Die verlede, die hede en die toekoms

Akademia

Prof. Irma Eloff – Dekaan van Opvoedkunde, Universiteit van Pretoria. Foto: Reint Dykema

Toespraak by die Promosieplegtigheid van Akademia, 15 April 2016
Atterbury-teater, Pretoria
Prof. Irma Eloff – Dekaan van Opvoedkunde, Universiteit van Pretoria

Dit was CJ Langenhoven wat gesê het:

“Skat jou bekwaamheid te min om mee te spog,
En jou karakter te hoog om mee te speel,
Op dié manier sal jy jou selfrespek bewaar
En die respek van jou ewemens”

Op ʼn dag soos vandag is daar baie wat deur ʼn mens se gemoed gaan. Daarom wil ek ʼn bietjie stilstaan en gesels oor die verlede, die hede en die toekoms – en veral oor wat dit vir almal wat vandag kwalifikasies ontvang, beteken.

Die verlede

Dink ʼn bietjie vir ʼn oomblik terug aan jou eie verlede. Dink aan alles wat jy oorbrug het om vandag hier te kan wees. Dink aan die uitdagings wat jy oorkom het en spesifiek wie die mense was wat dáár was vir jou sodat jy jou studie kon voltooi.  Wie was dit wat jou oortuig het om te registreer en wie was dit wat die koppie koffie gemaak het toe jy nog ʼn werkstuk moes inhandig?

Ek onthou klokhelder die dag op Potchefstroom toe ek my eerste kwalifikasie verwerf het. My ma was ʼn enkelma en as haar oudste kind het sy daarop aangedring om ʼn foto te laat neem van my, haar en haar tjekboek. Ja, daardie tyd het ons nog tjekboeke gehad. Ek dink nog steeds met ʼn glimlag aan daardie dag en as dit nie vir haar was nie, het ek nie daardie kwalifikasie behaal nie. Ek is seker daar is ook mense wat hulle beursies oopgemaak het om julle studie moontlik te maak; of dalk was dit jyself. Hoe dit ook al sy, ek glo dat julle die nodige sal doen deur die loop van hierdie dag om dankie te sê.

Ons dink dikwels aan die verlede op individuele vlak. Kom ons kyk egter ook ’n bietjie na die verlede van die instelling waar julle gekies het om julle kwalifikasie te verwerf:  Akademia.

Julle is hier deel van ware pionierswerk. Dit is geskiedenis wat geskryf word. Die geskiedenis van privaat tersiêre instellings in Suid-Afrika en ook in Afrika.

Wêreldwyd is daar verskeie suksesverhale van universiteite wat op ʼn soortgelyke wyse tot stand gebring is.

Harvard Universiteit is ʼn privaat universiteit wat gebou is uit ʼn skenking van 400 boeke en altesaam 779 pond deur John Harvard. Vandag word Harvard deur miljoene mense beskou as die beste universiteit in die wêreld.

Aan die weskus van Amerika vind ons Stanford Universiteit. Leland Stanford was ʼn goewerneur en senator van Kalifornië. Hy en sy vrou het hulle enigste seun op die ouderdom van 15 jaar aan die dood afgestaan. Kort daarna het hulle besluit dat “die kinders van Kalifornië hulle kinders sal wees” en het toe Stanford Universiteit begin. Aan die beginjare was daar finansiële uitdagings en ʼn groot aardbewing in San Francisco wat die universiteit ernstige skade berokken het. Maar in die hart van Stanford se missie was ʼn gees van entrepreneurskap en die missie dat graduandi selfstandige besighede op die been sou bring. Vandag word die ontstaan van “Silicon Valley” toegeskryf aan die wyse waarop Stanford die omgewing beïnvloed het.

Hier naby ons vind ons nog ʼn verhaal waar die Universiteit van Pretoria in ʼn Viktoriaanse huis in Pretoria begin is met ʼn aanvanklike studentetal van 32. Vandag is UP die tuiste van meer as 55 000 studente en is die mylpaal van ʼn kwartmiljoen alumni-studente so pas verbygesteek.

Ons lewe in ʼn tyd waar daar verskeie pogings is om die verlede uit te wis.  Standbeelde wat verwyder word, portrette wat van pragplekke op mure afgehaal word en geskiedenishandboeke wat gedeeltes van die geskiedenis onomwonde weglaat. Asof dit wat in die geskiedenis gebeur het ongedaan gemaak kan word.

Ek is van mening dat daar baie te leer is uit die geskiedenis – goed én sleg. Ek word herinner aan die aanhaling deur die Spaanse filosoof, digter en skrywer, George Santayana (wat later deur Winston Churchill aangehaal is), toe hy gesê het:

            Those who do not learn from history are bound to repeat it.

Wanneer ons dus vandag na die verlede kyk, ons eie verlede, sowel as dié van die instellings wat ons ondersteun, hoop ek dat ons dit wat goed is, sal neem en uitbou; en dat ons sal leer uit dit wat nie goed was nie.

Die hede

Kom ons praat oor die hede en daardie besondere gawe om in die hier en nou te wees. Ek het verskeie familielede (spesifiek ʼn eggenoot en ʼn sus) wat ʼn besondere gawe het om “in-die-oomblik” te wees. Ek self sukkel egter soms daarmee.

Maar kom ons probeer. Drink hierdie oomblik in; hierdie oomblik van jou promosieplegtigheid. Haal diep asem. Moenie dink aan die Doenlysie of waar julle vanaand gaan feesvier nie. Moet ook nie dink aan wat gisteraand of verlede week gebeur het nie. Wees hier – hier, in hierdie oomblik. Dit is die oomblik waarin jy jou kwalifikasie ontvang. Dit is een van die belangrikste oomblikke van jou lewe.

Ek wil van my kant af vir almal van julle sê: “Baie geluk!” Dit is nie almal wat dit regkry nie.

Die toekoms

Ons het nou oor die verlede en die hede gesels. So, kom ons kyk bietjie na die toekoms.

Net soos wat daar mense is wat die verlede wil uitwis, is daar ook mense wat so vasgevang is in die verlede dat dit hulle totaal ontgaan om op die toekoms te fokus.  Hulle vergeet dat elke dag ʼn nuwe geleentheid is waarin ʼn toekoms geskep word.

Soos wat jy hier sit, lê jou hele toekoms voor jou oop.

Sommige van julle het dalk al gehoor van Toekoms-studies. Net soos wat daar geskiedkundiges is wat die verlede bestudeer, is daar ook kundiges wat die toekoms bestudeer. Hulle ondersoek waarskynlikhede, sisteme, patrone, tendense en siklusse. Hulle doen ʼn studie van voorspellings en ondersoek ook die aard van onvoorspelbaarheid.

Die vader van Toekoms-studies word deur sommige geïdentifiseer as HG Wells. Hy het die ontstaan van woonbuurte rondom stede akkuraat voorspel, asook die ontstaan van die Europese Unie en die oorheersing van Engels as wêreldtaal. Hy het ook verkeerdelik voorspel dat duikbote nooit sal werk nie en dat vliegtuie eers ná die 1950’s met ons sal wees.

In Toekoms-studies vind ons dikwels heelwat doemprofete. Ek vind self dat ek my ore spits elke keer wanneer een van hierdie doemprofete aandui dat die einde van die wêreld, soos wat ons dit ken, naby is. Hierdie doemprofete word oral oor die wêreld in bykans alle sosiale kontekste aangetref.

Maar dan vind ons ook die denkers, binne Toekoms-studies, wat geïnteresseerd is in wat hulle noem “cycles of virtue”, oftewel siklusse van deugde. Hulle maak weer ʼn studie van die tendense onder mense wat midde enorme uitdagings iets positiefs tot stand bring, iets vestig, iets bou, iets skep, en droom dat dinge kan beter wees.

Dit is oor daardie toekoms wat ek vandag met julle gesels.

Dit is julle wat daardie verskil gaan maak. Dit is julle wat ʼn alternatiewe, positiewe toekoms gaan skep.

Daar is ʼn toekoms wat in elkeen van julle vasgevang is, wat net jy kan ontsluit.

Ek hoop dat julle die geleentheid sal aangryp.

Ek sluit af deur weer na CJ Langenhoven te verwys:

“Gee my ʼn man
Wat sê wat waar is,
As die duiwel daar is
[Gee my ʼn man]
Wat doen wat reg is,
As die regter weg is
Wat trou by sy gewete bly
As hy straf in plaas van beloning kry”

Mag julle sê wat waar is en doen wat reg is op die pad vorentoe.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Theuns ·

Baie dankie Akademia en Prof Irma Eloff. Ek het hoop vir die toekoms met instellings soos Akademia en die Prof. Ek het drie Klein Kinders en het hoop vir die toekoms. Ons moet net seker maak dat ons nie mense aanstel in posisies wat die Universiteit wil reismier en verander na ‘n Engelse, Tweede klas Universiteit toe nie. Kinders wat nie wil leer nie moet glad nie toegelaat word nie. Ek is seker dat die aanslae teen Akademia sal binnekort begin as die “Haters van Afrikaners” sien wat vermag word Die gedigte van CJ Langenhoven maak my trots. Dit is die WAARHEID en sy insig is verbysterend. Boere Groete.

Anelle ·

Absoluut fantasties! Dankie vir die perspektief en inspirasie!!!

Anelle ·

Absoluut fantasties! Dankie vir die perspektief en inspirasie!!! Carpe diem!!

Fanie Kemp ·

Baie dankie Prof. Eloff vir inspirerende woorde aan afgestudeerdes en almal wat wil luister.
Ons is trots op dit wat reeds vermag is by Akademia ( en Soltek ) en bid dat hierdie akademiese instellings uitgebou sal word tot ‘n Afrikaanse “Harvard”.
Sterkte aan almal betrokke. Fanie Kemp

JC ·

Akademia, julle is sommer baie oulik!

Mag Akademia uitgebou word tot die Afrikaanse Harvard!

Viva Afrikaans!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.