Die verskil tussen ware en valse vryheid

Vandag is die individu die super-maatstaf waaraan alles gemeet word. Sonder om vir ’n sekonde daaroor na te dink, vra talle van ons daarom ook of dinge die goedkeuring van die individu geniet. Indien die antwoord daarop ‘ja’ is, kry dit ’n instemmende kopknik. Indien ‘nee’, word dit summier afgewys.

Ten grondslag van die voorkeur vir die individu staan ’n bepaalde opvatting van vryheid. Hiervolgens is ons vry wanneer die individu – en slegs die individu – besluit hoe sy haar lewe wil inrig. Indien individue nie self oor hulle lewe kan besluit nie, rus daar op alle beskaafde, welmenende en opgevoede mense die verpligting om hulle daartoe in staat te stel. (Terloops, waar kom hierdie ‘verpligting’ vandaan? Lê die oorsprong daarvan by die individu self? Of kom dit ironies genoeg juis uit bowe-individuele kragte soos die Westerse en Christelike tradisie?).

Maar op grond waarvan heg ons soveel betekenis aan die individu en haar ‘reg’ om self oor alles te besluit? Nou, omdat dit heeltemal ’n te verwikkelde vraag is om hier te hanteer, verwys ons slegs na een argument ten gunste van die individu. Ons voer hieronder aan dat dit ’n valse argument is.

Ten grondslag van die hedendaagse klem op die individu lê die argument dat kulture slegs dinamiese kulture kan wees as die individu vrygestel word om self oor haar lewe te besluit. Die kritiese vraag is egter of kulture nie eerder die risiko om te ontbind wanneer alle gesag aan die individu toegeken word nie.

Kulture hou op ’n intieme wyse met die strukturering van ons begeertes verband. Ons kan sê dat kulture by uitstek daarop gefokus is om die begeertes van die individu deur middel van die talle instellings eie daaraan te kultiveer. Ten grondslag daarvan lê die doel om die ongestruktureerde begeerte te struktureer en (om maar die tipiese moderne ideaal te noem) iets soos die ‘gekultiveerde mens’ (gebildete Mensch) moontlik te maak.

Die instellings wat kulture daarvoor inspan, is natuurlik instellings soos die familie, plaaslike organisasies (gilde, skole, universiteite en teaters), plaaslike regerings, republieke, die eie etniese gemeenskap, die kerk, ensovoorts. Deur middel van die deugde wat hierdie instellings kultiveer (d.i. deugde soos toewyding, matigheid, dapperheid, geregtigheid, wysheid), word die begeertes van individue as’t ware ‘opgevoer’. Indien kulture nie meer daartoe in staat is nie, verloor hulle hul greep op ons. En wanneer dit gebeur, ontbind kulture.

Maar juis hier lê ’n reuse ironie. Dit is ’n ironie wat die beroep op die belangrikheid van die individu verlam:

Gekultiveerde individue is slegs moontlik by grasie van genoemde kulturele kragte. Indien die individu egter ‘vrygestel’ word om self oor die hoe en wat van haar lewe te besluit, word hierdie kragte ondermyn. Maar nie net hierdie kragte nie, ook die individu wat daardeur moontlik gemaak word!

G’n wonder dat ons tyd juis deur soveel napraters, navolgers en nabootsers gekenmerk word nie. Meestal geskied die voorspraak vir die individu in naam van vryheid (en natuurlik ‘korrekte kodes’ soos demokrasie, gelykheid, en verset teen diskriminasie). ’n Mens sien egter weinig tekens van iets soos egte individualiteit onder diegene wat so luidrugtig oor die belangrikheid van die individu raak. Die rede daarvoor is dat die individu juis losgemaak is van dié instellings wat van haar ’n egte individu sou kon gemaak het.

Ons het vandag ’n ander idee van vryheid nodig. Die individualistiese opvatting weerspreek haarself en ondermyn haar eie bestaansvoorwaardes.

Met betrekking tot ’n ander idee van vryheid gee die tradisie vir ons die helderste wenk: Vryheid tree daar na vore waar die individu haarself deur tradisionele instellings en die deugde eie daaraan laat kultiveer het.

Byvoorbeeld, ’n goeie pianis. Laasgenoemde is volgens die tradisionele opvatting eers werklik vry wanneer sy deur enorme inspanning die deugde ten grondslag van die klavierspel bemeester het. Indien sy egter by voorbaat haarself as vry ten opsigte van dié deugde ervaar het (onder meer op grond van die vooronderstelling dat sy self oor die geldigheid daarvan kan besluit), sou geen spel moontlik gewees het nie.

Kortom, die vryheid van die individu staan volgens die tradisionele opvatting nie in spanning met die bowe-individuele instellings van kulture nie. Inteendeel, laasgenoemde is juis die voorwaarde vir vryheid.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Christo Pretorius ·

Herinner aan Paul Tillich wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1933) teen Marxisme polemiseer (Das Wohnen, der Raum und die Zeit). Hiervolgens herdefinieer en rasionaliseer Marxisme menslike verhoudings en vernietig alle onmiddelike gemeenskaplikhede soos dit gestalte vind in familie-bande, nasionaliteit en sosiale-stand.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.