#JongStemme: Die toekoms van kultuur en tradisie gedurende onseker tye

Mihan van Zyl.

Deur Mihan van Zyl

Gedurende ’n jaar met soveel ontwrigting asof ’n orkaan ons getref het, raak ons so verstrengel in nuusbrokkies en wêreldkwessies, dat ons nie tyd het om te dink oor ander, meer abstrakte vraagstukke van ons tyd nie. Juis daarom skryf ek nie vandag oor die koronavirus, jeugwerkloosheid of die Amerikaanse verkiesing nie, maar ondersoek ek eerder die noodsaaklikheid van die behoud van kultuur en tradisies. Hoeveel is hierdie kultuurmuntstuk, met sy slegte en sy goeie kant, nog vir ons werd in die progressiewe moderne era?

Kultuur en tradisie is kosbaar vir enige gemeenskap, want dit skep ’n gevoel van behoort, gee rigting en verskaf ’n manier om die wêreld beter te verstaan. Donald Kingsbury se aanhaling, “Tradisie is oplossings vir probleme waarvan ons al vergeet het,” beskryf dit baie goed.

Daar is gewoonlik dieper voordele onderliggend aan die beoefening van kultuur en tradisie. Professor N. Diedericks beskryf dit in 1936 mooi as hy sê dat die mens die enigste kultuurskeppende wese is, omdat ons ʼn gesplete wese tussen die natuur en die gees is. Wanneer ons kultuur beoefen, verryk ons die wêreld deur iets nuuts in die natuur – wat sy oorsprong in die geestelike het – voort te bring. Dit verduidelik waarom kultuur en tradisie vir die mens so ʼn magiese aantrekkingskrag het. Dit praat met jou in ʼn taal wat jy verstaan, maar jy verstaan nie altyd hoekom jy dit verstaan nie. Dit is nie net waardevol vir die mense wat deel is van daardie kultuur nie, maar ook vir diegene wat dit kan aanskou. Deur kultuur bloot af te skryf as iets uit die oude doos wat in die verlede gelaat moet word, betaal mens waarskynlik ʼn baie groter prys as wat mens besef.

NP van Wyk Louw waarsku ons wel in Lojale Verset teen die gevare van ʼn onveranderlike en onbevraagtekenbare kultuur. Hy sê kultuur moet lewe en groei as dit wil voortbestaan. Deur dit ʼn onveranderlike konsep te maak, word dit maklik net iets wat deur skole, universiteite, en die staat gepropageer word. Hy sê ons word later so trots op wat ons reeds bereik het, dat ons dit onveranderd wil bewaar. Deur kritiek op ons eie kultuur te verbied, “stop ons die bron van die geestelike lewe waaruit dit gekom het, toe”. Dit is soos om so trots te wees dat jou kind leer kruip het, dat jy hom nooit wil leer loop nie. Kulture en tradisies wat ontaard in onderdrukking en onverdraagsaamheid, ontbreek gewoonlik hierdie noodsaaklike eienskap van introspeksie. Die kultuur verander dan eerder in ’n kultus, waarin gevangenes reageer op impulse en vrees. Die kultuur word ʼn wapen omdat volgelinge vergeet het hoekom hulle doen wat hulle doen.

Kultuur behoort soos ʼn lewende organisme te funksioneer en sal slegs oorleef, indien dit kan aanpas by die veranderende omgewing. Dis nie altyd die sterkste wat oorleef nie, maar eerder die aanpasbaarste. Met evolusie bly meeste van ’n organisme se basiese eienskappe egter steeds dieselfde, terwyl klein aanpassings die verskil tussen lewe en dood kan maak. Kultuurevolusie behels beslis nie die skrapping van alle beginsels en gebruike nie. Die kernwaardes moet bly voortbestaan, maar klein aanpassings is noodsaaklik. Algehele bewaring en algehele vernuwing is nie die oplossing nie. Soos byna alles in die lewe, is ’n gesonde balans lewensnoodsaaklik.

Kultuur en tradisie is soos ’n hamer. Jy kan ’n huis afbreek daarmee, maar jy gaan beslis sukkel om een daarsonder te bou. Dit is dus noodsaaklik dat ons die regte vernuwende gebalanseerde benadering volg om te verseker dat kultuur wel ons samelewing opbou.

  • Mihan van Zyl is ’n eerstejaarstudent in BA Regte aan die Universiteit Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Ja Mihan, hierdie is ‘n kritiese vraagstuk in die oorlewingsstryd van die Afrikaanse kultuur. Dit is beslis nie ‘n alles of niks vraag nie. Geen verandering/aanpassing, of groei soos van Wyk Louw dit tereg noem, is ‘n doodloopstraat. Totale aanpassing by ‘n globalistiese monokultuur is weer selfmoord.
Ons kultuur se oorlewing gaan ‘n ingewikkelde ballanseertoertjie vereis van die vir wie dit kosbaar is. Ons moet ook aanvaar dat daar nie net een aanvaarbare weergawe van ons kultuur is nie. Subspesies is deel van die oorlewingsmeganisme van enige lewende ding. ‘n Sterk kultuur is die basis van enige suksesvolle beskawing en daarom is dit die moete werd om vir die voorbestaan daarvan te veg. .

Delarey ·

Soos Mihan uitwys is daar onsigbare morele en etiese padkaarte vasgevang in ons kultuur wat dien as oplossing vir probleme waarvan ons nie eers weet nie.

Vir Afrikaners is dit so natuurlik soos om asem te haal om vandag te besluit wat jy moet doen om in die toekoms te bereik waarna jy mik.

Vir meeste kulture in die wéreld is dit egter vanselfsprekend om vandag te besluit wat jy moet doen om dit wat in die verlede gebeur het reg te stel.

Soortgelyk hoor ek elke dag hoe Afrikaners kopkrap en planne maak en uitvoer om moeilike omstandighede te bowe te kom. Daarteenoor is dit veral vir mense in Afrika net logies om rond te kyk om vas te stel wie se skuld dit is en die persoon te blameer.

Vergewensgesindheid (toekomsblik), selfverantwoordelikheid en baie ander amper “onsigbare” waardes is vasgevang in ons kultuur omdat ons nog altyd ‘n gelowige volk was. Dis net logies dat ons kultuur sal aanpas maar solank ons net ge-anker bly in God se onveranderbare Woord sal ons oorkom en uitstyg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.