Dié tydsgewrig is in jou hande

Deur Monica Mynhardt

horlosies

Foto: Jon Tyson/Unsplash.com

ʼn Tydsgewrig is ʼn tydperk waartydens sake ʼn keer neem – ʼn belangrike, beslissende tyd.

In oënskou van die geskiedenis lyk dit dikwels asof groot ommeswaaie in oorlog en vrede, vooruitgang en verval onverwags en meteens gebeur het. Die ekonoom Rudiger Dornbusch het in ʼn onderhoud oor Meksiko se ekonomiese krisis in die 1990’s gesê: “Die krisis neem baie langer om te gebeur as wat jy dink. En wanneer dit gebeur, is dit baie vinniger as wat jy verwag het.”

Ons bevind onsself ook tans in ʼn tydsgewrig – ʼn bepalende tyd. Om te verstaan waarom dit die geval is, moet ʼn terugblik op die afgelope dekade gegee word asook ʼn toekomsvisie van die komende een. Dit sal die nodige konteks verskaf om te verstaan waarom die uiteinde van dié tydsgewrig in jou hande lê.

Die begin van die vorige dekade het heelwat anders gelyk as die begin van die huidige een. Die jaar 2010 is gekenmerk deur die tasbare euforie van die Wêreldbeker-sokkertoernooi. Dit is gesien as ʼn nuwe baken vir hoop en vooruitgang. Die hoof van die organiseringskomitee vir die toernooi, Danny Jordaan, het self erken dat die hoofdoel van die toernooi was om nasionale versoening te bewerkstellig.

Hoewel 2010 nie sonder laagtepunte was nie, was die oorweldigende sentiment een van positiwiteit. Mense het weer kans gesien om ons probleme aan te pak. Met die verloop van die dekade het hierdie optimisme egter stelselmatig weggekwyn – en met goeie rede ook.

Ons het die dekade afgeskop met stewige ekonomiese groei van 3,04%. Vir 2019 was die verwagte groei maar sowat 0,4%. Werkloosheid het van 24,69% in 2010 stelselmatig gestyg tot 27,32% in 2019, met jeugwerkloosheid van byna 50%. In hierdie dekade het S&P en Fitch ons tot rommelstatus afgegradeer en Moody’s tot ʼn negatiewe vooruitsig.

In 2013 het voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela se Nkandla-verslag die lig gesien. In 2015/’16 het die gewelddadige houding van die Fees Must Fall-straatbewind (mob rule) tot gevolg gehad dat die regering gratis hoër onderrig belowe het en Afrikaans as onderrigmedium uit alle staatsuniversiteite gewerk het. Omar al-Basjir, aangekla van growwe menseregtevergrype, oorlogsmisdade en volksmoord, is deur ons regering landuit gesmokkel.

Iets wat vir lank nog in ons kollektiewe geheue gaan bly, is die Guptas as die gesig van ʼn veel groter stelsel van korrupsie en staatskaping. Die koste van staatskaping in die tweede helfte van oudpres. Jacob Zuma se termyn word beraam om sowat R1,5 biljoen (Engels: R1,5 trillion) te beloop. Met korrupsie wat feitlik geïnstitusionaliseer geraak het, is die Zondo-kommissie gestig as oplossing.

Deur die loop van die dekade het dubbele standaarde in rasse-aangeleenthede geseëvier en normaal geraak. Ons het die dekade afgesluit met talle wetsontwerpe waarmee die regering poog om mag verder te akkumuleer.

  • Onteiening sonder vergoeding – hierdie sal die regering die mag gee om wettiglik by landsburgers te steel en in die proses eiendomsreg – een van die hoekstene van vryheid – te vernietig;
  • Die Nasionale Gesondheidsversekering – hierdeur sal sake van lewe en dood volledig in die regering se hande geplaas word met duisende kundiges wat potensieel emigreer;
  • Nasionalisering van sportfederasies – hiermee sal die regering hulself die mag gee om rasseverteenwoordiging bo meriete te stel in elke sportsoort in die land; en
  • Wetsontwerp vir skole – hierdie sal die regering die mag gee om stelselmatig onderwys te verengels en homogeniseer.

Verder: Plaaslike regerings het amper landwyd volledig ineengestort met basiese dienslewering wat byna net in die metro’s sigbaar is. Die regering het ons in ʼn energiekrisis in bestuur wat ons verdoem het tot ʼn sukkelende ekonomie. Twee van ons grootste staatsbeheerde instellings, Eskom en SAL, het skuldvlakke wat ons fiskus wesenlik bedreig.

Ons het in ʼn kwessie van tien jaar verval tot op die afgrond van ʼn mislukte staat.

Die nasionale moraal is nou anders as wat dit aan die begin van die 2010’s was. Selfs die optimisme gewek deur ons 2019-Wêreldbeker-rugbysege was vlietend. Die neerdrukkende werklikhede waarin ons onsself bevind, oorskadu selfs dit wat voorheen bakens van hoop was. Dit het ʼn hele ruk geneem vir hierdie onafwendbare krisis om te vorm – die krisis is egter hier en dit hang van ons af om te dit op te los.

Dit wat ons besluit om met hierdie angswekkende vryheid te doen, sal ons lot bepaal in die komende dekade.

Die afgelope dekade het ons geleer dat enigeen wat op die regering aangewese is, saam met die skip gaan sink. Slegs diegene braaf genoeg om self te doen, sal seëvier. Die voordeel is dat Afrikaner-gemeenskapsinstellings tans die beste georganiseerd is wat ons nog ooit was. Die Solidariteit Beweging het verlede jaar ʼn 2030-Toekomsberaad gehou. Elkeen van ons instellings het sekere dekade-doelwitte daargestel wat ʼn bepaalde ruimte sal skep waarin ons kan floreer.

Teen 2030 gaan die meerderheid van Afrikaners reeds gekonsentreer wees in sowat 30 dorpe landwyd. Hierdie groter konsentrasie sal ons meer politieke en kulturele seggenskap op voetsoolvlak – en sodoende op nasionale vlak – gee. Hierdie ankerdorpe sal die de facto-werklikheid wees waardeur kultuur, taal en bestaansreg bewaar word.

In 2030 gaan Solidariteit se NetWerk van werk bestaan uit ʼn volledige pyplyn van onderrig, werk en verdere ontwikkeling. Hierdie sal dien as antwoord op die uitdagende arbeidsmark en ekonomie.

In 2030 sal die Skole Ondersteuningsentrum, saam met verskeie vennote, fasiliteite, ʼn onderrig- en finansiële model gevestig hê. Met sowat 30 skole wat 50 000 leerders kan fasiliteer, sal dit die leemte vul wat gelaat is ná Afrikaans uit openbare skole verdryf is.

Sol-Tech sal die voorste beroepsopleiding-instelling in die land wees, met die nuwe kampus wat 2 000-2 500 studente kan oplei. Akademia sal in 2030 sy twintigste bestaansjaar vier met ’n volledige kampus, koshuise en studentelewe. Sowat 5 000 voorgraadse en 1 000 nagraadse studente sal uit 30-40 programme in 7 fakulteite kan kies.

In 2030 gaan ons deur AfriForum se 200 voltydse buurtwagte met 20 000 vrywillige lede ons eie veiligheid verseker. Gemeenskappe sal deur vrywilligers de facto-selfbestuur op voetsoolvlak bedryf, sonder enige regeringsinmenging.

Munisipaliteite sal goed funksioneer en alledaagse uitdagings ten opsigte van dienslewering en infrastruktuur feitlik uitwis.

Helpende Hand sal in 2030 uit sowat 60 000 ondersteuners bestaan wat deur die gemeenskap die kwessie van armoede stelselmatig sal kan verlig, verbreek en voorkom.

Helpende Hand se Studiefonds van R1 miljard sal 4 000 studente (teen R140 miljoen jaarliks) met rentevrye studielenings bystaan.

In 2030 gaan Afrikaanse gemeenskapsradiostasies 2,4 miljoen mense bedien. ʼn Volledige Afrikaanse Wikipedia sal dien as ruggraat van Afrikaanse aanlynkennis. Die FAK sal aan die hoof staan van kultuur- en geskiedenisbewaring wat Afrikaners die ruimte sal bied om kultuur te vier en te mobiliseer.

Kanton Beleggings sal aan Afrikaner-gemeenskapsinstellings eiendomsoplossings (en sodoende die geleentheid) bied om hul doelwitte te bereik. In die volgende tien jaar sal Kanton R200 miljoen mobiliseer om die nuwe Sol-Tech-kampus te voltooi – R100 miljoen vir Sol-Tech se koshuis en R1,5 miljard vir Akademia se kampus.

In 2030 gaan daar op groot skaal openbarebelang-litigasie plaasvind. Alternatiewe geskilbeslegtingsliggame gaan bestaan as alternatief tot die howe in ons land. R800 miljoen van die Solidariteit Regsfonds sal in die volgende tien jaar aangewend word om verskeie hofsake te voer in openbare belang. Hierdie sal insluit om die NGV te beveg en belastingplunderaars aanspreeklik te hou.

In 2030 sal gemeenskappe in Suid-Afrika oorwegend op grond van kultuur, eerder as ras, identifiseer en funksioneer met gemeenskapsverhoudings wat besig is om te herstel.

Ons bevind onsself tans in ʼn tydsgewrig. Hoe ons daarmee omgaan, sal bepaal of die ommeswaai in ons guns of tot ons nadeel sal wees. Ons is tans ideaal geposisioneer om die komende dekade meer voorspoedig te maak as wat die afgelope een was.

Winston Churchill het by geleentheid gesê dat die geskiedenis hom goedgesind sal wees, siende dat hy van voornemens is om dit te skryf. Diegene braaf genoeg om hul eie toekoms te skep, sal bevoorreg genoeg wees om daarin te leef.

  • Monica Mynhardt is ‘n junior navorser by die Solidariteit Bewegingstrust. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Feite ·

Goeie toekomsvisie vir diegene wie braaf genoeg gaan wees. Solidariteit oorreed die regerende party om SAL in sakeredding te plaas wat beteken dat belastingbetalers gaan aanhou om n staatsentiteit te dra. Ek sien ook nie dat Solidariteit Eskom boikot nie. Dit is teenstrydig met jou stelling dat enigeen wie op die regering aangewese is, saam met die skip gaan sink, omrede Solidariteitslede steeds vir hierdie staatsentiteite werk, juis om hulle nie te laat sink nie. Steeds gaan belastingbetalers moet betaal terwyl privaat alternatiewe reeds kon herrys het. SAL en Eskom moes dus toegelaat gewees het om te sink. Dit het egter nie gebeur nie danksy Solidariteit en sien ons dat die tydsgewrig steeds in die “failed state” se hande is. Tik tok, tik tok!

Wingman ·

SA moet eers vou voordat weer opgebou kan word. Al wat nou gebeur is Solidariteit gaan die regering in hul kwaad steun en langer aan bewind hou. Ons moet steeds belasting betaal terwyl Solidariteit ook hul pond vleis gaan eis vir dienste gelewer.

Schalla ·

Skouer aan die wiel! Kom laat ons bou want dis wat ons doen.

Johan Venter ·

Gee nou hiérdie artikel vir Cyril en die NUK om te verorber, dan kom 106 gerookte Marijuana volgelinge komende jaar terug om blymoediglik hul suksesse van die afgelope dekade te vier.

bekommerde ·

@schalla
ons raak moeg om te “bou” en die meerderheid breek af, onthou net, baie van die vorige bouers het reeds hulle deel gedoen en is grys in die kop, moeg, my maat, “moeg”

Jimmy ·

Die jonges loop maar met hul koppe in die wolke. Maar hulle sal ook moeg word.

Frm ·

@ Feite. Jy is so reg . Hierdie vegters vir ons voortbestaan word steeds deur besigheids beginsels gedryf.

Walter ·

Van al die ankerdorpe is Orania die enigste een met ‘n blink toekoms. Dalk George ook. Pretoria en Oos Rand is mislukte metros. Kaapstad is ‘n misdaadhool. Dorpies in die Suidkaap moet uitgebou word en dien as Afrikaner vestings.

Kallie ·

Ek is met jou Walter. Dit wat jy voorstel is die beste oplossing.

Deon ·

Werklik sinneloos om Tshwane uit te bou as ‘n ankerdorp. Hier is nie ‘n toekoms nie, tensy jy in ‘n luukse golf- of aftreeoord woon.

Andre ·

Lyk my Solidariteit is die Afrikaner se nuwe regering. Getrou aan tradisie sal daar lank voor 2030 ‘n skeuring wees. Dan gaan ons weer in 10 rigtings….

Johan Venter ·

Nee, ek sou nie sê hulle is die nuwe regering nie, maar hulle gee leiding en rigting, en hulle het tot op hede in belang van die Afrikaner/Arikaans gedink, beplan en opgetree, hulle vul ‘n vakuum waarsonder ons vandag in ‘n erge gemors sou wees, hulle het toekomsvisie en tree met ander belangegroepe in gesprek. Of jy dit nou wil weet of nie en of mens in ontkenning daarvan wil leef, moet jy maar self besluit. Solidariteit is dié één organisasie, mét sy vertakkinge, wat ‘n kolossale bydrae maak, ‘n groot impak het én sal verseker dat die Afrikaner en Afrikaans nog oor paar honderd jaar relevant sal wees. Hulle dink en beplan nie net nie, hulle doén ook.

Johan Venter ·

En terloops, dit is nie al nie, hulle sorg dat die buiteland en die belangegroepe daar deurlopend bewus is van hul aktiwiteite en wat hulle hier vermag. Kom ek stel dit so, dis hoe hulle ook ‘by gebrek’ aan diplomate in daardie lande Afrikaans en die Afrikaner bemark en nie net hul aktiwiteite en waarvoor hulle staan nie. Effektief sorg hulle dus dat die buiteland erg kennis neem van Afrikaans en die Afrikaner as minderheidsgroep.

Kerneels ·

Nee wat Johan, Afrikaners en ander wittes sal binne ‘n 100 jaar van die toneel verdwyn. Ons rol is uitgedien.

Walter ·

Johan, dink jy nou werklik die buitewêreld is begaan oor Afrikaners se toekoms? Ons apartheidgeskiedenis sal bly spook tot aan die einde.

Jimmy ·

@Johan. Dis maar net jou siening en belewenis. Dit is te betwyfel of die meerderheid Afrikaners dit deel. Wees versigtig om hulle nie te vervreem nie.

Johan Venter ·

Dis elkeen se keuse om met die ware feite, en dis nié fop-feite nie, te maak wat hulle wil, maar julle sal nie van die realiteite van Solidariteit en vertakkinge se suksesse kan wegkom nie. Jy hoef dit nie te ondersteun nie, dis ook jou keuse, maar dat jy daaruit voordeel trek is gewis.

Johan Venter ·

Terloops, julle wat van my verskil, kan maar net weer die artikel hier bo lees.

Feite ·

@Andre. Jy is so reg. Solidariteit moet besef dat hulle nie groter as die Afrikaner is nie. Jy gaan na waar die Afrikaner is, jy bou daar waar die Afrikaner is en daar waar die Afrikaner wil wees, ook daar waar die Afrikaner in die buiteland is. Jy moet na die Afrikaner luister. Jy vra die Afrikaner om die Spur, Mi-way, borge vir AIG ens te boikot omrede hulle teen die Afrikaner diskrimineer en sodat jy n sakeryk kan bou uit die kliente wat hulle verloor, maar jy boikot nie staatsentiteite soos Eskom en SAL nie. Staatsentiteite wat dit ten doel het om die Afrikaner leeg te melk, die ondersteun jy, weereens omrede jy daarby baat met n paar vakbond lede. Die Afrikaner sien dat julle opofferings maak waar Solidariteit en die se lede by baat, maar dat julle nie opofferings maak vir die Afrikaner en waarby die Afrikaner kan baat nie. Die Afrikaner sal daarby baat indien Eskom en SAL sink en die Afrikaner onafhanklik van hierdie staatsentiteite en selfversorgend raak. Dit is wat Solidariteit die heeltyd predik, maar toe nou nie doen nie. “You cought me with your words, but you lost me by your deeds”!

Petrus ·

Solidariteit speel ‘n gevaarlike spel om aan die hoof te staan van die Afrikaner se kultuur en geskiedenisbewaring. Nie alle Afrikaners hou van die politieke konnetasie nie. Êrens gaan groepe Afrikaners vervreem word.

Johan Venter ·

Die wat in ‘n Afrikaanse vel en met die Afrikaanse taal vreemd voel, was dalk in die eerste instansie nie ‘n Afrikaner of Afrikaanssprekende nie. En veronderstel Solidariteit met al sy vertakkinge het nie vir Afrikaans opgekom en geveg, ook kant gebring en instellings daargestel soos per die bogemelde artikel nie, waar was die Afrikaner en Afrikaans spekende ook met sy geskiedenis uit die verlede wat die ANC probeer herskryf, nie vandag nie? Wie, of watter instelling, sou dan daardie gaping gevul het?

Solidariteit speel nie ‘n gevaarlike speletjie nie, hulle verrig ‘n noodsaaklike taak vir die voortbestaan vir die Afrikaner en Afrikaans.

Neels ·

Met ander woorde, Afrikaners wat nie deel is van die organisasie nie is nie ware Afrikaners nie?

Sven ·

Jy is reg Petrus, hier kom ‘n hengse broeder twis, sommer binne 10 jaar.

Johan Venter ·

Neels, waar lees jy dit, want dit is nie wat ek hiebo geskryf het nie. Ek sê net as dit nie vir Solidariteit en vertakkinge/inisialtiewe was nie, was ons vandag in erge tamatiestraat. Watter ander instansie kan jy aan dink wat vermag wat Solidariteit na die tafel toe bring?

Neels ·

Afrikaans en die Afrikaanse kultuur is baie kosbaar. Indien dit vermeng word met die vakbondwese, welsyn, onderwys, versekering, radio, openbare beskerming, sakekamers, plaaslike diensverskaffing, Geloftefees en wat nog alles raak dit problematies. Die pynlike debakel met laaste AIG is ‘n goeie voorbeeld. Groot skade is berokken om ‘n paar punte aan te teken. Onthou ook dat die ATKV en Voortrekkers vermag baie. Dan is daar ook nog die Akademie vir Wetenskap en Kuns, Taalraad, die Woordfees, kultuurmuseums, kunstefeeste en akademiese departemente. Solidariteit doen goeie werk, maar daar is ‘n ook dun lyn in die sand. Met een onsinnige uitlating of optrede word mense finaal uitmekaar uitmekaar gedryf. Ons taal en kultuur moet nie geëtikeer word nie.

Johan Venter ·

Jy kyk in die vakbond vas en ignoreer alle ander vertakkinge en positiewe wat hulle verrig, dan kan jy gerus ook gaan naslaan waar Solidariteit en Afriforum se mense by betrokke is, daar by die instansies wat jy hierbo noem. Gaan lees gerus ook op Solidariteit se webwerf waarby hulle als betrokke is. Ek sê, noem my net één instansie, net één, wat vir die Afrikaner en Afrikaans vermag, buiten Solidarieit EN al sy vertakkinge. Jy hou nie van Solidariteit nie, nou is jy negatief teenoor als wat hulle vermag, al trek jy sonder enige deelname voordeel uit dit wat hulle veil het vir die Afrikaner en Afrikaans.

Geen my ‘n antwoord wat ons tedoen staan al sou Solidariteit sy deure toemaak en al sy vertakkinge en betrokkenheid waarvan jy hier bo praat se deure sluit. Wie gaan daardie funksies oorvat?

Neels ·

‘n Vakbond is ‘n vakbond is ‘n vakbond. Ja, dis te sosialisties en grillerig vir my vrye mark denke. Ons sien dit nou weer met Eskom en die SAA. En dit sal nie verander nie. Solidariteit sal nooit sy deure sluit nie. Daar is baie besighede wat hulle aan die gang hou, en seker nog baie in die pyplyn. Dis goed so, want hulle maak geld, verskaf werk en betaal seker belasting. Indien dit nie werk sal hulle dit sluit. Maar dit is vir my van geen belang nie. Net die taal en kultuur is vir my belangrik. Ek was lank betrokke by die ATKV en op voetsoolvlak by die Voortrekkers. Boeta, daar het ons gewerk vir Afrikaner kultuur. Gelukkig het ek nooit ‘n Solidariteitvlaggie daar gesien nie. Julle lede het darem nie hul sentimente en politiek geopenbaar nie. Indien wel, sou ek bedank het. Ek het wel my betrokkenheid by die FAK om die rede gestaak. Die Afrikaner is belangriker en groter as Solidariteit en ons taal en kultuur sal sonder hulle oorleef. Ek sal wel wil sien dat hulle ‘n politieke party stig en hul steun by die stembus toets. Dan is dit toon-teen-toon stryd met die VF+ wat deesae AWOL is. Ons eenheid hang aan ‘n dun lyntjie. Een misstap en alles val plat. Terloops, selfs KykNet doen baie, maar die KKNK gaan dalk die tweede slagoffer wees van die stryd om die Afrikaner se hart, na die AIG.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.