Die toekoms mag beslis nie sosialisties wees

Armand Cloete.

Armand Cloete, VF Plus-LP, antwoord op Rynhard van Zijl se meningstuk #JongStemme: Die toekoms is sosialisties.

Die toekoms mag beslis nie sosialisties wees nie, Rynhard. Jy blyk ’n blink denker te wees wat antwoorde soek vir baie diep probleme wat die wêreld ervaar. Ons almal is op soek na antwoorde vir ’n diepe ongeregtigheid wat ons in ons murg en been voel. Soos talle denkers voor my en jy, sukkel ons elke dag met die werklikheid dat mense gelyk behoort te wees, maar nie so behandel word nie. Ons het denkers nodig wat met kreatiewe oplossings kan kom. Hou aan, maar pasop…

Waak teen die wip van die leë belofte van sogenaamde gelykheid onder sosialisme.

Maar voordat ons verder gaan, moet ons oor een ding saamstem. Daar is nie nét konflik in die wêreld nie. Dit was Marx se mees fundamentele fout. Hy het nie verreken of erken dat daar ook samewerking of neutraliteit tussen klasse kan wees nie. Hy het ook nie verreken dat daar verskille binne klasse kan wees nie. Dink prakties hieroor, Rynhard. Is ons wêreld net konstant in konflik met homself?

Dink aan wat jy sien. As jy nie sien dat klasse saamwerk nie, is jy op ’n gevaarlike afgrond.

Werkers is nie altyd net in konflik met werkgewers nie. Boere en plaaswerkers wat saam by Senekal opgedaag het as verset teen anargie, wys dat daar ook goeie verhoudings tussen klasse bestaan.

Die wip is dus die volgende: as die samelewing net in konflik met homself is (wat dit duidelik nie is nie), hoekom vind dit net plaas op die finansiële gebied? Hoekom nie op godsdienstige gebied nie (wat ons soms duidelik sien)? Is daar nie konflik op vele ander vlakke nie? Hoekom net, volgens Marx, is konflik uitsluitlik op finansiële vlak?

Die wip is dat dít wat Marx voorveronderstel, so ’n klein en gereduseerde beskouing van die wêreld is wat baie verreikende en gevaarlike gevolge sal hê. Dit verbaas my dat Marxisme, sosialisme en kommunisme enigsins nog as “die antwoord” oorweeg word. Marx het gesê filosofie moet die wêreld verander. Sy filosofie hét die wêreld verander. Lees gerus The Black Book of Communism: Crimes, Terror, Repression wat die dodetal onder Marx se idees op tussen 90 en 100 miljoen mense bereken. Dit is verandering wat ons nie weer kan bekostig nie.

Verder voorveronderstel Marx verkeerdelik dat kapitalisme (ek verkies die term vryemarkbeginsels) net winsbejag is. Post-Marxisties (soos die denke van Derrida en Foucault) word produksie se hoofdoel as die verkryging van mag beskryf. Dit is eenvoudig nie waar nie. Dit is nie net ’n oorvereenvoudiging nie, maar ’n uiters gevaarlik idee.

Ons is ook tegnologiese wesens. Ons ontwikkel hulpmiddels wat presies dit is: ’n middel om ons te help. Henry Ford het nie die Ford ontwikkel om geld te maak nie. Hy het ’n probleem gesien, ’n oplossing gehad en dit ontwikkel. Die winste het later gekom. Vandag voorsien die motorbedryf werk aan miljoene mense wat nou meer het as gevolg van sy idee as daarsonder.

Dieselfde selfoon wat jy gebruik om te lees, is op vryemarkbeginsels gebou: probleem, dan oplossing, dan ontwikkeling, dan geleenthede, dan werkskepping, dan winste.

Waak teen ’n eensydige beskouing van die wêreld, Rynhard.

In die tydperk 2000 tot 2012 het armoede wêreldwyd met 50% afgeneem. Die Verenigde Nasies se syfers wys dit. Kyk maar na die verslae.

Armes oor die wêreld heen verdien nou meer en word vinniger ryker as nog ooit in die geskiedenis van die mens. Is dit sosialisme wat dit gebring het? Nee. Gaan kyk daarteenoor na lande waar sosialisme, kommunisme en Marxisme misluk het. Ek het nie nodig om jou aan Venezuela te herinner nie.

Vyftien verskillende soorte gebottelde water waarborg juis die reg van keuse, ’n voorvereiste vir ’n vrye en demokratiese bestel. Indien jy nie ekonomiese vryheid het nie, ontwikkel jy ’n nuwe monopolie (wat die staat uiteindelik besit), waarteen sosialisme juis veg.

Jou stelling dat sosialisme demokrasie steun, is gedeeltelik waar. Dit mag dalk demokrasie op die oppervlak steun, maar dit verseker dit beslis nie. Vir ’n demokrasie om effektief te wees, moet dit aan verskillende aspekte voldoen. Die reg om te stem is een, die reg op gelyke behandeling onder die Wet is ’n ander. Daar is egter meer, soos die duidelike skeiding tussen die verskillende vlakke van die staat, naamlik die wetgewende, uitvoerende en juridiese gesag.

Hier is jou stelling dat sosialisme pleit vir ’n “diktatuur van die werkersklas” uiters gevaarlik. Die praktiese implementering daarvan in Suid-Afrika vir etlike jare reeds is talle munisipaliteite wat gebuk gaan onder stakings deur die uitvoerende gesag in die vorm van munisipale werkers (byvoorbeeld weens onnodige oortydbetalings). Dit plaas die uitvoerende gesag direk in ’n ware konflik met die wetgewende gesag. Die uitvoerende gesag in die vorm van staatsamptenare het dus ’n houvas op die res van die staat en hou Suid-Afrikaners gyselaar.

Dit is nie ’n demokrasie nie. Dit is ’n ander vorm van diktatuur wat Suid-Afrika lamlê as direkte gevolg van die diktatuur van die werkersklas. Die diktatuur is manipulerend en die sosialistiese ANC weet eenvoudig nie hoe om dit aan te pak nie juis omdat hy so afhanklik van vakbonde en unies vir steun tydens verkiesings is.

Burgers word uiteindelik die slagoffers van die munisipale werkers se diktatuur. Dit is die realiteit wat alle Suid-Afrikaners ervaar.

Sosialisme hét al die vryemark vervang, Rynhard. Dit was nie goed nie. Sosialisme se hantering van, byvoorbeeld, privaat en openbare eiendom wys egter op die spreekwoordelike “The proof of the pudding is in the eating” wat jy ook in ag moet neem.

Gaan lees gerus hoe Aleksandr Solzhenitsyn in sy boek The Gulag Archipelago die realiteit van sosialisme se privaat- vs. openbare- eiendomsbeleid beskryf. Boere se plase is deur die staat onteien (klink dit bekend?) en enige iemand wat nie hul kos van die staat gekry het nie, is swaar gestraf. Die uiteinde hiervan in die Oekraïne was soveel as 17 miljoen mense wat sou sterf weens hongersnood. (Terloops, Stalin se onderdane het die hongersnood as ’n “sukses” beskou).

Sosialiste het nie net eiendom gevat nie, maar mense is uiteindelik dood, baie vermoor onder die vaandel van sosialistiese- en Marxistiese-gelykheid.

Die toekoms kán dalk sosialisme wees, maar dit mág dit nie wees nie, Rynhard. Ons het gebalanseerde denkers nodig wat idees – kapitalisme in sy uiterste vorm én sosialisme – uitdaag en die beste vir die toekoms beplan. Ons moet egter bewus wees van die fundamentele foute van verskillende idees en hoe daardie idees ons geskiedenis geaffekteer het sodat ons nie weer dieselfde foute maak nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Luister ·

Die fout wat jy en andere maak, is om te dink dat sosialisme noodwendig altyd ‘n kommunistiese staat voorstaan en nie ‘n demokraties verkose een nie. Ek gee toe dat ‘n suiwer vorm van sosialisme nie kan werk nie, want mense is te gierig en wil altyd meer hê as ander.

Marthinus W ·

Armand, jy waarsku Rynhard teen `n eensydige beskouing, maar dan doen jy dieselfde. Onder kommunisme is die RuimteEeus ingelyf, met Spoetnik 1 (die eerste mesngemaakte satelliet), Spoetniek 2 (die eerste lewende dier); die eerste manlike mens (Joeri Gagarin) in ide ruimte; die eerste vroulike mens (Walentina Tersejkowa) in die ruimte; die eerste foto’s van die “agterkant” van die Maan; die eerste lopie (spacewalk) deur Aleksei Leonof, ens. ens. In Amerika het hulle hamburgers geet en karre gekoop.

Karlahari ·

En het die Russe met Trabants en Lada’s rond gery teenoor weste se Fords, Europese Audi’s en Japanese Toyota’s.
Mense in westerse lande kon kies waar hulle wou werk. Het jy harde kwas geraak met USSR regering het jy of onder die grond of in Siberië opge-eindig.

Judge ·

…….en die man wat hoofsaaklik verantwoordelik was vir daardie deurbrake was Sergei Korolev – Russiese ruimteagenskap se hoof enginieur.
Kommuniste het Korolev vir 6 jaar in tronk gestop, onder andere tyd gedien in ‘n Gulag, juis omdat hy kommunisme teengestaan het.

Die Kommuniste het besef dat hy talentvol was en hom sy “vryheid” gegee.
Wat dink jy sou gebeur as hy sou weier om te doen wat die kaders bepaal het ?

Adam Adriaan ·

Kommunisme/ sosialisme bly ‘n vernietigende regerings vorm. Maak nie saak in watter form nie.Dit is nie alom bekend nie, ons sien net meestal net mooi fotos van Rusland vandag. Die blinkkant word net altyd daar voorgehou, maar in werklikheid kripeer die mense nog steeds na alle pogings van Poetin om dit na ‘n nuwe orde te laat lyk. Die hoof doelwit is om die rykes te vernietig en om armoede te skep(Behalwe vir die wat in beheer is. Die elite), anders kan hulle die massas nie beheer nie. Dit is die hoof doel van die NWO drywes (Fourt Dimention/Prison Warders/Global Elite/Brotherhood ens. In werklikheid is hulle doelwit om die wêreld populasie te verminder na net 500 milj mense.( Een van hulle tien gebooie) Hierdie spul het ook ‘n vinger in die pie by elke regering in die wêreld vandag.

Daniël ·

Een van my gevolgtrekkings na die lees van dié skrywe is dat ek trots is om VF+ te stem :-)

annie ·

Geen gewag word gemaak van die rol van godsdiens en etiek tov ideologie nie. Marx se kommunistiese siening het godsdiens as die grootste struikelblok gesien vir sy rewolusie omdat dit die mens sou aanmoedig om tevrede te wees met sy lot. Aristoteles skryf in sy Etiek oor politiek en die verskillende sisteme en hoe beide demokrasie en oligargie hul posisies misbruik vir eie gewin. Die rol en spel van die massa arm minderheid kom ook ter sprake. Niks is nuut onder die son nie… en soos die son gaan regerings gereeld onder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.