Die uitdagings in onderwys

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Ingrypende verandering aan die onderwysstelsel sal binne weke dringend gedoen moet word. Die Covid-19-pandemie het onderwyspatrone heeltemal omver gegooi en dit sal versteurd bly vir jare.

Dis van die punte wat gemaak word in ’n onlangse studie van die departement ekonomie by die Universiteit Stellenbosch. Die studieleier, prof. Servaas van der Berg, sê nuwe leerplanne sal ontwikkel moet word wat aangepas is vir e-leer. Leerlinge moet beter opgelei word vir ’n vinnig veranderende tegnologiese wêreld. Die swak ekonomiese omstandighede beperk egter die moontlikhede en dit sal vir matrikulante al hoe moeiliker wees om werk te kry.

Onderwys wêreldwyd het vanjaar ’n ongekende moeilike tyd beleef. Maar die geforseerde, ingrypende veranderinge het darem ’n paar positiewe gevolge gehad. Volgens ’n verslag van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) het die Covid-pandemie meer as 1,2 miljard leerlinge in 186 lande se onderwys ontwrig.

Daar was internasionaal ’n dramatiese verskuiwing na e-leer. Ondanks die logistieke uitdagings, is bevind dat leerlinge kennis beter behou en in ’n korter tyd leer. Tussen 25 en 60% meer kennis word ingeneem met e-leer terwyl inname in die klaskamer net 8-10% is. Dit neem ook 40-60% vinniger om te leer as in klaskamers. Dis nou as omstandighede gunstig is.

Die belegging in afstandbeheerde onderwys sal na verwagting tot $325 miljard in 2025 toeneem. Een van die maatskappye wat sterk daarin belê, is Tencent (Suid-Afrika se Naspers-groep besit net meer as 30% van die aandele in dié maatskappy).

Die Chinese regering het in Februarie aangekondig dat 250 miljoen heeltydse leerlinge moet oorskuif na e-leer. Dit was die grootste beweging na e-leer ooit.

Uitdagings is omvattende, volhoubare opleidingsprogramme vir onderwysers, min voorbereidingstyd en ’n gebrek aan vinnige en sterk internetverbindings. In Switserland het 95% van die leerlinge goeie internetverbindings, maar in Indonesië is dit net 34%.

Vandag se onderwysstelsel, ook in Suid-Afrika, is geskoei op die behoeftes van die ou nywerheidsrewolusie, maar ons het nou te doen met die vierde nywerheidsrewolusie, kunsmatige intelligensie en robotte.

Die onderwysstelsel moet dus mense lewer wat sal kan meeding teen slimmasjiene. Hulle moet gedurig vernuwend dink en optree. Die WEF meen 40% van huidige kleuters moet eendag self werk skep om ’n inkomste te kan hê – 60% van die werke dán, bestaan nog nie. Die internasionale onderwyskommissie beraam dat meer as die helfte van die wêreld se jongmense (sowat 800 miljoen), teen 2030 nie die nodige vaardighede en kwalifikasies sal hê om in die nuwe ekonomie se arbeidsmag opgeneem te word nie.

Terug by Suid-Afrika. Prof. Van der Berg se navorsing dui daarop dat vanjaar se leerlinge net sowat 100 dae skool gegaan het teenoor die gewone 200. Vanselfsprekend kan verwag word dat die matrieks minder goed in hul eksamens gaan doen. Meer matrieks (en van ander grade) sal die jaar moet herhaal. Dit sal groter druk plaas in die klaskamers aanstaande jaar ten opsigte van spasie en geriewe.

En wat gaan Umalusi (die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding) doen? Gewoonlik pas hulle ’n eksamenpunt van ’n individu vir ’n bepaalde vak aan (op, of af) na mate dit afwyk van die gemiddelde standaard van die afgelope vier of vyf jaar.

Maar 2020 was nie ’n gewone jaar nie en kan nie vergelyk word met ander nie. Moet alle matrieks se punte dan aangepas word? Wat sal die kwalifikasie werd wees as studente dit voorlê aan universiteite aanstaande jaar?

Prof. van der Berg meen tussen 10 en 20% leerlinge het vanjaar skool verlaat en sal waarskynlik nie terugkeer nie. So sal hulle deel word van die groter poel van meer as 3 miljoen jeugdige werkloses met geen kwalifikasies en geen hoop nie.

Die departement se gewone “Annual Teaching Plan” sal waarskynlik eers teen 25 Januarie by skole afgelewer word wanneer die akademiese jaar begin. Dan is daar geen tyd vir aanpassing en voorbereiding nie. Die huidige leerplan is nie opgestel vir tye soos met die viruspandemie nie.

Drastiese aanpassings met staatshulp is nodig om vir veranderde omstandighede voorsiening te maak. Daar moet uitsluitsel kom oor, byvoorbeeld, sport. Kan die jaar maar wegspring met atletiek en onder watter omstandighede?

’n Positiewe ontwikkeling is die departement se inisiatief om 13 voorgestelde nuwe vakke vir grade 8 en 9 in die staatskoerant te publiseer. Dit sluit vakke in soos siviele tegnologie, digitale tegnologie, elektriese tegnologie, meganiese tegnologie en dan ook praktiese verbruikersgerigte vakke soos haarkappery, skoonheidstegnologie en gasvryheidstudie. Die probleem is dat dit broekskeur sal gaan om die nodige opgeleide onderwysers te kry om dit aan te bied. Dit sal waarskynlik etlike jare duur om van die vakke prakties in die klas te begin aanbied.

Tot voordeel van veral die sommige kwantiel 4 en 5-skole het onderwysers vanjaar vinnig ingespring en binne ’n baie kort tyd tegniese hulpmiddele baasgeraak. Maar weinig van die ander staatskole het die nodige geriewe, wat nog van die vaardigheid. Tog meen prof. Van der Berg sommige kwantiel 4 en 5-skole gaan ook sukkel, want al hoe meer ouers kan nie die skoolgeld bekostig nie. Dit sal waarskynlik daartoe lei dat beheerrade nie meer vir bykomende onderwysers sal kan betaal nie. So verhoog die getal leerlinge per klas tot nadeel van doeltreffende onderwys. Dit terwyl duisende leerlinge nog nie vir aanstaande jaar geplaas is nie.

Prof. Van der Berg is skepties oor e-leer en waarsku dat die meerderheid skole by verre nie toegerus is daarvoor nie. Daarby moet onderwysers en leerlinge selfs meer toegewyd wees as met die huidige leerplanne. Dit moet spesifiek geskryf word vir e-leer, onderwysers moet hul storie ken en skole moet rekenaars vir leerlinge hê. Hy is redelik teleurgesteld met hoeveel e-leer in die omstandighede van Covid-19 kon help om agterstande te beperk – selfs in nywerheidslande.

Ouers kan met reg bekommerd wees oor die jaar wat voorlê. Dit gaan ’n deurslaggewende jaar vir onderwys wees. Die geleentheid sal aangegryp moet word om die hele onderwysstelsel in heroorweging te neem. ’n Nuwe basis moet gelê word om ons leerlinge op ’n weg na ’n werkende toekoms te plaas.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Maak nie saak watter onderwerp bespreek word in SA die saak bly ‘n onopgeloste krisis. Baie geld word na die probleem gegooi en die seminare om die probleme op te los word net meer en niks word op grondvak uitgevoer nie.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Die oplossing lê in tegnologie of ons wil of nie. En Volkskool Orania se afstandsonderrig is ideal vir ons Afrikaanse kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.