERALS wat oral in die wereld alles opgeneuk het nie. GO TRUMP, die wereld het nou lang genoeg gebuk gegaan onder liberaliste wat alles verander so dat alles ‘aanvaarbaar’ moet wees en almal ‘regte’ moet he al is hulle hoe verkeerd. Druk hulle in ‘n blik.

callie ·

Mense is regtig moeg vir hierdie politieke korrektheid en diplomasie. Diplomasie is buitendien uitgedink deur een of ander leier wat te slap en ruggraatloos was om die ware feite uit te spel. In SA is dit nog erger. Hier word die waarheid afgemaak as rassisme en die witman probeer nog steeds diplomaties daarop reageer. Mag Trump die opregte Suid Afrikaner leer om SA eerste te stel en te vergeet van politiese korrektheid

Leendert ·

Dankie Prof Koos Malan. Ek het van woord een af jou uiteensetting en beredineering met aandag gelees, dit baie insggewend gevind.

Griet ·

Die Amerikaners moet net “chill”. Hulle het vir die eerste keer in amper 100 jaar ‘n leier met ‘n ruggraat. Donald Trump kan Amerika nie meer opmors as die laaste 4 – 5 voorgangers nie, veral die huidige een. Vir Amerika is daar hoop. Suid Afrika kan nie op dieselfde aanspraak maak nie……….

fritz breitenbach ·

dit is die beste ding wat kon gebeur het vir die wereld
hierdie kan die einde van die liberals vir n lang tyd wees

Frans C ·

Persoonlik dink ek dat die ekonomie ‘n veel groter rol gespeel het in die verkiesing as wat op die oog af blyk.Die sluiting van 50 000 fabrieke en die ineenstorting van die Amerikaanse motorbedryf, so bv het Ford deels van sy produksie na Meksiko verskuif en beplan GM dieselfde vir vragmotors. En dit nadat die Amerikaanse regering biljoene spandeer het om hul van ondergang te red.(80 billion bailout) volgens sommige berigte.

Stede soos Detroit het grootskaalse ontvolking en ineenstorting beleef en het werkloosheid skerp onder ook swart Amerikaners toegeneem.Toe Trump op die toneel verskyn en allehande beloftes maak om veral vervalle infrastruktuur te herstel en vervaardigingsbedryf terug te bring,’n duidelike stap teen globalisering en ‘outsourcing’
het dit duidelik byklank onder werkloses gevind.

Voeg daarby sy houding teenoor onwettige immigrante-blykbaar 12 miljoen wat ‘n bron van goedkoop arbeid blyk te wees en sy houding teenoor veral Moslems en jy het saam met sy slagspreuk ‘Make America great’ again’ ‘n kandidaat waarvan die gelyke nog nie in die Amerikaanse geskiedenis gesien is nie en wat deur die liberales totaal onderskat is.

Of dit ‘n geval van ‘veel lawaai maar weinig wol’ is sal net die tyd leer.

Nell Weyer ·

Goed gestel Koos. Ek dink die belang van eenheid tussen konserwatiewe groepe moet verder ondersoek word. In Trump is ‘n leier gevind wat hierdie groepe verenig soos lanklaas gesien. Baie swart Amerikaners is baie christelik en konserwatief, maar is nog huiwerig om vir Trump te stem. Dit kan dalk verander met die volgende verkiesing en sodoende die konserwatiewe hegemonie versterk. Ek is ook veral opgewonde oor die feit dat die konserwatiewes hulle stem terug gekry het, al is dit nog net in die alternatiewe internetmedia soos Breitbart en Drudge Report. Ek glo soos wat hierdie stem harder word en die linkse liberale media se stem sagter raak ons op die vooraand is van ‘n wêreldwye swaai na regs. Interessante tye voorwaar. Nou moet ons net hoop dat Suid-Afrika nie weer 20 jaar neem om by te kom nie.

Rupert Ashford ·

Baie goed. Dankie Maroela dat julle hierdie opinies ook ‘n spreekbeurt gee – daar is maar min soos julle.

Burger ·

Vanuit n wereld perspektief moes Trump nie gewen het nie , nie eers naastenby nie . Brexit moes nie plaasgevind het nie , nie eers naastenby nie …..

Dirk Breytenbach ·

Globalisasie word nou ook aan die kaak gestel en ek dink dis nou die tyd om ook te se: SA eerste na die hel met Chinese Ekonomiese imperialisme!

Hendrik ·

Ek trek hierdie swanesang van die liberaliste terug na Suid-Afrika en ook na die Afrikaners/minderheidsgroepe. Ons het omtrent linkse politiekepartye (ANC/DA/EFF/……..) en enkele behoudende politieke partye (VF+ en FN). Minderheidsgroepe het feitlik geen se nie en net burgeregtegroepe kan vir hul regte instaan in die howe. Al verval die sogenaamde liberaliste sal politieke partye soos die ANC/EFF/DA hul bes probeer om die meerderheid aan hulle kant te kry deur aksies wat die meerderheid tevrede maak. Die DA het dan nou ook rasseteikens daar gestel in hul party om meer swartmense as kandidate te lok. (Onderhoud van Frans C met die DA leier). Gaan die afrikaners nog steeds die DA ondersteun al word daar in die DA gediskrimineer teen hulle? Daar moet ‘n beter oplossing wees vir minderheidsgroepe in die land, anders weet ek nie.

gatiep ·

Dankie prof mooi gestel en dankie aan Maroela wat dit geplaas het.Ek weet die media is onder druk om nie so iets te sit nie.
Naas Putin van Russia is Trump die beste ding wat kon gebeur het in wereld.Of Engeland hulle brixit gaan kry is nog n vraag.Die lings het hulle self al te goed ingegrawe daar on in te gee.
Ek glo isis se broekkies begin al bewe in Syria vir die dag as Trump ingesweer word.

Johan II ·

Goed opgesom, dankie Prof. Koos Malan. Ek sien uit om te sien wat gaan gebeur…die wêreld beweeg stadig maar ten minste begin dit nou weer rigting verander.

Flip Nöthling ·

Dankie Professor Malan.
Dit is ‘n deurdagte artikel, wat die politieke landskap beskryf. Prof. Malan verduidelik ‘n bietjie meer in die video van die redes hoekom dit so is.
Ek wil graag meer van Prof. Malan hoor oor die rol en impak van die ekonomie in die veranderings wat gebeur. Die ekonomie word nie op die lang duur voorgeskryf nie. Wat is die makro-ekonomiese implikasies van verkose President Trump se regering? Het sy regering die intellektuele diepte om dit te bestuur?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.