Die tirannie van politieke korrektheid

themba-vryemark-stigting

Temba A Nolutshungu is ‘n direkteur van die Vryemarkstigting. Foto: Verskaf.

Deur Temba A Nolutshungu

Vryheid van uitdrukking en individuele vryheid in die algemeen is voorvereistes vir ‘n vrye, oop en gelyke samelewing soos beloof in die Grondwet, maar hierdie vryheid is altyd moeilik in enige samelewing, veral in Suid-Afrika.

Suid-Afrika het mense nodig wat bereid (en in staat is) om vryheid van spraak te verdedig sodat dit, ongeag hoe ongewild of selfs aanstootlik dit mag wees, ten alle tye wel toegelaat moet word. Bygesê, sonder om geweld te ontketen. Diegene wat hierdie vryheid in die naam van politieke korrektheid nie wil sien vergaan nie, behoort op ‘n volgehoue en nierassige grondslag betrokke te raak.

Teenvryheidmaatreëls soos vervat in die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Haatmisdaad en Haatspraakwetsontwerp – wat binnekort in die parlement ter tafel gelê sal word – belig hierdie droewige verskynsel van politieke korrektheid.

Teenstrydig met die voorgestelde beleid soos dit nou daaruit sien, kan ’n persoon wat dink en sê wat hy wil, tot drie jaar tronk toe gestuur word.

Politieke korrektheid is ‘n verskynsel wat in die 1980’s in die Verenigde State ingestel is om taalgebruik te verander; om mense sover te kry om eers te dink voordat hulle praat. Dit was hoofsaaklik gerig op taal wat verwys na vroue, swart mense, gays en gestremdes – groepe wat ontmagtig is deur ‘n dominante wit, manlike en niegestremde meerderheid. Die onderdrukking wat hierdie groepe verduur het, is na bewering herhaaldelik voortgesit in die einste vernederende taal wat hulle in die eerste plek gebruik het om dié groepe te beskryf.

Mense wat individuele vryheid koester, sal ‘n groter veelsydigheid in ons benadering tot taal verwelkom en, spesifiek, dat die taal wat ons gebruik nie net deur die maghebbendes in die samelewing bepaal moet word nie. Die grens word egter oorgesteek wanneer die metodes wat gebruik word om hierdie veelsydigheid van taal te bereik, op ander afgedwing word. In Amerika, byvoorbeeld, het ‘n poging om taalgebruik in openbare gesprekvoering te reguleer, uiteindelik gelei tot die afdwing van sekere spraak- en skryfvorme op ander.

Namate politieke korrektheid na die hoofstroom van die Amerikaanse intellektuele lewe beweeg het, het die verwoording van sekere sienings ontoelaatbaar geword. Persone wat hierdie sienings uitgespreek het, was as rassiste, seksiste of reaksionêre beskou en dat hierdie menings voortgespruit het uit ‘n verborge, innerlike perversiteit, ‘n begeerte om ongelyke magsverhoudings te verdedig. Of erger, aktiewe minagting van die onderdruktes – selfs wanneer hierdie beskouings op hul eie meriete gegrond is en niks te make het met rassisme, seksisme of weerstand teen verandering nie.

Suid-Afrika is natuurlike die “ideale plek” vir dié wat wil aanhou baklei oor wat polities korrek is. Dit is ongelukkig so dat daar tydens apartheid immorele dinge en gruweldade plaasgevind het en dat hierdie wete tot stilswye en skaamte van sommige “versigtige” polities-korrektes kan lei, deur bloot te suggereer dat hul beskouing ‘n vermomde verdediging van die ou orde verteenwoordig en ‘n ongevoeligheid vir die lot van swart mense. Die meriete van hierdie argument vervaag egter as mens begin wonder oor die morele houding wat daaragter mag skuil. Wit intellektuele is veral vatbaar vir hierdie soort aanval, aangesien politieke korrektheid wit mense se skuldgevoel uitbuit en as aas gebruik.

Desgelyks is hul swart eweknieë in dieselfde penarie as hulle teen politieke korrektheid (soos regstellende aksie, minimumloon of grondonteiening sonder vergoeding) opstaan, en loop hulle die risiko om as ketters beskou te word of, erger nog, verraaiers van swart idealisme.

Tog, baie swart Suid-Afrikaners het hul bedenkinge oor sommige van hierdie beleide. Sommige het hul kommer uitgespreek oor die onopsetlike gevolge van regstellende aksie betreffende die selfbeeld en selfstandigheid van die swart Suid-Afrikaner.

Hieroor het ek my uitdruklik, aanhoudend en geldend uitgespreek, maar in baie gevalle word kwessies soos hierdie op ʼn gedempte toon uitgespreek of selfs onder die mat gevee.

Ek het myself nog nooit beskou as iemand wat nie sy stem sal dik maak nie, veral nie as dit gaan oor die lot van werkloses nie. Vir my is dit belangriker dat die 9,4 miljoen werkloses in ons land wel werk het, al is dit nog nie teen ʼn hoër salaris nie. Hiervoor het ons ‘n politieke omgewing nodig wat vrye ondernemings en ʼn vrywilligheid tussen werkgewers en werknemers respekteer en bevorder.

Vanweë hierdie siening van my, is my naam meer as een keer op Twitter beswadder. Ek is, onder meer, toegesnou dat ek op Robbeneiland onder kwarantyn geplaas en gerehabiliteer moes word – dít deur verdedigers van politieke korrektheid. Nog een het getwiet dat wanneer wit mense die dag teruggestuur word na Europa, ek maar saam met hulle moet gaan. Ironies genoeg het laasgenoemde twieter Frederick Douglass aangehaal ter ondersteuning van sy standpunt, terwyl Douglass waarskynlik met my sal saamstem oor hierdie onderwerp.

Douglass (‘n voormalige slaaf wat ‘n staatsman geword het onder sy vele ander prestasies in die VSA), was ‘n vurige verdediger van vryheid van uitdrukking, en gekant teen die identiteitspolitiek wat vandag met politieke korrektheid geassosieer word.

In sy laaste groot toespraak het Douglass gesê: “Ek is nie nougeset in my gedagtes, gevoelens of manier van optree nie. Ek sal myself en julle, my jong vriende, graag sien in ʼn land groter as en verhewe bo enigiets wat op ras of kleur gegrond is.” Hy het verder gesê: “Dit was nie die ras of kleur van die neger wat vir hom die stryd om vryheid gewen het nie. Daardie groot stryd is gewen, want die slagoffer van slawerny was ‘n man en broer vir almal rondom hom, en moet dus erken word as ‘n verantwoordbare wese, onderdanig aan die regering, en geregtig op vryheid, gelykheid en geregtigheid volgens die wet.

Vryheid is ononderhandelbaar, selfs vir diegene wat my ongure woorde toegesnou het. Vir die bewakers van politieke korrektheid haal ek aan wat die Protestantse geestelike, Martin Luther (1483 – 1546) gesê het omdat hy sommige aspekte van die Katolieke dogma teengestaan het. “Ek sal niks herroep nie, want om teen jou gewete op te tree is nóg reg, nóg veilig.” Dit is later verkort as: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie “.

Polities-korrekte sensors, die verhoog is julle s’n!

  • Die artikel was eers gepubliseer in Engels in die Sunday Times van 6 Mei
  • Temba A Nolutshungu is ‘n direkteur van die Vryemarkstigting. As een van die pioniers van die swartbewussynsbeweging het sy onvermydelike botsing met die apartheidstaat gesien hoe hy die ideologiese spektrum van ‘n kranksinnige kommunis na ‘n advokaat van klassieke liberalisme oorsteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Willem ·

Eerstens glo ek daar is nie baie mense wat polities korrek is soos bv Max du Preez en ‘n paar ander nie, ek glo verder die verre meerderheid het nie meer daardie skuldgevoel wat uitgebuit kan word nie, as hulle ooit daardie ‘skuldgevoel’ gehad het.

Riaan le Roux ·

As ons meer sulke denke in hierdie land gehad het sedert 1994, sou die land baie beter af gewees het. Ongelukkig is ons baie verder na die ander kant van die spektrum toe, waar gebrek aan vryheid vir wit, swart en almal tussenin, aan die orde van die dag is.

Ek glo dis omdat dit moeilik is om te verstaan hoe sulke klein regsvergrype, soos moenie dit of dat se of dink nie, later ‘n massiewe effek het, dat mense nie wil opstaan en dit verdedig nie. Dit is die boosheid van polieke korrektheid. Dit sluip by die agterdeur in.

Liberaal ·

Ons linkses sal vir julle deurgee wat julle mag dink en se, soos voorgeskryf deur ons globale supperryk meesters via liberale massamedia.

John ·

Snaaks dat net anderskleuriges en hul fanatieke meelopers die hele tyd kla oor die res se glo onderdrukking van hul regte. Wat is regte… wat is die regte wat hierdie mense so naarstiglik nastrewe? Die woord ‘jaloesie’ hang saam met ‘n gevoel van onvergenoegdheid en dat ander mense een of ander verandering by hulself moet aanbring om my gelukkige te laat voel… baas laat voel. Indien iemand rustig sy dagtaak met behulp van sy eie talente verrig en dan ewe skielik daarvan beskuldig word dat hy verwaand en meerwaardig optree… By wie le die probleem? By die paranoiese bemoeisieke of by die ander? Skynbaar het ‘regte’ nou ‘n vreemde betekenis gekry wat lynreg staan teenoor wat voorheen as eties korrek gereken is… die woord sonde word ook nou verban… want wat is sonde as regte dit kan oorspeel?

gatiep ·

Dankie tog dat Trump ingekom het en gese het te hell met dit.
Hy se net wat hy wil.Dit is wat ek n leier noem.
Hy het die pad oopgemaak daarvoor vir ons.

John ·

Snaaks dat net anderskleuriges en hul fanatieke meelopers die hele tyd kla oor die res se glo onderdrukking van hul regte. Wat is regte… wat is die regte wat hierdie mense so naarstiglik nastrewe? Die woord ‘jaloesie’ hang saam met ‘n gevoel van onvergenoegdheid en dat ander mense een of ander verandering by hulself moet aanbring om my gelukkig te laat voel… baas laat voel. Indien iemand rustig sy dagtaak met behulp van sy eie talente verrig en dan ewe skielik daarvan beskuldig word dat hy verwaand en meerwaardig optree… By wie le die probleem? By die paranoiese bemoeisieke of by die ander? Skynbaar het ‘regte’ nou ‘n vreemde betekenis gekry wat lynreg staan teenoor wat voorheen as eties-korrek gereken is… die woord ‘sonde’ word ook nou verban… want wat is sonde as regte dit kan oorspeel.

JAN ·

Ja Korrek John.
Dis alles die gevolg van ‘ oop grense’ .
Die mens se basiese behoefte is gevoel van geborgenheid. Sense of belonging.
Nou soek almal ń nuwe tuiste in “REGTE”.
Antitese van Christenskap.

JAN ·

Naskrif vir vorige gedagtes John.
Wat is selfbeskikking? En wat is media sensuur. Hmm?

JAN ·

Ek lees dat ons Bloedmaan beteken einde van verwydering tussen manlik en vroulik. Begin van sielkundige introspeksie rehab
…..soos opstanding uit dekades se “dood” = makulu rehab.
Ek sal persoonlik baat by oordentlike bestekopname spring cleaning (vertaal asb)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.