Die tradisionele skoolbiblioteek in die 21ste eeu

Deur dr. Nic de Jager

ʼn Akademia-student besoek die mediasentrum (Foto: Verskaf)

Daar is baie te sê oor die gevoel van ʼn boek in ʼn mens se hande. Vergeet van die clichés, dit is die gevoel van die papier, die reuk van die ink, die aksie van die omblaai en die omslagontwerp wat ons dikwels op reise neem na verre lande en oorleweringe.

Om te lees, soos dit voor die koms van skermtegnologieë daar sou uitsien, is in wese ʼn selfreflektiewe, kropgevoel-ervaring, en een wat steeds vir talle mense ontsnapping bied uit ʼn rumoerige wêreld wat blyk om vinniger en nóg vinniger te draai. Die getuienis hiervan lê veral in die groot boeke; hul skeppers, hul lesers, en hul geharde aanhangers.

Dit blyk dat die boek, of dit nou ʼn geskrif uit die oudheid of ʼn moderne roman is, groter is as die som van sy dele. Tog is dit hulle kleinste deeltjies ‒ hul letters, woorde, verse of enkele sinsnedes ‒ wat die hardste uitskreeu vir ons aandag, ons insig en ons begrip.

Die formaat en materiële vorm van die boek, soos ons dit vandag ken, is egter die gevolg van duisende jare se ontwikkeling op allerlei artistieke, literêre en tegnologiese gebiede volgens Lyons. In die antieke, oftewel klassieke periode, was lang rolle van saamgepersde papirus- en rysblare die voorkeur van skrifgeleerdes oor die wêreld heen. Die spykerskrifkleitablet het egter die perkamentrol met sowat 400 jaar voorgeloop.

Op die kleitablet is ons menswees ‒ ons drome, ons vrese, ons oorwinnings en ons begrip van die natuurlike wêreld oor die algemeen ‒ vir die eerste keer vasgevang in opgetekende geskiedenis. Eers in die 15de eeu sien die tradisionele “boek” die lig van dag; ʼn kodeks met opgestapelde bladsye, binne ʼn stewige omslag.

Met hierdie ryk geskiedenis van die boek in ʼn neutedop, ontstaan die vrae: Waar vind die boek sy heenkome ‒ sy ideale tuiste? Waar vind hierdie stomme tekste hul weg na die verstand wat wil leer, beredeneer, bevraagteken, of selfs net vir ʼn oomblik wil ontsnap uit die moeras van verwarring, of nuwe wêrelde wil skep uit blote lug?

Dr. Nic de Jager, dosent in Opvoedkunde by Akademia. (Foto: Verskaf)

As ons aanvaar dat die bewaring van alle kennis en menservarings eintlik in die hande van ons jeug lê, sal die antwoord dan nie die skoolbiblioteek wees nie? Dit is myns insiens die ideale plek om opnuut ʼn liefde vir lees by kinders te kweek. In die Suid-Afrikaanse konteks is dit egter ʼn ingewikkelde kwessie, wat nie binne die bestek van hierdie meningstuk hanteer kan word nie.

Biblioteke kos geld, en die logistieke faktore agter die vergestalting van ʼn skoolbiblioteek is talryk en uiteenlopend ‒ veral as die gemeenskaplike ondersteuning, befondsing en/ of skenkings daarvoor ontbreek.

Sou daar ʼn biblioteek op die grond van ʼn sekere skool wees, kan ons natuurlik ook vra: Wil kinders lees, en wil hulle nog uit boeke uit lees? In hierdie verband blyk daar ʼn lig aan die einde van die tonnel te wees. Volgens De Waal is daar sedert 2019 ʼn toename van 4,7% in die verkope van fisiese boeke landswyd. Sowat 66% van hierdie verkope is volgens ʼn studie deur die departement van basiese onderwys behartig, met kinders en jong volwassenes as hul teikenmark.

Die onus lê egter op ouers, onderwysers, bestuur, en die skoolgemeenskap oor die algemeen om kinders te sensitiseer tot die genot en magdom kennis wat uit boeklees verkry kan word. Of dit nou deur boekeklubs, leesperiodes of biblioteekdiens geskied ‒ of selfs die moontlikheid dat gereelde lesers toegang tot die fasiliteite gedurende pouse kan kry ‒ moet die skoolbiblioteek in ʼn sin bemark word as die hart van die skool.

Bygesê, daar sal altyd leerders wees wat nie só tuis voel op die sportgrond nie, en eerder hulself wil uitleef binne die blaaie van ʼn goeie boek. Ek sluit met die volgende af, en dit kom uit persoonlike ervaring. Dit is hier, in die biblioteek, waar jy werklik veilig voel, waar jy voel jy word verstaan, en waar jy kan wegraak in ʼn betowerde landskap met kastele, konings, ridders, drake, magiese swaarde… en die belofte van avontuur.

  • Dr. Nic de Jager is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Interessant. Dit hang definitief van persoon tot persoon af. Al wat ek kan se, is dat as dit nie vir audioboeke (klankboeke?) was nie, sou ek nooit boek “gelees” het nie. Ek is seker een van die min persone wat uiters geirriteerd raak met ‘n boek in die hand (of op een of ander toestel). Ek kan dit net nie hanteerom so te lees nie. Maar ek kan vir ure luister. Die gevolg is dat ek deur ten minste 10 boeke ‘n maand gaan (deur te luister). In my geval is dit die verskil tussen wel boek “lees” of glad nie boek lees nie.

Anel ·

Boeke is my lewe. Van klein dogtertjie tyd af, was daar niks wat vir my lekkerder ruik as ‘n nuwe boek nie. Toe my pa in Frankryk gewerk het, het ons baie gou Frans geleer, net om al die boeke te kon lees. Ons het naby ‘n boekwinkel gebly. Daar lyk hulle soos biblioteke. My broer en ek het toe die voorreg gehad om die boeke te kon lees, net daar in die winkel want ons het dit so gedoen dat mens nie kon sien dat die boeke gelees word nie. Net ‘n boekmerk in gesit. Baie keer was ons gelukkig en is die boek nie verkoop nie en kon ons klaar lees. Ons kon nie al die boeke bekostig nie. Maar ons kon darem af en toe een koop en vandag nog het ons ‘n baie uitgebreide tuis biblioteek. Daar gaan nie ‘n dag verby wat ek nie lees nie. Boeke is my lewe!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.