Die verkrummeling van die sosialistiese paradys in Venezuela

Flag_of_Venezuela.svg

Foto: wikipedia.org

Staat-sosialisme en die welsynstaat

Sosialisme het nog ʼn eens sterk land platgeslaan, hierdie keer die eens vooruitstrewende Venezuela in Suid-Amerika. Na die dood van internasionale kommunisme aan die begin van die 1990’s, klou ʼn paar state nog vas aan dié uitgediende konsep (soos Noord-Korea en Kuba). ʼn Paar ander het die vryemarkstelsel omarm, maar hul kommunistiese politieke stelsels behou. Dit sluit in China en Vietnam.

Kapitalisme is natuurlik nie sonder sonde nie. Die 2008-finansiële krisis was ʼn goeie voorbeeld van hoe uitbuiting en verryking nie moet plaasvind nie en dit het steeds vandag ʼn invloed op ons wêreld. Daar moet egter geen twyfel wees dat sosialisme, met ander woorde, bewese sterk staatsinmenging in politieke en ekonomiese stelsels, homself al oor en oor as ʼn vernietigende stelsel bewys het nie. Daar is ook nog geen einde aan sosialisme wêreldwyd nie.

ʼn Vorm van sosialisme, wat veral in Europa gestalte gekry het, is die idee van die welsynstaat. Dit het so ʼn jaar of drie gelede byna die magtige Europese Unie (EU) op sy knieë gedwing, nadat die regerings van Griekeland en Portugal so liberaal bestee het en welsynstate uitgebou het, dat die hele Europa moes spartel om dié staatjies aan die gang te hou.

Daar is steeds probleme in Europa, ondanks die sterk ekonomiese herstel gelei deur die Duitse bondskanselier, Angela Merkel. Europa se sosialistiese welsynstaat is egter steeds nie uitgedien nie en die hele kaartehuis kan nog in duie stort. Die druk wat miljoene vlugtelinge uit Moslemlande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika op die welvaartstaat gaan plaas, kan Europa se ondergang verhaas.

Die sosiale rewolusie

Terug by Venezuela. Ironies genoeg het die land se agteruitgang begin met die skouspelagtige opgang van Hugo Chavez. Chavez, ʼn rewolusionêre linksgesinde Marxis, het op demokratiese wyse aan bewind gekom in 1998. Sy mandaat van die kiesers was die rewolusionêre verandering van die stelsel in Venezuela. Venezuela het talle rykes gehad wat die ekonomie beheer het, maar natuurlik miljoene meer armes. Die inkomstegaping tussen die twee was massief.

 

Foto

Chavez het sy arm kiesers byna letterlik die son, maan en sterre belowe. Hy het armes ʼn beter lewe beloof en die massas het hom ingestem. Terloops, sy pogings in die vroeëre 1990’s om met ʼn staatsgreep aan bewind te kom, het nie geslaag nie en Chavez het selfs ʼn paar jaar in die tronk deurgebring.

Om die beloftes te verwesenlik, het Chavez onmiddellik begin om die vernaamste nywerhede te nasionaliseer, onder andere die oliebedryf. Venezuela is immers een van die wêreld se grootste olieprodusente. Hy het gepraat van ʼn sosiale rewolusie wat nodig is om die armes op te hef uit hul armoede. Dit, tesame met ʼn ongekende groei in oliepryse aan die begin van die 2000’s, het Chavez se gewildheid laat toeneem.

Met die sosialistiese rewolusie is staatsprogramme begin om hulp aan die armes in Venezuela te verleen en Venezuela het in minder as ʼn halwe dekade verander in ʼn welsynstaat. Die staat het relatief maklik voorsien met die olie-dollars wat ingestroom het na oliepryse hemelhoog gestyg het.

Die staatsprogramme het meer mense kos, behuising, gesondheidsorg en opvoeding gebied; alles gratis en verniet. Die gevolg was dat Chavez se gewildheid toegeneem het en armoede, ongeletterdheid en ongelyke inkomste gekrimp het. Armes se lewensgehalte is ingrypend verbeter tussen 2002 en 2007.

Chavez se buitelandse beleid was aggressief anti-Amerikaans en hy het hom met internasionaal-geïsoleerde state soos Kuba, Bolivië, Iran en ander verbind. Hy het ook ʼn goeie vennoot in die ANC-regering in Suid-Afrika gevind. Die SA Kommunistiese Party het selfs in 2009 die Orde van Chris Hani aan Chavez toegeken. Hy het verskeie ander Afrika-lande besoek en hulle geïnspireer met sy “anti-imperialisme”.

Hy het gepraat van “Bolivianisme” (Simon Bolivar het 200 jaar terug Suid-Amerikaanse onafhanklikheid van Spanje deur rewolusies aangevoer) en “Sosialisme in die 21ste eeu”. Hy het uiteraard gedink die sosialistiese staatsbestel kan veral suksesvol wees in die derde wêreld solank dit op demokrasie gegrond is. Hy het die Sowjet-Unie se val beskou as sosialisme sonder demokrasie.

Chavez se sosialistiese paradys was egter nie volhoubaar nie. Die groot staatsbesteding en beperkings op prysstygings daarna het weldra sy tol geëis: ekonomiese agteruitgang het gevolg omdat staatswelsyn nie al die gate kon toestop nie, misdaad en moord het tot nuwe hoogtes gestyg en korrupsie deur party-amptenare het ʼn ondraaglike juk geword.

Daarmee saam het Chavez se bewind al meer outoritêr geword en politieke opponente is deur die staatsbeheerde media verguis. Ten spyte van die propaganda, het sy gewildheid afgeneem en Chavez is met verswakte meerderhede herkies in 2010 en 2013.

Chavez is egter dood aan kanker voordat hy in 2013 ingesweer kon word en sy ideologiese onderleier, Nicholas Maduro, het die sinkende skip oorgeneem. Maduro hang dieselfde Marxisme-sosialisme aan as Chavez. Hy was ʼn busdrywer wat homself daarna deur die vakbondwese  opgewerk het voordat hy politiek toe is. Hoewel hy net-net verkies is in ʼn opvolgverkiesing, het Maduro homself meer en meer tot presidensiële dekrete gewend om die land te regeer. Hierdie regte is deur die parlement aan hom toegestaan nadat hy eerstens die “aggressie van die VSA” en tweedens die “oorlog teen korrupsie” moes bestry.

ʼn Land verkrummel

Met die val van die olieprys van $120 per vat na $50 per vat in 2014, het Venezuela se agteruitgang in alle erns begin. Protes teen die regering het toegeneem vanweë die hoë vlakke van gewelddadige misdaad, inflasie en chroniese tekorte aan basiese voedsel weens pryskontrole. Maduro het die regses en rykes (die “fascistiese” opposisie) en die VSA geblameer. Hy het bande met China versterk en die Chinese het lenings gegee om sy regering aan die gang te hou. Die sosiale welsynstaat het egter in elke opsigte verkrummel.

Venezuela is op die rand van die afgrond. Mense sukkel om kos in die hande te kry. Waar die stapelvoedsel voorheen proteïn soos vleis, melk en boontjies was, is dit nou rys, mieliekoekies of droë brood. Wanvoeding onder kinders is algemeen en die nasionalisering van landbougrond en landbou-nywerhede het veroorsaak dat die regering nie kos kan verskaf vir sy mense nie. Maduro vra nou mense moet eerder in hul stedelike huisies groente kweek en hoenders aanhou om aan die lewe te bly.

Selfs Coca-Cola het dié week opgehou om “Coke” te vervaardig omdat genoeg suiker nie beskikbaar is nie. Daar is selfs ernstige tekorte aan bier in die land! Mense staan in lang toue by supermarkte as nuwe besendings vleis of vars produkte aankom, maar dit word gou opgeraap. Dieselfde tekorte geld vir toiletpapier, seep en deodorant.

Byna niks word meer vervaardig of ingevoer nie, aangesien die regering prysbeheer ingestel het en handelaars, wat wins maak, in die tronk stop. Mense raak desperaat, ongeduldig en angstig oor hoe hulle gaan oorleef. Die meeste het alle hoop op ʼn beter toekoms verloor. Grootskaalse protesoptogte is ʼn daaglikse verskynsel, maar word vinnig en hardhandig deur die onlustepolisie onderdruk.

Van Chavez se welsynstaat is nie veel oor nie. Die gesondheidstelsel het ernstige tekorte aan medisyne, opgeleide werkers en elektrisiteit. Babasterftes het honderdvoudig toegeneem oor ʼn paar jaar en inflasie staan op 720%. Die gratis behuising wat vir die armes gebou is, het weens tekorte aan boumateriaal tot stilstand gekom en onderwys gaan vinnig agteruit. Maduro se antwoord was om ʼn noodtoestand af te kondig. Hy glo blykbaar die protes word deur die rykes gelei om sy regering tot ʼn val te bring, hoewel die meeste protes in die arm dele plaasvind.

Om geld te spaar, het Maduro nou ook staatsamptenare aangesê om net twee keer per week aan te meld vir diens.

Dit blyk dus net ʼn kwessie van tyd te wees voor Maduro tot ʼn val kom, hoewel dit nie sonder ʼn hengse geveg sal plaasvind nie. Maduro regeer reeds met dekrete en hy het laat blyk die parlement, wat nou deur die opposisie beset word, is eintlik irrelevant. Venezuela sal egter vir dekades na Chavez en Maduro steeds sukkel om te herstel van die verval.

Wat van Suid-Afrika?

Mens moet natuurlik die situasie in Suid-Afrika teen die agtergrond van wat tans in Venezuela aan die gang is, vergelyk. Toegegee, Suid-Afrika is nie afhanklik van een kommoditeit soos olie om sy ekonomie aan die gang te hou nie, maar grond-onteiening, korrupsie, onvolhoubare sosialewelvaartsprogramme, ensovoorts klink nogal bekend.

Verder is die inmenging van die staat al so ingeburger in Suid-Afrika dat dit die vrye-mark ekonomie stadig verswelg. Behalwe vir ellelange wetgewing en instellings om die hele ekonomie te reguleer, word Suid-Afrikaanse maatskappye gedwing om mense uit die aangewese groepe in diens te neem.

Dan praat ons nie eens van die moontlikheid dat die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) in later jare ʼn groter rol in die SA politiek gaan speel nie. Waar die ANC baie elemente van Chavez se sosialisme aanhang en implementeer, is Julius Malema se beleid omtrent ʼn bloudruk van Chavez se Venezuela. Malema het reeds die rooi beret, ʼn simbool van Chavez, oorgeneem en hy kloon Chavez se politieke styl en beleid van nasionalisering.

Die groot verskil is dalk dat “die vark in die verhaal” in Venezuela die rykes en die Amerikaners is, terwyl die grootste sondaars in Suid-Afrika die blankes en apartheid is.

Hoe dit ook al sy, die ooreenkomste is maklik uitkenbaar en as Suid-Afrika op hierdie trant voortploeter, kan sy voorland dalk dieselfde as die van Venezuela wees.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Paul ·

In hierdie geval bedoel jy seker die wit mense is die “sondebokke” en nie die “sondaars” nie.

Mense gebruik hierdie twee terme dikwels verkeerd.
‘n “Sondebok” is iemand wat die skuld kry vir iets wat hy nie gedoen het nie.
‘n “Sondaar” is iemand wat die skuld regverdig kry vir iets wat hy wel gedoen het.

Vaalseun ·

Nico, dankie vir jou goeie ontleding. Amerika is afhanklik van Venezuela se olie, een van die grootste olie reserwes op sy drumpel. Die Monroe Doktrine, gee die VSA, so glo hulle, ‘n goddelike reg oor die Amerikas. Chavez het die IMF lenings wat hy in 1999 geërf het, vyf jaar vroeg terugbetaal. Suid-Afrika het voor 1994 geen buitelandse skuld gehad nie. Vanaf 1994 het ons IMF skuld toegeneem tot USD145miljard in 2014. En daardie lenings kan net met belasting- en elektrisiteitstariefverhogings terugbetaal word. Sodoende veram en verslaaf Amerika sy skuldenaarlande deur hulle dié belastinggeld te ontneem wat juis gebruik moes word vir die ontwikkeling en verbetering van hulle eie noodsaaklike dienste. Die sogenaamde apartheids regering se sonde was nie apartheid nie, maar die feit dat hy Suid-Afrika se infrastruktuur en projekte sonder Amerika se houvas ontwikkel het tot die 18de grootste ekonomie in die wêreld. En dit moes end kry. Dalk wil jy John Perkins se boek, The New Confessions of an Economical Hit Man lees. Amerikaanse firmas soek nie slim, professionele mense in ontwikkelende lande se regerings wat hulle voorleggings uitmekaar kan trek nie. Die oorspronklike voorstel was dat Eskom bloot vir eers ‘n tweede Lethabo sou bou. Dit sou meer as genoeg elektrisiteit sekuriteit verskaf teen die billikste prys, want al die planne en spesifikasies was reeds klaar en getoets. Maar dit sou nie die beursies van buite belange vul nie. En Perkins verduidelik hoe dié strategie dan werk.

Nico Stegmann ·

Vaalseun, ja natuurlik is Perkins reg. Die Weste en groot kapitalisme is reeds jare besig om die derde wereld so afhanklik te maak. Sjina is eintlik maar net besig om hierdie besigheidsmodel oor te neem deur sy rentevrye “lenings” aan Afrika en ander state in die Suide. Die probleem is dat Chavez/Maduro en hul aanhangers, wat Malema insluit, se beleid tot totale ineenstorting sal aanleiding gee, soos tans met Venezuela gebeur. Ons benodig sekerlik nuwe idees en ‘n nuwe ekonomiese orde, wat buite kapitalisme en sosialisme staan.

Loeis ·

Wat jy se is waar, Nico.

Nou is die vraag: wat is die alternatief?

Johann Marx ·

En elke keer wat sosialisme of kommunisme faal, is ‘n “nuwe” sosialis of kommunis in ‘n ander land van mening dat dit gefaal het, omdat dit HY dit nie geïmplementeer het en beheer het nie, en sal HY die wêreld wys HOE dit gedoen behoort te word……en sy skapies drentel agter hom aan.

Marius ·

Nico het `n goeie ontleding gedoen, maar ons kan ook gerus verder in die geskiedenis terug kyk. In die dertiger jare het die Jode geglo die Nazi party is net `n verbygaande verskynsel en dat hulle maar net moet vasbyt. Toe hulle besef dat hulle met hulle lewens gaan boet vir hulle optimisme was dit te laat. Geen land wou op groot skaal Joodse vlugteling akkommodeer nie en trouens van hulle is deur Amerika terug gestuur, aldus Hillary Clinton.

Is daar `n risiko dat dieselfde weer kan gebeur, net die slag net met Afrikaners? Die risiko is dalk nie groot nie. En al word Afrikaners nie vergas nie, kan hulle lewe seer sekerlik in hel omskep word deur allerhande regulasies om hulle van hul welvaart en eiendom te stroop.

Alhoewel die risiko dalk gering is dat die ergste kan gebeur, sal die impak daarvan groot wees en juis daarom moet ons voorbereid wees. Die gesprek moet nie net gaan oor wat kan gebeur nie, maar moet ook gaan oor wat gaan ons doen as dit wel gebeur.

Dalk het Nico sienings in die verband ook – verneem graag.

(Ek het dubbel burgerskap en woon in die buiteland)

Leeukuil ·

Ek weet nie wat die Afrikaners gaan doen as die onafwendbare ramp gaan gebeur nie. Wat ek wel weet is dat die Boervolk, met hulp van Bo, sal veg tot ons vry of dood is. Si vis pacem, para bellum.

Lance ·

Kan iemand dalk net vir ons se waar of het sosialisme al in die wereld gewerk asb ?

neelsie ·

Wat sou die welsprekende Juliaas nou se?
Kan hy nie maar sy vernietigingswerk daar gaan voortsit nie?
Onthou vir kortsigtigheid is daar nie n pilletjie nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.