Die Tweede Amerikaanse Burgeroorlog kan wêreldoorlog word

wêreldfoto's

ʼn Betoger verbrand ʼn Amerikaanse vlag tydens ʼn optog in Philadelphia, in die VSA, gedurende die tweede dag van die Demokratiese Nasionale Konvensie in 2016. Foto: AP Photo/Matt Slocum/ANA.

Die politieke konflik in die VSA is besig om in ’n ideologiese “Tweede Burgeroorlog” te ontwikkel. Hul eerste Burgeroorlog was tussen Noord en Suid. Dié een is tussen links en regs, of, in Amerikaanse terme, liberaal teen konserwatief.

Hierdie politieke konflik is nie net meer normale mededinging tussen opponerende partye in die wêreld se oudste moderne demokrasie nie. Dis ’n verbete stryd om idees wat die hele samelewing op elke gebied verdeel, politiseer en polariseer. Die slagvelde van hierdie oorlog is die Amerikaanse Kongres, in state se Wetgewers, die media, universiteitskampusse en selfs die skole. Belangrike ideologiese veldslae word selfs in die howe gevoer, en die kongresverhore van regters wat die Grondwet moet vertolk, is hoofnuus.

Hoewel die Amerikaners nog altyd skerp politieke verdelingslyne gehad het, het dit nou in ’n volskaalse ideologiese burgeroorlog ontaard wat dreig om die demokrasie te ondermyn.

Baie demokrate aanvaar net nie Trump se verkiesing en die Republikeinse oorwinning nie. Hierdie onverklaarde burgeroorlog het ’n lang aanloop gehad, maar is op die spits gedryf deur die onverwagse verkiesing van president Donald Trump twee jaar gelede. Trump se omstrede verlede en sy aanvallende polities inkorrekte styl maak van hom ’n gewilde politieke slaansak. Die linkses se werklike teiken is egter die Republikeinse idee van Amerika. As hulle Trump kan laat val, val alles daarmee saam.

Trump se triomf is selfs vir die Republikeinse gesagsorde ’n dilemma. Hulle is bang dat sy omstredenheid en die oorlog tussen die president en die hoofstroommedia, tot sy val kan lei en die Republikeinse saak groot skade berokken. Hul politieke verskille met die Demokrate en die media is egter baie groter as net politieke persoonlikhede.

Gapende kloof

Die president is dus nie die oorsaak van die konflik nie, maar die gevolg van die gapende kloof tussen die vegtende kampe. Trump se trompop-styl en verdelende optrede is olie op ’n vuur wat reeds woed, maar die brand het ontstaan weens diep en onoorbrugbare verskille. Die Amerikaanse linkses is beslis nie die onskuldige slagoffers in hierdie wedersyds onverdraagsame politieke burgeroorlog nie. Daar is min “demokrate” onder sy linkse teenstanders in die Demokratiese party.

Die wese van hierdie stryd om idees, strek oor die politieke, ekonomiese, maatskaplike en kulturele terreine. Die Republikeine staan vir ’n Amerika gegrond op die Westerse Christendom. Hulle wil die beste van die Westerse beskawing bewaar en verder daarop voortbou. Daarom word hulle Conservatives, oftewel “Bewaarders” genoem. Daarteenoor wil die linkses niks goeds weet van die Westerse beskawing en die Christelike waardes wat dit onderlê nie. Hulle wil eerder die VSA soos die wêreld maak, as die wêreld meer soos die VSA. Dis ’n stryd tussen die Republikeinse idee van identiteit teenoor die Demokrate se ideologie. Anders gestel: waar die Republikeine vra “Wie is ons?”, vra die Demokrate: “Waaraan glo ons?”

Vryheid teenoor gelykheid

Die woord “vryheid” beskryf die Republikeine se lewensbeskouing ten beste, teenoor die linkses se “gelykheid”. Hierdie botsende vertrekpunte lei tot lynreg verskillende sienings van die ekonomie en die rol van die staat. Waar Republikeine aan ’n vrye ekonomie glo, veg die linkses vir sosialisme. Ekonomiese vryheid is vir Republikeine die vryheid om te produseer, teenoor die demokrate se vryheid om te verbruik. Die Republikeine glo die staat moet mense se persoonlike regte en vryhede beskerm. Die linkses wil staatsmag gebruik om vir mense regte te gee. Hulle wil gelykheid afdwing deur ekonomiese herverdeling, omvattende welsyn en voorkeurbehandeling van sekere groepe. Die Republikeine staan vir ’n gelyke wegspring vir almal, die linkse Demokrate wil almal gelyk by die wenpaal hê.

Die linkses is gekant teen konserwatiewe waardes soos die gesin, wet en orde, patriotisme en geskiedenis, staan liberale sosiale waardes voor soos aborsie en genadedood, en is gekant teen die doodstraf vir moordenaars. Die konserwatiewes is demokratiese nasionaliste, teenoor die liberale internasionaliste van die Demokrate.

“Wêreldoorlog”

Die moderne media soos TV en die internet het hierdie “Tweede Amerikaanse Burgeroorlog” wêreldwyd bekendgestel. Dit lyk al meer of hierdie konflik tot ’n nuwe ideologiese “wêreldoorlog” gaan uitkring.

Dit kan gesien word in die politieke grondverskuiwing na regs in Wes- en veral Oos-Europa, asook die verkiesing van demokratiese nasionaliste in lande soos Indië en Japan. Dit lyk al meer of president Vladimir Putin van Rusland ’n wêreldwye konserwatiewe koalisie nastreef, as teenvoeter vir die internasionale liberale alliansie wat hom teenstaan.

Die ideologiese wêreldoorlog verdeel die mensdom hierdie keer nie vertikaal tussen ’n Oos- en Wesblok nie, maar horisontaal binne lande. Die ideologiese loopgrawe is dus nie tussen lande nie, maar horisontaal binne lande, tussen nasionaliste en internasionaliste. Waar die liberale ideologiese bondgenootskap se bindingskrag gegrond is op liberale idees, word die konserwatiewe blok gebou op nasionale identiteit.

Weste teen die reste

Die Harvard-denker Sameul Huntington, het Westerse leiers al jare gelede gewaarsku dat die liberale projek om die Ooste en Suide te probeer verwesters, tot ’n teenreaksie gaan lei. Huntington het ’n globale bedeling bepleit op grond van erkenning en respek vir lande se kultuur en identiteit, eerder as om te verwag dat almal Westerse waardes moet aanvaar. Hy het gewaarsku dat globalisering juis tot ’n konflik tussen kulture kan lei as liberale Westerlinge hulle ideologie op die res wil afdwing.

Vredesresep

Suid-Afrika is ’n mikrokosmos van die wêreld, een land met verskillende “wêrelde”. Hier moet Afrika, die Weste, Indië én Moslems met mekaar saamwerk, al stem hulle nie saam nie. Huntington se resep vir wêreldvrede was dat kultuurblokke moet fokus op dit waaroor hulle saamstem, soos globale vrede, ekonomiese voorspoed en ’n gesonde omgewing. Daarby moet hulle mekaar se kulture respekteer, en nie wêreldwye eenvormigheid probeer afdwing nie omdat dit tot oorheersing en konflik gaan lei.

Die oplossing is dus wedersydse erkenning en respek, ’n fokus op gemeenskaplike belange, en ’n aanvaarding van verskille eerder as die afdwing van ’n kunsmatige eenheid.

Dit is in wese ’n resep vir ’n verdraagsame demokrasie met ruimte vir almal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Judge Dredd ·

To anger a conservative, lie to him.
To anger a liberal, tell him the truth.

Piet Snot ·

Mensdom Flip, maar jy kán skryf.
Uitstekend uiteengesit.

Jerry ·

Alles in die wereld dui daarop dat die volgende wereldoorlog die mense op aarde se laaste oorlog kan wees en dat die oorlog gevoer gaan word oor skoon drinkwater en voedsel. Dat Amerika n tweede burgeroorlog kan he wat kan lei tot n wereldoorlog is seker n moontlikheid, maar heel onwaarskynlik! Trump sal in n staat van beskuldiging geplaas word en gefire word voor Amerikaners dit sal toelaat.

gatiep ·

Jerry moenie vir Alles glo op TV nie.
Trump is die wereld se hoop.
Daar is baie groot arrestasies op pad ja maar nie aan Trump se kant nie.

Boer-in-die-wind ·

Rerig Jerry? Fokus asb ‘n bietjie – wereldoorlog is in aanhalingstekens.

Willem ·

Jerry, lees gerus die artikel hier op Maroela; “Verwronge geregtigheid kan nooit versoening teweegbring”.

Sarie ·

‘n Baie insiggewende artikel wat besig is om in die wêreld te gebeur. Die Amerikaner van Indiese afkoms het ‘n boek geskryf The big lie en daar lig hy uit hoe Obama meer vir die idee van globalisering as vir die regte van Amerikaners gestaan het. Hy is in die tronk gegooi vir sy idees. Onder die Trump administrasie is hy bevry.

Jerry ·

Sarie, met alle respek gese, Trump bevry nie mense nie, hy vry vir hulle en dit blykbaar nogal teen betaling ook!

Boerseun ·

Shame, dit is darm erg vir party mense dat Trump daar is.

Piet Snot ·

Jerry, gaan lees bietjie oor Dinesh D’Souza.
Die FBI het erken hulle het hom vervolg oor sy politiek, en Trump se eerste begenadiging was Dinesh.

KanekVra? ·

Die midde-ooste, ( Israel uitgesluit ) groot dele van Afrika en ander lande soos Indië, en Sjina, Rusland ingesluit, sal nooit die Christendom of die Weste met hulle demokrasie, regtig aanvaar nie. Baie van hulle soek die ” Westerse ” lewenstyl, geld, en Westerse voorspoed, maar nie die Christen geloof nie. Europa is klaar in ‘n gemors, en gaan nie maklik daaruit kom nie, hulle is polities swak, en laat immigrante toe om hulle lande in te stroom, of jy nou dink dis polities korrek gestel of nie. Dis dalk nie net Amerika wat in ‘n oorlog kan verval nie, maar Europa self. Groot dele van Afrika is ook in oorloë gewikkel nie net oor geloof nie, maar oor verskeie verskille. Suid-Afrika se reënboognasie is ook nie 100 persent suksesvol nie.

gatiep ·

Baie goed geskryf.
Dis presies wat gebeur en lyk my mense kan dit nou nog nie raaksien nie.

Boer-in-die-wind ·

Baie goeie stuk.
Ons is nou al ‘n paar maande gevestig in die VSA, en het nou eers tot die besef gekom hoe radikaal en agresief die verdeling tussen die twee groepe is. Die politiek van die dag het geval tot ‘n vlak waar daar nie meer na oplossings gesoek word nie, maar eerder gepoog word om skade aan die ander party aan te rig. Veral die sogenaamde ‘Demokrate’ maak hul skuldig aan ondemokratiese en integriteitlose optrede.
Die pendulum swaai.

KanekVra? ·

@Eish, en wat maak dit Putin, ‘n ” heilige “. Dis belaglik.

gatiep ·

Maak van Putin n baie beter mens as jy ou maat niemand se hy is heilig nie.
Hy doen darm iets om wereld beter te maak.Wat het jy gedoen al in jou lewe om wereld n beter plek te maak.

Bella ·

Wel as jy die Bybel mooi lees en verstaan… Nou ja wat meer kan ek sê? Net mense wat onder n klip woon sal nie hierdie gebeure sien kom nie.

Hans ·

Dis ongelooflik hoe Suid Afrikaners (ook radio en tv) Trump aanval.Hy word gehaat omdat hy hom verset teen die Nuwe Wêreld Orde.Die liberaliste is soos n trop wilde honde agter hom aan.Die sosialiste en hul meelopers in die pers en tv het die wêreld al so verwoes en hulle kan nie die oplewing van nasionisme oor die wêreld hanteer nie.Trump is vreesloos en n vars bries dwars oor die wêreld.Wens hy was my president.

Sam ·

Uitstekende uiteensetting, Mnr Buys. Daar is beslis ‘n globale linkse aanslag op die beginsels van die tradisionele westerse beskawing waarop die sosiale en tegnologiese voorspoed van die planeet gebou is. Wat die linkses skynbaar nie besef nie is dat afbreek geen kuns is nie – die kuns is om te bou..

Willem ·

Jerry, lees gerus die artikel hier op Maroela; “Verwronge geregtigheid kan nooit versoening teweegbring”. Dit is geskryf deur Christoff van Wyk en vandag geplaas.

Marthinus Willemse ·

In `n onderhoud met Thom Hartmann in 2014, sê afgetrede kolonel Lawrence Wilkerson, dat Amerika nie werklik `n revolusie gehad het nie. Dit wat in die geskiedenisboeke as `n revolusie beskryf word, was eerder `n evolusie. In sy gesprekke met invloedryke persone in die VSA het Wilkerson ontdek dat baie van hulle voel dat Amerika afstuur op óf `n burgeroorlog, óf `n regte egte revolusie. [http://conversationswithgreatminds.com, 21 Maart 2014]

Wilkerson (geb. 1945) was Colin Powell se hoof van staf toe hy minister van buitelandse sake was. As soldaat het hy lank onder Powell gedien, en hom in siviele lewe in gevolg. Hy het Powell se leuens by die VN Veiligheidsraad gedurende Februarie 2003 voorberei, waarin Powell glo bewyse sou voorhou van “wapens van massavernietiging”. Vandag beskou Wilkerson daardie episode as die laagste punt van sy professionele loopbaan, en is hy `n uitgesproke kritikus van die Amerikaanse regering se vergrype, die onnodige Irak-oorlog, en die Obama-administrasie se gebreke. Hy noem die neokenserwatiewes, soos Hillary Clinton, Joe Biden, Lyndsey Graham, oorle John McCain, Samantha Power, Victoria Nuland, en ander, “chicken hawks”. Hulle is baie energiek besig om oorlog te skep, maar sal self nie daaraan deelneem nie, omdat hulle inherent swakkelinge is. McCain is opgehemel as krygsgevangene, maar in sy siviele lewe het hy nie vreeslik moed en dapperheid openbaar nie.

Staak ·

Flip is reg SA is n mini wereld kosmos maar n baie swak voorbeeld. SA beeld glad nie verdraagsaamheid teenoor ander uit nie, net die teendeel is waar, maar volg SA se gebeure goed en dit behoort vir die globaliste duidelik te word waarop die wereld afstuur.
Globaliseering se uitwerking is net die teenoorgesteld van die edologie van die liberale denker.
Miskien kan die slim manne maar weer Albert Pike google.

Celtis Africana ·

Uiters insiggewende artikel wat goeie perspektief verskaf.
Verdraagsaamheid het verseker meer gom as integrasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.