Die twyfelagtige mag van VSA se hoofstroommedia

vsa-vlag-amerika-amerikaans

Foto: Samuel Branch/Unsplash.com

Die hoofstroommedia in Amerika het die kragtigste en gevaarlikste mag in die land geword. Dit weet hulle goed en hulle bevorder skaamteloos die belange van die invloedryke Demokratiese elite eerder as om die nuus te verskaf. Aleksandr Solzjenitsin, Rusland se bekendste politieke gevangene, het dekades gelede die “land van vry mense” teen sy eie pers gewaarsku:

“Wat dit ook al werd mag wees, het die pers die grootste mag binne die Westerse wêreld geword; magtiger as wetgewing, die uitvoerende gesag en die regbank. Mens wil graag vra: deur wie is dit verkies, en aan wie moet dit verantwoording doen?”

Die media se twyfelagtige rol om die Republikeinse oorwinning in Virginië op 2 November te interpreteer, werp verdere lig op die Rus se insigte.

Glenn Youngkin en sy vrou Suzanne (Foto: ANDREW CABALLERO-REYNOLDS/AFP)

Glen Youngkin, ʼn dinamiese jong Republikein, het sy verkiesingsveldtog om goewerneur in Virginië gewen. Virginië is ʼn rooiwarm blou staat wat in 2020 met 10 punte deur Joe Biden gewen is. Youngkin se oorwinning was dus ʼn voorloper van wat reg oor die land in komende verkiesings kan gebeur, aldus Kamala Harris tydens haar veldtogvoering vir goewerneur Terry McAuliffe, Demokratiese kandidaat.

Haar voorspellings was bedoel om haar party tot voordeel te strek, maar het egter vir die Republikeine waar geword wat een ná die ander verkiesing reg oor die land in verskeie distrikte en state gewen het, sekeres ʼn groter verrassing as ander.

Een hiervan is Ed Durr, die vragmotorbestuurder wat Steve Sweeney, senaatleier van New Jersey, onttroon het – met veldtogfondse van meer as $6 000 teenoor sy $1,2 miljoen. Die Republikeine het nou wel nie die goewerneurskap van New Jersey gewen nie, maar ʼn naelskraapoorwinning het noodseine regdeur die Demokratiese Party gestuur.

Youngkin het ’n moedige en vurige veldtog gevoer wat landelike en voorstedelike Virginiërs in rekordgetalle na die stembus gelok het. Hy het die Spaans-Amerikaanse stem met 55% gewen. Youngkin het skaars gewen toe die RINO’s (Republican in name only), gevestigde Republikeine en die media, soos voorspel kon word, Youngkin teen Donald Trump laat kragte meet het.

Een van die grootste oortreders wat hulself verlustig in hierdie fop kompetisie, is die agtenswaardige, konserwatiefgeneigde Wall Street Journal (WSJ). Hulle het Trump werklik verag, en nie een kans laat verbygaan om hom met Youngkin te vergelyk nie; net nog een van hulle kwetsende speletjies om die oudpresident te vernietig.

In die WSJ se hoofartikel op 4 November 2021, “Lessons of the Progressive Fall”, bevestig die WSJ al sy anti-Trump vooroordele gebaseer op partydigheid eerder as op feite soos wat ek as volg paragraaf vir paragraaf gaan verduidelik:

“Glenn Youngkin se oorwinning in die Virginiese goewerneursresies was belangrik as ʼn templaat vir hoe die Republikeine die voorstede kan terugwen nadat hulle hulself van die GOP gedurende die Trump-presidensie vervreem het.”

Oudpres. Donald Trump (Foto: Mandel Ngan/AFP)

Met Trump uit die pad, het die GOP (Grand Old Party – die Republikeinse Party se bynaam) glo skielik ʼn templaat nodig. Trump het waarskynlik een van die mees unieke template in presidensiële geskiedenis bekend gestel. Een wat nog nooit vantevore in die GOP as model gebruik is nie en wat hom sy buitensporige oorwinning in die 2016-verkiesing gegee het, asook daaropvolgende oorwinnings.

Trump het nie voorstedelike vroue vervreem soos wat die WSJ beweer nie. Voorstedelike vroue is deur die Demokrate en hoofstroommedia met een ná die ander vals nuusberig gebombardeer oor Trump wat kop in een mus is met Wladimir Poetin, wat heul met Zelenski, president van Oekraïne, en onderhands saamwerk om belasting weg te steek – berigte wat baie draadsitters sy integriteit laat bevraagteken het.

John Durham, spesiale ondersoeker, het pas die nuus oor sameswering met Rusland van alle waarheid ontbloot met verdoemende aanklagte teen verskeie agente van die Hillary Clinton-veldtog. Dit onthul dat die oorsprong van die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) se Rusland-ondersoek op gruwelike leuens gebaseer is.

“Mnr Youngkin het op kwessies rakende lewenskwaliteit gefokus, soos opvoeding, openbare veiligheid en lewenskostes. Hy het nie weggeskram van twispunte soos kultuur en die skoolkurrikulum nie, maar het dit ook nie soos ʼn fanatikus benader nie. In kontras met die Trump-era het hy nie ʼn enkele immigrasie-advertensie (waarvan ons weet) laat plaas nie.”

Pres. Joe Biden. (Foto: JIM WATSON/AFP)

Daar is geen kontras met die “Trump-era” nie. Trouens, Youngkin het op die Trump-era gebou en daaruit voordeel getrek. Nog meer noemenswaardig lyk dit asof die WSJ die wyse hoe die konteks vir Youngkin se veldtog onder president Biden se genadelose, diktatoriale bewind verander het, te laag aanslaan.

Lewensgehalte-kwessies soos opvoeding, openbare veiligheid en lewenskostes het onder Biden hoogs bedreig begin word, waar hierdie aangeleenthede onder Trump aangespreek is sodat werkloosheid die laagste was vir vroue, Afrika-Amerikaners en Spaans-Amerikaners.

Trump het by sy vele byeenkomste die insypeling van die giftige Kritiese Rasteorie (CRT) in die skoolkurrikulum veroordeel en het uitdruklik verklaar dat hy die CRT sal verban; hy het ook die stadige verwering van openbare veiligheid met die Defund the Police-veldtog, gelei deur die anargistiese BLM en hulle burgermagte soos Antifa, veroordeel.

Ouers het sedert die aanvang van die Covid-pandemie vir die eerste keer gesien wat in hulle kinders se skole onderrig word, en dit het hulle woede teenoor onderwysunies en nasionale skoolraadverenigings ontketen.

“Sonder mnr. Trump se naam op die stembrief, is Demokrate minder gemotiveerd om te stem. Hulle agenda van rekord- sosiale spandering en hoër belasting het dit, wat veronderstel was om ʼn dawerende herstel te wees, in gevaar gestel – tesame met inflasie en voorraadtekorte.”

Die aanname dat Demokrate in reaksie op Trump gestem het, is ʼn volslae leuen. Demokrate het hulle oorwinning met stembriewe per pos, posbusse, stembriefinoesting, dooie mense wat stem, en Zuckerberg se halfmiljard dollar-bydrae, buiten hulle ander twyfelagtige donasiebronne, bewerkstellig.

Trump se nalatenskap was trouens ʼn opbloeiende ekonomie en drie entstowwe te danke aan sy “Operation Warp Speed”, en as dit nie vir Covid-19 was nie, sou Amerika ʼn ekonomiese transformasie soos nog nooit nie beleef het.

“Wat die GOP betref, sal die Youngkin-strategie nie oral dupliseerbaar wees nie. Maar dit wys wel ʼn roete om weer die ondersteuning in die voorstede, wat onder mnr. Trump verlore gegaan het, terug te kry. Die GOP in die Trump-jare het ʼn groter aandeel van die stemme in krimpende dele van die land gewen, maar ʼn kleiner aandeel in die opkomende dele. Heelwat hiervan is te wyte aan mnr. Trump se persoonlikheid en polariserende styl wat universiteitsopgeleide stemgeregtigdes en vroue vervreem het.”

Die WSJ skryf so maklik Trump se verliese aan sy “persoonlikheid en polariserende styl” toe, waar Trump in der waarheid in 2020 met 12 miljoen stemme gewen het, die grootste meerderheid stemme van enige GOP-president in onlangse geskiedenis, en ʼn totale hoeveelheid stemme van net meer as 74 miljoen.

Youngkin het nie vir president gestaan nie; Youngkin is nie deur ʼn vyandige, liegende, onregverdige propagandistiese media en korrupte nasionale verkiesingsmasjien in die gesig gestaar nie, omdat die media gedink het McAuliffe sou wen. In vergelyking met Trump het Youngkin ʼn relatief maklike veldtog gehad.

“Mnr. Youngkin het die Trump-dilemma met vaardigheid genavigeer. Hy het nie die voormalige president aangeval nie, maar hy het hom ook nie na sy veldtog genooi nie.  Mnr. McAuliffe wou die Republikein in mnr. Trump toevou, maar dit het nie gewerk nie, omdat mnr. Youngkin glad nie soos Trump is nie.

“Hy kon oor sekere van die kultuurkwessies praat, soos die kritieke rasteorie in skole, maar sonder om in die hande van die Demokrate te speel wat alle Republikeine as rassiste wil uitbeeld.”

Youngkin het nie nodig gehad om Trump te nooi om vir hom ʼn veldtog te voer nie, omdat Biden se rampspoedige beleide en verordeninge die basis gelê het vir Youngkin om ʼn suksesvolle mededinger te wees.

Trump het hom wel ondersteun en Youngkin het die gebaar erken. McAuliffe het regdeur sy veldtog herhaaldelik na Youngkin as ʼn Trump-kloon verwys. Wie weet, om Youngkin te probeer beswadder deur hom aan Trump te koppel, kon Youngkin se kanse dalk aangehelp het in plaas van om dit te ruïneer.

“Die voormalige president sou mnr. Youngkin seergemaak het as hy vir hom ʼn veldtog gevoer het. Die boodskap vanaf Virginië is dat stemgeregtigdes nie die agenda van die progressiewe linkses wil hê nie, en dat hulle na ʼn Republikein sal luister wat probleme openhartig aanspreek terwyl hy soos ʼn normale mens praat.”

(Foto: Douliery/AFP)

Virginië se kiesers het Trump eers begin waardeer nadat hy weg is, en baie sê dat hulle besef het dat hulle deur die liegende media mislei is om te glo dat Trump ʼn skurk was.

Vir die WSJ-establishment beteken om “soos ʼn gewone mens praat” om betrokke te raak by die skynheilige, huigelagtige, beleefde maar diep giftige redevoering, so eie aan Washington DC.

Trump was geliefd omdat hy reguit gepraat het, hom nie aan politieke verdoeseling oorgegee het nie, en met die publiek in doodeenvoudige Engels gekommunikeer het, ʼn feit wat die elite WSJ gedurig miskyk. Duisende der duisende het by sy byeenkomste saamgedrom, terwyl Joe Biden skaars ʼn saal kon vol kry.

Ter opsomming: Die WSJ is maar een voorbeeld van hoe die hoofstroommedia die publiek vir vier jaar oor Trump mislei het, deur hom op sy voorkoms, taalgebruik en gedrag te oordeel, eerder as sy prestasies. Hy het geen tyd gemors om beleide wat hy tydens sy veldtog aan sy kiesers belowe het, te implementeer nie, anders as Biden wat al vele van sy beloftes gebreek het.

Die hoofstroommedia het ironies genoeg onwetend tot die val van die Demokrate bygedra toe hulle hul agterhoede gedek het deur om te weier om Joe Biden en sy administrasie aanspreeklik te hou.

Gegewe John Durham se onthullings en die rol van die media om die talle leuens teen Trump te propageer, is dit tyd dat mense besef die media is die amptelike opposisie wat vir die Demokrate werk. Hulle het basies van die rede afgewyk hoekom hulle die Fourth Estate genoem word – die bewakers van die demokrasie en die verdedigers van openbare belang.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter9 ·

Weereens 100% in die kol ontleding deur Rhoda Kadalie; almal wat vir 4 jr die leuens o.a van die sogenaamnde Trump-dossier, verpsrei het, is nou stil. Een na die ander anti-Trump persoonlikhede bevind hulself in die tronk, uit ‘n werk of soos Chris Cuomo word ontslaan. Sonder uitsondering almal wat oor Trump se ‘leuens’ voortdurende berig het – wat Trump toe gese het word elke dag ‘n groter waarheid. Die Media begryp nou nog nie dat die publiek moeg is vir die loopbaan-politici – hulle soek doeners en reguit praters. Dankie Rhoda.

Groen Ghoen ·

Dit maak sin: Besluite word geneem gebaseer op inligting tot jou beskikking. Die media beheer die verspreiding en interpretasie van inligting. Dus…. die media beheer indirek die besluite wat uiteindelik deur mense geneem word. Tyd dat meer mense wakker word en wyer lees vir die ware feite.

Rupert Ashford ·

En dit is nie net in die VSA nie. Die HSM in omtrent alle Westerse lande is nou soos hierbo beskryf. Enigiemand wat selfs net ‘n klein bietjie meer konserwatief is as Pol Pot of Che Guevara word summier as “Far Right” bestempel (:-)) en die meerderheid mense eet dit vir soetkoek op. Dit is regtig ‘n groot uitdaging om die ware storie oor net mooi omtrent alle onderwerpe van belang te vind deesdae en mens moet wyd lees oor ‘n spektrum van nuusbronne.

Delene ·

Weereens ‘n Treffende Insiggewende Perspektief oor die waarheid! Baie dankie daarvoor Rhoda! So bly jy is daar om ons deurentyd ingelig te hou!

Treurwilger ·

Puik artikel.
Die mag van die media en groot korporasies is ysingwekkend.
Lees die exposé in Times Magazine getiteld: “The Secret History of the Shadow Campaign that Saved the 2020 Election” vir ‘n volledige uiteensetting van die totale aanslag teen president Trump.
Volgens die rolspelers, “they were not rigging the election, they were fortifying it” …
Verkiesings in die VSA sal nie gou weer, indien ooit, geloofwaardig wees nie.

Frank ·

Ja, maar eks nog steeds die duiwel in vir Trump. Hy moes tydens sy amptermyn seker gemaak het die verkiesing in “fool proof” en daars geen agterdeure nie. Of jy stem fisies met jou ID, of jy stem nie!!! Om maar een voorbeeld te noem.

MT ·

Dankie vir ‘n puik opsomming Rhoda.

Ek reken LS kan hierby baatvind, maar hoe kry ons dit by hom in Holland?

Chris ·

Is daar nie ‘n spreekwoord wat lui, “die pen is magtiger as die swaard” nie? Die probleem met die mensdom deesdae is gemaksug en onmiddelike bevrediging. Ons sal maar sien wat vorentoe gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.