Die verbond tussen geslagte

Flip Buys saam met sy neefs in hul kinderjare (Foto: Verskaf)

ʼn Tydjie gelede praat ʼn sakevriend met my oor sy beoogde nalatenskap aan sy kinders. Soos elke sorgsame pa, wil hy iets vir hulle nalaat sodat hulle nie “van voor af” met die lewe moet begin nie. Nadat ek na sy planne geluister het, vra ek hom: “Dis goed en wel om welvaart tussen geslagte oor te dra, maar wat van die oordrag van kulturele skatte na die volgende geslag”?

My vraag het hom onverhoeds betrap. Hy het op persoonlike vlak gepraat, en nie op gemeenskapsvlak nie. “Wat bedoel jy?”, vra hy my. “Ons bestaan tog nie net uit gesinne nie, maar al die gesinne saam is tog ʼn volk of kultuurgemeenskap”, sê ek. “Ons kan tog nie ʼn bankrot boedel met al die verval in die land aan hulle oorlaat nie – ons kinders verdien mos beter.”

Ons het toe uitvoerig oor die kwessie van die nalatenskap van een geslag aan die volgende een gepraat, en hy het onderneem om wyer as net sy eie gesin te kyk. Natuurlik is ʼn mens eerstens verantwoordelik vir jou eie gesin, maar terselfdertyd vir jou kultuurgemeenskap ook. Geen gesin kan tog veilig of voorspoedig leef as hulle gemeenskap verval nie. Die vertrekpunt van die stigting van die Solidariteit Beweging is juis dat ons verantwoordelikheid vir ʼn gemeenskap neem, en nie net vir ons eie gesin nie.

ʼn Beskawing, volk of ʼn kultuur kan net voortbestaan as die verbond tussen geslagte doelgerig in stand gehou word.

Elke geslag moet dít wat van die vorige geslagte ontvang is bewaar en dan in ʼn beter toestand aan die volgende geslag oordra. Hierdie oordrag geskied deur die kultuur se instellings soos skole, universiteite, stede en owerhede.

ʼn Nuwe geslag “erf” sekere kultuurgoedere en hoewel hulle dit verniet kry, was dit nie “verniet” nie. Daarom het hulle die verantwoordelikheid om daartoe by te voeg sodat die volgende geslag ʼn ryker erfenis kan kry. Geen geslag mag ook hulle kinders se erfenis weggee of laat verval nie. Dieselfde geld vir ʼn gemeenskap se erfenis, soos Afrikaans as taal. Niemand het die reg om weg te gee wat nie hulle s’n is nie! Daarom is dit verkeerd om ʼn verbond te verbreek of toelaat dat dit verbreek word of vanself verval.

Atheense eed

Hiérdie verbond tussen geslagte het oor die eeue die grondslag van die sukses van die Westerse beskawing gevorm. Die oorsprong hiervan kom uit Antieke Athene van 2 500 jaar gelede. Destyds moes jongmans ná hul militêre diensplig ʼn besondere eed aflê: Hulle moes onderneem om die Atheense beskawing, wat hulle van hul voorgeslagte geërf het, te bewaar, te verdedig en dan in ʼn beter toestand aan die volgende geslag oor te dra. Kulturele erfenis gaan nie oor geld en goed nie, maar oor taal, kultuur, lewenswyse, instellings, tradisie, argitektuur, kuns en letterkunde.

Hier het jong mans van militêre ouderdom die eed in Antieke Athene afgelê. (Foto: Manuel Cohen / Manuel Cohen / Manuel Cohen via AFP)

Aflosstokkie

ʼn Voorwaarde vir die voortbestaan van ʼn kultuur is dat elke geslag vir die volgende een leef. Dit is soos ʼn ketting van geslagte wat elkeen soos in ʼn aflosspan die stokkie moet dra en dan weer aangee. ʼn Volk is net een geslag diep. As nét een geslag nie sy deel doen nie, val die aflosstokkie, en dan val ʼn skool, ʼn kerk, ʼn kollege, ʼn universiteit, ʼn stad, ʼn regsorde, ʼn ekonomie en uiteindelik ʼn beskawing. As nét een geslag nie sy taak van bewaring en oordrag nakom nie, sterf daardie volk, kultuur of beskawing uit.

Ons as Afrikaners is met reg trots op ons voorouers, maar dit is nou ons geslag se beurt om ons taak só te verrig dat ons nageslag weer trots op ons kan wees. Daarom kan ons nie in moedeloosheid verval of in die huidige omstandighede berus nie. Ons moet meer van onsself dink, meer van onsself verwag, groter dink en groter doen. Ons durf nie toelaat dat die Afrikaner se geskiedenis by ons geslag ophou nie.

Daar was ʼn tyd toe jong Afrikaners geglo het dat alle tradisies van hul voorouers verkeerd was. Elke geslag dink immers hy is slimmer as die vorige en wyser as die volgende geslag. Vandag besef al meer mense dat tradisie in werklikheid oplossings is vir die probleme waarvan ons al vergeet het. Die belangrikste hiervan is die tradisie van vryheid wat so noodsaaklik vir veiligheid en voorspoed is. Alle gewoontes is wel nie tydlose tradisies wat in stand gehou moet word nie, soms is dit soos Van Wyk Louw gesê het opdrifsels wat agtergelaat moet word. Ons neem die beste uit die verlede en bou die toekoms daarop.

Flip Buys (Foto: Reint Dykema)

Daarom is die Solidariteit Beweging se onderrig- en opleidingsprojekte vir ons so belangrike. Ons geslag het ʼn tradisie van tegniese uitnemendheid geërf, wat in Duitsland ontstaan het, na Suid-Afrika uitgebrei en hier verder ontwikkel is. Sol-Tech is byvoorbeeld gebou om daardie tradisie te bewaar, te verbeter en vir die volgende geslag aan te gee.

Ons voorouers se opofferings mag nie tevergeefs wees nie, en ons nageslag verdien beter as dit wat nou daar is. Daarom is ons beweging besig om ʼn omvattende kulturele ekosisteem te bou waarin en waardeur Afrikaners as kultuurgemeenskap kan leef, en terselfdertyd ook ʼn bydrae tot die welstand van die land en sy mense kan lewer.

Dit is ons plig en voorreg om vir ons gesinne te sorg, maar dis terselfdertyd ons verantwoordelikheid om midde in die verval in die land deur sterk selfhelp-instellings vir die volgende geslag Afrikaners ʼn beter toekoms na te laat as wat hulle nou het. Dit is hoekom ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal, oftewel tussen sakelui en hulle gemeenskappe, so belangrik vir die toekoms is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

Alles waar maar die verbond tussen geslagte help niks as daar nie meer ‘n geslag is om dit aan oor te dra of na te laat nie. Solidariteit doen moeite om Afrikaners help oplei maar waar gaan hul werk vir kos en verblyf? Groot geraas is gemaak oor besighede wat nie witmense en veral Afrikaners aanstel nie. Het enigiets verbeter? Nee. Hermann & Kie was tot by die VN met ons treurmares maar geen reaksie volg toe nie. ‘Advertensies’ vir die volk oor hulp help niks. Selfs die sg Afrikaner-winkels vir hulpbehoewendes word beman deur anderskleuriges. Skyn-helpers wat teer op armes se ellendes is voluit boos.

kaplyn ·

Sjoe, Annie, jy is darem maar ‘n verbitterde mens! Kyk na al jou kommentare. Nee man mens kan nie so deur die lewe gaan nie! En ek sonder jou nie uit nie, maar al die ander “skrifgeleerdes en fariseers” wat op alles wat Afrikaans en Afrikaner(isme) is julle bittergal en verwyte uitspreek. Al wat ek van jou en die ander kommentare aflei is “sit op jou ashoop en verwyt alles en almal. Nee man staan op en wys wat in jou steek en beur voorentoe saam met al die ander Afrikaners! Mislukking of nie, doen iets!!! Dankie Flip!

Mari ·

@Annie,
Jou kommentare is puik! Jy is elke keer in die kol. Doen so voort.

Witbaard ·

Stem met jou Kaplyn. Sy is altyd baie negatief. Wonder wat doen sy om die land se situasie te verbeter. As ek kan raai, dan seker NIKS.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek stem selde saam met Annie, maar verdedig haar reg om haar sê te sê. Wat gaan van ons word indien almal gedurig saamstem en aandrentel agter die trop leiers. Dit beteken iemand dink nie. In die natuur maak trop leiers dikwels foute tot nadeel van die trop. Trop leiers begin mekaar dan aanval ten aanskou van ‘n magtelose trop. Dis van kardinale belang dat ons kennis neem van mekaar sienings. Dink maar terug aan die wyse waarop PW uitgeskop is deur honger wolwe en die res van ons magteloos toegekyk het.

Kobus ·

Ek ervaar ‘n magdom mense wat kla, kritiek lewer en negatiwiteit. Ek self kan my nie skaar by al die deelnemers nie en hul denke nie, maar ons kan nie net kla, negatief wees en kritiek lewer nie. Dit wat afgespeel het in 1994 is verby. Ons kan nou niks daaraan doen nie. Omstandighede het heeltemal verander. Dit sal nogal gaaf wees as mense kom met positiewe voorstelle en oplossings.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kobus, ek wens sake was so eenvoudig. Ongelukkig kan jy nooit van die verlede ontsnap en wegstap asof alles piekfyn is nie. Dis wat ons gevorm het en ons sal agtervolg, die positiewe en die negatiewe.

Mari ·

Ons sal beter planne kan maak as ons die nare werklikhede (wat annie uitwys) in die gesig staar en daarvolens planne maak. Die handjies vat en koekies bak het ons nog nêrens gebring nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.