Die verskil tussen links en regs lyk soos ’n hoefyster

joram-van-klaveren

Joram van Klaveren. Foto: Facebook.

In Nederland het die koerante onlangs oor iets opmerkliks berig. Ene Joram van Klaveren het hom tot die Islam bekeer.

Nou is Joram van Klaveren nie onbekend in Nederland nie. Hy was ’n parlementslid vir die ekstreemregse Partij voor de Vrijheid (PVV), die party wat gelei word deur die populis Geert Wilders.

Dit is opmerklik, omdat Van Klaveren saam met die PVV sonder ophou gewaarsku het teen wat hulle sien as die Islamitiese gevaar. Saam met die PVV het hy op verhoë gebulder dat alle moskees gesluit moet word, dat die Koran verbode literatuur moet wees, dat geen Moslem-immigrante in die land binnegelaat mag word nie.

In 2014 het hy rusie gekry met Wilders en toe sy eie ekstreemregse party gestig, wat egter doodgeloop het.

Van Klaveren is opgevoed in ’n ordentlike Gereformeerde gesin, maar het mettertyd na ekstreemregs afgedwaal. Hy het in verskeie onderhoude vertel dat hy besig was om materiaal vir ’n kritiese boek oor die Islam te versamel, maar toe tot die gevolgtrekking gekom het dat Mohammed ’n egte profeet was.

Nou glo hy Allah is die enigste God en Mohammed is sy profeet.

Van Klaveren is nie die eerste PVV-politikus met wie dit gebeur nie. Voor hom het Arnoud van Doorn dit ook gedoen. Nou is Van Doorn só Islamities dat hy verlede maand getwiet het dat “alle teenstanders van die Islam begelei of vernietig moet word”.

Van Klaveren en Van Doorn is slegs twee voorbeelde van mense wat die een ekstreme oortuiging met ’n ander verwissel. Benito Mussolini het begin as radikale Sosialis voordat hy ’n Fascis geword het, en in die jare twintig en vroeë dertig was daar ’n gereelde oor-en-weer-lopery tussen Hitler se Nazi’s en die Duitse Kommuniste.

’n Invloedryke Franse voorbeeld uit dieselfde tyd was die Kommunistiese politikus Jacques Doriot, wat stry met sy eie party gekry en toe ’n Fascis geword het. En in die jare sestig tot tagtig het die Duitse advokaat Horst Mahler van ’n ondersteuner van die ekstreemlinkse terroristiese Baader-Meinhof-groep ontwikkel tot ’n aanhanger van die neo-Nazistiese Nasionaal-Demokratiese Party.

Hoe moet ’n mens dié soort ommeswaai verklaar?

Wel, op een vlak het dit waarskynlik te make met labiele persoonlikhede. ’n Mens wat emosioneel stabiel is, begin nie as ordentlike Calvinis, skuif dan na regse ekstremisme oor, waar jy skel teen alles wat na die Islam ruik, en dit uiteindelik vir die Islam verruil nie.

Dit gaan daarom dat sommige persoonlikhede gevoelig is vir ekstremistiese antwoorde, waar die wêreld kragtens ’n rigiede swart-wit-skema beskou word. Dat die werklike wêreld eerder verskillende skakerings van grys is, dat reg en verkeerd nie áltyd haarskerp onderskei kan word nie – dít pas nie by hul sug na eenvoudige oplossings in nie.

Maar ’n mens kan die kwessie ook op ’n ander vlak beskou.

Dikwels word die verskil tussen links en regs gesien as ’n reguit lyn, wat loop van die een uiteinde aan die linkerkant regdeur tot die ander uiteinde aan die regterkant, met gematigdes êrens op die lyn tussenin. Voorbeelde soos dié wat hierbo genoem is, wys egter dat dit verkeerd is.

Daarom hanteer politieke wetenskaplikes steeds meer ’n ander beeld, naamlik dié van ’n hoefyster.

In ’n hoefyster is die twee ekstreme uiteindes veel nader aan mekaar as die gematigdes. En dus is die égte teenstelling nie soseer tussen links en regs nie, maar tussen ekstremisties en gematigdheid.

Jy kon dit byvoorbeeld ook sien in die verhouding tussen Adolf Hitler en die man wat normaalweg as sy doodsvyand gesien word, Josef Stalin. Toe Hitler se minister van buitelandse sake, Joachim von Ribbentrop, in Augustus 1939 in Moskou was om oor die opportunistiese nie-aanvalsverdrag tussen Nazi-Duitsland en die Sowjetunie te onderhandel, het hy gesê hy het baie tuis gevoel, asof hy tussen ou kamerade was.

En Hitler en Stalin het hulle verskeie kere, sy dit onwillig, lowend oor mekaar uitgelaat. Elkeen het die ander se meedoënloosheid – selfs roekeloosheid – bewonder. Dit was asof dié twee spieëlbeelde van mekaar was.

Só gesien, was die egte ideologiese teenstelling nie tussen Hitler en Stalin nie, maar tussen dié twee enersyds en die demokraat Winston Churchill andersyds.

Dit maak dit des te meer ironies dat dit uiteindelik Stalin en Churchill was wat saam teen Hitler geveg het. Wat maar net wys dat jou politieke keuses uiters beperk word as jou land vir sy oorlewing veg, wat die geval met Brittanje en die Sowjetunie was.

Wat die saak in die huidige politiek verder kompliseer, is die kwessie van populisme.

As jy wil weet wat die populisme is, hoef jy nie verder as Julius Malema te kyk nie. Wat populiste van alle soorte gesamentlik kenmerk, is hul vermoë om massas met bedrieglik eenvoudige leuses op te sweep, om beloftes te maak wat nooit uitgevoer kan word nie, wat hulself voorhou as verteenwoordigers van die “suiwer” volk teenoor die korrupte establishment, ensovoorts.

In Suid-Afrika kon Jacob Zuma ook as ’n populistiese ekstremis beskou word. Met dien verstande dat dit by hom nie werklik om ideologie of beginsels gegaan het nie, maar om sy vermoë om die staat ten behoewe van sy eie bankrekening te plunder.

Populiste kan sowel regs as links wees. Voorbeelde is Donald Trump, Geert Wilders, Nicolas Maduro van Venezuela, wyle Fidel Castro van Kuba, maar ook Hitler en Mussolini.

Hulle kies ook almal sondebokke uit. In Duitsland was dit die Jode, in die Sowjetunie die kapitaliste, by Zuma en die EFF, wit mense en Afrikaners.

Nog iets wat populiste bind, is dat hulle almal ekstremiste is, of in elk geval baie naby daaraan. Soms keer ’n goeie grondwet – of die aanwesigheid van voldoende teenkragte – hulle om diktators te word. Dis byvoorbeeld in Amerika die geval, waar sowel die grondwet as ’n sterk ontwikkelde opposisie Trump se politieke beweegruimte taamlik beperk.

Uiteindelik moet ons almal maar versigtig wees vir politici wat mense met misleidende leuses teen mekaar probeer ophits.

Wees gerus maar regs of links. Gesonde debat is nooit verkeerd nie.

Maar moenie te ver na die een of ander kant oorhel nie. Die oomblik dat jy andersdenkendes begin uitskel en hul reg om anders te dink begin ontken – dan is jy op die verkeerde pad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Joe ·

Kan jy werklik Trump as ver regs beskou? Ja hy is beledigend, bombasties teenoor mense wat nie saam met hom stem nie maar sy ideologie is nie een van ekstremis nie.

Gert ·

Dis die standaard-boodskap van die “hoofstroommedia”: As jy behoudend is en jou volk, kultuur, taal of godsdiens wil behou is jy ‘n verregse ekstremis en word jy groepeer saam met Malema.

Judge Dredd ·

Stem saam – dis maar net weereens die links/liberales se truuk om na konserwatiewes te verwys as Nazi’s / Fasciste / Rassiste om kritiek van hul eie gefaalde beleide te verbloem.

JAN ·

Trump probeer die mislukte politieke model v bestuur vervang met sakemodel. Dit sal populêr wees as dit werk .
Hier by ons het die sakemodel gelei tot die grootste grondroof ooit. ABO .. Was Kruger die skurk?
Sy vriend Barne Barnado het gesê: “these are my principles – if you don’t like it, I got plenty more!!”
Media se IT tegnologie skyn duidelik in skrywer se persoonlike opinie om Trump te vergelyk met alle skurke.
Scholtz mors sy talente met antipatie .
Wat is jou oplossing ? Plan.
MM oa is ń plan van uitnemendheid. Gaan jy dit afbreek of bou?
Ns. Met Vrede van Vereniging was daar SLEGS Vrymesselaars teenwoordig! Afrikamers en Engelse. Ontsaglike persoektief van ons Volk se Hollandse versus Engelse sentimente.

Gert ·

Die Europeërs verdien maar wat op pad is, julle wil nie die gevaar sien nie.

Jerry ·

Ek reken dat dit meer te doen het met die mens se ingesteldheid. Party mense is meer gematig in hulle geloof, ideologiee en uitkyk op die lewe, terwyl ander weer meer radikaal is in dieselfde gelowe, ideologiee en uitkyk op die lewe. Dit is waar die andersdenkendheid in vasgele word. Of jy moslem of Christen is, jou sagte hart gee jou n sagte uitkyk, jou hart van klip gee jou n radikale uitkyk. Diegene met sagte harte, leef en laat leef. Diegene met harte van klip mislei en vernietig! Daarom is dit belangrik om leiers te kies wat werklik alle mense se goeie belange op die hart dra en nie hulle eie belange vooropstel nie.

Judge Dredd ·

Stem half saam – maar, mense wat verstandig optree word baie maal ook as onsensitief(klip van hart) beskryf deur die wat onverstandig optree.

Die lewe is nie ‘n Holiday Inn nie – partykeer moet harde keuses gemaak word.

En hoeveel tragedies/armoede is nie al veroorsaak deur mense met ‘n sagte hart wat nie die moeilike keuses kan/wil maak nie?

marco polo ·

Goeie punte, Jerry, maar van sagte harte en ordentlikheid last ons toe dat ons uitgemoor word. My hart is al lankal verhard en ek is onbeskaamd regs, in soverre dit enige aanslag teen my volk betref.

Piet ·

Trump is n andersdenkende, so jou laaste parragraaf is teen jouself gemik omdat jou vorige skrywes oor hom dit duidelik uitspel dat jy nie ooghare vir hom het nie.

Chris ·

Ek stem saam Piet.Wat ek nie kan verstaan van ons sogenaamde “meningsvormers” in die Hoofstroommedia nie is dat hulle glo of aanvaar dat hulle die publiek inlig,opvoed of kan oortuig om hulle sienswyse (of die van hulle opdraggewers/”paymasters”?) te te glo of te volg .Soos jy wat gereeld sy berigte lees en dit vir hom uitwys kan hy hoe hard probeer om sy anti-Trump sentiment weg te steek,maar dit loop soos ‘n goue draad deur al sy berigte.

Dup ·

Stem saam met jou. Solank MM van sulke hoof stroom media skrywers gebruik maak, gee ek geen finansieële bydra nie.

Ronnie ·

‘n Baie goeie gebalanseerde artikel, baie dankie.
Ek dink Trump aanhangers besef nie werklik dat hy ‘n deurtrapte skelm is nie. Hy het homself deur die jare met baie ongure en verdagte karaters omring en doen dit nou nog. Net soos Julius Malema streef hy na mag en jaag hy sy eie finansiële belange na. Dit gaan nie oor enige ideologieë nie. Dit gaan oor haat en onverdraagsaamheid teenoor die wat anders as hulle self lyk en oor hoe hulle hulself kan verryk.
Die woorde “boef” en bedrieër” beskryf Malema en Trump ewe goed. Trump praat soos ‘n mafiabaas, tree op soos ‘n mafiabaas en bedryf sy besighede soos ‘n mafiabaas.
Die ewige muur is vir Trump persoonlik van geen belang nie. Dis net aas vir sy vreesagtige, xenofobiese aanhangers. Hy self neem “onwettige” immigrante in diens. Hy bring kwansuis werksgeleenthede terug na die Amerikaners, maar die ettiket op sy eie reeks hemde en dasse bv lees “Made in China”. Ivanka se produkte word oral waar goedkoop arbeid is gemaak. En dit is nie in die VSA nie.
Dit is nie linkse, liberale, progressiewe elemente wat veroorsaak dat die strop al stywer om Trump se skelm nek trek nie. Dit is Departement van Justisie en ander instansies wat bedryf word deur eerbare en wetsgehoorsame amptenare. Baie van hulle, en spesifiek baie van die mees prominente onder hulle, is konserwatiewe mense en lewenslange Republiekeine.
Geluk wil dit ook hê dat daar in die VSA voldoende teenkragte is.

Piet ·

Ek hoop jy het bewyse vir jou aannames. Moet asb netnie die hoofstroom media soos CNN gebruik nie. Kom met ander feite.

Hendrik ·

Knap gestel, Ronnie. Piet, hou maar Robert Muller se ondersoek dop. Trump se tyd loop uit. Hy kan nie sy verkiesingsbleftes nakom nie. Nou moet Amerikaners vir sy muur betaal, terwyl hy beloof het Meksiko sal betaal. Hy kon ook nie Omabacare “Repeal en replace” met ‘n beter oplossing soos hy beloof het nie. Selfs sy blouboortjie ondersteuners begin deur hom sien. Boere kry nie hulle sojabone verkoop aan Sjina nie as gebvolg van sy handelsoorlog. Kim Jung Un hou aan kernbomme maak. Trump en Malema is uit een houdtjie gesny.

Therese van Schalkwyk ·

Interessant.
‘n Toekomsblik van Wes-Europa het Van Doorn en Van Klaveren moontlik laat besluit, “if you can’t beat them … ”

Europese leiers soos Viktor Orban, Guiseppe Conte en Matteo Salvini kon net sowel beswadder word vir die doel van hierdie meningstuk, maar heelaas, totaal voorspelbaar is dit weer eens Donald Trump wat deurloop.

‘n Opvolgartikel waarin breedvoerig uiteengesit word waarom ‘n demokraties verkose Amerikaanse president in dieselfde asem as Hitler, Mussolini en Castro genoem word, sal beslis groter duidelikheid verskaf.
‘n Moontlike titel: “Donald Trump: Gehate Populis en Ekstremis”.

John ·

Sukkel ons geagte professor met sy hart of hoekom moet repliek op sy skrywe so gesensor word… Sou hy boosaardig kwaad word vir ander opinies, moet hy eerder vir CNN begin werk, hulle hou van populiste… baie…

Charles ·

Sjoe!Trump is geen ekstremis nie!Sy naam moet geensins in hierdie artikel verskyn nie.
Die skrywer moet werklik bietjie navorsing doen. In dieselfde asem, voel ek bitter jammer vir die genoemde persone wat om die bos gelei is deur Satan (miskien het hulle hulself om die bos gelei?) om Yeshua, ons enigste en ware Messiah, te verraai en te misken!

Die gepoogde staatsgreep teen die Trump regering is besig om stoom te verloor,en ontmasker te word vir wat dit is-‘n Heksejag!

President Trump se herverkiesing in 2020 gaan ‘n “walk in the park” wees;JUIS;op IRONIESE grondslag strydig met die skrywer se mening,a.g.v. die demokrate se linkse ekstremisme,en hier praat ek van persone soos AOC met haar weersinwekkende en bespotlike “NEWGreen Deal” en Ilhan Omarmet haaranti-semitisme,Het Pres. Trump al iets gese oor Jode,behalwe om hulle te prys en te loof,inderdaad;het hy al OOIT iets negatiefs gese van Mohammedane,behalwe in verband met die bewese konneksievan Islamitiese terreur?NEE,TRUMP IS GEEN EKSTREMIS NIE.

Die skrywer moet navorsing doen oor die vreemde verskynsel wat hom nou voordoen dat die linkses se politiek besig is om in een te ontaard waar onverdraagsaamheid,fascisme en sosialisme hoogty vier,juis dit t.o. waarvan regses altyd in verband gebring is!Geen vryheid van spraak nie,geen reg om jouself te verdedig nie,GEEN vryheid van ongemagtigde,onbehoorlike,ingrypende,totalitereen oorheersende staatsinmening nie,NEE.
Werklik,President Trump is vanwee sy “common sense” konserwatisme en waardes die teiken van alle linkses.Ek verkies Rhoda Kadalie se artikels dankie!.Baie dankie.

Charles ·

Baie dankie Annie – ek sal dit beslis lees! Fox is bevonk!!

DewaldS ·

Oom Leopold, jy kan alles hierbo baie makliker vir die plebs verduidelik:

Alle globaliste is goeie, redelike, intelligente, wonderlike mense en enigiemand wat daarteem is, is ‘n ultra-regse ekstrremistiese skobbejak. Een sin, my Oom.

Vryheid ·

Therese & DewaldS slaan die spyker op die kop.

Dit is “populisme” om agter die “populêre” hoofstroom opinie aan te skryf.

Charles ·

Dewald, en weet jy wat: so ‘n bek moet jem kry, dankie hoor!
Opgesom in een sin!

Annie Webb ·

Kan nie help om te lag nie. Leopold Scholtz sal ‘n artikel skryf oor tapisserieë in Middeleeuse kastele en steeds eindig by populisme, Trump en Malema. Dit bly vir my ‘n diepe misterie hoe skynbaar intelligente mense nie deur die linkse histeriese persoonlike aanvalle op Trump kan sien nie. Of kan insien hoe sy eenvoudige, pragmatiese oplossings Amerika van die afgrond van sosialisme terugruk nie. Kan die godsdiens van gelyke uitkomste mens werklik só verblind dat jy aanhou om die oplossing in politieke teorie te soek? Wat kan méér pragmaties wees as ‘n leier wat sy mense veilig en welvarend wil maak? En wat op aarde het politieke ekstremiste aan enige kant van die spektrum te doen met Trump se totaal pragmatiese leierskap? Ek volg verskeie groepe in Europa wat ook in navolging van Trump teen onwettige immigrante is en ‘n land wil hê met duidelike grense waarbinne die landsburgers veilig en welvarend kan wees sonder om vertrap te word deur mense wie se kultuur hul eie land vernietig het en wat nou dié kultuur met hulle saambring na ‘n land waar hulle en hulle kultuur ewe onwelkom is. Wat op aarde het dié eenvoudige gegewe te doen met regs, links, populisme, of mense wat nie kan besluit tot watter biologiese geslag hulle wil behoort nie, wat nog te sê watter godsdiens of politieke party? Hoekom word Trump aanhoudend vir ons “geïnterpreteer” deur sy politieke teenstanders terwyl ons die feite elders moet gaan soek? Ons sien uit na Rhoda Kadalie!

Lien ·

Annie Webb, goed gestel.
Ons wat vir ons self dink, sien dit ook soos jy dit sien.

JAN ·

Daar is geen twyfel nie dat die VS se demokratiese diep moeras ooreenstem met ons eie plaaslike demokrasie. Alles stem ooreen van oop grense tot chaotiese misdaad.
Dieselfde poeding met ander sous.
Wie dit nie kan insien nie is aspres en word goed betaal.

Dries du Toit ·

Die kommentare in hierdie berig maak my so opgewonde. Intelligente mense word nie meer so maklik deur die linkse media en sogenaamde politieke akademici beinvloed nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.