Die val van die jong, siek regstaat – en die groei van ʼn nuwe bedeling: Plan A

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks van vyf artikels wat deur Malan oor die Grondwet geskryf is. Die artikels sal oor die volgende vyf weke elke Donderdag op Maroela Media gelees kan word.

Die bespreking in die vorige aflewerings het aan die lig gebring dat pres. Jacob Zuma en sy trawante nie die groot probleem is nie. Selfs ná sy vertrek sit ons steeds met die eintlike probleem: ʼn grondwetlike bedelingsprobleem. Die Grondwet is nie oppermagtig nie en daar bestaan nie iets soos verskanste regte nie. Dit verleen nie beskerming teen die vernieling van “transformatisme” en die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) nie. Inteendeel, die Grondwet laat dit toe en fasiliteer dit. Die howe is oplaas ook nie die rem en teenwig teen die skade van transformatisme nie. Dit is juis die fasiliteerder en regverdiger daarvan. Die fraai sprokie oor die regstaat en die plegtige grondwetlike akkoord was toe presies dit: ʼn fraai sprokie.

Die grondwetlike bedeling lewer veral die minderhede, meer bepaald die Afrikaners, aan die verwoesting van transformasie uit. Dit was nie die groot plan nie, bloot ʼn ydele hoop. ʼn Plan, Plan A, moet dus nou vir die eerste keer gemaak word.

ʼn Selfstandige gemeenskap

Die oogmerk van die plan is treffend eenvoudig. Bewerkstellig selfstandigheid vir die Afrikanergemeenskap in vrede met al die ander inwoners van die land.

ʼn Gemeenskap met ʼn karakter van volwassenheid behoort per slot van rekening sy eie lot te bepaal en nie aan ander se diktate uitgelewer te wees nie. Dit bied ook die basis vir individuele vryheid. Gemeenskapselfstandigheid bied ook beskerming teen die vervallende staat en die teistering van transformasie – iets wat die Grondwet en die howe nie (kan) doen nie.

Te oordeel na wat Afrikaners reeds aan die doen is, word die plan nie beraam nie. Dit word reeds in werking gestel. Ander gemeenskappe is soortgelyk doening, maar die Afrikaners het verreweg die verste gevorder. Wat behels die plan? Ons kyk eers na die uitgangspunte en dan na die daadwerklike uitvoering.

Die uitgangspunte

Die plan het vier uitgangpunte.

–           Dit is nie vir ʼn minderheid moontlik om bepalings van die Grondwet te wysig nie. Moet daarom nie energie op so ʼn nodelose oefening verspil nie. Buitendien, en dit is baie belangrik, ʼn grondwet word nie soseer geskryf nie; eerder ondergaan ʼn konstitusionele orde daadwerklike verandering na mate nuwe praktyke en realiteite, ook die praktyke van realiteite van selfstandigheid, gevestig word.

–           Onderhou gesonde verhoudings met almal, meer bepaald ook met swart mense. Per slot van rekening praat ons van selfstandigheid en nie van isolasie nie. En buitendien is die persoon-tot-persoon-verhoudings in Suid-Afrika steeds verbasend goed. Verleen ook bystand waar nodig en moontlik. Afrikanerorganisasies soos AfriForum en Orania doen dit. Dis die regte ding om te doen en stel ʼn navolgenswaardige voorbeeld.

–           Moenie slegs op jou eie te werk gaan nie. ʼn Individu is oplaas maar swak, veral in die aangesig van ʼn vervallende staat en ʼn verwoestende ideologie. Ontdek dus die krag van die bemagtigende gemeenskap. Die Afrikanergemeenskap, soos alle ander gesonde gemeenskappe, organiseer homself deur instellings. Oor die afgelope dekade het baie daarvan ontstaan en sterk geword. Daar is ʼn wye keuse van instellings om deur woord, daad en geld jou gewig by in te gooi, waar dit elkeen se talente en vermoë die beste pas.

  • Bewerkstellig ʼn behoorlike ewewig tussen die belange van gemeenskappe en die regte van individue. Dié ewewig moet ook vir die Afrikanergemeenskap en sy lede geld. Ons praat nie hier van ʼn geslote nie, maar huis van ʼn gediversifiseerde Afrikanergemeenskap.

Konsentreer

Hoe word die plan van selfstandigheid in werking gestel? Wat is daar te doen? Ons hoef nie te teoretiseer nie. Ons kan konkreet wees.

Help woeker in die Afrikaanse onderwys. Die geleenthede is legio. Daar kan allermins op die staat vertrou word. Inteendeel, op die rug van transformatisme is daar skerp vyandig anti-Westerse dryfvere by sommige Suid-Afrikaanse universiteite aan die werk, wat, onder meer, verdomliking in plaas van intellektuele afronding in die hand werk. Daarom dat Piet le Roux van Akademia onlangs verklaar dat dié instelling gelyktydig tot diepgaande opvoeding sowel as gevorderde spesialisasie verbind is, en met die oog daarop besig is om plaaslike sowel as buitelandse bande te vestig. Afrikaanse onderwys is dus nie net ʼn taal-noodsaak nie; dit is ook intellektueel noodsaaklik.

Soltech het reeds talle jong Afrikaanse ambagslui opgelewer en van ekonomiese vlerke voorsien.

Talle Afrikaanse private skole is reeds aan die gang. Hou die fort by die uitstekende Afrikaanse openbare skole wat daar steeds is, maar maak reg vir (verdere) privatisering. ʼn Kultuurgemeenskap kan nie die opvoeding van sy kinders aan onbekwame en ideologiese maltrap-owerhede delegeer nie.

Tans ontspring nuwe Afrikaanse professionele, akademiese en ambagsverenigings: regslui, rekenmeesters, medici, wiskunde-onderwysers, akademici in verskeie dissiplines en dergelike meer. Hulle doen opleiding, neem jong Afrikaanse mense in diens, skakel onderling, skakel met buitelanders en verbeter die gehalte van hulle eie werk. Dit het pas begin. Hef aan lê voor.

Die onderlinge samewerking van Afrikaanse sakelui, aangevul deur bande met buitelandse sakelui en gestimuleer deur vindingryke sake-innovasie, hou die belofte van materiële voordeel vir die betrokke sakelui in, wat deursyfer na voordeel vir die hele kultuurgemeenskap. AfriSake wat enorme groei beleef, gee hieraan aandag: ʼn Staatsbestande sake-netwerk is in wording.

Dis nie nodig om met die veiligheidsmuur en die alarm te volstaan nie. Sluit aan by die buurtwag en verwerf die vaardigheid om ʼn verskil te maak. AfriForum het reeds honderd buurtwagte en die leierskap en opleiding is goed. Daar is natuurlik nog baie ander private veiligheidsnetwerke. Plek-plek heers goeie samewerking met die polisie (nasionaal en metro). Dis goed. As daar nie is, doen die buurtwag sy eie ding – regmatig.

Die Suid-Afrikaanse staat paradeer as die groot versorger. Hy betaal maatskaplike toelaes aan 17 miljoen mense. Moet egter nie op hom vertrou nie. Sy optrede is nie gemik op ekonomiese groei en om mense tot selfstandigheid te lei nie, maar juis op die teendeel: om ʼn afhanklike menigte as stemvee aan te hou. Die toelaes is bowendien iets, waarmee hy, na mate hy ekonomies en administratief faal, nie kan volhou nie. Maak daarom ʼn plan soos die een van die Helpende Hand en dergelike ander. Versorg jou hulpbehoewendes self op ʼn manier wat ʼn sin vir selfverantwoordelikheid aankweek.

Al die pas gemelde voorbeelde van selfstandige handelinge, van plan A, staan in die teken van konsentrasie. Die noodsaak vir konsentrasie staan ook in die kern van prof. Louis du Plessis, vroeër van krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch, se denkwyse oor wat Afrikaners te doen staan. Moenie versprei, versplinter en oral ʼn nietigheid wees om uiteindelik net geassimileer te word en gevolglik in die niet te verdwyn nie. Inteendeel, konsentreer.

…en territorialiseer

 Maar, voeg Du Plessis nou die dag by, territorialisering is die omvattendste en doeltreffendste manier van konsentrasie. Dit skep omvattendste vermoë tot selfstandigheid op alle terreine en dit is die mees omvattende verweer teen die vervallende staat en transformatisme.

Konsentreer dus op ʼn bepaalde geselekteerde plekke. Dit is trouens volskaals aan die gang, op veral vier maniere. Daar is die voortgesette trek na die stede en ʼn paar groter streeksdorpe; die trek na die Wes- en die Suid-Kaap; die trek en vestiging na omheinde veiligheidsbuurtes, en die trek na Orania, wat homself as toekomstige Afrikanerstad aanbied en waar aktief belê en gewoeker word.

Orania is enersyds buitengewoon. Dis konsentrasie en territorialisering met ʼn kulturele karakter. Groeiende selfstandigheid is hier uitdruklik geartikuleer. Dis andersyds egter glad nie buitengewoon nie, aangesien dit bloot een is van verskeie tendense van konsentrasie en territorialisering – konsentrasie op bepaalde plekke.

Groot omwenteling

Suid-Afrika het in die middel 1990’s ʼn omwenteling ondergaan. Die omwenteling was egter allermins so finaal soos wat die populêre benaming finale Grondwet suggereer. Tans ondergaan die gewaande finale Grondwet ingrypende verandering na mate die staat verval, transformatisme verwoesting saai en gemeenskappe daarop reageer, onder meer ook die Afrikaners wat oral by wyse van instellings konsentreer en hulself beveilig en stabiliseer. Natuurlik lê die groot werk nog voor.

Niks staan egter in die pad daarvan nie. Die staatsadministrasie is eenvoudig te swak en vakuums gaan oral oop. Vakuums wat gevul word: Deur selfstandige onderwys op alle vlakke, selfstandige ekonomiese bedrywighede, maatskaplike sorg, beveiliging, regspleging en deur konsentrasie op geselekteerde plekke.

Die konstitusionele orde is in vloeibare toestand en deur gemeenskappe se selfstandige optrede neem ʼn nuwe bedeling vorm aan.

Ons situasie is hoogs vloeibaar, soms onstabiel en gevaarlik. Tog is dit vol belofte na mate konsentrasie en territorialisering danksy daadwerklike praktyke ʼn nuwe konstitusionele bedeling van selfstandige gemeenskappe tot stand bring.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Jan ·

Uitstekende stuk. Dit gee baie stof tot nadenke. Konsentrasie is na my mening iets wat vanself sal kom as gevolg van lewensomstandighede. Wat egter nodig is om opvang areas daar te stel. In die vorm van finansiele instellings, primere en sekondere onderwys om aan te sluit by Soltek en Akademia wat leerplan en standard betref, en so voorts. Daar is nog baie werk vir ons in hierdie land.

Sydney Gregan ·

Sedert 1994 het ek verskeie artikels geskryf waarin ek gestel het dat die 94- en daarna die 96-grondwet die grootste vyand van die Afrikaner is. Nie ‘n individu of ‘n party nie, maar die grondwet! Alles wat in werking gestel word om die Afrikaner te ontmagtig en te vernietig het die grondwet as basis. En vir enigeen met iets tussen die ore was dit van die begin af baie duidelik.

Ek is daarom verbaas dat na meer as 20 jaar, waarin stukrag deur middel van die grondwet aan die vernietiging van die Afrikaner gegee is, daar nou skielik ontdek word dat dit wel die geval is. Ek laat my nie vertel dat intelligente mense dit nie van die begin af geweet het nie!

Die bestel met sy grondwet moet beveg word, eerder as om telkens vir krummels te baklei binne die raamwerk van daardie Afrikaner-vyandige grondwet.

Disselboom ·

@Sydney – die goeie nuus is dat die besef uiteindelik begin deurdring dat die grondwetlike wonder nie so wonderlik was nie. Dis nog nie duidelik waar orals die besef deurdring nie, maar wel interessant dat prof Malan die onafhanklike geluide begin maak en veral oor die onderwys, terwyl die Fedsas/Solidariteit-alliansie in die onderwys op tersiêre vlak dinge aanpak, maar dat die privaatskoolwese (primêre en sekondêre onderwys) se aandag op die einste grondwet, hofsake en hoe om staatskole Afrikaans te hou gefokus bly. Daar het bv dadels gekom van die Augustus 2016 onderwysberaad. Solidariteit se onderwysersopleidingshandperd, AROS, lei ook onderwysers vir staatsonderwys op.

Abram F Celliers ·

Goeie artikel. Goeie plan. Ek weet dit is nie ‘n nuwe plan nie, maar dit is goed dat ons gereeld net weer kyk of ons nog op die regte pad is. Ongelukkig vat dit tyd, en ek weet nie meer hoe lank gaan hierdie Suid-Afrikaanse kaarthuisie bly staan nie.

JC ·

Dankie Prof. Uitstekend, en belangrik vir ons.
Neem kennis asb!

Henk ·

Uitstekend en insiggewend. Boonop positief en nie soos soveel ander joernalistieke stukke en “oop briewe” vol negatiewe sinnelose kommentaar nie!

Frans C ·

Werklike vryheid is slegs haalbaar binne ‘n onafhanklike staat met sy eie regstelsel ens.
Solank ons binne die grense van Suid Afrika bly,bly ons onderdane en ondergeskik aan ‘n swart meerderheidsregering.
Daar is geen manier waarop gekeer kan word dat die ANC die grondwet met behulp van die EFF so kan wysig nie,dat selfs dit wat jy as jou eie beskou ,te onteien nie.Dit sal werklik naiëf wees om te dink dat as alles rondom ons in duie stort die ANC nie sy kloue sal inslaan in dit wat nog werk nie.
Dit is mos presies wat dit tot opdatum gedoen het op alle terreine,dit wat suksesvol was sy
eie gemaak deur getalle oorwig van wieg tot graf.Dit wat de Klerk en sy meelopers gedoen
het was die domste ding ooit en toe ek dit aan diegene se verstand wou bring,is ek selfs met geweld gedreig.

Nou loop diegene wye draaie om my,net een het daarom die moed om te erken dat hy verkeerd was en glo nou vir die regte party stem.Maar soos met alles kom spyt te laat.

Johan Neuteman ·

Dit klink of die met AfriSake baie goed gaan (“enorme groei”). Sal graag meer wil weet – nog nie van gehoor nie en dalk geleentheid waarby mens moet aansluit? In watter sektore is AfriSake bedrywig? Hoe skakel mens in?

Piet le Roux ·

Goeiedag Johan. AfriSake het onlangs die 10 000-lede kerf verbygesteek en raak-raak nou aan 12 000. Ek sluit vandag as nuwe uitvoerende hoof aan en sien uit na die bevordering van ‘n selfstandige sakenetwerk. Kyk later vandag gerus na ons webblad vir meer inligting; of stuur ‘n e-pos na diens [by] afrisake [punt] co [punt] za.

Eish ·

Nadat ek aanvanklik die smartieboksie vol anti depressante op die lessenaar staan gemaak het langs n groot glas water, soos die gebruik gevorm het sedert die reeks artikels hul opwagting gemaak het, was dit vandag puur verniet! Ek is nie so wyd belese, bestudeerd, bekwaam of befoeterd soos sommige kommentators nie, maar proffie, vandag het jy my moed gegee. Moed om aan te gaan en te volhard, want ek is op n pad en dobber nie meer nie doelloos rond op die oseaan van n wanhopige werklikheid nie. Genadiglik is my geldjies ook lankal op die regte “perre” gesit. Prof. Malan, as daar een ding is wat u artikel gedoen het, is dit om hoop te gee op die pad wat ons in stikdonkerte bewandel. Dis die kat ogies wat die rand en kant van die pad aandui. Baie dankie vir n logies en duidelik omskryfde, rigtinggewende artikel. Sela.

Ou Varkerasies Ingelyf ·

Geagte prof. Malan, seker een van die beste artikels wat ons Afrikaner Varkerasies nog ooit sedert 1994 gelees het. Belangrik u stelling: ” Onderhou gesonde verhoudings met almal, meer bepaald ook met swart mense. Per slot van rekening praat ons van selfstandigheid en nie van isolasie nie. ”
Afrikaners moet fokus, fokus, fokus op reg en geregtigheid en naasteliefde en wêreldkompeteerbaarheid. Viva vir die toekoms. Viva! Gryp die dag aan met sinvolle bestaan.

rassie ·

Prof,

Ek stem saam. Een vraag wat ek egter wel het is oor u insluiting van regspleging onder al die verskillende wel moontlike privatiseringsinisiatiewe soos onderwys, maatskaplike sorg, beveiliging, ekonomiese bedrywighede ens.

Dit is moeilik om te glo dat regspleging binne ‘n eenheidstaat privatiseerbaar is. Moontlik op baie lae sivielregtelike vlak, maar beslis nie die hele hirargie van howe nie. Regspleging is na my mening iets wat altyd een van die sentrale owerheidsfunksies sal bly en wat die sentrale owerheid ook nie sal prysgee nie.

Albaster ·

Dit was baie inspirerend om te lees. en gee goeie raad vir ons. Ek wil so ver gaan as om te se dat ons ophou om beursbydraes en finansieele ondersteuning aan ons alma maters te gee en dit eerder vir Akademia gee.

Leonard van der Dussen ·

Stem saam met prof Malan se klem op onderwys in die werkswyse wat hy voorstel. Dis vandag presies ‘n jaar gelede wat Solidariteit se “Toekomsberaad oor Onderwys” in Centurion gehou is. Dit wil lyk of Disselboom ‘n punt beet het oor ‘n gebrek aan belangstelling in privatisering van Afrikaanse onderwys; daar was heelwat referate daardie dag met ‘n selfprysende inhoud van Afrikaanse staatskole, maar luister iemand na prof Malan se mening dat Afrikaner-onderwys se fokus moet verander?

Eish ·

Die voorlopers bevind hul gewoonlik maar op n pad wat nie deur druk verkeer gekenmerk word nie. Die getalle kom eers later wanneer die nuwe die bestaande oortref in aansien. Amper soos om n modegier te skep.

Evolusionis Afrikaneris Bosvarkis ·

Seker die wêreld se grootste uitdagings is * Om die ongebreidelde bevolkingsaanwas onverwyld aan te spreek; * Om spoedig te leer hoe om multikulturele samelewings te bestuur * Om omgewings te skep waar mense as entrepreneurs kan presteer en vir andere ook werksloopbane kan skep; * Om die omgewing en natuur te beskerm. Die alternatief is eindlose magstryde, kriminaliteite, haat en onmin. ‘n Ware stryd teen die reg en onreg, die goeie en die slegte in ‘n onvolmaakte wêreld Aarde. Dit gaan oor oorlewing, die oorlewing van die sterkstes (en slimstes).

Kaalvuis ·

Prof Malan se insigte is tekenend van ‘n diepe kennis van die Konstitusionele reg en die komplekse aard van die wisselwerking tussen nasionalisme, eie identiteit en die gevolglike spanning tussen meerderheidsbewindhebbers en minderheidsgroepe. Die strakke werklikheid is dat die regte van minderhede altyd sal swig voor die eise van die meerderheid behalwe waar die regte van die minderheid ook tot voordeel van die meerderheid is.
Die Grondwet is dus so plooibaar soos die meerderheid dit toelaat om te wees en nie so in graniet gegiet soos sommige mense wil glo nie. My kommer is dan juis ook dat die Grondwet al meer ‘n struikelblok raak vir die meerderheid se opmars na algehele oorheersing en dat verandering daaraan in die afsienbare toekoms gaan geskied sodat dit meer ” populis-vriendelik” is. Die Afrikaner gaan ‘n baie donker tyd in sy bestaan in maar ons sal sterker anderkant uitkom mits ons bereid is om met mekaar en ander saam te werk.

Frans C ·

‘n Mens moenie glo dat as alles uiteindelik swig op ‘n ondraagbare sosiale las van sosiale toelaes ens,die staat nie belastings sal verhoog nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.