Die toekoms van werk: ʼn Kykie vir vandag se jongmense

student-werkende-jongmens

Foto: StartupStockPhotos/Pixabay.com

Deur Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand

Jongmense leef in ʼn baie opwindende tyd. Hoewel uitdagings soos die wêreldwye trae ekonomiese groeikoers, armoede en ander uitdagings baie groot is, is die geleenthede vandag ewe groot. Die geleenthede wat oor jongmense se pad gaan kom, maak ʼn volwassene amper jaloers, maar maak ʼn mens soms ook dankbaar dat jy in ʼn eenvoudiger wêreld grootgeword en studeer het.

Ek wil graag vir jongmense ʼn kykie gee na hierdie opwindende tyd waarin jy leef, ek wil jou uitdaag, ek wil jou ʼn gesonde dosis ongemak met die status quo laat ontwikkel. Jy het jou eie, unieke talente en ons durf jou nie laat in ʼn toestand van selftevredenheid en gerustheid nie.

Werk in 2020

Die World Economic Forum het einde Januarie vanjaar ʼn breedvoerige studie vrygestel met die titel “The future of jobs”. Volgens dieWEF is die twee grootste veranderlikes in die wêreld van werk tot 2020 die veranderende werksomgewing en buigsame werk-reëlings en mobiele internet- en wolk-tegnologie.

Die eerste punt handel oor nuwe tegnologie, wat innoverende werksomstandighede soos afstand-werk, die deel van werkspasie en telekonferensies behels. Organisasies gaan al hoe minder voltydse personeel in diens neem en gaan kollegas op ander plekke in die land, of selfs die wêreld, gebruik as konsultante. Platforms soos fiverr.comupwork.com en freelancer.com is reeds groot en raak al groter. Die webblad Freelancer het 18 157 461 gebruikers en 8 329 516 stukke werk beskikbaar. Werk is wat mense doen; nie waar mense is nie. Mense gaan vir stukke werk betaal word, nie vir voltydse indiensneming nie.

Nie net gaan jy ʼn gesonde dosis ongemak moet begin kry oor wat werk behels nie, maar wie dit van waar in die wêreld doen. Jy gaan begin meeding teen die bestes in die wêreld. Ewe skielik sal jou grafiese ontwerptalente, jou programmeringsvaardighede of jou skryfvermoë moet kan meeding met wat iemand in ʼn land soos Indië, China of Amerika kan bied. Volgens die WEF-verslag wil 3 miljard mense werk, maar net 1,2 miljard poste ter wêreld is beskikbaar. Dit is nie meer moontlik om te dink daar wag vir jou beskermde werk in Suid-Afrika nie.

Verder verwag die verslag ʼn wêreldwye verlies van ongeveer 7,1 miljoen voltydse poste. Die goeie nuus is dat sterk groei verwag word in beroepe wat vaardighede behels met rekenaars, wiskunde, argitektuur en ingenieurswese.

Jy moet jouself afvra of jy goed is met hierdie vakke? Kan jy meeding met die beste ter wêreld in hierdie velde?

10 000 ure

In die boek Outliers praat Malcolm Gladwell van die magiese 10 000 ure. Dit is die tyd wat dit neem om ʼn spesialis te word – of dit nou is om ʼn rugbybal te skop, ʼn gholfstok te swaai, ʼn musiekinstrument te bespeel of die inoefening van wiskunde is.

Niemand ontkom die 10 000-ure-reël nie. As jy dus 10 000 ure se oefening en ondervinding het, klop jy altyd mense met minder ure op daardie bepaalde terrein. Onthou talent stel niemand in staat om hierdie reël te omseil nie. Gaan jy op een van hierdie belangrike terreine 10 000 ure insit?

Die World Economic Forum los ons nie hier nie, maar maak ons dalk nog ʼn bietjie meer benoud met die  nuus dat 40 persent van die inligting wat jy in jou eerstejaar op universiteit leer, verouderd sal wees teen die tyd dat jy graad vang. Vandag se werknemers gaan teen 2020 ten minste 30% nuwe inligting benodig en teen 2020 gaan 36% van alle poste die oplos van ingewikkelde probleme behels, teenoor slegs 4% wat fisiese krag gaan vereis.

Verstaan jy hoe leergierig jy sal moet wees en bly?

Prof. Gerrit Stols van die Universiteit van Pretoria maak ʼn deeglike studie van Afrikaanse leerders se wiskunde en vind Suid-Afrikaanse leerders is baie goed met prosedures, maar vaar swak met probleemoplossing. Met ʼn app soos Wolfram Alpha is enigiemand in staat om binne 10 minute 2014 se Graad 12 Wiskundevraestel 1 te slaag. Rekenaars kan dus goed wiskunde doen, maar mense is baie beter met probleemoplossing.

Gaan jy jou 10 000 ure insit met probleemoplossing? Daar is ʼn paar miljoen Chinese wat bereid is om dit te doen en hulle gaan met behulp van die internet in jóú land met jou kom meeding vir werk.

Terwyl ons praat oor ʼn gesonde dosis ongemak met die status quo, hier is nog ʼn paar feite:

  • Die Library of Congressse rakke strek oor 1 340 kilometer en bevat 38 miljoen boeke. Die internet vervoer elke 2 sekondes dieselfde hoeveelheid inligting as die hele Library of Congress. Kennis is nie genoeg nie en om iets te Google is nie genoeg nie. Jy sal probleme moet kan oplos.
  • Sommige beroepe is baie vinnig aan die verander weens nuwe tegnologie. Leuenverklikkertoetse begin al hoe betroubaarder word en mag moontlik ʼn uitwerking op die regsprofessie hê.
  • 90% van opleiding gaan binnekort aanlyn plaasvind met tegnologie wat die vermenigvuldiger is. Courserahet 17 miljoen ingeskrewe studente en bied 1 800 kursusse by van die wêreld se beste universiteite aan.
  • Bestuurderlose motors gaan motorongelukke uitskakel en sodoende kan dokters se werk begin verminder.
  • Waarheen is ons op pad met robotte en hommeltuie (drones), 3D-drukwerk, hernubare (skoon) energie?
  • Het jy al gehoor van IBMse slimrekenaar, Watson? Watson het in 2015 ʼn kind met ʼn seldsame siekte binne 9 ure korrek gediagnoseer – ʼn diagnose wat ʼn span spesialiste 9 dae neem. Watson voorspel 8 duim sneeu in New York City in Januarie 2015 – die VSA-weerdiens voorspel 3 voet. Dit sneeu 9 duim.

My vraag aan jou is: “Is jy gereed vir hierdie wêreld?” Is jou moue as’t ware al halfpad opgerol vir hierdie uitdaging? Jy moet onthou jy het wat dit verg om hierdie uitdagings die hoof te bied. Dit sal minstens ʼn goeie ding wees indien jy net ʼn gesonde dosis ongemak teenoor die status quo ontwikkel.

ʼn Goeie werk en ʼn fantastiese werk

Gallup, die wêreldbekende opname-maatskappy, se bevindinge oor ʼn goeie werk het gewys die meeste mense in die wêreld wil die graagste van alle dinge ʼn goeie werk hê. Wat is ʼn goeie werk? Dit is ʼn werk waar jy meer as 30 ure per week werk en daarvoor betaal word. Hoeveel mense wêreldwyd het ʼn goeie werk? Minder as 50%.

Wat is ʼn fantastiese werk? ʼn Werk waar jy voel jou werkgewer gee om oor jou groei, jy word aangewend waar jy jou sterk punte kan gebruik en jy dra by tot iets groots.

Ek wil jongmense aanmoedig om hierdie aspekte as kriteria te gebruik wanneer jy eendag begin werk soek. Sal my werkgewer omgee oor my groei, my aanwend op terreine waarin ek sterk is en sal ek daagliks betrokke wees by iets groots?

Harde werk

As gevolg van tegnologiese ontwikkeling, versnel die wêreld van werk. Jy het dít wat dit gaan verg om bo-uit te kom, maar jy sal hard moet werk – 10 000 ure se harde werk – om bo uit te kom. Hier is drie kort gedagtes oor harde werk:

  • As jy hard werk, sal jy eendag die vrugte daarvan pluk; as jy nie hard werk nie, sal jy eendag vrugte pluk.
  • Dank God elke oggend wanneer jy opstaan dat jy iets het om te doen wat gedoen moet word, of jy daarvan hou of nie. Om jou bes te doen met jou werk sál selfbeheer, pligsgetrouheid, wilskrag, tevredenheid, matigheid en baie ander kwaliteite in jou kweek – kwaliteite wat doellose mense nooit sal ken nie.
  • Aldous Huxleysê: “The most valuable of all education is the ability to make yourself do the things you have to do, when it has to be done, whether you like it or not.”

Ter afsluiting

In ʼn studie wat sedert 1938 deur Harvard Universiteit gedoen word, word 724 mans se lewens bestudeer. Sestig van hierdie mans lewe nog en word steeds bestudeer. Dis die langste studie ter wêreld en ʼn studie wat die vraag probeer beantwoord: “Wat maak en hou ons gelukkig en gesond?” Die mans word besoek, ondervra oor hul lewens, hul breine word geskandeer en hul mediese inligting word bestudeer. Onderhoude word ook met hul geliefdes gevoer. Die les wat uit die studie geleer is, is die volgende:“Goeie verhoudinge hou ons gelukkig en gesond.”

Dus, goeie, sterk, gesonde verhoudinge met familie en vriende is goed vir ons gesondheid en ons algemene welstand. Maak seker jy werk aan verhoudinge met jou ouers en jou broers en susters, oumas en oupas, ooms en tannies. Moenie dink jy kan dit later doen nie; dit word net moeiliker.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

John ·

Al bogenoemde verwys na die verlede of is die voorspellings van idealiste en dromers. Unies stel net belang in mense wat reeds ‘n werk het. Die skrywers van sulke artikels het werk of het afgetree met ‘n veilige neseiertjie iewers. Dis soos om vir ouers wat hoor hulle gaan nooit ‘n nageslag he nie, raad te gee hoe hulle moet aanpas en wat hulle moet doen om die behoefte aan kinders te verwerk, deur mense wat kinders het.

Lana ·

Dit is vir my nogal jammer dat artikels soos hierdie so maklik met soveel negatiwiteit begroet word. Eerstens word artikels soos hierdie (soos in hierdie geval) geskryf deur mense wie se lewenstaak dit is om mense te help om ten spyte van swak ekonomiese toestande, die toekoms met hoop te kan ingaan. Tweedens stem ek saam dat ons swaar gaan kry as ons nie opportunisties en kreatief gaan begin soek na maniere om deur harde werk ons Godgegewe talente te gebruik om vir onsself werk te skep buite die konteks van ‘CV in die hand by ‘n werksonderhoud instap in die hoop om ‘n vaste werk te kry’ nie. Dis glad nie so onrealistiese droom nie – ek is baie bevoorreg om die ongelooflike moontlikhede van ‘uit die boks dink om self werk te skep’ daagliks voor my te sien ontvou.

Conrad ·

Goeie artikel…dit maak my ongemaklik voel maar ek hou van die boodskap van ewige herontdekking van die menslike potensiaal.

christine ·

My seun woon in Australia maar werk vir n New Zealand maatskappy elke oggend 3uur sit die man voor sy rekenaar weens die tyd verskil. Lekker vanaf sy eie huis. So nie vergesog nie.

Realis ·

Insiggewende artikel , ongelukkig net vêr van realiteit af. ‘n Aanvraag na Ingenieurs, Argitekte ? Ek is nie oortuig nie. Jongmense sit met grade en kry nie werk in enige van daardie twee rigtings nie. Probleem ? Regstellende aksie en ondervinding. Niemand is meer bereid om jong graduante ‘n kans te gee nie. Vandag word verwag dat jy begin met ‘n werk en kan produseer van dag 1 af. Jongmense is moedeloos !

xa ·

Ek stem saam oor argitekte en grade in baie rigtrings maar ingenieurs en die ander beroepe hier genoem is in groot aanvraag, veral as die persone bereid is om self inisiatief te neem as hulle nie direk na afstudeer werk kry nie. Hierdie artikel is so belangrik dat Soltech en Academia hierop moet fokus, en die inhoud hiervan moet bo op die agenda kom. Ons is vining oppad daarheen en moet dit nou aanspreek. Teen die tyd dat vandag se kinders die beroepswereld ingaan dan is dit reeds ten volle realiteit. En die wat dink dit is nie realiteit nie gaan kyk gerus na die websites hier genoem en gaan kyk bietjie wat die tech maatskappye in die wereld nou mee besig is, vind uit oor AI, IoT, drones ens. en word baie vining wakker.

Johann Marx ·

Realis? Regstellende aksie is net in SA ‘n realiteit. Ek ken ten minste VIER briljante Ingenieurs wat vir SA soveel kon beteken het……maar nou in Skotland woon. Vir dieselfde werk wat hulle hier vir R1 sou gedoen het, doen hulle nou vir R23 in Skotland……en dis nie die Skotte se skuld nie. Die belangrikste ding wat enige jong mens met ruggraat moet leer…..is dat Suid Afrika ‘n opleidingsfasiliteit is (ten spyte van)…..maar dat “regte werksgeleenthede” in ander lande vir jou wag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.