Met ’n nuusopskrif wat klink asof dit reguit uit die 1960’s kom, het die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party die afgelope naweek aangekondig dat díe lid van die drieparty-alliansie Suid-Afrikaanse verkiesings op sy eie gaan aandurf.
Hierdie besluit is onder meer geneem aangesien die 96 jaar oue organisasie glo dat die drieparty-alliansie tussen die ANC, COSATU en die SAKP gebreek is. Daar word egter geglo dat hierdie aankondiging slegs ’n poging is om mag binne die alliansie in die SAKP se guns te herbalanseer. Die afgelope twee dekades het juis duidelik gewys dat die SAKP, immer in die skaduwee van sy ouer en groter neefs, bloot op die alliansie se rug gery het om politieke posisies vir sy lede te kry.
Die aankondiging het wel op sosiale media – en in sommige nuusberigte – debatte aangevuur oor die SAKP se vermoë om die ANC se mag te breek. Die SAKP se potensiaal as belangrike rolspeler in Suid-Afrikaanse verkiesings moet wel in konteks gesien word.
Indien daar slegs na die syfers gekyk word, het die SAKP in 2015 ongeveer 220 000 amptelik geregistreerde lede gehad. ’n Groot aantal van hierdie lede is egter terselfdertyd lede van die ANC.
Dit bly egter onduidelik of enige lede van die SAKP die vloer sal kruis om hul ANC- lidmaatskap te behou. Vir doeleindes van hierdie bespreking word daar, hipoteties en liefdadig, aangeneem dat die SAKP al 220 000 van hul lede behou – en hul stemme in ’n nasionale verkiesing kan kry.
Om een setel in die Suid-Afrikaanse parlement te verwerf, benodig ’n party byna 47 500 stemme. Indien al die SAKP se lede dus vir die party stem, behoort hulle vier tot vyf setels te hê. Dit is minder setels as die ANC, DA, EFF, IVP en NFP. Die SAKP gaan dus ’n klein minderheidsparty wees, in ’n omgewing waar soortgelyke partye reeds volop is.
Dit moet nog egter uitgepluis word of die SAKP ’n wesenlike rol gaan speel in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing. Gaan die SAKP meer met hul beperkte verteenwoordiging in die wetgewer kan doen as byvoorbeeld Agang, COPE of die PAC?
Dit dien as bewys van die agteruitgang in die ANC, maar wat hul kanse in ’n nasionale verkiesing betref, moet daar eerder geen drastiese sukses verwag word nie. Die meeste lojale ANC ondersteuners stem nie vir die party weens ideologie nie – maar eerder weens ander geskiedkundige redes.
Die rooi gevaar blyk dus, in die 21ste eeu, grootliks uitgedien te wees.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
Ek self dink ook nie dat die SAKP op hul eie veel sal maak nie. Maar ek dink nie dit is regtig hul doel nie. Hulle wil net dreig om te kyk of hulle nie vir die ANC kan wysmaak dat die ANC ‘n probleem het nie. As hul dit kan regkry is ek bly. Minstens verdeel hule die ANC.
Miskien stap die SAKP ouens oor na die DA?
Goeie ontleding. Die SAKP het ‘n blink verlede agter hulle. Maar die uitsterwe van die SAKP Dinosaurus beteken ongelukkig nie dat die ‘rooi gevaar’ verby is nie. Dit leef in die ANC voort soos gesien kan word in die debat oor Eiendomsreg, die Nasionale Gesondheidsplanne ens. Die ANC het by Kodesa toegewings gemaak om die mag te kry, en gebruik nou die mag om hul oorspronklike doelstellings deur te voer. Hul doen dit deur die ‘gelykheidregte’ in die Grondwet (Arts 26, 27) voorkeur bo die vryheidsregte te gee. Maar gelykheid kan net bereik word ten koste van almal se vryheid.
Dit is naief om die SAKP se steun te verskraal na die aantal ingeskrewe lede. Wat is die verband tussen byvoorbeeld die ingeskrewe lede van die VF+ en verwerfde stemme? Na alle waarskynlikheid is minder dan 20% van die stemmers – ingeskrewe lede. Verder het nie een van die ander opposisiepartye of selfs die ANC, ‘n leier van die format van Solly Mapaila nie.