Die tsoenami’s wat Suid-Afrika tref

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Suid-Afrika bloei tans omtrent om verskeie redes. Dit is amper of ons land deur tsoenami op tsoenami getref word. Sommiges het vinnig gekom soos die koronavirus terwyl ander stadig en met verloop van tyd gekom het. Vir sommiges sal iemand moet pa staan, want keuses en besluite het ons noodwendig die ramp ingelei.

Die samevoeging van verskeie volkere het, as sodanig, sy eie uitdaging en word die diepste menswees van elke individu wat in ‘n bepaalde volksverband grootgeword het, met sekere kulturele waardes uitgedaag met die nuwe stel “waardes” wat ‘n sentrale oorheersing teweegbring. Vir sommiges is dit dalk ‘n benadering waarmee saamgeleef kan word, vir ander beteken dit dat die waardestelsels waarin hulle glo en waarmee hulle grootgeword het, heeltemal van hulle ontneem is.

Vandag sit ons steeds met ‘n dubbele waardestelsel waar die tradisionele leiers steeds hulself kan wees, terwyl ander nie daardie voorreg gegun word nie. Oor die jare heen was hierdie ‘n tsoenami wat ons land dalk geleidelik getref het, maar iewers gaan die golf dalk te hoog raak om dit te kan hanteer.

Die beleidsomgewing van die ANC wat fokus op sosialisme en uiteindelik kommunisme, het sedert 1994 geleidelik begin om ‘n soort negatiewe ekonomiese boodskap uit te stuur. Die ekonomie was oor die jare heen “geduldig” met die swak beleid en so ook die privaat sektor. Die markkragte maal egter onverpoosd voort en laat nie met hom mors nie. Vertroue is die wagwoord en sodra dit enigsins lyk of beleggings nie meer veilig is nie – en ook as dit blyk dat die opbrengs op kapitaal in gedrang gebring word met aspekte soos ongunstige wetgewing, onveiligheid, arbeidsonrus en onsekerheid – raak kapitaal redelik vlugvoetig en soek veiliger bestemmings. Suid-Afrika het gaandeweg by hierdie punt uitgekom.

Enige rasioneel denkende persoon dink tans mooi alvorens vaste beleggings in Suid-Afrika gemaak word. Hierdie tsoenami het geleidelik gekom, derhalwe die uiteindelike afgradering na rommelstatus – die skade aan die ekonomie sal nie maklik herstel kan word nie.

Onder die ANC se beleid het werkloosheid en armoede verder gestyg. Daar kan ook nie gesê word dat ons nie ruim geleentheid gehad het om die regte dinge te implementeer nie. Vele ekonome en instansies het by herhaling die regte ekonomiese insette gegee, maar is dit blatant geïgnoreer, en die ekonomiese tsoenami se kruin lê nog voor. Hierdie naderende kruin gaan die grootste uitdaging in die toekoms wees om (met ‘n kwynende ekonomie) die sosio-maatskaplike werklikhede wat hieruit gaan voortspruit, te hanteer.

‘n Ander tsoenami wat byna ongesiens ontstaan het, is die verdraaiing van die geskiedenis. Die persepsie is gevestig dat wit mense die land ingekom het as tweedegenerasie-inwoners en daarom eintlik die land kom steel het. Dit is maklik om so ’n afleiding te maak indien die geskiedenis in die lig van vandag se feite gesien word en mense boonop deurlopend gebombardeer word met verdraaide propagandas. Swart mense gaan dalk mettertyd agterkom dat hulle, ook soos die wit mense, tweedegenerasie-inwoners is en dat hul regte dieselfde as die wit mense s’n is. Hierdie tsoenami word deur sekere rolspelers as ‘n rasse-aangeleentheid gesien, vir persoonlike gewin misbruik en jaag só die spanning in die land onnodig op.

‘n Volgende tsoenami is die gebrek aan veiligheid in Suid-Afrika. ‘n Afwesige regering wat nie die wil openbaar om misdaad in al sy fasette die hoof te bied nie, is aan die orde van die dag – noodwendig die gevolg wanneer ‘n struggle-beweging regeer.

Dit is bitter moeilik om van die struggle-reëls en standpunte af te sien. Per slot van sake is dit ‘n regering se twee hooftake om, eerstens, ’n klimaat te skep waarbinne die privaat sektor voel hulle wil graag besigheid doen en, tweedens, om ook na die veiligheid van die land se inwoners om te sien. Elkeen kan maar self besluit in hoe ‘n mate die huidige regering hierin slaag. Die Covid-19-situasie gaan egter groter werkloosheid en armoede veroorsaak met misdaad wat toeneem.

Oor die jare heen laat onderwys- en opleidingstandaarde veel te wense oor. Die deurlopende verlaging van die nodige vereiste om te kan kwalifiseer, het reeds ‘n ongewenste situasie geskep. Is skoliere en studente wel toegerus om die werkomgewing te betree ná afhandeling van hul kwalifikasie? Die ongelukkigheid van mense wat met ‘n sekere verwagting nie ervaar wat hulle reken hulle toekom nie, is daagliks besig om te vergestalt in onluste en die afbreek van onontbeerlike infrastruktuur – inderdaad ‘n tsoenami wat die land lamlê en verhoed om te bou, want die kultuur is eerder om af te breek.

‘n Mens moet bepalende keuses in die lewe maak vir jou eie toekoms. Dit verg die aanvaarding van die verantwoordelikheid vir jou eie toekoms. Dit is daardie mense wat streef na uitnemendheid en hul talente ontwikkel wat die positiewe verskille maak wat nodig is.

Daar is egter nóg tsoenami’s wat ons tref. Die koms van Covid-19 en die gevolge en invloed daarvan, is nie net ‘n saak wat op sy eie staan en as sodanig hanteer kan word nie. Die impak van hierdie virus word gevoel op feitlik elke lewensterrein en vererger al die ander tsoenami’s. Dat hierdie virus die samelewingsorde agterna gaan herrangskik, is ‘n gegewe. Daar sal in die toekoms anders gekyk word na dit wat belangrik is. Die hartseer van die saak is dat die geweldige werkloosheids- en armoedekomponent van die samelewing nie noodwendig die nodige begrip openbaar om te verstaan wat besig is om te gebeur nie. Die opeis van dinge wat die stelsel hulle skuld, sal steeds voortduur en dit gaan net toeneem – met minder middele beskikbaar sal dit net nie kan gebeur nie. Dit is ‘n ope vraag wat die situasie gaan wees ten opsigte van, byvoorbeeld, maatskaplike toelaes indien die ekonomie nie vinnig optel en stabiliseer nie. Suid-Afrika het net nie die vermoë om grootskaalse onrus te hanteer nie.

Die gevestigde kultuur van korrupsie is, onderliggend, ‘n tsoenami wat voortdurend skade aanrig. Sy groot invloed – staatskaping en die plundering van kapasiteit – het juis veroorsaak dat daar tans nie die vermoë is om hierdie tikkende bom in ons land te kan hanteer nie. Daar word baie gepraat en die Zondo-kommissie het hoeveel keer vergader, maar kan daar in wese regtig van korrupsie wegbeweeg word? Die toekoms sal leer. Dit is nou die tyd om die regte dinge reg te doen – ons betaal reeds té lank die prys.

Suid-Afrika se ergste tsoenami gaan die tydperk ná die virus wees. Die impak van Covid-19 op die gesondheid van mense kan nie gering geskat word nie. Die ekonomiese en sosio-maatskaplike gevolge gaan rampafmetings aanneem en dít gaan die groot uitdaging wees wat vir ons voorlê.

Buiten al die energie wat tans ingesit word om die virus te beveg, moet ons ook ernstig fokus om ons ekonomie, sover moontlik, lewendig te hou en weer aan die gang te kry. Die grootste hekkie hierna gaan wees of die regering gaan besef wat die ekonomie nodig het om dit te laat funksioneer. Indien daar volhard word met die huidige beleidsrigting (en daar word volhard met aspekte soos onteiening sonder vergoeding), sal die markte deurentyd negatief reageer en ons net nog verder afgooi. Suid-Afrika het nodig dat daar ekonomiese insig by die regering inskop.

Die vraag wat elkeen hom moet afvra, is of ons tevrede is met hierdie negatiewe tsoenami’s wat ons land met verloop van tyd getref het – sommiges kon ons gewis iets aan gedoen het, soos die regte beleidsomgewing skep, misdaad hokslaan en beter opleiding bied en ‘n kultuur vestig van verantwoordelikheid. Dit was egter oor die jare heen nie die ANC se keuse nie. Ander, soos die Covid-19 wat ons getref het saam met die res van die wêreld, is uiteraard buite ons beheer. Die werklikheid is dat die opbou van negatiewe omstandighede met verloop van tyd gebeur het. Suid-Afrika was reeds baie onstabiel as ons kyk na die daaglikse stakings en onluste wat deurlopend plaasgevind het (oor baie minder belangriker dinge as die voedselgebrek wat voorlê).

Dalk is dit elke verantwoordelike inwoner in die land se taak om nou op die positiewe tsoenami’s te fokus. Dit begin dalk met ‘n waardestelsel wat, soos dit tans ervaar word, ernstig bevraagteken word. Wat is die grondslag wat ons rig met die maak van keuses? Oral beleef mens egter dat die besluitnemingsproses mensgerig is. Mense moet gelukkig gemaak word. Die grondslag van Christelik-nasionaal, waar Christus die middelpunt was en daar gestreef is om tot eer van God ons lewe in te rig, het verdwyn. Het ons dalk die mens nou in die middel geplaas? Dit behoort ons almal se vertrekpunt te wees om dit reg te stel. Dan sal dit nie nodig wees om handveste vir menseregte daar te stel nie, want die Bybel ondervang dit alles, en nog meer.

In die praktyk is daar wel ‘n lig wat voor skyn wat gewis kan help om te stabiliseer. Landbou sal hierna, soos daar tans gesorg word vir voedsel in die rakke, sy rol baie dinamies moet speel. Met 68% van ons bevolking wat reeds verstedelik het, sal die waarde van produserende kommersiële boere behoorlik besef moet word. Honger mense gaan maklik by ‘n rasionele punt verby en kies dan opsies wat moeilik bestuur kan word. Dit moet ten alle koste verhoed word dat die tafel gedek word vir anargie. Ek hoop die regering besef dit en pas hierna drasties aan in sy beleid en gee erkenning aan daardie rolspelers wat maak dat dinge funksioneer.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae