Die toorn van swart rassiste: “Niemand weet meer wat om te doen nie”

Jesse Williams ontvang die humanitêre toekenning by die BET-toekennings by die Microsoft-teater in Los Angeles (26 Junie 2016) Foto: Matt Sayles/Invision/AP

Jesse Williams ontvang die humanitêre toekenning by die BET-toekennings by die Microsoft-teater in Los Angeles (26 Junie 2016) Foto: Matt Sayles/Invision/AP

By die onlangse Black Entertainment Television- (BET-) toekenningsgeleentheid het die Grey’s Anatomy akteur Jesse Williams ʼn fel aanval op wit mense geloods:

We’ve been floating this country on credit for centuries, yo, and we’re done watching and waiting while this invention called whiteness uses and abuses us, burying black people out of sight and out of mind while extracting our culture, our dollars, our entertainment like oil – black gold, ghettoizing and demeaning our creations then stealing them, gentrifying our genius and then trying us on like costumes before discarding our bodies like rinds of strange fruit. The thing is though… the thing is that just because we’re magic doesn’t mean we’re not real.

Die skare het hom staande toegejuig en die toespraak word wyd aangeprys. Selfs Justin Timberlake het aan sy 55 miljoen Twitter-volgelinge vertel Jesse Williams se woorde het hom geïnspireer.

Wat Timberlake klaarblyklik nie verwag het nie, is die stortvloed woede wat in die sosiale media teen hom gerig sou word. Hoe durf hy hom met swart mense se stryd vereenselwig as hy sélf nie swart is nie? was die aanklag. Timberlake het aanvanklik probeer om konteks te gee deur te antwoord ons moet besef ons is almal eintlik dieselfde, maar dit het dinge net vererger. Kort daarna verklaar hy op Twitter hy is verkeerd verstaan en hy is werklik deur Williams se toespraak geïnspireer. Hy het ook nederig om verskoning gevra aan al Williams se aanhangers wat seergemaak is deur sy (Timberlake se) verklaring dat hy óók vir Williams ondersteun.

Maar nie net Justin Timerlake het deurgeloop nie. Jesse Williams self het onder die Amerikaanse Black Lives Matter-groep deurgeloop. Hoe durf Williams – ʼn swart mens met ʼn ligter gelaatskleur – hom oor swart mense se regte uitspreek? Williams is nie swart genoeg om regte swart mense se pyn te verstaan nie, dus moet hy eerder nie daaroor praat nie… of iets in dier voege.

Die hele storie mag dalk absurd klink, maar vir ons, hier aan die suidpunt van Afrika, klink dit tog nie só vreemd nie. Om die waarheid te sê: Dié soort ontnugtering wat Justin Timberlake getref het, word gereeld hier in Suid-Afrika ervaar. ʼn Voorbeeld hiervan is die berugte “blackface”-skandale. Twee studente van die Stellenbosch Universiteit het onlangs ʼn temaparty vermom as Venus en Serena Williams bygewoon. Foto’s van hierdie “gruweldaad” het die sosiale media getref en die media het ingespring. “Black face scandal hits Stellenbosch” het een koerant se voorblad verkondig. Lang storie kort: Die studente is ontnugter en moes, net soos Timberlake, in die openbaar vir hul gedrag om verskoning gevra.

Die rassiste word kwater

Hierdie soort optrede is gewis kommerwekkend. Dit lyk asof swart rassiste – wat onder die vaandel van menseregte-aktiviste paradeer – al aggressiewer raak: nie net in hul uitlatings nie, maar in hul verwysingsraamwerk as geheel. Só ervaar ons byvoorbeeld dat daar onder swart aktiviste in die VSA deesdae ʼn groterwordende mate van afkeur teenoor hul grootste held, Martin Luther King, uitgespreek word omdat King te “vreedsaam” was, terwyl geweldstokers, soos Malcolm X, al meer as die ware helde voorgehou word.

Klink dit dalk bekend?

In Suid-Afrika hoor ons ook hoe die EFF en hul splintergroepe, soos die #RhodesMustFall- en #FeesMustFall-aktiviste, al meer sê Nelson Mandela was ʼn verraaier wat hulle uitverkoop het, omdat hy te hard probeer het om vrede te maak en nie genoeg van die wit mense gevat het nie. Ander radikaler helde word ook opnuut in Suid-Afrika geprys.

Rassisme is egter nie so wyd nie

Tog bevind wetenskaplike studies dikwels dat rassisme in Suid-Afrika nie so erg is as wat hierdie aktiviste dit wil maak nie. ʼn Ewekansige steekproef, wat in opdrag van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRR) gedoen is, het byvoorbeeld bevind slegs 4,7% van alle Suid-Afrikaners beskou rassisme en vreemdelingehaat as een van die land se grootste onopgeloste krisisse. Bykans 60% van swart Suid-Afrikaners glo rasseverhoudings het sedert 1994 verbeter, terwyl 77% glo sportspanne moet op meriete gekies word en kwotas moet nie ʼn rol speel nie. Die verstommendste bevinding van hierdie studie is dat 79,4% van swart (dis nou “black African”) Suid-Afrikaners aangedui het hulle ervaar geen rassisme nie!

Hoewel die SAIRR se integriteit ver bo verdenking is, strook dié syfers hoegenaamd nie met dit wat moderne rassismehandelaars as die waarheid probeer voorhou nie. ʼn Rassismehandelaar is iemand wat sy/haar loopbaan bou deur voor te gee rassisme is Suid-Afrika se grootste krisis en dan hulself as die helde in die stryd teen (veral wit) rassisme probeer voorhou. Rassismehandelaars se loopbane is daarvan afhanklik om my en jou te vertel Suid-Afrika loop oor van rassisme en hulle het die oplossings. Daarom, reken hulle, moet jy hul boeke koop, vir hulle stem of hulle betaal om as spreker by jou funksies op te tree (knipogie-knipogie).

Absurditeit bereik ʼn nuwe laagtepunt

Net so sien ons dat die absurditeit van argumente gereeld nuwe laagtepunte bereik, soos die #FeesMustFall-vrou, wat op e.tv vir my gesê het sy kan nie asemhaal as sy Mandela (die sogenaamde verraaier van swart mense) se naam hoor nie, of dat dit rassisties is as ʼn Afrikaanssprekende persoon ʼn swart persoon oor hul goeie Afrikaans komplimenteer, of dat wit mense soms swart mense se name verkeerd uitspreek omdat hulle in wese rassisties is. Sy sluit die stelling af met: “And I can guarantee you that that has never happened to Ernst.” En spreek my naam dan uit as “Ênêst”.

Dalk die absurdste argument is dié van die rassismehandelaar, Eusebius McKaiser, wat aanvoer apartheid moet blameer word vir die wrede moorde wat swart Suid-Afrikaners op swart buitelanders pleeg. Sy argument kom daarop neer dat swart mense nie geweet het wat geweld was voordat wit mense hier aangekom het nie en dat apartheid en kolonialisme swart mense geleer het dat hulle geweld teen mekaar kan pleeg. Hy skryf:

Colonialism and apartheid have tragically damaged the moral compasses of many black South Africans. This is why we show a reduced humanity towards fellow Africans.

Ek neem dus aan dat McKaiser nog nie van Mzilikazi of die Mfecane gehoor het nie.

Dit is aggressie soos hierdie, gekombineer met die absurdste argumente denkbaar, wat maak dat rasionele wit en swart mense van die debat oor rassisme onttrek.

Die “heilige” woede

Dit blyk egter dat hierdie tipe argumente in ʼn groot mate verdra word, omdat rasionele mense nie kans sien vir die verbale geweld waaraan hulle hulself blootstel indien hulle dit durf waag om hul opinies uit te spreek nie, veral as hulle wit is of nie swart genoeg nie.

Die soort woede wat deur moderne swart rassiste uitgespreek word, kan in ʼn sekere opsig as toorn beskryf word, eerder as blote aggressie. Toorn is nie gewone woede nie, maar verwys eerder na ʼn goddelike of heilige woede. Dit is ʼn soort woede waarop jy nie kan of mag antwoord nie, omdat die een wat dit uitspreek onaantasbaar is en jy, vanweë jou sondige natuur, geen reg het om jou daaroor uit te spreek nie. En as jy sou waag om dit te doen, sal jy vir jou sonde gestraf word. Dit is ten minste hoe vandag se swart rassiste die situasie sien.

Dit is waarom Dinesh D’Souza in die voorwoord van sy boek The End of Racism verklaar hy is nie wit nie en die kleur van sy vel verskaf vir hom ʼn mate van immuniteit om met ʼn mate van vrymoedigheid oor rassisme te praat – iets wat vir wit mense feitlik onmoontlik sou wees.

Die sosioloog Christopher Jencks het die dilemma goed opgesom:

Many blacks are angry and many liberals are frustrated. Nobody knows what the hell to do.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

46 Kommentare

jongste oudste gewildste
Connie

Die ANC se einde aan rassisme maar hulle is die wat dit die meester aanvuur. Dit sal stop as hulle stop en ook die EFF.

Christo

Skitterende artikel.

Bert

Die opkoms van ‘n verhoogde swart rassisme en swart ‘assertiveness’ is sekerlik te danke aan die verkiesing van Obama.

Andre

Puik artikel Ernst!!! DANKIE!!!

John

Daar is mense wat rassisme ten alle koste lewendig wil hou. Dis ‘n groot ‘money-spinner’ en dit lok onderdanige meelopers en finansiele ondersteuning vir die ‘saak’.