Die val van die Muur 30 jaar gelede

berlynse-muur-02

Foto: Pinterest.com

1989 was een van daardie waterskeidingsjare in die geskiedenis, waarna niks meer dieselfde was nie. Dit was die jaar waar die ystergordyn en kommunisme (ten minste in Oos-Europa) geval het en die Koue Oorlog spoedig beëindig is.

Seker die mees simboliese gebeurtenis het op 9 November 1989 in Berlyn plaasgevind, toe die Muur, wat die hoofstad van Duitsland in twee gedeel het (’n kommunistiese en ’n vrye deel), geval het. Daarna het gebeure vinnig ontwikkel tot en met die hereniging van Duitsland minder as ’n jaar later.

Die groter konteks van die einde van die Koue Oorlog was die toenadering tussen die VSA (onder president Ronald Reagan, wat kommunisme orals teruggedwing het) en Michail Gorbatsjof (die leier van die Sowjet-Unie) wat die stelsel van kommunisme grondig wou hervorm. Ook die rol van die kerk moet nie onderskat word nie: die destydse pous Johannes Paul II, afkomstig uit Pole, was ’n uitgesproke antikommunis en het die Christene in Oos-Europa geïnspireer om kommunisme vreedsaam te oorkom.

Pole en Hongarye was die voorlopers. In Pole in 1980 het die Christelike vakbond Solidariteit dit reggekry om as eerste niekommunistiese en vrye vakbond erken te word en het saam met ander drukgroepe, soos die kerk, met die regering onderhandel en op ’n demokratiese stelsel aangedring. In Hongarye was die kommunistiese regering self hervormingsgesind en dit was ook die eerste land wat die ystergordyn tussen Oos en Wes verwyder het, naamlik tussen hom sy buurland Oostenryk.

Nie alle lande het met dieselfde pas beweeg nie, maar teen die einde van 1989 was al die ou leiers verwyder en ’n proses van demokratisering aan die gang.

In Oos-Duitsland, oftewel in die Duitse Demokratiese Republiek (DDR), was die leier Erich Honecker ’n stoere kommunis en wou niks weet van Gorbatsjof en sy hervormings nie. Hier het egter, aangemoedig deur gebeure elders, ’n burgerlike versetbeweging ontstaan. Ook hier het die kerk (in dié geval die Lutherse kerk) ’n wesenlike rol gespeel om mense te verenig, te bemoedig en op die pad van vreedsame verset te hou.

Vanaf September 1989 het burgers van die DDR die eerste keer teen die bewind betoog, iets wat in dié totalitêre en onderdrukkende staat ongehoord was.

Die betogings, eerste in die stad Leipzig, het al hoe meer mense getrek en in al hoe meer stede plaasgevind soos wat mense hul vrees vir die veiligheidsmagte verloor het. Daar was ook al hoe meer mense wat die nuwe winde van verandering in Hongarye gebruik het om soontoe te reis en daar by die Wes-Duitse ambassade aansoek te doen vir immigrasievisums. Dit was ’n verleentheid vir die Oos-Duitse bewind, wat juis in Oktober 1989 sy 40ste bestaansjaar gevier het.

Binne die bewind het krake ontstaan tussen diegene soos Honecker – wat liefs alle opposisie wou onderdruk en wou voortgaan asof niks gebeur het nie – en effens jonger en meer gematigde persone wat deur sekere toegewings die druk wou aflei en wat kommunisme wou hervorm sonder om dit af te skaf.

Honecker is toe in Oktober 1989 deur die politburo (die binnekring van die Kommunistiese Party) gedwing om te bedank, en deur die jonger en meer buigbare Egon Krenz vervang. Die mense het egter deur die skuif gesien en wou vryheid hê en geen hervormde kommunisme nie.

Die betogings het toegeneem en het nou selfs die hoofstad, (Oos-) Berlyn, waar die mees lojale ondersteuners van die bewind gewoon het, bereik. Die bewind het nou net twee keuses gehad: onderdruk die opstande bloedig of gee die mense iets wat hulle dalk tevrede sal stel sonder dat hulle die bewind uit die kussing lig.

Die staatsmag was teen daardie tyd nog volledig in die hande van die regeringsparty, maar die betogers het die internasionale steun, die momentum en die morele hoër grond aan hul kant gehad.

Een eis van die betogers (naas vryheid van spraak, demokratiese deelname en ander) was die vryheid om te kon reis, asook om te emigreer na die vrye en demokratiese Wes-Duitsland. Ten spyte van alle pogings om die mense in onkunde te hou en om die DDR as die beter Duitsland voor te hou, kon talle mense Wes-Duitse televisiekanale opvang en ’n ander prentjie van die werklikheid kry. Om die druk af te lei, het die politburo toe besluit om emigrasie asook reise na die Weste te vergemaklik, sonder om die impak van die besluit te besef.

Die aand van 9 November het Günther Schabowski, die destydse spreker van die regering, wat egter nie voor die tyd oor die aard en inhoud van die nuwe reëlings ingelig was nie, dit op ’n perskonferensie voorgelees. Hy was nie seker wanneer die reëlings van krag sou wees nie en het aanvaar dit is onmiddellik.

In die aandnuus in Wes-Duitsland is dit oorgedra dat die bewind die Muur nou geopen het. Die nuus het soos ’n veldbrand versprei en mense het by grensposte saamgedrom en aangedring om nóú, in die laat aand, na Wes-Berlyn te gaan. Die grenswagte het nie geweet wat om te doen nie en hier en daar is mense toegelaat om oor te gaan, nog met die amptelike grensprosedure. Soos wat die massas egter al hoe groter geword het, is een slagboom ná die ander oopgemaak, want die grenswagte kon in elk geval nie meer die massas keer nie, tensy hulle massiewe geweld sou gebruik.

Die leierskap het toe reeds vir alle praktiese doeleindes beheer verloor en het geen leiding meer aan sy soldate gegee nie.

Die grensposte was vir die eerste keer oop vir almal en die Muur het sy verskrikking verloor. In die volgende weke en maande is dit stuk vir stuk deur die mense verwyder. Die kommunistiese regering was toe gedwing om vir ’n oorgang na demokrasie te onderhandel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hans Richardt ·

Die kommunistiese Duitsers kon met dagpermit in Wes-Berlyn gaan inkopies doen.
Deesdae is dieselfde Oos-Duitsers die sg “verregses”! Angela Merkel, as Oos-Duitser, het oorboord geval en sukkel om aan bewind te bly met haar liberale chaos beleid.
Die Wes-Duitsers het na WO2 in dwelms verval en prostitusie/ vrye liefde.
Dalk is die behoudende kant nog beter.

Wim Kotze ·

Ja, die Rapportryers kon toe ook die verbode vrugte van hulle vaders begin verorber.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.