Die terugkeer van die ‘Realpolitiek’

Pres. Donald Trump van die VSA beantwoord vrae oor die beraad met die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, tydens ʼn mediakonferensie by die Capella-oord op die Sentosa-eiland in Singapoer. (Foto: Susan Walsh, AP)

Vir die hoofstroommedia en die globale elite is die presidentskap van president Donald Trump die grootste denkbare ramp en is alles wat Trump aanpak en sê in die oortreffende trap verkeerd, of dit nou buitelandse of binnelandse optrede is. Daarby is Trump se beleid eenvoudig: “Amerika en die Amerikaanse volk eerste”. Vir die elite is dit ondenkbaar dat veral ʼn Westerse leier sy land en sy volk se belange eerste stel, en nie die mensdom, die wêreld, of ten minste die streek nie. Trump doen egter net dit wat ander presidente, soos Wladimir Poetin van Rusland of Xi Jinpin van China ook doen, naamlik om op te tree in belang van hul land, ongeag wat die res van die wêreld daarvan dink.

Wat ons tans beleef en waarvan Trump deel is, is die terugkeer van Realpolitiek. Realpolitiek (ʼn Duitse term wat internasionaal gebruik word) beteken om realisties en met pragmatisme jou land se belange eerste te stel. Behalwe vir die genoemde leiers van die groot moondhede, is daar ook leiers van kleiner lande wat streng in eie belang optree, soos Victor Orban van Hongarye, Benjamin Nethanyahu van Israel of Recep Tayyip Erdogan van Turkye.

Hulle glo tipies aan beskerming van grense, ʼn mate van outoritêre beheer, sterk veiligheidsmagte en ʼn patriotiese narratief. Hulle glo nie aan isolasie nie, maar aan streng beperkte, doelgerigte alliansies, byvoorbeeld ʼn militêre bystandsverdrag soos NAVO (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie).

Realpolitiek is egter nie gelyk aan oorlog en aggressie nie. As dit jou land se belange dien om vrede na te streef, dan is dit goeie realpolitiek. Dit is egter nooit ʼn vrede sonder toegewings en waarborge van die ander kant nie en realpolitici besef dat wêreldvrede ʼn mooi, maar onhaalbare ideaal is. ʼn Realpolitikus by uitstek in die geskiedenis was die Duitse kansellier Otto von Bismarck in die laat 19de eeu.

Daarteenoor staan die idealistiese wêreldpolitiek, wat veral deur politici soos Obama, Merkel en Trudeau verteenwoordig word, naamlik om jou land slegs as ʼn bousteen vir ʼn beter wêreld te sien en om sy hulpbronne in te span vir die bereiking van dié ideaal. Grense moet liefs verwyder word omdat dit handel, kulturele uitruil en vermenging van volke belemmer. Idealistiese wêreldpolitiek beklemtoon die wêreldeenheid en glo aan multinasionale organisasies, soos die Verenigde Nasies (VN), Europese Unie (EU) en Wêreldhandelsorganisasie (Who). Wêreldvrede is seker die vernaamste doel van idealistiese politiek, en die beperking van wapenvervaardiging en -handel speel daarby ʼn belangrike rol. Ook gelykheid deur die verwydering van ekonomiese beperkinge en deur ontwikkelingshulp is ʼn ideaal.

Die realpolitiek en die idealistiese politiek wissel mekaar gewoonlik as heersende paradigma af. Binne ʼn heersende paradigma is daar egter altyd leiers wat volgens die ander paradigma optree. Breedweg is die era van die Koue Oorlog (1945 tot 1989) deur die realpolitiek oorheers. Westerse leiers soos Nixon, de Gaulle, Thatcher en Reagan het daarvolgens opgetree. Nogtans kon ook op die hoogtepunt van die Koue Oorlog idealisties gedrewe leiers soos John Kennedy en Jimmy Carter na vore kom of, op kleiner skaal, persone soos Olof Palme van Swede of Willy Brand van Wes-Duitsland.

Ná die einde van die Koue Oorlog, wat juis deur die realpolitieke optrede van iemand soos Ronald Reagan bereik kon word, het ʼn lang tyd van idealistiese wêreldleiers aangebreek: Bill Clinton, Barak Obama, Tony Blair, David Cameron, Gerhard Schroeder en Angela Merkel is enkele voorbeelde in die Weste. Ook Nelson Mandela was ʼn idealistiese leier. Nasionalisme is as behorend tot die verlede gesien. Samewerking oor grense heen en in verbonde met so veel as moontlik state, rondom ʼn saak of in ʼn sekere streek, was die nuwe ideaal. Die Koue Oorlog is ook simbolies agtergelaat deur voormalige Oosbloklande deel van Navo en die EU te maak en om die Westerse liberale demokrasie as die beste van alle samelewings voor te hou. Alhoewel die groot konflik tussen Oos en Wes iets van die verlede was, het klein konflikte, dikwels met etniese en godsdienstige ondertone, aangegaan of nuut ontstaan (Joegoslawië, voormalige Sowjetunie deelstate) waarop die idealiste geen antwoord gehad het nie.

Obama kon geen konflik oplos nie en het veral in die Midde-Ooste met sy weifelende optrede sake vererger. Nog ʼn demokratiese president met ʼn naïef-vriendelike houding, Jimmy Carter, het gesorg dat kommunisme geweldig veld in veral Afrika gewen het en hy het sy bondgenote versaak. Eers sy opvolger, Ronald Reagan, ʼn valk wat buitelandse sake betref, het kommunisme nie net in talle “proksie-oorloë” in die Derde Wêreld (Afghanistan, Sentraal-Amerika) terug gedwing nie, maar uiteindelik laat ineenstort. Ook hý was bereid om met sy vyande te onderhandel, maar uit ʼn posisie van mag. Die drastiese vermindering van kernwapens het Reagan (met die Sowjetse leier Gorbatsjof) onderhandel en sy opvolger, George Bush (sr.), het dit verder gevoer, albei “oorlogsugtige” Republikeine. Ook Margaret Thatcher het haar land se status as internasionale moondheid gevestig, eers militêr, dan ekonomies. Die elite verag gewoonlik die “politieke amateurs” soos Trump, Thatcher en Reagan, maar hulle het dikwels ʼn baie beter aanvoeling vir mense en menslike optrede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Cornelia ·

Dankie vir hierdie baie insiggewende skrywe. Baie interessant en waardevolle inligting.

Hendrik ·

Ek wil selfs terugkom na grondvlak waar ek Realpolitiek verwag vanaf ons leiers in die burgerregte groepering

Eish ·

Ek wonder tog waarom die Hemelse Vader in Sy wysheid elke stam van die Israeliete n eie gebied laat toeval het in Kanaän?
Hy het nie die klompie deurmekaar en holderstebolder laat bly nie, maar elk het sy eie grondgebied gehad. Klink baie na “realpolitiek” vir my.

Grootboet ·

Dankie vir ‘n uitstekende artikel. Ek verskil wel oor een klein stukkie detail – idealistiese wereldpolitiek gaan nie soseer oor die groter goed en humanisme nie maar eerder omdat hierdie globale sake-elite hulle belange sonder grensbeperkings wil uitbrei. Een wereld met een taal en een kultuur sal hulle instaat stel om SMMEs uit die mark te druk en dan gaan hulle reeds reuse globale besighede supergroot word en ons gaan almal by hulle moet koop, en vir hulle werk as ons gelukkig genoeg is om werk te kry.

Boerseun ·

In die kol Sebastiaan. Een van die globaliste wereld se grootste probleme bly dat kulture sukkel om by mekaar in en aan te pas en hoe meer een groep bevoordeling trek om samesmelting to probeer af dwing hoe meer vervreem hulle die ander groep van “globalisme”. Kultuur gaan gewoonlik ook gepaard met sy eie godsdiens en bly een van die globaliste se grootse struikelblokke. Alhoewel hulle met die weste tot n groot mate athiesme en verdraagaamheid kon bevorder (let maar net op na die Godslastering op Hollywood) integreer Moslems and ander gelowe nie so maklik nie, hier kyk ons na byvoorbeeld Frankryk en die toelating van kop doek vir Moslem vrouens en aanpassing van skool diete. Al wat gebeur is dat mense groeperings binne landsgrense het wat dan areas beset en in sommige gevalle beheer ook (soos in Duitsland waar die polisie nie meer in sekere dele wil in beweeg nie). So al bly n person in n ander land, intergreer hy nie en bly hy eerder saam met mense van sy nationalisteit of streek. Dit veroorsaak verdere vervreemeding onder die lands burgers omdat die groeperings nationalisties van aard is maar die burgers is fasiste as hulle nationalisties optree . Jy hoef net na Trump se verkiesing te kyk. Hy preek Amerika eerste, en die immigrant burgers betoog en waai die Meksikaanse vlag.

JAN ·

‘n land se politieke stelsel moet ‘n bypassende ekonomiese stelsel gebruik.
Die Vrye Mark kapitalisme van Milton Friedman aan die een kant tot Marx se kommunisme aan die ander kant. Tussen die twee uiterstes is daar ‘n spektrum van ekonomiese planne.
‘n tipe Nasionaal sosialistiese beheerde markte van Prof Sadie – was uiters suksesvol was saam met ‘n Christelike veelvolkige Nasionalistiese demokrasie van Dr Verwoerd.

Jerry ·

Die realiteit in SA is dat jy Realpolitiek kan bedryf slegs as jy nie wit is nie. As jy nie swart is nie sal jy en jou Realpolitiek as rassisme en bevoorregting gebrandmerk en geteiken word, dit is die realiteit en gevolglik sal die gevolge van Realpolitiek skadelik wees vir jou en jou volgelinge se gesondheid en vir die bietjie mag wat jy reken jy het! Die verdere realiteit is dat as jy nie swart is nie word daar van jou verwag om jou woorde te tel en jou plek te ken net soos wat dit van jou verwag was gedurende apartheid as jy nie wit was nie. Sorteer eers hierdie realiteit van watse regte jy nou eintlik het (as jy nie wit was nie het jy geen regte gehad nie tydens apartheid, so as jy nou vandag nie swart is nie?) in hierdie “demokrasie” uit en weet waar jy staan voordat jy van Realpolitiek begin droom! Jou drome le reeds aan skerwe omrede jy nie wil luister nie. Hierdie is nie n speletjie nie, jy het hier te doen met n demokrasie wat jou agv apartheid, beskou as “the scum of the earth”.

Anna ·

Gaan lees in die Bybel oor die nuwe Jerusalem. Dit het ‘n hoë muur rondom. Realpolitiek. Revelation 21: He showed me the Holy City, Jerusalem, coming down out of heaven from God. It had a great, high wall with twelve gates, and with twelve angels at the gates.

Landsmens ·

‘n Beskermde stad, hul eie stad. Ek wens ons kan ons eie plek kry waar ons veilig is.

Marthinus Willemse ·

Michail Gorbatjof was ook `n realpolitikus, nes sy voorganger Joeri Andropof. Ronald Reagan was tot `n mate idealisties. Toe gebeur Navo se Able Archer 83-oefening, wat so realisties was dat Moskou hul kernwapens geaktiveer het. Toe Reagan besef hoe gevaarlik oorlogspeletjies kan wees (soos Trump nou met Noord-Korea), het hy begin met onderhandelinge met Michail Gorbatjof. Indien Gorbatjof self nie `n realis was nie, sou die Berlynse Muur waarskynlik nie geval het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.