Die uitdaging om saam op te staan

sonsondergang-vrede-stilte

Foto: Pixabay.com

“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen,” sê Jesus in Matteus 7 en voeg dan by: “Dis tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Dis reg, betoog teen die 70+ plaasmoorde die jaar (volgens AfriForum), die 19 000+ ander moorde, teen Zuma en korrupsie en xenofobie en onmoontlike universiteitskoste en geweld teen vroue en kinders … ek het ook al en ek sal weer.

En dan, as jy die volgende dag terug is by die huis of by die werk, wees ʼn vredemaker.

Iemand by ʼn universiteit in Pretoria nader my ʼn paar jaar gelede oor die moontlikheid van verblyf in ons Echo-huise. Sy het vertel hoeveel studente in die universiteit se badkamers en ander plekke slaap. “Hulle het nie geld vir vervoer huis toe nie,” sê sy, “en tog slaag die meeste van hulle, al moet hulle in die aand onder straatlampe, op trappe of onder bome sit en swot.”

Dit het my diep geraak en omdat ek die stryd van baie van ons eie jong mense in ons Echo-gemeenskap ken, het ek besluit om saam te “Fees Must Fall!”.

Ek onthou hoe daar letterlik mense van elke volk, stam en nasie deelgeneem het aan daardie eerste Fees Must Fall-optog in Pretoria. Ek het my verwonder aan die mooi gesindheid wat daar onder die mense was. Daar was mense van die ANC, DA, EFF, selfs studente met AfriForum en VF Plus se T-hemde, swart, wit, bruin, dosente, studente, werkende mense en werkloses … Dis jammer die politici het die ding later gekaap.

By die anti-xenofobie-optog ʼn tyd gelede was die grootste getuienis die duisende Zoeloes en Sotho’s en Xhosas wat onder leiding van hulle eie kerkleiers betoog het teen die wrede behandeling van hulle broers en susters uit ander lande.

Ek dink ons het baie om by hulle te leer. Dit kan baie help as van die mees uiteenlopende mense in ons land mekaar se ontsteltenis kan deel en saam begin opstaan.

Met die Swart Maandag-optogte is daar op sosiale media met groot lof verwys na mense van ander rasse wat ook teen plaasmoorde standpunt inneem. Ander het weer gevoel daar was gans te min steun vanuit ander bevolkingsgroepe. Waarom staan hulle nie saam met ons op nie? wou hulle weet.

Wel, dis presies hoe mense al dikwels in ons land gevoel het wanneer hulle opstaan teen die een of ander ongeregtigheid wat hulle en hulle kinders bedreig. Waarom is julle mense so krities? Waarom staan julle net op ʼn afstand en kyk? Voel julle dan niks vir ons mense nie? sou hulle vra.

Daar is ʼn beginsel wat vir ons almal behoort te geld – en die beste wat ek en jy kan doen, is om by onsself te begin. As jy wil hê “hulle” moet “jou mense” se punt insien, moet ek en jy dalk self begin om die alternatief te leef.

Hier is genoeg haat, verdagmakery en oor en weer beskuldigings in hierdie land. Ons het vredemakers nodig, mense wat hulle hande uitsteek, vriende maak en verhoudings bou oor ekonomiese, sosiale en rasgrense heen. Mense wat nie net vra om verstaan te word nie, maar wat self ook moeite doen om te verstaan. Wat hulle iemand anders se swaarkry kan indink. En bereid is om saam openbare betoog te lewer.

Ons kan doen met meer empatie in hierdie land. “Your freedom is my freedom,” som iemand dit nou die dag mooi op.

Vir elke mens is sy/haar uitdagings die grootste. Ontsteltenis oor ons en ons eie groep se pyn kom natuurlik. Dit verg egter moeite om ander se stryd te verstaan. Onbekend is onbemind. Dis maklik om van ʼn afstand af te oordeel. Dis eers wanneer jy naby kom dat jou oë kan oopgaan en jy begin verstaan.

Wat is die alternatief? Die al groter wordende gaping tussen mense, die toename in haatspraak, groeiende vooroordeel en hoogmoed teenoor dié wat met ander dinge as ek worstel, voorspel niks goeds nie.

Geseënd is die vredemakers, sê Jesus. Dis juis in tye van onvrede wat vredemakers die nodigste is. Aan die einde van die Bergpredikasie, in Matteus 7, sê Hy dat dit juis die storms van die lewe is wat dít waarop ons fondament gebou is, sal uitwys.

Al die liedjies wat ons in die kerk sing, al die Bybelverse wat ons aanhaal, ons mooi preke en belydenisse, Bybelstudies, kerkprogramme en strukture help net mooi niks as ons nie bereid is om ons lig te laat skyn en ook, soos Jesus, ons lewe gee vir ʼn stukkende wêreld nie.

Ons getuienis maak die meeste saak wanneer dit nié oor ons gaan nie en ons niks het om te wen nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

jan_alleman ·

Mat_10:34  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. – Jesus Christus
Amen

Eish ·

Spesifiek verwysend daarna dat ons Verlosser die Messias was en verwerp is deur Sy volk. Dit is waar die vyandskap dus vandaar sou kom tussen n mens en sy eie huismense.

John ·

Waar kom die verkondiging van die Woord in? Welsyndoen is nie ons hooftaak op aarde nie, maar dissipelsmaak. Ons kan nie die Woord verdraai tot dit ons pas nie. Eerstens moet almal, ook die ‘storie’-makers hul bekeer en dan sal vrede heers. Te veel charity-predikers se Bybels bly toe… en wie se wil geskied dan?

Schalk van Heerden ·

Dankie Jaco. Jy’s een van die leiers waarna ons kan kyk en luister.
Liefde leef is die verkondiging van die goeie nuus.
Jan-alleman, as jy die Nuwe Testament lees, is daai versie jou ‘wegneemteks’? Veral in hierdie konteks?

Eish ·

Mattheus 25: 34-36
” Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is sê : Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle bereik is van die grondlegging van die wêreld af.
Want Ek het honger gehad en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naakte, en julle het My gekleë; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenisse was Ek, en julle het na My gekom.”

Ons is veronderstel om die een te doen, sonder om die ander na te laat.

jan_alleman ·

nee nie net dit nie broer hier is vir jou nog

Rev_19:15  En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.

Luk_22:36  Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie ‘n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ‘n swaard koop.

Joh_2:15  En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer.

laat my weet as jy nog wil sien , onthou net as jy vir ander wil preek moet jy reg wees om ook n preek te ontvang , dit kom maar weer terug na jou “doen aan ander wat jy wil he hulle moet aan jou doen “

Eish ·

Altyd reg vir n preek, om die waarheid te sê, blink gepreek.
Openbaring verwys na die tyd van 1000 jaar wanneer Yeshua gaan regeer. Hy gaan nie nonsens vat nie.
Lukas aanhaling was met oog op Yeshua se arrestasie. Tereg het Hy dan ook sy dissipels beveel om die swaard weg te sit en het Hy die sodat wie se oor afgekap is, gesond gemaak. Elders sê Hy ook wie deur die swaard leef, sal deur die swaard sterf.
Johannes aanhaling, godellike woede oor die plek van aanbidding verander is in n handelshuis, soos megakerke vandag.

jan_alleman ·

die feit bly staan dat baie van julle probeer maak of Christus n swakkeling was wat net altyd vrede gemaak het en konflik vermy het en altyd terug gestaan het , julle maak n groot fout
ek staan nie terug vir n krimineel nie en ek voed nie n parasiet nie , en of jy nou daarvan hou of nie my eie mense kom eerste , jammer om van die ander se swaarkry te hoor , miskien moes hulle voorouers ook liewer na God se woord geluister het

Jerry ·

Gelukkig is diegene wat die onderskeid kan tref tussen n stukkende wereld/mens en n bose wereld/mens. In n bose land woon jy nie optogte by nie want die bose gaan dit kaap en as hulle dit nie kan kaap nie gaan hulle sorg dat jy met hulle wetstoepassers bots. Optogte is nie die antwoord nie. Om in groot groepe by n spesifieke plek bymekaar te kom en daar jou ding te doen is tans die beter opsie as jy jouself op die manier wil laat geld.

Antjie ·

Ek stem saam, Jerry. Dis hartseer as mense die Woord misbruik vir wat die Duitsers vanmôre noem “populistischer Agitasie”. In Zim se stryd vir uhuru en openlike ubuntu vind ek soveel moed vir die hele wêreld teen die Vader van Leuens. Daar is ook vandag op DW se nuusblad ‘n stuk geskryf deur ʼn Kroasiese immigrant oor die oor-verontskulfiging van groepe wat populêr as slagoffers gesien word. Uiteindelik begin die Waarheid deurskemer! God het immers belowe dit het millenia terug reeds oorwin oor die Leuens! Prys die Here!

SAD ·

NOG ‘N PREEK. Deesdae preek elke Tom Dick en Harry, maar smaak my nie uit dieselfde Bybel uit nie. Die preke word aangepas by die politiek in die land .. dit word aangepas by gewildheid en by liberale denke en ‘n nuwe wereldorde. Everything goes, net so af en toe moet jy banggemaak word met ‘n versie in die Bybel wat VERKEERD aangehaal word. SAD BUT TRUE!

rassie ·

SAD,
Jy is na my mening korrek dat ieder en elk sy eie vertolking aan die Bybel gee ooreenkomstrig die politiek van die dag. Soos wat die liberale dit by die nuwe wereldorde aanpas, so het die konserwatiewes dit destyds ooreenkomstig die ou wereldorde aangepas en ook so nou en dan ‘n bangmaak versie of wat gebruik. Moontlik was/is albei VERKEERD?

TELEURGESTELD ·

Saam op te staan??? Ek wil graag vanoggend my UITERSTE teleurstelling teenoor AGRI SA en VLU uitspreek. Julle boere het verwag van ons om tydens Swart Maandag nie net swart aan te trek nie, maar ook ons veilige huise en kantore te verlaat om vir JULLE op te staan, om op te staan teen die verskriklike wrede moorde in SA. Nou is JULLE BOERE die einste ouens wat se julle gaan NIE deelneem aan die optog die 25ste nie, weer los julle dit vir Afriforum en Solidariteit, Cope en die DA. Eerstens skuil julle kamstig agter die woord ‘inklusief’, shame, dink julle regtig ons val daarvoor? Tweedens word daar ook GESE die OPTOG het NIKS beteken nie boere word reeds vermoor. Ek kan nie die redenasie verstaan nie .. LUISTER TOG ASB. die optogte is vir BEWUSMAKING en vir EMPATIE met vermoorde boere, ONS kan dit nie stop nie. Julle swart broers het meer as EEN optog in 40 jaar gehou om APARTHEID te verslaan, maar so wragtie wil julle opgee na EEN swart MAANDAG. Beledig my maar, maar as DIT die boere se houding is, gaan EKSELF ook nie langer my simpatie met julle betoon nie. As julle nie vir JULLESELF wil opstaan nie, GAAN EK OOK NIE> Ek kan nie help om te wonder of julle enigsins sou opstaan vir STADS- en DORPSMOORDE nie. Julle STEL TELEUR!!

Charles ·

versoening

nood leer bid sê spreekwoord
man ons kyk mos maar noord
paraatheid is soos ‘n gewoonte
hoe jy in oggend opstaan is dit
hoe jy saans gaan slaap ook so
jou kop uit sand te lig te sien
jou vrese te besweer en te glo
trek wapenrusting van God aan

versoen eers met jou Skepper
sal jy makliker met medemens
kan versoen – verloor jouself
bewustelik in kinderlike geloof
egte versoening kom teen prys
kyk bo-oor onbenullige verskille
aanvaar medemens wat ook glo
saam met God sal ons nie vrees

©Teárlach

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.