Die toekoms en betrokke onbetrokkenheid

Toekomsberaad-algemeen

Die Toekomsberaad wat op 10 Oktober deur die Solidariteit Beweging aangebied is, is deur 2 770 mense bygewoon. Foto: Forumnuus.co.za

Johan Schoeman

Op 10 Oktober het die Solidariteit Beweging ʼn opvolgberaad gehou wat voortgebou het op die krisisberaad van vroeër vanjaar. Die gedagte was om met werkbare voorstelle en planne vorendag te kom om die posisie van Afrikaans, en spesifiek die Afrikaner, tot ten minste 2020 aan te spreek.

Die terugvoer sover blyk uiters positief te wees, selfs uit kringe waar dit nie verwag is nie.  Maar hoe het ons by hierdie punt gekom? Dit is so dat mense in Suid-Afrika polities vuisvoos is, Afrikaners des te meer. Die historiese redes hiervoor is welbekend en so ook die reaksie hierop; van apatie tot wegtrek, van aanvaarding en samewerking tot die skep van alternatiewe, iets waarmee die Solidariteit Beweging hom sterk vereenselwig.

Die  Griekse denker Perikles het immers lank voor Christus gesê: Jy moenie dink as jy nie in die politiek belangstel nie, beteken dit dat die politiek nie in jou gaan belangstel nie. En ons weet dit. Die Franse digter/skrywer Michel Houellebecq, wat kort voor die onlangse skietery in Frankryk weer in die nuus was oor sy jongste boek waarin hy op fiktiewe manier ʼn Frankryk onder die bewind van Islam beskryf, vat die onbenydenswaardige posisie waarin die menslike bestaan (en politiekery) ons soms kan laat beland in een van sy gedigte mooi saam:

Die heelal skreeu. In beton sien ʼn mens die geweld waarmee

dit as muur gevorm is. Beton skreeu. Gras kerm onder die tande van die diere.

En die mens? Wat sal ons sê van die mens?

Terug by die keuse tot die skep van alternatiewe. Hoe doen ’n mens dit? Hoofsaaklik op twee maniere: deur oor te gaan tot aksie en te bou en/of om pogings tot bou te help fasiliteer, deur geld of ander hulpbronne daaraan af te staan. Dikwels gaan hierdie doen-dinge gepaard met die een of ander vorm van aktivisme, en dan moet ’n mens sekerlik iemand soos die denker Slavoj Žižek se raad aan die “Occupy Wall Street”-betogers in 2011 onthou. Hy waarsku teen die feit dat jy op aktivisme verlief kan raak: “Karnavalle is goedkoop. Die ware toets is wat oorbly daarna; die manier waarop dit slaag om die daaglikse lewe te verander. Julle moet verlief raak op harde en geduldige werk – julle is die begin, nie die einde nie.”

Diegene wat só kies, kies dus vir betrokkenheid. Maar vir ʼn spesifieke tipe betrokkenheid, een waarin gedoen word. Dit mag een van die redes wees vir kritiese leunstoel-stemme wat soms gehoor word, sonder om daardeur te kenne te probeer gee dat goeie teorie nie nodig is nie. Dit is immers die beste metode om die vlak van die gesprek te lig. Diesulkes is dus betrokke by dit wat vir hulle voortbestaan belangrik geag word, maar onbetrokke deur blote aanvaarding van wat oor hulle pad kom. Houellebecq het ook iets aan albei groepe te sê:

Sommige van ons begeertes het hierdie stad gebou

Ons het teen vyandelike magte baklei

En toe het ons uitgeteerde arms die stuur laat vaar

Só gesien – tereg die opmerking dat Raka, eers wanneer hy die vrees en huiwering in die stemme van die sterk leiers van die stam hoor, tot aksie oorgaan – nie voor die tyd nie. Dit kom ten einde laaste op keuses neer. Om onbetrokke te wees, is ook ʼn bepaalde keuse oor hoe om betrokke te wees.

Die skrywer Walt Whitman het die volgende opmerking oor sy vorm van (on)betrokkenheid (eie vertaling):Ek het niks te doen met hierdie stelsel nie. Nie eens genoeg om my teen hulle te verset nie.” Harde woorde en ʼn harde keuse, of ons saamstem of nie. Ander weer, kies om ʼn onaanvaarbare stelsel op allerhande skeppende wyses aan te vat.

As Afrikaners en Afrikaanse belanghebbendes het ons nie die luukse van Samuel Beckett se twee boemelaars wat vir (ons) Godot sit en wag nie, nog minder om ons slegs op die regspraak, wat al meer gekoöpteer raak, te beroep. Definitief ook nie om net klakkeloos deel te neem aan ʼn debat oor wie se sneeu die swartste is nie, soos een kommentator dit onlangs gestel het. Daarvoor is daar te veel op die spel, veral omdat ons reeds voorheen met ʼn slenter of twee gevang is en ons mettertyd deeglik hiervan bewus begin raak het.

Nog meer naïwiteit, daardie toenemend ontnugterende spel van die gewilde “liewelinge met fluweelstemme”, soos al na hulle verwys is en wat feitlik daagliks in aksie gesien word, is onvergeeflik.

Dringende werk aan ons keuses en aksies is daarom tydsensitief as ons die (dalk voortydige) kritiek van ʼn groepering wat nie kon wag om sy plek in die geskiedenis te ontruim nie, wil vryspring. Dit beteken ʼn keuse wat ons dalk aan gewildheid gaan kos. Maar dan is ons ten minste betrokke by iets met persoonlike en toekomstige betekenis, en onbetrokke by ʼn maatskaplike debat wat soms meer gaan oor polities korrekte verslaglewering as die weergee van die werklikhede wat ons konfronteer.

Die keuse is myne en joune.

  • Johan Schoeman is die sekretaris van die Solidariteit Beweging.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JJ Blom ·

Puik berig. Fantastiese beweging met hoop vir die toekoms!

Leendert van Oostrum ·

Baie goeie ontleding.

Ons moet wel nie die fout maak om te dink dat mense onbetrokke is as hulle nie by ONS betrokke is nie.

Die besetting van die burgerlike ruimte vereis juis ‘n diversiteit van betrokkenheid.

Johan ·

Ware woorde…… “If you do not stand for something, something will stand for you”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.