Die vergete oorlog

‘n Optog om 600 dae sedert die begin van die oorlog in Tigray aan die kaak te stel. Die Tigray-oorlog in Ethiopië woed sedert November 2020. (Foto: Xose Bouzas/Hans Lucas/Hans Lucas via AFP)

Terwyl die oorlog in die Oekraïne tereg die nuus oorheers, woed daar ʼn oorlog met selfs nog groter lewensverliese wat grootliks onder die radar plaasvind.

Dit is die oorlog, of eerder burgeroorlog, in Ethiopië tussen die regeringstroepe en die Tigray-verdedigingsmagte in die deelstaat Tigray met sy volk met dieselfde naam. Min inligting dring na buite en joernaliste het beperkte toegang tot die konflikgebied.

Na bewering is reeds meer as 100 000 mense dood in dié gevegte asook as gevolg van hongersnood en siektes. Miljoene vlug vir die oorlog. Hierdie streek is selfs in vredestye ʼn harde plek en kan nie die groot bevolking, wat van internasionale voedselhulp afhanklik is, dra nie.

Die oorlog woed, met onderbrekings, al sedert 2020. Dit het begin met die streeksregering van Tigray wat teen die wil van die sentrale regering ʼn verkiesing gehou het en daarmee die gesag van die regering uitgedaag het. Dit was egter net die onmiddellike sneller.

Die oorsake lê dieper: vir byna die afgelope 30 jaar was die Tigray die elitevolk van Ethiopië. Met die bewindsoorname van die Omoro Abiy Ahmed in 2018, wat ʼn meer inklusiewe beleid gevolg het, het die Tigray eenkant toe geskuif gevoel. Hulle het hul etniese streek as hulle bastion uitgebou en stelselmatig die sentrale gesag terug gedwing. Selfs van afskeiding is gepraat.

Wrede aanvalle op regeringstroepe het tot vergelding gely. In die konflik is dit moeilik om te bepaal wie reg en wie verkeerd is.

Tigray word nie net deur die regeringstroepe vanuit die suide aangeval nie, maar ook deur troepe van die buurland Eritreë vanuit die noorde. Dié land deel ʼn gespanne verhouding met sy veel groter buurland in die suide. Eritreë het in 1993 van Ethiopië afgeskei na dekades van burgeroorlog. Daarna het ʼn twee jaar lange oorlog oor die nuwe grenslyn gewoed, wat ook tussen Eritreë en Tigray verloop, sodat die twee volke ʼn lang geskiedenis van konflik en wedersydse haat deel.

Die twee lande het in 2018 deur die uitreik van Ahmed na Eritreë se president Isaaias Afewerki vrede gesluit. Dit was ’n slim skuif van Ahmed, want sy eertydse vyand help hom nou om die opstandelinge van Tigray te beveg.

Tans is die Tigray aan die verloorkant – die troepe van Eritreë en Ethiopië verower een na die ander stad in hulle streek. Net die hoofstad, Mekelle, is nog in hulle hand. Hulle is egter gedugte guerrillavegters en het ook in die verlede na verlies van die stede in die berge ontrek en ʼn verwoede guerrillaoorlog gevoer.

Tans vind daar wel onderhandelinge vir die beëindiging van die oorlog in Suid-Afrika plaas, of is dit veronderstel om plaas te vind. Die Ethiopiese regeringsafvaardiging het geen haas om te onderhandel nie. Hulle wil hulle vordering op die slagveld nie deur toegewings by die onderhandelingstafel ongedaan maak nie en sou graag eers Mekelle verower om in ʼn nog beter uitgangsposisie te wees.

Mnr. Ahmed moenie in die illusie verval om te dink dat hy die streek teen die wil van sy mense kan beheer nie en moet na die griewe luister. Anders sal Ethiopië in ʼn tweede Somalië verander, waar al vir meer as 30 jaar anargie heers en die sentrale regering nie eers die hoofstad volledig beheer nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Tigray burgers vra ‘n onafhanklike land. Dis al. Ons kan net hoop die SA bemiddelaars leer lesse.

Harley Davidson ·

Etiopië het hongersnood en oorlog vandat ek kan onthou,pas gesinsbeplanning toe en kry die populasie ontploffing onder beheer dan sal die land die mense kan voed en die oorlog vir spasie om te lewe sal iets van die verlede wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

Tragies, die land het van die beste landbougrond in Afrika. Water is volop. Koring, mielies, groente, vrugte, tabak, bone, skape en bokke word op grootskaal mee geboer. Van die beste koffie in die wêreld word verbou. Suid Afrikaners boer ook daar en is ook betrokke by wynproduksie. Die land het in ‘n stadium voedsel uitgevoer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.