Die (toe)stand van die nasie

staatsrede zuma

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede op 9 Februarie 2017. Foto: Ngizozo Jiyane/GCIS

Dit is nou twee weke sedert pres. Jacob Zuma sy staatsrede gelewer het en steeds is die inhoud en die gebeure van die aand onder bespreking. Aan die een kant het die EFF se ontwrigting van die verrigtinge vir hoofopskrifte in koerante gesorg. Dit was egter nie ’n groot verrassing toe EFF-parlementslede die een punt van orde ná die ander opper en daarmee volhou tot hulle uiteindelik uit die parlement verwyder is nie. Die algemene voorspelling was dat die rooipette dinge sal ontwrig, Zuma sal giggel en dat Afrikaners as ’n gerieflike sondebok vir die toestand van die land en die probleme wat daarmee gepaardgaan, gebruik sal word.

Die woord “wit” het verskeie kere in die staatsrede opgeduik en nie een keer in ’n positiewe sin nie. Soos met Jan van Riebeeck ’n paar jaar tevore was die “wit gevaar” vanjaar voorgehou as die rede vir Suid-Afrika se probleme. Hierdie “wit gevaar” wat te selfsugtig is om hulle bystand te lewer met die herverdeling van grond en rykdom en hierdie “wit gevaar” wat die oorsaak is van swart armoede.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, is sedert die aankondiging dat hy homself verkiesbaar gestel het, verskeie kere van populisme beskuldig. Niemand was egter al meer skuldig aan populisme as Jacob Zuma met sy onlangse staatsrede nie. Soos verwag het die term radikale ekonomiese transformasie ’n belangrike deel van die staatsrede gevorm. Dié term word baie akkuraat beskryf deur die redakteur van Die Burger, Willem Jordaan, as ’n populistiese vernissie wat oor die president en die ANC-regering se volslae rigtingloosheid op ekonomiese gebied aangebring word. Dié rigtingloosheid en die steun wat die EFF geniet, was bes moontlik die belangrikste rede vir die gebruik van die term. Die gebruik van die term is ook ’n poging om die skuld vir die wanhopige situasie waarin die land verkeer op die “wit gevaar” te plaas. Dit bly natuurlik ’n oop vraag of die hele ANC-regering aan boord is met die president se ekonomiese planne. Een verslaggewer het opgemerk dat die minister van finansies, Pravin Gordhan, nie een keer hande geklap het tydens die afgelope staatsrede nie.

Nog ’n onderwerp wat opgeduik het, is dié van versnelde grondhervorming. Tot op hede het die ANC se grondhervormingsplan liederlik misluk weens die ANC se administratiewe onvermoë – NIE weens hardkoppigheid van die boere nie. Wat wel rooi ligte laat flikker, is die feit dat die ANC ’n harde pak slae gekry het tydens die afgelope munisipale verkiesing. Dit is dan wanneer dié tipe populistiese uitsprake na vore tree en dit wek die indruk dat pres. Zuma ’n ruiltransakie in aanloop tot die 2019-verkiesing wil beklink: grond in ruil vir stemme.

In repliek op die staatsrede-debat het pres. Zuma gesê dat die herverdeling van grond nie as haat teenoor witmense gesien moet word nie. Dié repliek volg nadat hy tydens die staatsrede-debat hard ʼn pak slae gegee is oor sy uitlatings oor witmense. Hoewel pres. Zuma dit uitdruklik gestel het dat die herverdeling van grond nie onwettig gedoen sal word nie, het Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, by die debat op die staatsrede uitgelig dat ’n pre-koloniale oudit van grondeienaarskap, die gebruik van grond en verblyfpatrone nodig is. Daarna sal ’n enkele wet volg om die kwessie van restitusie sonder vergoeding aan te raak en, indien nodig, sal grondwetlike wysigings nodig mag wees. Dié tipe uitsprake, ongeag hoe lief pres. Zuma ook al mag beweer hy witmense het, herinner baie aan die uitsprake van Robert Mugabe in sy pogings om ZANU-PF aan die stuur van sake in Zimbabwe te hou.

’n Verdere vraag is of pres. Zuma daarin gaan slaag om die ANC se bestaande steun te behou. Diegene wat reeds die ANC verlaat het vir die DA of die EFF is nie van plan om terug te keer nie. Daar is enkele voorbeelde van diegene wat hulle terugkeer maak, maar dit is die uitsondering en nie die reël nie. Die leier van die EFF, Julius Malema, het die opmerking gemaak dat hulle die staatsrede sal onthou wanneer daar in 2019 oor koalisies onderhandel word. “Laat hulle Zuma hou tot 2019. Laat hulle ’n Zuma-veldtog dryf. Mense sal onthou dat hulle ’n boef aangehou het,” het Malema bygevoeg. Selfs die meer gematigde leier van die DA, Mmusi Maimane, het die volgende opmerking gemaak: “Die bevryder is nou die onderdrukker – die vyand van sy mense.”

Die afgelope paar jaar se staatsredes bevat ook ’n tikkie ironie. Dit was pres. Zuma wat bepaal het dat die staatsrede eerder in die aand gelewer moet word in plaas van 14:00 in die middag soos die tradisie was. Sy motivering was dat meer mense dit dan sal kan kyk. Dit is dus vreemd dat die Zuma-regering, wat mos wil hê dat meer mense na die staatsrede kyk, seinblokkeerders inspan om te verhoed dat joernaliste daaroor verslag doen. Daar lê tog ’n bietjie troos daarin dat pres. Zuma se jongste staatsrede ook sy laaste een was.

Daar is egter diegene binne die ANC wat nie bereid is om te wag dat pres. Zuma eers in 2019 groet nie. Een van die persone is Matthews Phosa, ’n prominente figuur binne die ANC wat die afgelope week gesê het dat die ANC hom walg. Phosa sê ook dat hy weier dat sy kis in dieselfde begraafplaas sal rus as “leiers wat gekies het om hulle korrupte belange bo diegene wat hulle beloof het om te dien, stel”. Die uitlating van Phosa, die onlangse gebeure in die parlement tesame met die Speaker se weiering om die nagedagtenis van die 94 psigiatriese pasiënte wat weens die regering se nalatigheid gesterf het te gedenk, is die ware aanduiding van wat die stand, of eerder (morele) toestand, van Suid-Afrika tans is.

Waar laat dit ons as Christene? Moet ons moedeloos raak en ons kop in ons hande steek? In Psalm 2 word daar gevra: Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Psalm 2 gaan verder: Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Die psalmdigter gaan dan verder en vertel hoe klein en eintlik belaglik die planne wat dié regeerders maak, in God se oë is. Vers 4: Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. En dan, in verse 11 en 12 voorsien die Here gelowiges met raad en vertroosting: Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil! Al word ons hoe moedeloos, mag ons nooit vergeet wie werklik in beheer is nie!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

James Kemp

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Psalm 37: “Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort… Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

gatiep ·

Anoniem mens kan darm nie agter oor sit en alles in die Here se hande laat nie.
As skelms nie uitgewys word nie watse soort wereld sou jy nou in gebly het?Daar is baie mense wat hulle lewe waag en opoffer om skelm uit te wys.

Katjie ·

Dit is so waar ! Ons vergeet van die Here en sy belofdes vir ons so gereeld want ons vestig ons oë op die mens en al sy foute . God sal wel ñ nasie red as hulle net weer op hulle knieë sal gaan voor Hom en Hom in beheer van hul toekoms en lewe sit . Dankie Jesus ek weet en vertrou U sal ons verlos van die onsekerheid wat oor ons volk is . Amen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.