Die toekoms van die universiteitswese

Prof. Danie Goosen

“Ons bou ʼn universiteit,” het Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia, onlangs by ʼn geleentheid in Pretoria gesê.

Maar wat is die wese van so ʼn universiteit? Moet dit, met die uitsondering dat dit Afrikaanse is, net soos enigeen van die bestaande universiteite wees? Iets soos ʼn Afrikaanse Wits of Tukkies?

Of is die universiteit wat gebou word, ook ʼn nuwe soort universiteit? Bestaande universiteite word immers wêreldwyd deur enorme probleme gekenmerk. Gaan die nuwe universiteit dit bloot herhaal? Of bied dit die geleentheid om anders oor die universiteitswese te dink?

Bestaande universiteite oor die ganse Westerse wêreld is dikwels in die greep van polities korrekte ideologieë. Hulle is dikwels vyandig jeens die Westerse geestelike en kulturele erfenis, hulle is onkrities jeens die globale orde en die eensydige klem van laasgenoemde op die sogenaamde opwaartse mobiliteit van die individuele student. En hulle staan eensydig en selfs afkerig jeens die oerou strewe na die waarheid, terwyl hulle ook kennis en wetenskap dikwels op ʼn siniese wyse tot blote instrumente van mag inperk.

Gaan die universiteit wat gebou word slegs dié uitgediende formules herhaal? Of sal dit ook ʼn antwoord op genoemde krisisse wees? Hieronder word iets meer oor “ons bou ʼn universiteit” vertel, en uitgebrei oor hoe so ʼn universiteit kan wees.

Ironies genoeg sluit so ʼn “nuwe” universiteit by die oudste wortels van die klassieke universiteitswese aan. Ons kan vandag na so ʼn universiteit as die klassieke opvoedingsuniversiteit verwys. Maar wat is die aard van die klassieke opvoedingsuniversiteit? Wat is sy vertrekpunte en oogmerke, sy uitgangspunte en doelwitte?

Enkele belangrike eienskappe daarvan word hieronder ter sprake gebring.

  1. Opvoeding en opleiding

Universiteite wat by die klassieke opvoedingsuniversiteitswese aansluit, word deur beide die oogmerke van opleiding én opvoeding gekenmerk.

1.1 Opleiding

Klassieke opvoedingsuniversiteite strewe daarna om uitnemende opleiding aan studente te bied, met die oog op volle indiensname in die arbeidsmark. Anders geformuleer, het dit opleiding ten doel om aan studente ʼn gespesialiseerde kennis in deelaspekte van die werklikheid te bied. As sodanig stem dit met die bestaande universiteitswese ooreen.

Nogtans lê daar ook hierin ʼn groot verskil opgesluit. Dit hou verband met die klassieke universiteitswese se gelyktydige klem op opvoeding, en die gevolge daarvan vir opleiding. In en deur hul opvoeding word opleiding selfs beter as aan bestaande universiteite gedoen.

1.2 Opvoeding

Wat bedoel die klassieke opvoedingsuniversiteite met “opvoeding”? Anders as met opleiding se fokus op die praktiese beroepslewe, het opvoeding ʼn teoretiese fokus. Opvoeding strewe daarna om studente nie net as eendimensionele spesialiste in ʼn deelaspek van die werklikheid op te lei nie, maar om hulle ook in die geheel insig van dinge te gee. Dit wil sê, insig in die samehang tussen die verskillende deelaspekte van die werklikheid.

John Henry Newman het reeds in sy bekende The Idea of a University (1852) uit die negentiende eeu geskryf dat opvoeding ten doel het om studente te lei sodat hulle ware gentlemen kan word.

Vandag kan ons sê dat opvoeding oor die vorming van ons menswees handel. In en deur opvoeding word ons menswees gevorm. Dit blyk veral uit die student se vermoë om die geheel raak te sien.

Vir die klassieke opvoedingsuniversiteite is dit belangrik om nie opleiding en opvoeding, die praktiese en die teoretiese, die dele en die geheel, van mekaar te skei nie. Waarom? As ons ʼn moeilike vraag kort kan antwoord: Volgens hulle is die samehang tussen opleiding en opvoeding noodsaaklik omdat goeie opvoeding studente in staat stel om in die praktyk van die beroepslewe veel beter te presteer.

  1. Vertrekpunt van die klassieke opvoedingsuniversiteite

Wat is die vertrekpunte van universiteite wat na die aard van die geheel vra? Ons begrip van die geheel word immers deur ons vertrekpunte gestuur.

ʼn Materialistiese denker kyk anders na die geheel as ʼn gelowige wat glo dat die werklikheid – die geheel – deur ʼn liefdevolle God geskep is.

Universiteite wat vandag by die klassieke opvoedingsideaal aansluit, is dikwels in die Christelike geloof geanker. As gevolg daarvan aanvaar hulle nie net dat die werklikheid ʼn geskape werklikheid is nie, maar dat dit – in aansluiting by die tradisie van teologiese en filosofiese denke – deur vier eienskappe gekenmerk word, naamlik deur eenheid, waarheid, skoonheid en goedheid.

Tot die wese van die klassieke universiteitswese behoort die gedagte dat die wetenskaplike denke tot hul reg kom wanneer dit gerig is op en ook vra na die eenheid, waarheid, skoonheid en goedheid van die werklikheid.

As grondslag van hierdie grondliggende uitgangspunt lê die gedagte dat geloof en rede mekaar nie uitsluit nie. Inteendeel, geloof en rede is op mekaar aangewese. Net soos wat die geloof die rede nodig het om nie in ʼn irrasionele gevoelsgodsdiens te verval nie, net so het die rede ook die geloof nodig om perke aan sigself te stel en so te voorkom dat dit op ʼn opgeblase wyse tot ʼn nuwe afgod uitgeroep word.

As sodanig verteenwoordig hierdie universiteit wat gebou word ʼn alternatief op hedendaagse universiteite. Laasgenoemde skei nie net geloof en rede van mekaar nie, maar doen ook met die klassieke strewe na insig in die eenheid, die waarheid, die skoonheid en goedheid van die skeppingswerklikheid weg. Dit alles tot groot nadeel van die universiteitswese, wetenskaplike denke en, in die besonder, ʼn florerende studentelewe.

  1. Die gemeenskapsuniversiteit

Opvoedingsuniversiteite is meestal gemeenskapsgerigte instellings wat die universitêre ideale van ʼn spesifieke taal- en kultuurgemeenskap dien (sonder om eksklusief te wees of hul deure vir andere te sluit). Waarop is die gemeenskapsidee by opvoedingsuniversiteite gegrond? Veral antropologiese en metafisiese gronde tree hier na vore.

a) Opvoedingsuniversiteite gaan uit van die antropologiese insig dat die mens ʼn gemeenskapswese en nie ʼn losstaande individu is nie. As sodanig verteenwoordig hulle ʼn alternatief op die neoliberale universiteitswese wat slegs die oogmerke van die individuele student (lees: individuele verbruiker) dien.

Opvoedingsuniversiteite ontken daarmee nie die belangrikheid van die verbeeldingryke en denkende individu nie. By sodanige universiteite het individu en gemeenskap mekaar eerder wedersyds nodig. Soos wat die individu ʼn gesonde gemeenskap nodig het om afsonderlik te kan floreer, so het gemeenskappe ook gesonde individue nodig om deel van dinamiese en toekomsgerigte gemeenskappe te wees.

b) Opvoedingsuniversiteite se begrip van hulself as gemeenskapsuniversiteite is tegelyk in die metafisiese insig op die Christelike en klassieke denke gegrond, naamlik dat die skeppingswerklikheid self as ʼn dinamiese gemeenskap tussen deelaspekte soos die materiële, die biologiese, die psigiese en die geestelike verstaan kan word.

Dit is ʼn gemeenskap wat verlore gaan wanneer een van genoemde deelaspekte uit die geheel gehaal en verabsoluteer word. Laasgenoemde is nie ʼn teoretiese moontlikheid nie, maar gebeur vandag dikwels aan bestaande universiteite wêreldwyd.

  1. Opwaartse mobiliteit teenoor tuiskoms

Die globalistiese en die klassieke opvoedingsuniversiteite word deur twee verskillende selfdefinisies gekenmerk. Globalistiese universiteite moedig die ideaal van opwaartse mobiliteit by hul studente aan. Ingevolge dié ideaal word studente opgelei om elke plaaslike verbintenis (soos ʼn eie streek, taal, kultuur en godsdiens) ter wille van ʼn eie beroepslewe in die globale wêreld agterweë te laat. Plaaslike verbintenisse word as ʼn hindernis op die weg na globale mobiliteit ervaar.

Die klassieke opvoedingsuniversiteite, daarenteen, moedig die ideaal van tuiskoms in en lojaliteit jeens die eie plaaslike verbintenisse aan.

Hierdie instansies meen dat ons menswees nie in die ontvlugting van die plaaslike tot reg kom nie, maar juis in die verbintenis daartoe. Daarmee ontken hierdie universiteite egter nie die belangrikheid van die globale wêreld nie.

Hulle moedig studente eerder telkens weer daaraan om die reis terug na die eie te onderneem.

Waarom? Omdat die eie gemeenskap telkens weer verryk word in en deur die wysheid wat met ervaring van ander gemeenskappe verwerf word. As sodanig vind die klassieke opvoedingsuniversiteite aansluiting by eeue oue motiewe uit die Westerse filosofiese, teologiese en literêre denke waarin die motiewe van vertrek en tuiskoms ʼn sentrale plek in die verbeelding inneem.

Waarskynlik is die mees tipiese voorbeeld hiervan Odysseus, die held uit Homeros se gelyknamige epos (epiese/verhalende gedig of heldedig), wat ná vele omswerwinge weer na sy geliefdes teruggekeer het. Vanweë sy omswerwinge het die slimme Odysseus ʼn wyse mens geword – ʼn wysheid wat sy eie gemeenskap verryk het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Stephan de S ·

Hoe goed is dit om hd verhelderende uiteensetting te lees. Mag Akademia n uitstaande voorbeeld word vd perspektiewe wat hier so helder gelê word. Sal dit nie lekker wees as jou kinders in hd begronding onderlê word nie.
Sterkte vir Prof dcx

Sophia ·

Baie insiggewend, dankie Prof Danie. Ons hoop en vertrou dat studente wat by die Akademia’s sal afstudeer in Suid-Afrika wel werk sal kry of hulle eie ondernemings kan begin, anders sal hulle opgeraap word deur buitelandse geleenthede.

HEVW ·

Dankie dit is sommer baie goed om weer so n bietjie wysbegeerte in die P U K klas te loop.
Gevorm deur die destydse PU vir CHO met ook sy opvoedkundige benadering stem ek 100% saam en ondersteun ek hierdie benadering

Gideon ·

Skitterend! Vaarwel Stellenbosch. Ek wil jou nooit weer sien. Viva Akademia!

Tresia ·

Skitterend Prof ek het gedink jou soort bestaan nie meer nie maar jy het my nou weer moed gegee.

Charles ·

Baie dankie Prof. Goosen, hierdie is ‘n uiters belangrike, pragtig beredeneerde en insiggewende stuk :)

Ester ·

Dankie prof Goosen vir ‘n puik artikel! Om oor die aard van ‘n Universiteit te dink eerder as oor die administrasie van honderd-en-tienduisend dinge om polities korrekte studente te kweek, maar wat die wesentlike vorming van die student uit die oog verloor, is vernuwend en verfrissend. In ‘n sin het ons gestagneer in hierdie veld totdat dit wat kosbaar en vanselfsprekend was, soos ons taal en Christelike kultuur, bedreig was en ons jong mense sin verloor het aan die dieper dinge van die lewe. Dit het ons denkers en akademici genoop om weer nuut te dink oor ons geestelike en kulturele erfenis – hoe die klassieke die eeuoue aansny in die soeke na waarheid, samehang van rede en geloof, transendentale elemente soos goedheid, skoonheid, waarheid en eenheid en hoe dit ons akademiese dissiplines – wetenskap, kunste, geesteswetenskappe ens. onderlê en die student se menswees verryk. Baie dankie vir die harde werk agter die skerms om die beste uit die verlede te haal en met vernuwende insigte te spys, sodat die vrug hiervan weer kan tuiskom in ons Suid-Afrikaanse gemeenskappe en in die hele wêreld. So hou ons koers en keer verlies en verleenthede om tot nuwe geleenthede! So ken ek ons mense!

Bril ·

Sorg net dat dit nie weer ‘n Tegnikonprojek (niemand in die wereld het so iets gehad nie) sal raak nie, waar die halwe wereld nie geweet het wat dit is nie (bv. die EU, waar alle kwalifikasies lateraan gestandardiseer en erken was), wat die ontstaansredes daarvoor was (“bosoorlogkwalifikasie” gedryf deur ‘n Suid-Afrikaanse noodsituasie wat nerens anders in die wereld bestaan het nie, dus nie begryp was nie) en nie geweet het gelykstaande aan watter plaaslike kwalifikasie dit was nie, m.a.w. hulle kon dit nie erken nie, al wou hulle. In die eerste plek word vir die eie land opgelei, maar die ekonomiese werklikhede dwing soms om elders heen te verhuis. Sonder kwalifikasies sal mens ook daarso werkloos bly of nie bevorder kan word nie, want die mense kan nie die waarde daarvan bepaal nie (hulle ken net die plaaslike kwalifikasies se waarde).

Alida ·

Baie dankie Prof. Goosen. Vir my is opvoeding op alle vlakke om ons te lei tot menswees , soos God sekerlik van die begin af bedoel het. Dankie vir die helder uitleg.

Hans Richardt ·

Altyd gevra op universiteit, watter vaardighede ek kry. Na Honneurs nog steeds geen vaardighede volgens modelle aangeleer nie.
Hierdie is my probleem met klassieke SA universiteite, dit gee akademiese kwalifikasies.

Karel ·

Konsentreer op konkrete rigtings soos ingenieurswese, medies, tandheelkunde, veeartsenykunde, finansies, ens. Die oomblik wat jy jou tyd mors met “airy fairy pie in the sky” rigtings soos geesteswetenskappe, is wanneer n universiteit die pad byster raak. M.a.w. bly weg van BA grade.

Johannes Froneman ·

Karel, ek meen jy moet die artikel weer lees. Daar moet ook plek vir die geesteswetenskappe wees, anders trek ons juis dinge skeef. Maar jy is reg dat ons fyn moet kyk na waar die behoeftes is, nie net nou nie maar ook in die toekoms. Want ons lei juis vandag mense op vir beroepe wat nog nie bestaan of ‘n naam het nie. Daarom is ‘n wyer kyk op die werklikheid juis nodig. So verstaan ek vir prof. Goosen.

Fanie ·

Jy’s verkeerd oor BA. Dis die rigtings met invloed, soos joernaliste, onderwysers, predikante, politieke wetenskaplikes, historici, sosioloë ens. Oxford se invloedryke PPE (Politics, Philosophy, Economics) word nou in Afrikaans by Akademia aangebied. Ons kan nie die invloedryke rigtings aan die Lefty’s en die Tegnokrate soos Slimwim oorlaat nie- hul het ons hier laat beland. Vul BA eerder met ‘n goeie inhoud..

Jimmy ·

Ek stem saam Karel. Gedragswetenskaplikes het te veel tyd om oor dinge te dink en mense te verwar.

GB ·

Fanie, ek stem met jou saam. Daar is ‘n groot stryd aan die gang, ‘n stryd om die gedagtes en morele standaarde en die wereldbeeld van jongmense te stroop van kulturele en godsdienstige wortels en eerder te vul met die morele relativisme van ‘n globalistiese, materialistiese, ateistiese wereldbeeld. En die geesteswetenskappe is die slagveld. Juis daarom behoort daar ‘n universiteit te wees wat die geesteswetenskappe met ‘n meer gebalanseerde inhoud vul sodat jongmense bewapen kan wees teen hierdie aanslag.

En Karel, die meer praktiese rigtings soos ingeneurswese is gewortel in dissplines soos wiskunde en fisika. En selfs die suiwer wetenskappe soos wiskunde en fisika is nie vry van ‘n filosofiese onderbou nie. Daar is verskillende skole in wiskunde en fisika wat kom uit verskillende filosofiese wereldbeskouings. Wat die geesteswetenskappe leer is nie airy fairy nie; dit het baie konkrete gevolge.

Bou proaktief ·

Besoek Akademia se webblad, en teken in op hul nuusbrief om te sien wat hulle verder beoog wat betref graadkwalifikasies en diplomas. Akademia se programaanbod het in 2012 afgeskop met studies hoofsaaklik in die Ekonomiese- en bestuurswetenskappe. Die huidige graadaanbod is: BCom (Bestuursrekeningkunde), BCom (Ekonomie en Regte), BCom (Finansiële Beplanning), BCom (Ondernemingsbestuur) en Gevorderde Diploma in Projekbestuur, asook BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie). Verder: Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie en Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde. Op die webblad word verder gesê: “Daar word deurlopend ondersoek gedoen om studente se behoeftes aan akademiese programme te bepaal. Akademia beoog om in die toekoms ʼn volledige programaanbod oor ʼn verskeidenheid fakulteite aan te bied. Ons volg egter ʼn deeglike ontwikkelingsproses wat stelselmatig uitgerol word, en alle programme moet ook eers deur die Raad op Hoër Onderwys geakkrediteer word.” Uitbreiding sluit graadkursusse in die opvoedkundige wetenskappe, natuurwetenskappe en geesteswetenskappe in. Uit die September-nuusbrief: Verdere goedgekeurde akademiese programme sal binnekort bekendgestel word (2020). Ander programme dien tans vir goedkeuring, en ander kwalifikasies word steeds ontwikkel.
Ek glo Akademia gaan ontwikkel in ‘n wêreldklas universiteit.

Dries du Toit ·

Baie dankie vir uitstekende artikel prof. Jy gee weer hoop

Werner Pereira ·

Wat ‘n voorreg om iemand soos prof Goosen in beheer van ons Afrikaanse universiteit te hê! Ek het jare terug ‘n toespraak deur die prof (as leier van die FAK) op Orania bygewoon , en hy is werklik ‘n aangename en intelligente mens. Volgens dr. James Dobson is daar in die VSA ‘n baie groot probleem met links-gesinde, humanistiese universiteite (soos wêreldwyd maar) en hunker hulle na leiers soos prof Goosen. Ons is gelukkig.

Salome Malherbe ·

Ek wil jubel en juig oor hierdie rigting waarin sterk leiers met insig en geloof ons volk se jeug lei!!
Tog wil ek ook vir die BA groepe pleit maar op voorwaarde dat dit noòit net aify-fairy leë inhoud vakke is nie maar jùis swaar gelaai aan praktiese komponente moet wees.
Hierby wil ek dus KUNS as vak betrek.
Die dubbele lading van Teorie gekombineer met die praktiese tegniese vaardighede maak van dif een vd moeilikste vakke op skool.
Tog val dit op tersieêre vlak uit die bus uit juis oor liberale stiksinnigheid wat n wanbegrip van kuns voorhou. Kuns behoort soos n loodgieter of ingeneur n vakmans gebaseerde kursus te wees.
Maar met vol histories filisofiesgebaseerde navorsing gepaard met ekonomiese rigqysings sodat studente met n deeglike kennis van die vryemarkstelsel hulself kan handhaaf.
Ook moet daar ander rigtings soos bv. argitektuur stadsbeplanning en al die kunsvorme wat daar toegepas kan word, vakgerig deel van hul opleiding wees. Bv Mosaiek en Weefkuns.

Feite ·

Daar is nie veel fout te vind met akademia nie, solank die kursusse globaal geakkrediteer is, anders is studente gesnoeker en beperk tot selfbestuur en selfbeskikking in SA. Die realiteit is dat SA vinnig besig is om kleiner te raak vir soverre dit die ekonomiese koek en werksgeleenthede, asook selfbestuur en selfbeskikking aanbetref. Ek sou meer gerus gevoel het as ek geweet het dat akademia die jeug voorberei vir nie net die bietjie geleenthede in SA nie, maar ook dat hulle globaal sal kan uitwyk om met hulle talente te gaan woeker. Die akademias berei die jeug voor vir die bou van sakeryke in SA, terwyl die jeug se toekoms in SA met n groter wordende moontlikheid van konflik besaai le. Solank as wat die jeug denkegewys en kwalifikasiegewys nie ideologies tot SA beperk word nie, dan doen akademia die regte dinge reg, indien nie, dan le daar probleme voor, dis Virseker!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.