Die terugkeer van die ‘Realpolitiek’

Pres. Donald Trump van die VSA beantwoord vrae oor die beraad met die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, tydens ʼn mediakonferensie by die Capella-oord op die Sentosa-eiland in Singapoer. (Foto: Susan Walsh, AP)

Vir die hoofstroommedia en die globale elite is die presidentskap van president Donald Trump die grootste denkbare ramp en is alles wat Trump aanpak en sê in die oortreffende trap verkeerd, of dit nou buitelandse of binnelandse optrede is. Daarby is Trump se beleid eenvoudig: “Amerika en die Amerikaanse volk eerste”. Vir die elite is dit ondenkbaar dat veral ʼn Westerse leier sy land en sy volk se belange eerste stel, en nie die mensdom, die wêreld, of ten minste die streek nie. Trump doen egter net dit wat ander presidente, soos Wladimir Poetin van Rusland of Xi Jinpin van China ook doen, naamlik om op te tree in belang van hul land, ongeag wat die res van die wêreld daarvan dink.

Wat ons tans beleef en waarvan Trump deel is, is die terugkeer van Realpolitiek. Realpolitiek (ʼn Duitse term wat internasionaal gebruik word) beteken om realisties en met pragmatisme jou land se belange eerste te stel. Behalwe vir die genoemde leiers van die groot moondhede, is daar ook leiers van kleiner lande wat streng in eie belang optree, soos Victor Orban van Hongarye, Benjamin Nethanyahu van Israel of Recep Tayyip Erdogan van Turkye.

Hulle glo tipies aan beskerming van grense, ʼn mate van outoritêre beheer, sterk veiligheidsmagte en ʼn patriotiese narratief. Hulle glo nie aan isolasie nie, maar aan streng beperkte, doelgerigte alliansies, byvoorbeeld ʼn militêre bystandsverdrag soos NAVO (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie).

Realpolitiek is egter nie gelyk aan oorlog en aggressie nie. As dit jou land se belange dien om vrede na te streef, dan is dit goeie realpolitiek. Dit is egter nooit ʼn vrede sonder toegewings en waarborge van die ander kant nie en realpolitici besef dat wêreldvrede ʼn mooi, maar onhaalbare ideaal is. ʼn Realpolitikus by uitstek in die geskiedenis was die Duitse kansellier Otto von Bismarck in die laat 19de eeu.

Daarteenoor staan die idealistiese wêreldpolitiek, wat veral deur politici soos Obama, Merkel en Trudeau verteenwoordig word, naamlik om jou land slegs as ʼn bousteen vir ʼn beter wêreld te sien en om sy hulpbronne in te span vir die bereiking van dié ideaal. Grense moet liefs verwyder word omdat dit handel, kulturele uitruil en vermenging van volke belemmer. Idealistiese wêreldpolitiek beklemtoon die wêreldeenheid en glo aan multinasionale organisasies, soos die Verenigde Nasies (VN), Europese Unie (EU) en Wêreldhandelsorganisasie (Who). Wêreldvrede is seker die vernaamste doel van idealistiese politiek, en die beperking van wapenvervaardiging en -handel speel daarby ʼn belangrike rol. Ook gelykheid deur die verwydering van ekonomiese beperkinge en deur ontwikkelingshulp is ʼn ideaal.

Die realpolitiek en die idealistiese politiek wissel mekaar gewoonlik as heersende paradigma af. Binne ʼn heersende paradigma is daar egter altyd leiers wat volgens die ander paradigma optree. Breedweg is die era van die Koue Oorlog (1945 tot 1989) deur die realpolitiek oorheers. Westerse leiers soos Nixon, de Gaulle, Thatcher en Reagan het daarvolgens opgetree. Nogtans kon ook op die hoogtepunt van die Koue Oorlog idealisties gedrewe leiers soos John Kennedy en Jimmy Carter na vore kom of, op kleiner skaal, persone soos Olof Palme van Swede of Willy Brand van Wes-Duitsland.

Ná die einde van die Koue Oorlog, wat juis deur die realpolitieke optrede van iemand soos Ronald Reagan bereik kon word, het ʼn lang tyd van idealistiese wêreldleiers aangebreek: Bill Clinton, Barak Obama, Tony Blair, David Cameron, Gerhard Schroeder en Angela Merkel is enkele voorbeelde in die Weste. Ook Nelson Mandela was ʼn idealistiese leier. Nasionalisme is as behorend tot die verlede gesien. Samewerking oor grense heen en in verbonde met so veel as moontlik state, rondom ʼn saak of in ʼn sekere streek, was die nuwe ideaal. Die Koue Oorlog is ook simbolies agtergelaat deur voormalige Oosbloklande deel van Navo en die EU te maak en om die Westerse liberale demokrasie as die beste van alle samelewings voor te hou. Alhoewel die groot konflik tussen Oos en Wes iets van die verlede was, het klein konflikte, dikwels met etniese en godsdienstige ondertone, aangegaan of nuut ontstaan (Joegoslawië, voormalige Sowjetunie deelstate) waarop die idealiste geen antwoord gehad het nie.

Obama kon geen konflik oplos nie en het veral in die Midde-Ooste met sy weifelende optrede sake vererger. Nog ʼn demokratiese president met ʼn naïef-vriendelike houding, Jimmy Carter, het gesorg dat kommunisme geweldig veld in veral Afrika gewen het en hy het sy bondgenote versaak. Eers sy opvolger, Ronald Reagan, ʼn valk wat buitelandse sake betref, het kommunisme nie net in talle “proksie-oorloë” in die Derde Wêreld (Afghanistan, Sentraal-Amerika) terug gedwing nie, maar uiteindelik laat ineenstort. Ook hý was bereid om met sy vyande te onderhandel, maar uit ʼn posisie van mag. Die drastiese vermindering van kernwapens het Reagan (met die Sowjetse leier Gorbatsjof) onderhandel en sy opvolger, George Bush (sr.), het dit verder gevoer, albei “oorlogsugtige” Republikeine. Ook Margaret Thatcher het haar land se status as internasionale moondheid gevestig, eers militêr, dan ekonomies. Die elite verag gewoonlik die “politieke amateurs” soos Trump, Thatcher en Reagan, maar hulle het dikwels ʼn baie beter aanvoeling vir mense en menslike optrede.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cornelia

Dankie vir hierdie baie insiggewende skrywe. Baie interessant en waardevolle inligting.

Wessel

Baie insiggewend dankie. Realpolitiek vir my!!

Eish

Ek wonder tog waarom die Hemelse Vader in Sy wysheid elke stam van die Israeliete n eie gebied laat toeval het in Kanaän?
Hy het nie die klompie deurmekaar en holderstebolder laat bly nie, maar elk het sy eie grondgebied gehad. Klink baie na “realpolitiek” vir my.

Grootboet

Dankie vir ‘n uitstekende artikel. Ek verskil wel oor een klein stukkie detail – idealistiese wereldpolitiek gaan nie soseer oor die groter goed en humanisme nie maar eerder omdat hierdie globale sake-elite hulle belange sonder grensbeperkings wil uitbrei. Een wereld met een taal en een kultuur sal hulle instaat stel om SMMEs uit die mark te druk en dan gaan hulle reeds reuse globale besighede supergroot word en ons gaan almal by hulle moet koop, en vir hulle werk as ons gelukkig genoeg is om werk te kry.

Boerseun

In die kol Sebastiaan. Een van die globaliste wereld se grootste probleme bly dat kulture sukkel om by mekaar in en aan te pas en hoe meer een groep bevoordeling trek om samesmelting to probeer af dwing hoe meer vervreem hulle die ander groep van “globalisme”. Kultuur gaan gewoonlik ook gepaard met sy eie godsdiens en bly een van die globaliste se grootse struikelblokke. Alhoewel hulle met die weste tot n groot mate athiesme en verdraagaamheid kon bevorder (let maar net op na die Godslastering op Hollywood) integreer Moslems and ander gelowe nie so maklik nie, hier kyk ons na… Lees meer »